PRAAG loods petisie vir Afrikaanse skole in Gauteng

Praag het enkele dae gelede ‘n petisie ten gunste van die behoud van Afrikaanse skole in Gauteng geloods. Die petisie is op Dr. Dan Roodt se persoonlike woernaal te vinde:

Petisie

Die petisie neem bloot sekondes om in te vul en slegs die naam, van en e-pos van ondertekenaars word vereis.

Hy sal dit aan me. Barbary Greecy, LUR vir onderwys in Gauteng oorhandig en dit baie duidelik aan haar maak dat verdere aanvalle of ondermyning van Afrikaanse skole nie geduld sal word nie.

“Die ANC in die provinsie is besig om etniese en taalspanning verder op te jaag. Die vertrapping van Afrikaanse taal- en menseregte is eenvoudig verregaande,” het hy gesê.

PRAAG beplan ook om hierdie skending van regte onder die aandag van die EU, die VSA en die Verenigde Nasies te bring.

Данильченко Харьков

Afrikaanse skole op Fochville deur ANC geteiken

Die Hoërskool Fochville is vanoggend deur ‘n skare swart leerlinge, wat deur die Gauteng-ANC opgevorder is, omsingel wat op onderrig in Engels aangedring het. Gister het die Gauteng-wetgewer se senior mediawoordvoerder, Sithembele Tshwete, aangekondig dat daar vandag teen twee Afrikaanse skole op Fochville opgetree sou word: Hoërskool Fochville en Laerskool Losberg.

Die Gautengse onderwysdepartement het beswaar teen die Afrikaansmediumonderrig by die skole wat glo “swart leerlinge weghou”. Volgens die onderwysdepartement beskik die leerlinge oor “die reg om in Engels onderrig te ontvang”.

In Desember het Hoërskool Fochville gepoog om ‘n interdik teen die departement te verkry wat besig is om strydig met die Skolewet met sy taalmedium in te meng. Die skool het egter die saak in die hof verloor.

‘n Telefoonoproep van Praag na die skool het slegs bevestig dat “baie Engelstalige leerlinge vanoggend opgedaag het”. Die skoolhoof, mev. Lamprecht, kon nie vir kommentaar bereik word nie omdat sy steeds midde-in die stormloop na die skool gewikkel was en blykbaar met amptenare van die departement van onderwys in gesprek was.

лобановский александр жена

ET se buurman sterf in plaasaanval

‘n Boer en sakeman in die omgewing van Ventersdorp, Dries du Toit (56), is Saterdag in die vroeë oggendure in sy huis met ysters doodgeslaan in die jongste plaasmoord.

Die plaas van die vermoorde is reg oorkant dié van die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, wat in April verlede jaar op soortgelyke wyse vermoor is.

Du Toit het ‘n aansienlike deel van sy grond deur die regering se grondhervormingsprogram verkoop. “Hy het ‘n deel vir homself uitgehou waar hy besig was om ‘n huis te bou. Hulle het al in die huis gewoon, maar dit is nog nie voltooi nie,” sê sy ander buurman.

Sy vrou, Lettie, ‘n prokureur van Klerksdorp, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. Du Toit se suster, Elizabeth de Villiers (66), is lig beseer in die plaasaanval. Sy twee dogters, albei universiteitstudente, was nie tuis ten tye van die aanval nie.

Volgens kapt. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het die aanval omstreeks 04:10 op die Du Toits se plaas Klipplaatdrift gebeur nadat vyf swartes by die huis ingebreek het.

Die aanvallers het met die gesteelde goedere gevlug. Myburgh sê Du Toit is nie geskiet nie. Hy is na verneem word gedurende ‘n stoeiery wat ontstaan het, met ysters doodgeslaan.

Лобановский Харьков

PRAAG loods ‘digiTAAL’

PRAAG loods met die aanvang van 2012 ‘n splinternuwe projek genaamd digiTAAL. “Afrikaans het ‘n staatlose taal geword, maar kan in digitale vorm oorleef,” sê dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. By sy jaarvergadering in Februarie verlede jaar, het die organisasie ‘n hele aantal planne bedink wat binnekort tot uitvoering gebring gaan word.

Een daarvan is ‘n Afrikaanse kultuursentrum in Gauteng van waar ‘n oplewing of “Afrikaanse renaissance” kan plaasvind. “Ons het nog nooit die idee van ‘n Afrika-renaissance ernstig opgeneem nie, selfs op die stadium to die Suid-Afrikaanse media dit opgehemel het. Maar daar is wel ruimte vir ‘n Afrikaanse hergeboorte indien dit met die nodige ywer en visie aangepak word,” meen dr. Dan Roodt. “Ons soek steeds na ‘n geskikte perseel vir die Afrikaanse kultuursentrum, waar PRAAG se nuwe hoofkantoor insgelyks gevestig gaan word. Dis nodig dat die volle skeppende krag van die Afrikanervolk weer gemonster word en ons glo dat so ‘n kultuursentrum dit sal stimuleer en fokus.”

‘n Groot deel van PRAAG se aktiwiteit sal egter op die digitalisering van die Afrikaanse kultuur toegespits word. Volgens dr. Roodt sien PRAAG hom as ‘n soort ATKV vir die een-en-twintigste eeu, ‘n tegnologiese antwoord op die tradisionele tipe Afrikaanse kultuurorganisasie wat nie meer die aspirasies van Afrikaners te midde die huidige revolusionêre klimaat kan bevredig nie. “Ons beleef ten minste twee ingrypende omwentelinge: ‘n politieke revolusie van links in Suid-Afrika wat ons land in ‘n stereotipe Engelstalige, Afrososialistiese staat wil transformeer, asook ‘n tegnologiese revolusie wat besig is om die aard van kultuur, taal en media ingrypend te verander,” sê Roodt. “Sedert die ontstaan van PRAAG in Februarie 2000, wou ons tegnologie en internetkommunikasie aanwend om die Afrikaner van oorheersing te bevry, daar waar tradisionele politiek en verraad hom op sy knieë gebring het.”

Vandaar die digiTAAL-projek wat die mees ambisieuse program is wat PRAAG nog aangepak het. Dit gaan daarom om die totaliteit van die Afrikaanse kultuur, kreatiwiteit en identiteit in digitale vorm te ontsluit. “Ons glo dat ‘n mens vuur met vuur moet beveg. Daarom is ons antwoord op die tegnologiese en politieke omwentelings ‘n revolusie van ons eie: om Afrikaans op ‘n radikale manier te vernuwe ten einde ons volk weer sterk en onwoorwinlik te maak. Op alle gebiede: kultureel, taalkundig, polities, sielkundig,” sê Roodt.

Terwyl PRAAG nog nooit van politiek of ideologiese kommentaar weggeskram het nie, glo die organisasie dat politiek in sy engste sin via politieke partye bedryf moet word. Politiek kan nie deur middel van hofsake of van die kantlyn af gevoer word nie. “Ons glo dat die digiTAAL-projek ons ook sal help om op ons kernbesigheid te fokus, naamlik die uitbou van Afrikaans en die Afrikaneridentiteit. Nietemin moedig ons politieke betrokkenheid deur ons lede en medewerkers aan, want sonder grondwetlike en staatkundige verandering in ons land, is sowel Afrikaans as die Afrikaner tot uitsterwing gedoem,” meen dr. Dan Roodt.

digiTAAL sal van multimedia gebruik maak, maar ook weer ‘n sterk Afrikaanse leeskultuur vestig. “Ons het gesien hoe radio en televisie oor die afgelope tyd gebruik is as ‘n propagandamedium om ‘n bepaalde Afrikanervyandige boodskap te versprei, asook akkulturasie  by die staatsideologie te bevorder. Deur ‘n soort Sewendelaankultuur van oppervlakkige vermaak, is ons mense verdom, verwar en verswak. Die Afrikaner is van sy trots, sy waardigheid en sy selfrespek gestroop en het ‘n kruipende wurm, ‘n provinsialistiese half-Engelse snob en ‘n jabroer geword. Ons mense lees nie, is nie ingelig nie en verstaan die meeste van die tyd nie eens hoe op aarde hulle in die huidige dwingelandy en geweld beland het nie. Daarom is dit so belangrik om die totale Afrikaanse geskrewe tradisie van die afgelope 150 jaar en selfs daarvoor volledig in digitale vorm beskikbaar te stel, by wyse van e-boeke, webwerwe, foto’s, internetvideo en dergelike meer,” sê Roodt.

Die Afrikaanse geskiedenis en letterkunde sal, sodra dit vrylik vir almal toeganklik is, die Afrikaner weer soos ‘n feniks uit die as laat verrys. Slegs vryheid in ‘n eie vaderland kan die fisieke en kulturele voortbestaan van die Afrikaner op sy vasteland waarborg. Geen grondwet van ‘n vreemde land soos die nuwe Suid-Afrika is daartoe in staat nie.

PRAAG sal voortaan verskeie klasse van lidmaatskap aanbied. Gewone lidmaatskap van PRAAG sal voortgaan, dog elke betalende lid sal in die nabye toekoms veel meer voordele ontvang in die vorm van tegnologiese hulpmiddels en toegang tot waardevolle media. “Ons kyk selfs daarna om vir elke PRAAG-lid ‘n gratis e-leser ter waarde van R2 500 te verskaf waarmee hy of sy oral op aarde toegang tot ‘n magdom Afrikaanse boeke in digitale vorm sal hê,” sê dr. Dan Roodt. “Vir nie-betalende deelnemers, sal ons webwerf praag.co.za steeds gratis wees, maar toegang tot e-boeke en ander waardevolle items sal by wyse van registrasie plaasvind. PRAAG ondersteun die beginsel van die internet as ‘n wesentlik gratis medium wat deur samewerking tussen gelykdenkendes bedryf word. ‘Gratis’ is ‘n sogenaamd ‘radikale prys’, maar dis ‘n prys wat ons wil handhaaf. Daarom sal ons webwerf altyd oop en gratis bly, met vryspraak en -debat wat in ons kommentaarafdeling aangemoedig word.”

PRAAG sien sosiale media ook as ‘n tussentydse manier vir die Afrikaanse identiteit om in ‘n verengelste Suid-Afrika te oorleef. “As ek by my voordeur uitstap, is alles Engels: die tekens, die produkte, die reklameborde, die name. Maar op Facebook, Twitter en natuurlik praag.co.za is ek geen interne immigrant, geen vreemdeling in my geboorteland meer nie, maar ‘n Afrikaner tussen ander Afrikaners,” sê dr. Dan Roodt.

Данильченео

Aardskuddende hofsake van PRAAG, Boereleed?

Binnekort gaan ‘n vergadering van die PRAAG-bestuur, tesame met mnr. Albert Boshoff van die Boereleed-navorsingsinstituut, plaasvind. Boshoff ondersoek reeds geruime tyd die moontlikheid om ‘n menseregtesaak teen Groot Brittanje te open vir die behandeling waaraan Boere en Afrikaners in die konsentrasiekampie en op plase tydens Roberts en Kitchener se verskroeide-aardebeleid ná 1900 onderwerp is. Groot Brittanje het die Haagse Konvensie van 1899, wat op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog onderteken is, openlik oortree.

Die Haagse Konvensie was die voorloper van die latere Geneefse Konvensies wat menseregteskendings tydens oorloë tot misdade verklaar het. Die Konvensie, wat destyds deur Brittanje en ander grootmoondhede onderteken is, is nog nooit herroep nie en maak dit moontlik om dié land vir sy historiese oorlogsmisdade in Suid-Afrika te vervolg.

Uitgebreide argiefmateriaal is steeds beskikbaar waarin sowel Brittanje as sommige mynmaatskappye en selfs nywerheidsmaatskappye soos Imperial Cold Storage se aandeel aan die menseregtevergrype gedokumenteer is. Teoreties bestaan die moontlikheid om Brittanje, asook van Suid-Afrika se grootste maatskappye wat uit dié tydvak dateer, vir skadevergoeding namens die Afrikanervolk te vervolg. Duitsland, asook inviduele Duitse oorlogsmisdadigers, is konstant deur Israel en Joodse organisasies sedert 1945 vervolg en dié land moes reeds honderde miljarde dollar aan Israel betaal.

Indien daar besluit word om met litigasie voort te gaan, sal dit ‘n internasionaal opspraakwekkende gebeurtenis wees.

‘n Lid van die PRAAG-bestuur, wat voorlopig anoniem wil bly, het egter sy bedenkinge oor die gedagte van skadevergoeding ná 110 jaar uitgespreek. “Ons moet ook die geopolitieke situasie in ag neem,” het hy gesê. “Dit mag wees dat die Afrikaner in sy vryheidstryd Groot Brittanje vorentoe gaan nodig kry en ons wil nie onnodig lande van ons vevreem nie. ‘n Blote eis om skadevergoeding kan na ‘n geldmaakstorie lyk, net soos die pogings van SA swartes om internasionale maatskappye te dagvaar wat vóór 1994 in Suid-Afrika sake gedoen het. Maar as dit om die herverkryging van ons vryheid en om selfbeskikking gaan, is dit ‘n ander saak.”

Dr. Dan Roodt van PRAAG meen die kwessie moet van alle kante ondersoek word. “Ek is ook geneig om te dink dat ons nie soseer in die vergoeding as in die herstel van ons grondgebied en vryheid belangstel nie,” het hy gesê. “My gevoel is ook dat die huidige Suid-Afrikaanse staat oor geen werklike legitimiteit beskik nie. Daarvoor het die 1994-revolusie te halsoorkop en met die verraad van sleutelpersone in die NP-regering geskied. Dis deesdae gemeensaak dat mnre. De Klerk en Roelf Meyer glad nie onderhandel het nie, maar bloot ter wille van hul eie pensioene en posisies so gou moontlik militêr aan Umkhonto we Sizwe wou oorgee. Mnr. De Klerk se beloofde tweede referendum is nooit gehou nie. Maar ook die 1910-staat is op grond van gruwelike menseregteskendings en die oortreding van die destydse volkereg gestig, dus sit ons met een onwettige staat wat ‘n ander een opgevolg het. Ons is besig om in ‘n volkeregtelike vakuum te handel, wat die instroming van tienmiljoene onwettige immigrante oor ons landsgrense insluit. Suid-Afrika is geen staat nie; dis ‘n ruïne en ‘n rampokkerbedryf.”

Potensiële steun vir Afrikanerselfbeskikking in Nederland is ook besig om die bordjies in die lang stryd tussen, aan die een kant, Groot Brittanje en haar maaksel, die ANC, en aan die ander kant, die Afrikanervolk, te verhang. “Ook die finansiële penarie waarin Brittanje en Amerika tans verkeer, wat opsigself tot die heropkoms van Duitsland in Europa gelei het, verteenwoordig ‘n nuwe gegewe wat ons nog nie behoorlik verwerk het nie. As Nederland in Europa vir ons in die bres kan tree, kan ons dalk Duitse steun vir Afrikaneronfhanklikheid begin verkry,” meen dr. Dan Roodt.

Volgens mnr. Albert Boshoff, wat steeds besig is met argivale navorsing oor die volkeregtelike situasie meer as honderd jaar gelede, bestaan daar ten minste een verdrag tussen Duitsland en die Boere wat nooit herroep is nie. “Daar heers blykbaar ook ongelukkigheid in Duitsland oor die wyse waarop die De Klerk-regering die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië) op ‘n skinkbord aan SWAPO oorhandig het. SWAPO het reeds duidelik gemaak dat China sy internasionale bondgenoot is, wat beteken dat China besig is om ‘n voormalige Duitse kolonie in Afrika te herkoloniseer. Boonop is ons Afrikaners half-Duits, wat beteken dat Duitsland ‘n verantwoordelikheid teenoor ons het.”

Dr. Dan Roodt is skepties oor enige potensiële Duitse rol by Afrikanerbevryding, maar glo die hele kwessie moet met ‘n oop gemoed benader word. “Dit is wel so dat die wêreldpolitiek besig is om baie vinnig te verander, met die afgang van die VSA en sy Britse agterryer, asook die opkoms van China en Duitsland, met ‘n nuwe Berlyn-Moskou-as wat sienderoë besig is om tot stand te kom. Samewerking tussen Rusland en Duitsland verteenwoordig ‘n wesentlike bedreiging vir die Transatlantiese bondgenootskap van die twintigste eeu. Brittanje, die Anglikaanse Kerk, asook pro-Britse Afrikaners oftewel hensoppers en verraaiers, was nog altyd die magte wat die ondergang van ons volk in Suider-Afrika gesoek het. Die hele gedoente rondom apartheid is deur ‘n handjie vol Britte en Anglikane uitgedink en hulle het dit aan die res van die wêreld oorgedra en selfs die ANC se terreur laat befonds. Eintlik het niks oor die afgelope tweehonderd jaar verander nie: ‘n mens hoor dieselfde argumente, van dieselfde persoonlikheidstipes. Duitsland ondersteun die liberale DA in Suid-Afrika en is nie heeltemal gekant teen ANC-korrupsie nie, want dit lei tot groter verkope van Mercedesse, BMW’s en Audi’s. Maar Nederland is ons vriend, terwyl dié land ‘n baie noue ekonomiese politieke en ekonomiese verhouding met Duitsland handhaaf. Trouens, selfs in die Britse Financial Times word daar geskryf dat Nederland en Duitsland die ware kern van die Europese Unie verteenwoordig, en nie meer Frankryk en Duitsland nie. Indien die euro vanweë die huidige skuldprobleme tot niet sou gaan, sou daar feitlik onmiddellik ‘n nuwe Nederlands-Duitse geldeenheid tot stand kom wat die wêreld se de facto tweede grootste geldeenheid ná die dollar sou wees.”

‘n Netelige kwessie bly steeds die vraag: Maar wie sal Afrikaners verteenwoordig in die nuwe geopolitiek wat besig is om tot stand te kom en wat vir hulle soveel belofte inhou? “Dit is ‘n Gordiaanse knoop wat ons sal moet deurhaak,” sê dr. Dan Roodt van PRAAG. “Ek is baie skepties oor die Afrikaanse organisasies wat eintlik in die verlede vasgeval is. Boonop stem die Afrikaners massaal vir die DA, wat ‘n uit-en-uit pro-Britse, liberale party is wat ‘n tipies Milneriaanse Suid-Afrikanisme najaag. Die gevaar bestaan dat die Vryheidsfront, die laaste Afrikanerparty wat nog aan die formele politiek deelneem, aanstons kan verdwyn en daarmee saam die Afrikaner se vryheidsaanspraak. Ons sal eenvoudig ‘n ad hoc-liggaam of -alliansie op die been moet bring wat namens Afrikaners oor hul vryheid en internasionale verhoudinge kan begin onderhandel.”

PRAAG ondersoek ook tans die moontlikheid om die Grondwethof te nader oor die ongelyke behandeling wat Afrikaans teenoor Engels van die staat ontvang. “Ons sou graag regstellende aksie ook wou pak, maar ek is bevrees dat die Grondwet so volgens ras gekwalifiseer is dat regstellende aksie omtrent in elke beginsel van die Handves van Regte ingeskryf is. Die ANC en hul Britse adviseurs, asook Afrikanermeelopers, het egter die taalkwessie so effens misgekyk destyds, daarom kan ons dalk daar ‘n voet in die deur kry om staatsdiskriminasie teen ons aan die kaak te stel,” meen dr. Roodt.

‘n Voorstel van mnr. Albert Boshoff dat Afrikaners voortaan konstant klagtes van diskriminasie by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet indien, is geesdriftig deur PRAAG verwelkom. ‘n Sekretariaat sal binnekort beskikbaar wees om sulke klagtes van die publiek te hanteer en formeel op die Menseregtekommissie te beteken. Sodoende sal ‘n rekord van diskriminasie teen Afrikaners opgebou word, wat weer op sy beurt gebruik kan word as dit by eise om grondgebied of selfbeskikking vir Afrikaners kom.

Volgens dr. Dan Roodt, “moet ons egter onthou wat Jan Smuts oor Suid-Afrika gesê het: ‘Ons toekoms gaan altyd van buite ons landsgrense bepaal word.’ Ook die 1994-revolusie het dié waarheid bevestig. Vandaar PRAAG se klem op buitelandse beïnvloeding en skakeling wat reeds in Nederland tot groot welslae gelei het. 2012 gaan dalk nog ‘n groter jaar vir die Afrikaner wees as wat ons in ons wildste drome kon dink.”

Данильченко Юрий отзывы

PRAAG verwelkom Nederlandse besluit oor Afrikaans

PRAAG het die besluit van die Nederlandse regering verwelkom dat dié land se ambassade in Pretoria voortaan ‘n rol by “die stimulering van Afrikaans” sal speel. Volgens dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, is hy “baie opgewonde oor die toenemende Nederlands-Afrikaanse samewerking om die toekoms van Afrikaans as deel van die groter Nederlandstalige erfenis te verseker”.

Gisteraand het die Nederlandse minister van buitelandse sake, mnr. Uri Rosenthal, in die Tweede Kamer ‘n voorstel van die PVV-lid Martin Bosma aanvaar dat daar gereelde maandelikse vergaderings met pro-Afrikaanse organisasies by die Nederlandse ambassade in Pretoria moet plaasvind. Sulke vergaderings sal gehou word “binne die kader van die Nederlandse Taalunie waarmee Suid-Afrika ‘n voorneme om saam te werk gesluit het”.

“Sedert my besoek verlede jaar in Mei toe ons met Nederlandse parlementariërs en joernaliste gesels het, het ons die dialoog met Nederland op dreef gehou deur meningsartikels in koerante en heelwat informele korrespondensie met lede van die Tweede Kamer, skrywers en ander kultuurmense,” sê dr. Dan Roodt. “Dit is jammer dat Nederland nie ook standpunt teen naamsveranderings ingeneem het nie, maar ons begryp dat dit vir Afrikaners is om self teenstand teen naamsveranderings te bied, soos minister Rosenthal dan ook gesê het.”

PRAAG het die Partij voor de Vrijheid, asook Tweedekamerlid Martin Bosma vir hul inisiatief bedank. Terwyl Nederland soos die res van Europa tans ‘n besuinigingsbeleid volg, het Bosma aan die minister gesê dat die vergaderings by die Nederlandse ambassade “niks hoef te kos nie, behalwe ‘n koppie koffie, maar dat dit as ‘n riem onder die hart (in die Afrikaanse taalstryd) ervaar sal word”.

Bosma het voorts verklaar: “Voorsitter, ons land het ‘n spesiale verantwoordelikheid teenoor Afrikaans en haar sprekers in Suid-Afrika. Afrikaans is nou met ons taal verwant. Daarom verkry Elisabeth Eybers ons PC Hooftprys. Vele plekname herinner aan die Nederlanders en hul nasate. Die huidige ANC-regering keer hul rug op ons sustertaal. Dit lyk selfs daarop uit om alle spore van Afrikaans uit die landskap te wis. Honderde dorpe, stede en strate is die afgelope vyftien jaar herdoop. So verdwyn pragtige name soos Vryheid, Afguns, Warmbad, Bosbokrand, Hoedspruit, Potgietersrust en Duiwelskloof. Dit lyk asof die regering vas van plan is om Afrikaans uit te wis.”

Volgens Bosma is die (grense van) “die voormalige Boererepublieke Transvaal en die Oranje Vrystaat – waar Nederlands die amptelike taal was – reeds van die kaart gevee. Sonder enige steun van die bevolking is Vrystaatse stede soos Bloemfontein, Kroonstad en Winburg herdoop”.

PRAAG het ‘n beroep op alle Afrikaanse organisasies gedoen om spoedig te vergader en ‘n aantal kundige verteenwoordigers aan te wys wat die taalgemeenskap teenoor Nederland kan verteenwoordig. “Dit moet nie maar net simboliese gespreksgeleenthede wees nie maar daadwerklike werksessies waar die haglike toestand waarin Afrikaans hom tans bevind, verbeter kan word,” meen dr. Dan Roodt. “Nederland is ‘n invloedryke land in Europa, ‘n voorkeurvennoot van Duitsland, asook die vyfde grootste ekonomie in die Europese Unie. Om ‘n vriend soos Nederland te hê, kan Afrikaners en Afrikaans net ten goede strek.”

Фільчаков Олександр Васильович

Wit en te slim

Universiteite se toe­latingsprosesse word al hoe meer in twyfel getrek.

Alet Rademeyer berig in Beeld dat universiteite wat dokters oplei, ontken hul toelatings- en keuringsbeleid maak vir ‘n “kwotastelsel” vir rasseverteenwoordiging voorsiening, terwyl dit duidelik die geval is.

Dubbelpratery in universiteite se keuringsprosedures maak voornemende topstudente met uitstekende uitslae én hul ouers al hoe meer keelvol, sê sy.

Lees hier.

 

Александр Фильчаков прокурор

Twee van Waterkloof vry

Twee lede van die groep bekend as die Waterkloof-vier is Maandag uit die Zonderwater-tronk in Pretoria vrygelaat, het die departement van korrektiewe dienste (DKD) gesê.

“Hulle is in die proses om vrygelaat te word, het Zacharia Modise, die DKD se adjunk-hoofkommissaris van korreksies, omstreeks 13:30 Maandagmiddag gesê.

Hy het gesê Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is tans by korrektiewe dienste se gemeenskapsentrum waar hulle in terme van hul paroolvoorwaardes moet aanmeld.

Korrektiewe dienste het verlede Donderdag, ‘n vrylatingsbevel deur die Pretoriase streekshof verontagsaam.

Van Schalkwyk en Tiedt se regspan het Vrydag die eerste dringende hofaansoek gebring om die DKD te dwing om die aanvanklike vrylatingsbevel uit te voer. Dit het geslaag.

Modise se verklaring het gevolg kort voordat ‘n tweede dringende aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gebring sou word, nadat die DKD steeds geweier het om die twee vry te laat.

Modisi het gesê ‘n amptelike verklaring sal binnekort deur die DKD uitgereik word. Hy het steeds aangedring dat die departement nie met die hofbevel saamstem om die twee op parool vry te laat nie.

Van Schalkwyk, Tiedt, Christoff Bekker en Frikkie du Preez is in 2008 vir 12 jaar tronk toe gestuur nadat hulle in 2001 skuldig bevind is aan die moord op ‘n hawelose man in Pretoria.

Фильчаков прокурор харькова

VF se ANC-rapport

Die VF Plus het sy jaarlikse einde van die jaar ‘n rapport van die ANC se prestasies en mislukkings in 2011 bekend gestel.

Lede van die VF Plus regoor die land is gevra om die sake wat vir hulle hierdie jaar belangrik was, aan te dui. Daarna het hulle ‘n mening en ‘n punt daaroor gee.

Dit blyk uit hulle evaluasie dat die ANC vanuit die oogpunt van die deursnee VF Plus-kieser vanjaar ‘n gemiddelde punt van 42% behaal het.

Van die sake wat so uitgesonder was, is misdaad, korrupsie, minister Manuel se beplanningskommissie, regspleging, ekonomiese sake, taal- en kultuurregte.

Waar minister Manuel se beplanningskommissie as baie positief beoordeel is, is die twee polisiekommissarisse Selebi en Cele, as baie negatief beoordeel.

Die korrupsie ondersoeke van die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, is as baie positief gesien maar die feit dat Suid-Afrikaanse plaaslike rade R74 miljoen per dag, of R27 miljard per jaar mors, is ernstig veroordeel.

Die aanslag op die grondwethof asook die voorgestelde Inligtingswet het rooi ligte laat afgaan, asook die belastinglas wat deur tolhekke stil-stil meer word.

Vir die volledige beoordeling en punte sien die verslag onder aan verklaring.

VF Plus se jaarlikse evaluering van ANC-prestasies/mislukkings

Inhoudsopgawe

1. Inleiding

2. Misdaad

3. Algemene Korrupsie

4. Beplanningskommissie

5. Regspleging

6. Ekonomiese groei en werkskepping
7. Taal- en kultuurregte

8. Slotsom

1. Inleiding

Hiermee die VF Plus se jaarlikse einde van die jaar evaluering (rapport) van die ANC se prestasies en mislukkings in 2011.

1.1 Werkswyse.

As werkswyse word lede van die VF Plus regoor die land gevra om die sake wat vir hulle hierdie jaar belangrik was, aan te dui. Daarna moet hulle ‘n mening en ‘n punt daaroor gee

In hierdie tydperk, Des 2010-Des 2011, het ministers van portefeuljes verander en is ander afgedank. Dit bemoeilik evaluering. Daarom is eerder die belewing van regeringsbeleid as geheel geëvalueer en nie persone nie.

1.2 Voordele

Die voordele van so ‘n opname is dat dit aandui watter politieke sake vir VF lede tans baie belangrik is en hoe hulle daaroor voel. Die verslag wil nie voorgee om objektief te wees nie, maar dit is wel ‘n akkurate opsomming van die deursnee VF Plus-kieser se belewenis van regeringsbeleid. Waar die opname aan die einde van die jaar gedoen word, het ervaring gewys dat onmiddellike nuusgebeure, soos byvoorbeeld die bekendstelling van minister Manuel se beplanningskommissie verslag, die Cele- en Selebi gevalle, ens. meer prominent mag wees as gebeure in die begin van die jaar. Uit die aard van die saak word baie sake genoem waarvan slegs die wat die meeste reaksie uitgelok het, in volgorde hier aangebied word.

Die sake wat so geëvalueer is en wat vir VF Plus lede van belang was, is die volgende:

· Misdaad;

· algemene korrupsie;

· beplanningskommissie;

· regspleging;

· ekonomiese groei en werkskepping en

· taal- en kultuurregte.

Die regering se “eksamenuitslag” vir 2011 word hieronder verder uiteengesit.

2. Misdaad

Misdaadbekamping is ‘n grondwetlike plig waarvan die politieke verantwoordelikheid die van die minister en regering is (art 205(3) & 206). As ‘n regering in die opsig faal, misluk die staat want dan word die staat ‘n misdadige land.

Positiewe

2.1 Moord: Die enigste positiewe aspek was die algemene daling in meeste geweldsmisdade volgens die statistiek van die Polisie. Die nuutste misdaadstatistiek toon dat moord met 6,5% afgeneem het. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 31,9 per 100 000. Dit is steeds amper vyf keer meer as die wêreldgemiddeld.

2.1 Roof: Rooftogte by woonhuise het afgeneem met 10,1% (16 889). As die afgelope vyf jaar as tydperk geneem word, het dit steeds met 60,6% gestyg en met 16,6 % die afgelope drie jaar gestyg.

Negatiewe

2.3 Polisie Kommissarisse: Die skorsing van Bheki Cele as kommissaris en die finale tronk toe stuur van die vorige kommissaris Jackie Selebi het die vertroue van die publiek teenoor die Polisie aangetas. Daar kan nie van die publiek verwag word om vertroue in die Polisie te hê met twee sulke nasionale kommissarisse nie.

2.4 Skietlustigheid: Verlede jaar is kommer uitgespreek oor die skietlustigheid van die Polisie. Hierdie jaar is die kommer bevestig. Mnr. Tatani se skietdood tydens ‘n optog in Ficksburg bewys dat die Polisie nie skroom om onskuldige burgerlikes in protesoptogte dood te skiet nie.

2.5 Polisiekorrupsie: Die verdere ontbloting van korrupsie in die Polisie met geboue en die bou van Polisiestasies in KZN en Mpumalanga is kommerwekkend. Hierdie jaar het dit ook bekend geword dat die Polisie die afgelope sewe jaar 20 429 (vanaf 2004) vuurwapens as verlore aangeteken het en slegs 4 810 kon terugvind.

2.6 Vuurwapenlisensies: Die Polisie se hantering en kontrolering van vuurwapens van die publiek is uiters swak. Die minister se aankondiging dat die agterstand in die aansoeke van herlisensiëring van vuurwapens ingevolge die nuwe Vuurwapenwet (Wet 60 van 2000), binne nege maande verwerk sal word, het soos die VF Plus voorspel, nie gerealiseer nie en was dit leë beloftes van die minister.

2.7 Rassisme: Toenemende rassisme teen wit en bruin lede in die SAPD veroorsaak steeds dat hulle nie behoorlik kan funksioneer nie en oorlaai word met werk van ander kollegas wat onbevoeg is. Bevorderings moontlikhede vir veral wit SAPD-lede is steeds skraal en diskriminerend.

2.8 Plaasmoorde: Dit duur voort en die minister se weiering om syfers oor plaasmoorde bekend te maak skep agterdog en is steeds onaanvaarbaar, aangesien die VF Plus dit beskou as ‘n prioriteitsmisdaad wat voedselsekerheid in SA bedreig.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die negatiewe aspekte steeds hierdie jaar oorheers.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir misdaadbekamping is verlaag van 5/10 vir 2010 na 3/10.

3. Algemene Korrupsie

Korrupsie is deurlopend as ‘n ernstige probleme geïdentifiseer.

Positiewe.

Die onbevreesde uitlatings teen korrupsie en die objektiewe ondersoeke van adv. Thuli Madonsela as openbare beskermer, is positief ervaar en word sterk ondersteun. Met dieselfde ywer waarmee sy ANC stadsrade ondersoek, ondersoek sy byvoorbeeld ook die korrupsie en wanbestuur van die DA raad in die Midvaal-munisipaliteit.

Negatiewe.

Minister Pravin Gordhan het in September 2011 aangekondig dat die vermorsing by munisipaliteite in SA R74 miljoen per dag beloop. Dit beloop R27 miljard per jaar. Geen tenders, kwotasies en kontrakte in die openbare sektor is meer bo verdenking nie. In die Vrystaat byvoorbeeld moet vrouens wat aansoek doen vir behuising en nie omkoopgeld kan betaal nie, met seksuele gunste betaal. Die kultuur van korrupsie in die openbare sektor verdiep by die dag. Dat beweer word dat omkopery en bedrog in die departement van Polisie die hoogste van alle departemente is, dien as bewys waar SA tans trek.

Die Spesiale Ondersoek Eenheid ondersoek tans meer as 1000 sake van bedrog en korrupsie in die openbare sektor. Hulle kan geen ondersoek doen wat die President nie met ‘n proklamasie gemagtig het nie. Ongeveer 600 van die 1 000 sake wat die Spesiale Ondersoek eenheid tans ondersoek, hou verband met tenderbedrog en kontrakte van meer as R9 miljard. In 360 gevalle is botsing van belange ‘n element. Hierdie eenheid toon aan dat 20% van die Regering se begroting, wat verband hou met tenders, verlore gaan as gevolg van korrupsie. Hierdie inligting van die Spesiale Ondersoek eenheid bevestig dat dit maar net die punt van die ysberg is. Sou korrupsie in die kiem gesmoor word, sou ekstra belastings, soos toltariewe, nie nodig wees nie.

In baie Afrika- en ander lande word min of geen weerstand teen korrupsie aanvaar as deel van landsbestuur. In Suid-Afrika is dit belangrik dat die stryd teen korrupsie met deurlopende ondersoeke van adv. Madonsela, met media-onthullings en vrae van die VF Plus en ander opposisiepartye in die parlement voortgesit word ten einde te voorkom dat ons ook so eindig.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir korrupsiebestryding is 4/10 vir 2011.

4. Beplanningskommissie

Die nasionale beplanningskommissie se ontwikkelingsplan vir Suid-Afrika (‘n visie vir 2030) is een van die omvattendste strategiese planne wat die laaste paar jaar deur die regering voortgebring is.

Positiewe

Die beplanningskommissie se plan is nie, soos sy voorgangers, deur ‘n klomp staatsamptenare met ‘n vooropgestelde politieke ideologie opgestel nie. Dit is die gevolg van 18 maande se intensiewe navorsing deur kundiges in die land oor wat nodig is om Suid-Afrika ‘n wenland te maak.

Die dokument, van 430 bladsye, is nie bang om kernprobleme aan te spreek nie en dit gee ‘n omvattende ontleding van die land se uitdagings. Byvoorbeeld:

Dat die ANC se beleid van kader-ontplooiing gelei het tot ‘n verswakte staat met ‘n staatsdiens wat nie regerings­beleid doeltreffend kan toepas nie. Dít moet vervang word deur ‘n merietegegronde staatsdiens;

Dat korrupsiebestryders, soos die spesiale ondersoekeenheid en die openbare beskermer, onder­gefinansier en onderbeman is en deur wetgewing teen politieke inmenging beskerm moet word;

Dat arbeidswetgewing werkskepping in die wiele ry, dat onsekerheid oor mynregte beleggers afskrik en dat Suid-Afrika se staatsdiens en infrastruktuur dringend aandag nodig het.

Negatiewe

Die beplanningskommissie staan buite die regering in ‘n raadgewende hoedanigheid, wat beteken die regering hoef nie die voorstelle te aanvaar of toe te pas nie.

Sommige elemente binne die ANC, en spesifiek binne die regerende alliansie met Cosatu en die SAKP, verskil met die voorstelle en beplan om dit ernstig teen te staan.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir die beplanningskommissieverslag is 7/10 vir 2011.

5. Regspleging

Die onafhanklikheid van die howe en die skeiding van magte tussen die Uitvoerende- en die Regterlike gesag is van die belangrikste boustene van ‘n regstaat en ‘n effektiewe demokrasie. Uit verskeie uitsprake van President Zuma en die Minister van Justisie, mnr. Jeff Radebe, is dit duidelik dat die transformasie van die howe en die regstelsel ‘n prioriteit van die ANC regering is. In 2010 het die VF Plus gewaarsku dat die ANC se doelwitte hiermee onduidelik is en juis daarom het dit rooiligte laat aangaan. Gedurende 2011 het die ANC se doelwitte in hierdie verband meer duidelik geword en is die VF Plus reg bewys deurdat transformasie gebruik word om die onafhanklikheid van die regstelsel aan te tas.

5.1 Die aanstelling van Hoofregter Mogoeng Mogeng.

Die aanstelling het in groot omstredenheid plaasgevind. Hoofregter Mogoeng Mogoeng is ‘n relatief junior regter in die Grondwetlike Hof. Dit is algemene kennis dat daar meer senior en ervare regters soos Regter Moseneke en andere was wat deur President Zuma oor die hoof gesien is. Daar het ook groot vraagtekens oor die konsultasieproses tydens hierdie aanstelling ontstaan. Die vraag was tereg gevra of die President, anders as wat die grondwet van hom vereis, werklik met opposisieleiers konsulteer voordat hy enige aanstelling maak. Die indruk is dat hy op ‘n naam besluit en daarna ‘n skyn konsultering doen.

5.2 Die oënskynlike aanslag op die Grondwetlike Hof.

Daar vind al meer onheilspellende uitsprake plaas wat indruis teen die onafhanklikheid van die regbank en in besonder die Grondwetlike Hof. Selfs Pres. Zuma het nie geskroom om te sê dat die Grondwethof deur minderhede en opposisie partye gebruik of misbruik word indien hulle nie hulle sin demokraties kan kry nie. Hierdie opmerkings, saamgesien met die ANC regering se sogenaamde “navorsing” wat hulle oor die Grondwethof se uitsprake wil laat doen, laat talle rooi ligte aangaan. Dit lyk al te veel na die bymekaar maak van ammunisie om die Grondwethof se tande te trek.

5.3 Die wetsontwerp op die Beskerming van Inligting.

Die regering se onversetlike voortstorm met hierdie ongelukkige wetsontwerp, ten spyte van ongekende teenkanting, dui op ‘n onversetlike ANC regering wat kalwe aan die hoekstene van ons demokrasie. Die ANC regering weet hoe belangrik ‘n onafhanklike regbank en vrye media in ‘n demokrasie is maar volhard hiermee.

Die ANC regering het duidelike die Grondwethof en die regbank in hulle visier. Die Grondwethof is ‘n kern instelling ter beskerming van die Grondwet en die staatkundige orde. Duidelik is die ANC regering van mening dat hierdie hoeksteen van ons staatsbestel ook onder ANC beheer gebring moet word. Dit moet ten alle koste vermy word.

In die lig van bogenoemde, het VF Plus dit billik geag om ‘n punt van 3 uit 10 aan die ANC regering ten opsigte van die regspleging toe te ken.

6. Ekonomiese groei en werkskepping

Positiewe.

6.1 Dissipline: Die indruk is dat die vorige minister van Finansies, Mnr. Trevor Manuel, sowel as die huidige minister van Finansies, Mnr. Pravin Gordhan, hulle bes doen om Suid-Afrika se openbare finansies gesond te bestuur en ekonomiese dissipline terug te bring.

6.2 Provinsies: Vir die eerste keer is die regering bereid om in te gryp in provinsies waar wanbestuur, korrupsie en vermorsing aan die orde van die dag is.

Negatiewe.

6.3 Werkloosheid: Werkloosheid bly ‘n baie ernstige probleem met ingrypende gevolge vir almal. Die regering misluk in sy pogings om dit aan te spreek.

Van die hoofredes vir die mislukking is ‘n rigiede arbeidsmark, wanbesteding, sluipbelastings en korrupsie in die openbare sektor.

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nou ‘n swaar prys begin betaal vir rigiede minimumlone, oormatige beskerming van werknemers teenoor werkloses, en ander diskriminerende beleidsrigtings, soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging wat minderhede, veral wittes, uit die arbeidsmark hou.

Die IMF het onlangs aangedui dat die onbuigsame arbeidsmark Suid-Afrika se grootste struikelblok vir groei is. Teen die agtergrond is dit verblydend om te verneem dat die ministers van finansies en arbeid die arbeidsregime gaan ondersoek vir moontlike hervorming. Dit skep die geleentheid om daadwerklik te begin praat van die uitfasering van diskriminerende maatreëls in die arbeidsmark.

6.4 Belasting: ‘n Verdere struikelblok vir ekonomiese groei is die stygende en groeiende vorme van belasting. Verskeie akademici het aangetoon dat Suid-Afrikaners alreeds soveel as 60% van hulle inkomste aan belasting betaal wanneer alle direkte en indirekte belastings in ag geneem word. Die las word steeds swaarder met die toevoeging van sluipbelastings, soos tolhekheffings. Daarbenewens word ‘n ongesonde deel van belastings spandeer om 15 miljoen mense op welsyntoelaes te ondersteun. Die situasie is onvolhoubaar gegewe die feit dat net sowat 5 miljoen mense uit 50 miljoen belasting betaal. Daarom sal die ministers van finansies en arbeid vinnig moet werk maak daarvan om die arbeidsmark te dereguleer ten einde entrepreneurs vrye teuels te gee. Alleenlik dan sal die ekonomie groei en werk skep.

6.5 Buitelandse beleggings: Die Walmart-Massmart hofsaak verwar buitelandse beleggers en stuur negatiewe seine aan die buiteland oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Waar Suid-Afrika in die verlede die meeste buitelandse beleggings in Afrika getrek het, is dit tans Angola. Angola het $10 miljard teenoor Suid-Afrika se $1,6 miljard ontvang.

6.6 Transnet pensioenfonds: Die weiering van Transnet en die tesourie om die Transnet pensioenfondse volledig aan te vul, soos per opdrag deur die parlement, is skandalig. Dit is skandalig veral in die lig van die hoë bonusse wat die Transnet topbestuur aan hulleself toeken. Die benarde situasie van die Transnet pensioenarisse, wat ‘n openbare onderneming soos Transnet opgebou het, is ‘n toonbeeld van die wanbestuur van en gebrek aan morele prioritisering deur die regering.

Teen hierdie agtergrond is die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir ekonomiese bestuur 4/10 vir 2011.

7. Taal- en kultuurregte

7.1 Nasionale Taalwet.

Positiewe

Meer as 14 jaar nadat dit ‘n grondwetlike vereiste geword het dat die regering ‘n nasionale taalwet moet aanvaar, is ‘n wetsontwerp uiteindelik hieroor aan die parlement voorgelê.

Die taaleenheid in staatsdepartemente moet ingevolge die wetsontwerp die “gelyke behandeling en dieselfde aansien” van al die land se 11 landstale bevorder.

Negatiewe

Die wetsontwerp is nie ‘n ANC prestasie nie maar die gevolg van ‘n hofbevel deur regter Ben du Plessis in die hooggeregshof in Pretoria in Maart 2010 dat die regering die bepalings van art. 6(4) van die Grondwet in verband met die inwerkingstelling van ‘n taalwet moet nakom. Die parlement moet die wet voor 15 Maart 2012 aanvaar.

Die konsepwet het nog baie probleme en voldoen volgens die VF Plus steeds nie aan die Grondwet se vereistes nie.

7.2 Geografiese name.

Elke jaar is daar nuwe hofsake, betogings en gevegte oor naamsveranderinge. Omdat daar geen afsnydatum vir hierdie tipe veranderinge is nie, gaan naamsveranderinge nou al vir 17 jaar op hierdie onbevredigende wyse aan. Dit raak kiesers regstreeks.

Hierdie jaar is die name van Louis Trichardt en Nelspruit verander na Makhado en Mbombela. Op dieselfde wyse is verskeie ander dorpe se name verander. In Bloemfontein verander die ANC ‘n groot aantal bekende historiese straatname (byvoorbeeld Andries Pretoriusstraat na Raymond Mhlaba-straat en Paul Krugerlaan na O.R. Tambo-laan) en die DA doen dieselfde in Kaapstad.

Die VF+ het geen beswaar indien geboue, plekke, strate ens. vernoem word na persone wie in die verlede oorgesien en nie erkenning geniet het nie.

Waarteen die party wel beswaar maak, is die obsessie van die kant van beide die ANC en die DA – waar hulle ook al regeer, om die geskiedenis van Suid Afrika te probeer oorskryf volgens hul huidige subjektiewe oordeel. Die Anglo-Boereoorlog, kolonialisme, die slawetydperk, apartheid, ens. word almal sondebokke gemaak. Die vraag is – wie bepaal die sonde-graad van welke periode en sy persoonlikhede?

President Paul Kruger het gesê: “Behou die goeie uit die verlede en bou daarop die toekoms!” Hierdie land is oor 350 jaar opgebou tot die ekonomiese reus wat hy in Afrika is met infrastruktuur waaruit geslagte vorentoe nog lank sal voordeel trek. Alles wat gedoen was in die verlede was nie noodwendig foutloos nie maar definitief ook nie sonder positiewe resultate nie.

Die resultaat: Die ANC misken die diverse samestelling van Suid Afrika se verskeidenheid van gemeenskappe. Hulle maak ‘n ongevoelige en doelbewuste inbraak op die geskiedenis en kultuurgoedere van talle gemeenskappe soos byvoorbeeld die Afrikaner deur die blatante miskenning van die positiewe bydrae van leiers en helde van weleer.

Die VF Plus standpunt is: Voeg by sonder om weg te neem!

Nooddienste wat adresse soek kla deurlopende oor die talle nuwe strate en woonbuurtes wat geen name het nie. Vernoem geboue, plekke, strate ens. ook na diegene wie nie erkenning gekry het nie, maar moenie bestaande name vervang bloot vir kort termyn party politieke gewin nie. Ons moet hier ook streef na ‘n wen-wen situasie as ons eerlik en opreg is dat Suid Afrika aan al sy mense behoort.

Die VF Plus ken die ANC regering ‘n punt van 4/10 toe.

8. Slotsom

Samevattend is die volgende punte toegeken:

Misdaadbekamping

3

Algemene korrupsie

4

Beplanningskommissie

7

Regspleging

3

Ekonomiese groei

4

Taal- en kultuurregte

4

Dit blyk dus uit bogenoemde evaluasie dat die ANC vanuit die oogpunt van die deursnee VF Plus-kieser vanjaar ‘n gemiddelde punt van 42% vir sy vertoning ten opsigte van beleid behaal het.

Die VF Plus bly verbind tot ‘n Suid-Afrika wat ruimte bied aan almal. Die party sal in 2011 – soos in die jare tevore – verbind bly tot die konstruktiewe aanlê van gesprek waar dit kan en die mobilisering van opposisie en weerstand waar dit moet.

данильченко юрій броніславович компромат