praag.co.za

Stormers, onder Rassie se skaduwee uit, planloos en hopeloos

Schalk Burger

Written by

in

Schalk BurgerWas die WP/Stormers-masjien van verlede jaar eintlik die maaksel van Rassie Erasmus, en indien wel, wat sal daarvan oorbly na hy daar vort is? In alle waarskynlikheid, en bitter min, blyk die antwoorde te wees na die Kapenaars se skokkende vertoning in hulle wedstryd gisteraand teen die Hurricanes.

Die Kaapse spanne van verlede jaar was niks indien nie goed afgerig nie. Spelers het hulle aanwending in hulle posisies verstaan en elkeen het sy werk gedoen. Die Stormers het verlede jaar die beste verdedigingsrekord in die Super Rugby-kompetisie gehad en die WP in die Curriebeker. Die spanlede se werk was só goed gedefinieer dat hulle hulleself selfs kon herontplooi om ’n  halfdosyn losskakels toe beserings verwoesting in dié posisie gesaai het.

Dat die Kapenaars nie een van die twee kompetisies kon wen nie – inderwaarheid was hulle laaste silwerwaresukses die Curriebeker van 2001 – kon nie met enige regverdiging aan afrigting toegeskryf word nie. Waarskynlik het hulle net nie die spelersmateriaal of die rugbykultuur van die Bulle of die onstuitbare entoesiasme van die Leeus gehad nie. Maar dit was steeds ’n  goedgedrilde, netjies afgerigte span, een met ’n skelet wat ferm genoeg is om hulle staande te hou in die uitgerekte hitte van twee uitmergelende kompetisies.

Die span wat ons gisteraand gesien het, nou ja! Al die belangrikste onderdele is  nog daar, maar blykbaar nie verbind nie, soos skroewe en stawe in ’n  koekblik wat geskud word. Die agterlyn het al die grasie en samehorigheid van hoenders in ’n  haelstorm gehad. Die voorspelers het nie oë vir die bal gehad nie en was besluiteloos by die afbreukpunte. Die verhouding tussen voorpak en agterlinie was stief ten beste en ten ergste het dit gelyk asof hulle teen mekaar speel. Groot name het nie soseer tot ’n  val gekom as bloot net vervaag nie. Habana was op die veld, reg?, wie weet, miskien…

O, daar was indrukwekkende oomblikke: Die voorpak het soms goed gedryf en veral doeltreffend van die lynstane af gemaal. ’n Paar Stormers het bal-onder-die-arm verwoestend gestorm, vernaamlik Andries Bekker, Tiaan Liebenberg en die jong slot Eben Etsebeth. In die agterlyn het die knalbuksies, Joe Pietersen en Gio Aplon, so vinnig en dodelik as altyd op die aanval gekom. ’n  Swak wedstryd word gereeld beskryf as een “wat gou vergeet sal word.” Die Stormers en die voetbalkykers sal hierdie een net kan vergeet na volgehoue terapie oor ’n  lang tydperk.

O ja, die Stormers hét gewen, met ’n  skaflike telling van 39-26. Hulle hét drie drieë gedruk: Gio Aplon het op volle vaart langs die lyn af gesweepklap, binnekant toe gehuppel, ’n  beknopte gaping tussen twee verdedigers gekloof en gaan druk. Die ander twee drieë was voorspelerpunte; eers is ’n  standaard, tuintipe rolmaal van ’n lynstaan teenaan die doellyn af deur instaanflank Kolisi voltooi, en daar was ’n  strafdrie na nog ’n  rolmaal. So, van ’n  goedbeplande, netjies saamgestelde drie – WP-drie! – was daar geen teken nie.

Hulle oorwinning kan aan een rede toegeskryf word: Die span teen wie hulle gespeel het, die Hurricanes, was nie bloot disfunksioneel nie, dit was gisteraand ’n  span van rampokkers, oënskynlik daarop uit om elke oortreding in die reëlboek te oortree, sommige daarvan oor en oor. Dis asof hulle vyftien Sean Fitzpatricks was, elkeen met ’n  diploma van die Bryce Lawrence Slypskool vir Gevordere Voetbalbegrip. As enige vertoning ’n  mens sal laat dink dat wedstrydknoeiery in rugby opgedaag het, dan was hierdie die een.

Hierdie was die soort wedstryd wat skeidsregters in boepensstuipe laat uitslaan, en Marius Jonker moet homself maar styftrek vir ’n donker wolk van kritiek uit Nieu-Seeland. Nie dat hy regtig enige iets veel anders kon doen nie. Die Hurricanes het nie in die eerste plek soveel strafskoppe op die lyf geloop omdat Marius Jonker hulle gestraf het nie; hulle is so baie gestraf omdat hulle so baie oortree het. Hulle het skrums afgetrek, ingeskrum, teenstanders laat geloop, in die lynstane afgetrek, gepootjie en hulle het oor die bal geval, en geval en geval, soos Griekse pilare in ’n  aardbewing. Hulle het selfs obskure oortredings probeer, soos Vito op agsteman wat die skrum met ’n  konsertinabeweging probeer span het.

So het dit dan gekom dat albei die Hurricane-stutte op dieselfde tyd van die veld gegeelkaart is, en hier was die geleentheid vir die Stormers om ’n  oninhaalbare hoeveelheid punte te boek. As daar enige videogetuienis teen die breinvriestrust van die Kapenaars was, was dit die spel wat gevolg het. Die ooglopende – en onkeerbare – keuse sou wees om nóg ’n  lynstaan naby die doellyn te neem. Die stut Ben May is so pas afgestuur omdat hy ’n  lynstaan afgetrek het, en hoewel die Hurricanes ’n  smaak vir boewery vertoon het, het hulle duidelik geen erg daaraan gehad om die Stormers se naderjaende voorspelers in die oë te kyk nie. So, neem die lynstaan, vang die bal, druk drie. Maklik.

Wat die Stormers wel gedoen het, was om  ’n  niemededingende skrum te kies, die bal na die halsoorkopagterlyn te stuur en die Hurricanes die kans te gun om die aanval in die middeveld te snuit. Die ergste is dat die Stormers in die beweging nog ’n  strafskop gekry het en die genie op losskakel, Gary van Aswegen, dit goed gedink het om die bal oor die pale te skepskop om so sewe punte na drie te snoei.

Dertien man of te nie, dit was die Hurricanes wat in dié strook van die spel gedy het. Die Stormers het nog gewonder wat hierdie ovaalvoorwerp is wat heen en weer oor die veld trek, toe gryp die Hurricanes die Gilbert-bal en gaan druk ’n  drie.

Rassie Erasmus wurg seker iewers in sy agterdogwekkende ballingskap. Ten spyte van die Hurricanes se rampokkery wat genadeloos deur Jonker gestraf is, was die telling teen die middel van die tweede helfte 23 punte elk. Daarna het die Stormers wel daardie strafdrie en twee strafskoppe se punte behaal om 39-23 te wen.

Erasmus was nie lank op Nuweland nie toe sy afrigterspligte oënskynlik op Alistair Coetzee afgeskuif is. Die persona van Coetzee as goedhartige afrigtingster is geskep. Hy is voorgehou as argumentontlonter teen gewaande rassiste wat altoos skepties sal wees oor ’n  kleurling se vermoë om ’n  span te brei. Dit was ’n  belangrike reklameset in ’n  tydperk wat Peter de Villiers besig was om Suid-Afrikaanse voetbal se naam met ’n  wingerdstok te slaan. Die agteraf vraag was hoeveel van die WP/Stormer-sukses Coetzee toegekom het en hoeveel daarvan in die skadu’s ontwerp, aangebied en afgedwing is deur Rassie Erasmus.

Hierdie vrae, na gister se triestige vertoning van die Kaapse span, sal nou net in toonhoogte en volume toeneem.

Данильченко

Comments

Leave a Reply