Kom ons trek laer rondom Pieter Mulder

Soos ek in my vorige rubriek te kenne gegee het, het daar begin Februarie iets ongeloofliks gebeur, toe genl. Johan van der Merwe die Belhar-belydenis se voorstanders met die waarheid oor die terreuraanslag teen Suid-Afrika in die tagtigerjare gekonfronteer het. Kort op die hakke daarvan, kom vandeesweek se verklaring deur dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus dat swartes in die verlede nooit die hele Suid-Afrika bewoon het nie.

Praag.co.za het reeds Donderdag Mulder se hele toespraak gepubliseer, maar die gewraakte sinne waaroor Zuma, asook Zille se DA en vandag Mondli Makhanya van die Sunday Times histeries raak, is die volgende:

“‘Africans in particular’ het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.”

Volgens Makhanya het Mulder hiermee “‘n kru vorm van apartheidsontkenning gepleeg… Hy het ‘n skerp mes in die maag van swart Suid-Afrikaners gesteek en een van hul mees pynlike oomblikke weggesmyt.” Die Sunday Times het ook in gemengde Engels en Afrikaans vir Pieter Mulder tot “mamparra van die week” verklaar.

Oor die afgelope tyd het die Vryheidsfront en veral dr. Pieter Mulder heelwat kritiek verduur weens sy adjunkministerspos in die ANC-kabinet, asook die swak vertoning van die party tydens die munisipale verkiesing verlede jaar. Feit is egter dat daar nou belangriker kwessies op die spel is en dat dit tyd is vir die Afrikaner om vir sy regte, sy geskiedenis, sy taal en sy voortbestaan op te staan.

Dit het tyd geword om die ou Latynse spreuk te volg: unus pro omnibus, omnes pro uno, “een vir almal en almal vir een”, wat deur Alexandre Dumas in sy boek, Die drie musketiers, beroemd gemaak is.

Pieter Mulder het, nes Johan van der Merwe, gepoog om die waarheid oor ons geskiedenis te praat en daarvoor word hy nou baie sterk aangeval. Want ons weet dat die ANC hierdie land met propaganda en leuens verower het en daarom is die party en sy lakeie besonder sensitief vir enige idees wat dalk ‘n alternatiewe siening van ons geskiedenis en politiek mag skep.

Die goddelike reg van die swartman op grond, wat “van hom deur die blanke gesteel is”, is deur sowel die ANC as Naspers en die DA oor die afgelope dekade uitgebasuin. Die besonderhede en feite van ons geskiedenis is eenvoudig verontagsaam en vertrap ter wille van hierdie Marxistiese weergawe van die Suid-Afrikaanse verlede.

Ons weet dat die ANC en die SAKP – ook daardie kommunistiese mummie, Jeremy Cronin, het vandeesweek oor blanke wreedhede gefulmineer – “die geskiedenis as ‘n terrein van stryd” beskou. Soos George Orwell gesê het, “Hy wat die hede beheer, beheer die verlede. Hy wat die verlede beheer, beheer die toekoms.”

Daarom is die stryd oor ons geskiedenis wat die afgelope weke deur Johan van der Merwe en nou deur Pieter Mulder ontketen is, van die uiterste belang. Vir Mulder het dit moed geverg om man-alleen in die parlement op te staan en die Bantoesprekers daaraan te herinner dat hulle nooit in die verlede die hele land beset het nie. Trouens, selfs ‘n stad soos Johannesburg het tot voor die tweede wêreldoorlog ‘n blanke meerderheid gehad en is slegs deur immigrasie tot vandag se Afrika-toestand verander.

Die Engelse intellektuele met hul voorliefde vir die Marxisme het jare lank die argument gevoer dat ons Afrikaners die swartes uitgebuit, mishandel en as’t ware van hul grond verdryf het. Vandaar die mite dat Suid-Afrika eers ‘n “swart land” was wat deur ons, die blanke setlaars, “gesteel is”. Ook Jeremy Cronin se uitspraak vandeesweek in reaksie op Mulder getuig van die gebruik van emosionele propaganda. Cronin, wat adjunkminister van vervoer is, het gesê:

“Hy ondergrawe sy argument geheel en al wanneer hy hierdie verskriklike koloniale mite inbring dat die land leeg was toe die koloniste aangekom het. Hy sê aan ons dat ons die Voortrekkerdagboeke moet lees. Maar ek het die Voortrekkerdagboeke gelees. In daardie dagboeke spog hulle oor hoe hulle inheemse mense gejag het asof hulle blote ongediertes was.”

Cronin verwys na “koloniale mites”. Maar wat van kommunistiese mites? Sedert die sestigerjare, maar selfs daarvoor, het Marxistiese akademici en historici in dié land ‘n uiters eensydige, leuenagtige weergawe van ons geskiedenis gefabriseer. Cronin en sy geesgenote van die SAKP  het aangesluit by Philip en Van der Kemp om Twee eeue van onreg deur Engelse vir ons te skep. Die joernaliste en rubriekskrywers van Naspers het dit alles vir soetkoek opgeëet en vir die afgelope dekade of twee in ons kele afgedruk.

Die kritici van Israel praat van die “apartheidsmuur” wat in daardie land teen Palestynse terreuraanvalle gebou is. Maar ‘n nuwe “apartheidsmuur”, baie soortgelyk aan die Berlynse muur, het sedert 1994 in ons land verrys. Dis ‘n muur wat steen vir steen met kommunistiese mites aanmekaar gevysel is. Soos ek al soveel kere vantevore gesê het, is die Berlynse muur nog nooit in ons land afgebreek nie, want kommunisme word steeds as ‘n hoogs morele stelsel en wêrelbeskouing geag.

Die tyd het aangebreek om daardie “apartheidsmuur” waarmee ons as setlaars in ons eie land uitgebeeld word, finaal te bestorm. Nie met klippe en brandende motorbande soos die gepeupel in hierdie land maak nie, maar met woorde, feite en skerpsinnige formulerings soos Pieter Mulder enkele dae gelede in die parlement gedoen het.

Soos die vyand met sy oordrewe reaksie getoon het, gaan die stryd egter taai wees. Ons sal spanne mense moet vorm om bepaalde aspekte van ons geskiedenis na te vors, veral wat grondbesit betref. Gelukkig is die biblioteke vol Afrikaanse boeke en proefskrifte wat ons voorouers geskryf het omdat hulle versiende genoeg was om te weet dat die Afrikaner se plek in Suid-Afrika geensins ‘n gegewe is nie, maar iets wat net deur stryd en harde werk verwerf kan word.

PRAAG is uniek geplaas om die voortou in hierdie anti-kommunistiese veldtog te neem. Ons beskik oor van die beste polemiese rubriekskrywers in die land. Ons moet onmiddellik met ‘n veldtog begin om die bres wat dr. Pieter Mulder geslaan het verder te vergroot, sommer ‘n gat in die muur van apartheidspropaganda uit te kap. Ons moet dit op die Praagwebblad iin Afrikaans doen,  en van daar af via Twitter en Facebook versprei ten einde ons eie mense in te lig.

Maar ons moet ook briewe, artikels en mediaverklarings aan al die media in die land en selfs in die buiteland rig. Dit sal georganiseerd gedoen moet word en die Vryheidsfront Plus, Afrikanerbond, Afrikanerfront, asook elke moontlike Afrikaanse organisasie wat enigiets beteken of oor talentvolle mense beskik, sal moet meedoen hieraan. Oor die radiostasies en op TV moet ons dit met oortuiging en drif herhaal: Hierdie land is ons s’n en ons verwerp die Marxistiese mite dat ons “setlaars” sou wees. Elke erf en elke plaas, behalwe in die tradisionele of tuislandgebiede, beskik oor sy kaart en transport. Die bewyslas behoort te rus op die ANC en SAKP, asook die joernaliste van Naspers, Avusa en die ander mediagroepe wat so graag eiendomsreg in dié land verdag maak, om aan te toon waar en wanneer elke plaas of erf aan ‘n “inheemse” swartman behoort het, waar hy vandaan gekom het, watse paspoort of ID-dokument hy gehad het, en so meer.

Net so moet daar aan ons bewys word waarom kommunistiese Engelse soos Cronin hulself “inheems” ag en namens die “inheemses” mag praat, en waarom Engels en Zoeloe of Xhosa “inheems tale” is, maar Afrikaans nie.

Die ANC is ‘n party en ‘n organisasie wat homself gewoonlik in die  taal van stryd en oorlog uitdruk. In die verlede het hy gereeld oorlogsverklarings aan Suid-Afrika en aan die Afrikaner se adres gerig. Nêrens waar ek van weet, het hy al ooit sulke oorlogsverklarings teruggetrek nie. Net soos wat geen ANC-minister hom nog ooit teen plaasmoorde uitgespreek het nie. Daar is mos so iets soos “stilswyende goedkeuring”. Die huidige propagandastryd rondom grondbesit en eiendomsreg in ons land verteenwoordig bloot ‘n voortsetting van daardie oorlog. Pleks van ‘n oorlog met wapens of terreuraanslae soos die Kerkstraatbom, gaan dit nou om ‘n inligtingsoorlog of, om die ANC se term te gebruik, die “ideologiese stryd”.

Die eerste skote in daardie stryd het lankal geklap. Tans is ons oorlewing op meer as een manier op die spel. Laat president Jacob Zuma naderhand huil vir sy masjiengeweer. Want anders as wat Breyten Breytenbach destyds in sy gedig geskryf het, is dit:

Nie met die masjiengeweer nie, maar met die pen.

Unus pro omnibus, omnes pro uno!

Данильченко Юрий Харьков

Belhar: Naspers verdedig hul Marxistiese ‘Groot Leuen’

Iets ongeloofliks het oor die afgelope week of wat gebeur. Ná die publikasie van genl. Johan van der Merwe se memorandum oor die Belhar-belydenis, wat blykbaar aanvanklik deur Neels Jackson van Beeld “uitgelek” is, het daar ‘n angsvallige trilling deur Heerengracht 40 in Kaapstad getrek, daar waar Naspers gesetel is.

Oor jare heen het Beeld, Die Burger, Rapport en ander publikasies in die Naspersgroep saamgewerk om die “Groot Leuen” in Suid-Afrika te vestig. Die Groot Leuen berus op die Marxistiese siening van ons geskiedenis wat, soos Mbeki dit ook per geleentheid gestel het, die Suid-Afrikaanse samelewing as “kolonialisme van ‘n spesiale tipe” beskou. Hiervolgens was enige vorm van geweld of terreur in die verlede teen die vorige bewind geregverdig en indien Nelson Mandela nie Jesus Christus is nie, is hy wel naby daaraan.

Almal wat hom ken, bevestig dat genl. Johan van der Merwe waarskynlik die briljantste polisieman is wat dié land nóg opgelewer het. Vergelyk hom byvoorbeeld met Jacky Selebi, die ANC se idee van ‘n polisiehoof wat nou tronkstraf vir korrupsie uitdien. Maar Van der Merwe is ook ‘n gelowige en skerpsinnige denker wat in sy onlangse memorandum ‘n baie nugter blik op die Belhar-belydenis werp.

Die kern van sy beswaar is dat Belhar destyds in die tagtigerjare bedoel was om ‘n teologiese regverdiging vir terreur en politieke geweld te bied. As iemand wat destyds hoof van die polisie se Veiligheidstak was, weet hy baie goed in watter mate die Engelstalige kerke destyds, asook die NG Sendingkerk, deel was van die revolusionêre aanslag teen die ou regering.

Ten einde Belhar vandag vir gewone NG-lidmate aanvaarbaar te maak, word dit voorgestel as een of ander uitdrukking van “solidariteit met die armes”. Die historiese betekenis van die dokument is daarmee verdoesel, want dit spruit uit die sogenaamde teologie van die revolusie wat Karl Marx en die Bybel met mekaar probeer versoen het.

Dat Van der Merwe se memorandum ‘n teer punt aangeraak het, is helder. Sedertdien poog ‘n horde van Beeld en Die Burger se linkse (neo-Marxistiese?) rubriekskrywers om vure dood te slaan. Miskien is die gemiddelde NG-lidmaat toe nie so naïef en goedgelowig as wat die revolusionêre gedink het nie en mag sommige selfs begin ag slaan op die intellektuele en teologiese debat wat daar nou ook buite die kerk rondom die Belhar-manifes begin loop.

Christina Landman en Neels Jackson het albei in Beeld gepoog om die skade wat die Van der Merwe-memorandum reeds aangerig het, ongedaan te probeer maak. Ongelukkig is beide intellektuele liggewigte wat nie in staat is om op Van der Merwe se beginselbeswaar teen Belhar te antwoord nie.

Ek dink nie daar was al ooit ‘n land waarvan die geskiedenis so grondig verdraai en diensbaar aan die politiek van die dag gemaak is soos dié van Suid-Afrika nie. Dis al ‘n cliché om dit “Orwelliaans” te noem, ná George Orwell, die skrywer van 1984 en Animal Farm waarin die kommunisme gesatiriseer word.

Ek staan agterdogtig teenoor akademici wat in die Nuwe Suid-Afrika nog nie hul werk verloor het nie. Nadat die revolusie soos ‘n orkaan deur die universiteite getrek het, bly weinig akademiese vryheid of integriteit nog oor. Daarom verbaas dit nie dat die mees fanatieke voorstanders van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie juis aan ons universiteite te vinde is nie. Hulle huiwer ook nie om naakte propaganda uit te basuin as dit daarby kom om die “kontra-revolusionêre” – die gewone middelklasmense van Suid-Afrika – te “bestry” nie.

Prof. Christina Landman begaan in haar Beeld-rubriek die groteske mistasting om die geskiedenis van die ANC só voor te stel:

Kyk, die ding staan só: Die ANC het nie die land met geweld oorgeneem nie. Die ANC het – met of sonder die kerk se hulp – nie die politieke stryd met geweld gewen nie.

Hy het dit juis gewen wanneer hy op sy weerloosste was. Soos met Sharpe­ville.

Toe ongewapendes met geweld uitmekaar geskiet is deur die “boys on the border back home” wat ernstig deur die wit kerk ondersteun is. En die hele wêreld kon sien wat gaan aan.

Daardie geharde, revolusionêre, Marxistiese organisasie wat tot in die tagtigerjare die ou Sowjetunie as sy vernaamste bondgenoot gehad het, die outeurs van die Kerkstraatbom en vele ander aanvalle op ongewapende burgerlikes, word in Landman se Sondagskoolprosa tot die spreekwoordelike wolf in skaapsklere omgetower. (Terloops, diegene wat by Sharpeville opgetree het, was ook van die PAC en nie van die ANC nie.)

Geweld, selfs verskrikking, was ‘n wesentlike deel van die ANC en SAKP se strategie om hierdie land te verower. Daarvan getuig die meer as 400 voorvalle van halssnoermoorde wat deur die revolusionêre gepleeg is.

In antwoord op Christina Landman se stuk onverdunde propaganda, het mnr. Johan Botha, voorsitter van die Stigting vir gelykheid voor die reg, ‘n uiters saaklike en beredeneerde brief aan die rooi koerant, Beeld, gerig. Daarin maak hy Landman attent op die wanvoorstelling wat sy van Sharpeville pleeg:

‘n Kommissie van ondersoek onder regter P. Wessels het die Sharpevillevoorval ondersoek en die volgende feite is geboekstaaf :

  • 294 Lede van die Polisie was binne ‘n draadomheining deur ‘n moordlustige skare van ongeveer 20 000 duisend vasgekeer.
  • Hulle was met pangas, ystervoorwerpe en stokke gewapen.  Die skare is deur middel van ‘n luidspreker herhaaldelik  versoek om uit een te gaan.
  • Die polisie het die hek oopgemaak om ‘n lid van die skare wat om beskerming gevra het, binne te laat. Die skare het daarna deur die hek gebars en die lede van die polisie het uit selfverdediging begin skiet.
  • Die harde werklikheid is dat indien die skare die polisie sou oorweldig het, slegs die verminkte lyke van die polisie op die toneel sou agtergebly het.  Talle soortgelyke gevalle soos Bergville en Cato Manor bevestig dit.

Terwyl Beeld hoog opgee oor sy verbintenis tot die Perskode en “die waarheid”, wou die koerant nie Botha se brief plaas nie en het slegs ‘n reeks niksseggende briewe in reaksie op Christina Landman se rubriek gepubliseer. Hier het ons egter te make met ‘n blatante verdraaiing van historiese feite wat volgens die Perskode ‘n regstelling sou vereis. Maar vir Beeld is die waarheid ‘n geringe kwessie as dit kom by die koerant se groter diens aan die Nasionale Demokratiese Revolusie.

Soos ek al voorheen gesê het, het die Berlynse muur nog nooit in hierdie land geval nie.’n Direkteur van Naspers, Jakes Gerwel, het in Rapport bely dat hy in trane uitgebars het toe die kommunisme in 1989 in duie begin stort het. Soos Solsjenitsin en die Franse “nuwe filosowe” ons al telkemale verseker het, was kommunisme die grootste meneseregteramp van die twintigste eeu, veel groter as fascisme of apartheid. Ongeveer 100 miljoen mense het vanweë kommunisme gesterf. Trouens, vergeleke met die menseregterekord van kommunistiese lande of van die gemiddelde Afrikaland ná onafhanklikheid, was apartheid eintlik ‘n hoogs morele stelsel. In die politiek is alles natuurlik relatief.

Dit het my laat dink: As die NG Kerk ‘n status confessionis aangeneem het wat bepaal dat “apartheid” (en as ‘n mens die VN-konvensie se definisie daarvan lees, dan leef ons vandag meer as ooit ‘n toestand van apartheid) … “sonde” was, sou die NGK ook bereid wees om te verklaar dat kommunisme “sonde” was? En indien wel, wat dan van die bevrydingsteologie met sy wortels vierkant in die Marxisme, die klassestryd en die proletariese revolusie? Trouens, daar is vir my heelwat eggo’s van Marx en Engels se Manifes in die Belhar-belydenis, die gedagte dat die geskiedenis (en God) aan die kant van die werkersklas is en dat revolusie daarom “histories onafwendbaar” is.

Christina Landman erken presies wat genl. Van der Merwe sê, naamlik dat die kerke ‘n groot rol gespeel het om die ANC se oorname te bewerkstellig:

En, nou ja, uiteindelik was dit hierdie swartbevrydingsteologie wat die ANC aan die bewind geplaas het.

Maar dit was nie soos die een groot, wit kerk wat die apartheidsregering ondersteun het nie.

Daar was egter ‘n groot kerk in Brittanje, nogal ‘n wit kerk, wat insgelyks die ANC en sy revolusie ondersteun het: die Anglikaanse Kerk. Onder invloed van Trevor Huddleston, het die Anglikaanse Kerk vanuit die Sint Paulus-katedraal ‘n geldwasseryskema aan die gang gehou om die geldelike steun wat Swede aan die ANC bewillig het, na Suid-Afrika te kanaliseer om opstand en revolusie te stook. Daar was nooit enige spontane verset teen die ou orde behalwe deur ‘n klein groepie linkse en veral Marxistiese intellektuele en geestelikes nie. Sonder die geld van Swede en die Anglikaanse Kerk se rol wat in ‘n hoë mate ook die buitelandse propaganda téén ‘n hervormende Suid-Afrika verskaf het, sou daar nooit soveel geweld en wanorde plaasgevind het nie.

As ‘n mens van die beëidigde verklarings bestudeer wat ná die Soweto-onluste afgelê is, kom jy ook onder die besef dat die Anglikaanse Kerk insgelyks dáár ‘n rol gespeel het om die vonk in die kruitvat te verskaf. Daar was geld, vervoer, pamflette, organisasie en natuurlik die aanblaas van die anti-Afrikaanse sentiment.

Toe Johan van der Merwe ‘n week gelede op RSG gepraat het, het dr. Kobus Gerber van die NG Kerk net ná hom nogal neerhalend gesê dat hy “die belydenis van Belhar slegs vanuit die perspektief van ‘n polisieman sien”. Hy het ook verklaar dat “elke belydenis in ‘n tydperk van stryd gebore is”, asof die stryd van die tagtigerjare iewers ‘n godsdienstige konflik tussen Katolieke en Protestante was! Nee, dit was ‘n politieke magstryd wat oor die beheer van die land gegaan het. En daarvoor is godsdiens en die teologie ook ingespan, omdat die suiwer sekulêre boodskap van die Marxistiese klasserevolusie in ‘n land soos Suid-Afrika geen weerklank by die gewone swartman op straat gevind het nie. Die infrastruktuur van die kerke is egter gebruik, eerder misbruik, om die oogmerke van die revolusie te bevorder.

Die drie susterskerke is eintlik al werklik Afrikaanse instellings wat daar oor is en wat nog nie deur die revolusie “getransformeer” is nie. In hierdie finale fase van die NDR moet selfs ons kerke die neo-Marxistiese bevrydingsteologie aanvaar en hulself ondergeskik aan die revolusionêre maak.

Die kritiek op Belhar moet wyer uitkring en op die revolusie self van toepassing gemaak word, soos dit in Europa in die aanloop tot 1989 geskied het. In Wes-Europa het kloekmoedige intellektuele onder invloed van Solsjinitsin reeds in die sewentigerjare die Marxisme as ‘n doktrine begin verwerp en is aanvanklik ook deur die universiteitsgemeenskap as ketters beskou. Daarna het die proses in Oos-Europa, in Pole, Oos-Duitsland en uiteindelik Rusland self begin.

Verlede naweek was daar ‘n vergadering van ‘n paar Afrikaanse organisasies wat op grond van die Afrikanerbond en die Vryheidsfront se gesamentlike dokument oor die NDR besluit het om ‘n eendagkonferensie oor die Nasionale Demokratiese Revolusie te hou. Belhar behoort een van die temas te wees, want dit verteenwoordig die teologiese sy van die NDR waarvan die meer radikale fase(s) nog vir ons voorlê.

Die vraag aan dr. Kobus Gerber en ander NG Kerk-ampsdraers behoort te wees: Indien die Anglikaanse Kerk en ander kerke bereid was om geld, infrastruktuur en ‘n teologiese regverdiging aan die revolusionêre te verskaf, wat kan die NG Kerk vandag vir die Afrikaner en ander slagoffers van die revolusie bied? Ons verwag nie dat die NG Kerk ‘n ander belydenis hoef aan te neem om ook vir Afrikanerbevryding voorsiening te maak nie, maar die kerk behoort minder in die ou visbalie van die Sowjetunie en sy vergange kommunisme rond te krap en meer deernis met sy eie lidmate te ontwikkel.

Wat Christina Landman en Neels Jackson betref, sien ons hulle net vir wat hulle is: die spreekbuise van ‘n immorele, gewelddadige bestel wat nie daarvan terugdeins om godsdiens te gebruik om sy sielkundige greep op sy onderdane te behou nie.

лобановский александр фото

Moet FW de Klerk-stigting ons toekoms bepaal?

Mnr. Tertius Delport het my ‘n paar jaar gelede vertel wat een oggend in 1992 by die Uniegebou gebeur het. Ondanks Delport se smekinge, het mnr. FW de Klerk argeloos die Afrikaner se soewereiniteit weggeteken en die sogenaamde “rekord van verstandhouding” op 26 September aanvaar.

Delport moes as hoofhandelaar van die Nasionale Party bedank en daarna het die Groot Jabroer, Roelf Meyer, oorgeneem. Maar eintlik was die koeël reeds deur die kerk en was die ware oomblik van “oorgawe sonder neerlaag”, soos Hermann Giliomee daarna verwys het, reeds op 26 September 1992, daardie fatale dag in ons geskiedenis, verby.

Soos ek dit reeds elders gestel het, het mnr. De Klerk ‘n blanko tjek uitgeskryf en die ANC is nog steeds besig om die nulle in te vul. Ons het reeds van al ons grondgebied, openbare maatskappye en ander volksbates afstand gedoen en steeds is dit nie genoeg nie. Selfs ons Afrikaanse staatskole word nou wesentlik bedreig. (Terloops, as u dit nie reeds gedoen het nie, teken asseblief die Petisie vir Afrikaanse skole in Gauteng.)

Gedane sake het geen keer, soos hulle sê. Maar wat my bekommer, is dat die FW de Klerk-stigting steeds ‘n vername rol in die huidige Afrikanerpolitiek speel. Oral waar die vernaamste Afrikaanse organisasies vergader, is die FW de Klerk-stigting insgelyks verteenwoordig. Die stigting beskik oor geen bewese steunbasis nie en verkry sy “legitimiteit” van die voormalige pos wat mnr. De Klerk as president van Suid-Afrika beklee het. Omdat hy vir die ANC ‘n min of meer bloedlose revolusie in ons land verseker het, word hy ook deur die meeste geswore vyande van die Afrikaner as ‘n held beskou.

Mnr. De Klerk en sy stigting word insgelyks deur die Nasperskoerante gesteun, wat gereeld oor hul doen en late berig. Hoewel Beeld, Die Burger en Rapport in die meer onlangse tyd kritiek teen die ANC-bewind uitspreek, word mnr. De Klerk se historiese rol steeds deur hulle as voortreflik voorgehou. Die oorgawe sonder neerlaag, asook die gepaardgaande oorhandiging van alle pantser en outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe was “onvermydelik”. Die meeste Naspers-meningsprekers het al male sonder tal die rympie opgesê dat “ons geen ander keuse (as oorgawe)” had nie.

In die meer onlangse tyd het die FW de Klerk-stigting hom begin druk maak oor die voortbestaan van Afrikaans. Verlede jaar het mnr. De Klerk die sogenaamde Mathews Posa-gedenklesing by die Afrikaanse Taalmuseum gelewer waarin hy sy standpunt stel dat ons in die eerste plek moet “aanvaar dat die toekoms van ons taal in ons eie hande lê. Dit is ons wat sal besluit of Afrikaans voortleef en floreer, en of dit sal agteruitgaan en uitsterf. Ons is nie van die regering afhanklik vir ons oorlewing nie.”

Met so ‘n stelling misken mnr. De Klerk dat hy die staatsmag in die hande van Engelstaliges, of dan Afro-Saksers wat Engels as voertaal verkies, geplaas het. Hoe kan ‘n taal soos Afrikaans oorleef as dit gedurig deur ‘n vyandige staatstruktuur soos dié van Suid-Afrika aangeval word? Dwarsdeur die wêreld erken taalkundiges en sosiolinguïste dat instellings, maar veral state, ‘n geweldige rol by die totstandkoming en oorlewing van tale speel. Die paradoks is dat mnr. De Klerk deur sy oorgawe sonder neerlaag eers van Afrikaans ‘n staatlose taal gemaak het en nou van ons verwag dat ons “self”, uit eie bronne, die voorbestaan van ons taal moet verseker. Intussen gebruik die ANC ons belastings om Engels, die internasionale taal, te bevorder en Afrikaans dood te druk.

Eintlik sien die ANC die staat, wat ons voorouers geskep en opgebou het, as die grot van Ali Baba wat deur veertig duisend diewe na hartelus geplunder mag word.

Sedert die stigting van PRAAG in Februarie 2000, moes ons die felle kritiek van vele ANC-gesindes, asook die Naspers-koerante verduur. Dikwels is ons verguis en belaster as “taalbulle”, “puriste”, “volgelinge van Adolf Hitler” en dergelike meer. Ons het egter volhard met ons argumente rondom taalregte en die prerogatief van elke volk om oor sy eie taal en kultuur te mag beskik, soos dit in die Universele Verklaring van Menseregte en vele konvensies van die Verenigde Nasies verwoord word.

Noudat ons so min of meer die argument oor Afrikaanse taalregte gewen het, is mnr. De Klerk en sy stigting gou om sonder ‘n kaartjie op die trein te klim. Die benadering van die FW de Klerk-stigting dreig egter om die hele logiese onderbou van die Derde Afrikaanse Taalbeweging onder ons uit te ruk en al ons harde werk ongedaan te maak.

Mnr. De Klerk stel sy hoop op ‘n Suid-Afrikaanse Taalwet wat deur die ANC-meerderheid in die parlement aanvaar sal word. Nadat ‘n prokureur van Brits, mnr. Kerneels Lourens, ‘n hofaansoek gebring het om die regering te verplig om so ‘n wet aan te neem, lyk die ANC op die punt om dit te doen. Die ironie is egter dat die ANC-bewind so ‘n wet gaan gebruik om Afrikaans nog verder van die wal af in die sloot te help. Die onbekookte en vae bepalings in die grondwet oor taal gaan deur die ANC geïntepreteer word om twee amptelike tale in elke provinsie in te stel: Engels en nog ‘n taal, wat nie Afrikaans gaan wees nie.

Selfs mnr. Kerneels Lourens, wat oorspronklik sy hofaansoek gebring het, steun nie die konsepwet wat nou deur die ANC voorgestel word nie. Weinig Afrikaanse organisasies, behalwe die ATKV onder mnr. Danny Titus, kan enige sin daarin sien. Eintlik is ons beter daaraan toe sónder ‘n Suid-Afrikaanse taalwet, want dan kan ons ten minste nog ons eie interpretasie aan die grondwet heg, ‘n grondwet wat ook volgens internasionale en volkeregtelike beginsels van taalregte geïnterpreteer moet word.

Die invloed wat mnr. FW de Klerk steeds uitoefen, is nie beperk tot die taalkwessie nie. Sy stigting handhaaf blykbaar ook noue bande met Solidariteit en Afriforum wat hulself as die selfaangestelde verteenwoordigers van Afrikaners sien.

Uiteindelik staan mnr. De Klerk vir nasiebou en die assimilasie van die Afrikaner en sy akkulturasie by die meerderheidskultuur in Suid-Afrika. Tydens sy toespraak oor Afrikaans se toekoms verlede jaar, het hy ook kort-kort na Engels oorgeslaan omdat sekere van sy polities korrekte standpunte seker moeilik in Afrikaans oorgedra kan word. Onder andere het hy verklaar:

“For me, this also means that we are called on to reach out across cultural borders to all our fellow South Africans; to build together our common South Africanness; to cooperate in the search for solutions to the problems with which our country still wrestles.

Nation-building must succeed, but can only succeed if we can assure a sustainable and honourable role for our diversity. It is not one or the other. Both – nation-building and diversity – necessitate carefully considered attention in balance with one another.”

Mnr. De Klerk se nasie sal Engels praat, dit weet ons, en die enigste rol vir Afrikaans daarin sal as oorgeërfde folklore uit die “apartheidsverlede” wees.

Onlangs het ek tydens ‘n vergadering van Afrikanerorganisasies wat met onderlinge dialoog besig is beswaar daarteen gemaak om die FW de Klerk-stigting by sodanige dialoog in te sluit. Myns insiens het mnr. De Klerk, weens sy aanvaarding van die “rekord van verstandhouding” in 1992 wesentlik as onderhandelaar misluk en ‘n ramp oor ons gebring. Die teenargument is blykbaar dat “ons almal misluk het”, ook die regse partye wat in die vroeë negentigerjare so onder mekaar baklei het dat hulle nie werklik ‘n verenigde front by Kodesa en teenoor die buiteland kon monster nie. Dus bevind ons ons almal in dieselfde mislukkingsbootjie op pad na Kammaland, wat ons seker “demokrasie, diversiteit en gelykheid” kan noem.

Net soos ‘n maatskappy wat ná ‘n groot mislukking nie weer dieselfde uitvoerende beampte sal aanstel nie, glo ek nie dat die FW de Klerk-stigting toegelaat moet word om weer ons lot, hetsy wat Afrikaans betref, hetsy enige ander aspek van ons toekoms, te bepaal nie.

Die Naspers-koerante, asook mev. Helen Zille en die DA, sien steeds 1994 en die ANC-oorname as ‘n klinkklare sukses vir die land. Dis net Jacob Zuma en Julius Malema wat die probleemagente verteenwoordig. Die res van die staatsdiens, munisipaliteite, weermag, polisie, ensovoorts, kan nie beter nie.

Ons het ‘n groot behoefte aan logiese denke, aan helderheid. As ek mnr. De Klerk se toesprake lees, dan dink hy soos ‘n inboorling. Inboorlinge gee nie om om twee logies teenstrydige waarhede tegelyk aan te hang nie. Mnr. De Klerk wil nasiebou hê én Afrikaans. Nie net is die twee ondering uitsluitend nie, maar in die praktyk het ons mos nou al male sonder tal gesien dat die huidige stelsel eenvoudig nie werk nie. Elke multikulturele of “diverse” instelling in die land is oor die afgelope 18 jaar voor die voet verengels. Die parlement, waar Afrikaans nie eens meer op die opposisiebanke gehoor word nie, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. As die land nie eens daarin kan slaag om sogenaamde “veeltaligheid” in die parlement af te dwing nie, hoe op aarde gaan hy dit in enige ander staatsinstelling regkry?

Die enigste internasionaal aanvaarbare argument vir ons en ons taal se voortbestaan, is dié wat op etnisiteit gegrond is. Let wel: nie ras nie, maar ons etniese identiteit waarby afkoms, taal, kultuur, godsdiens en vestiging binne bepaalde gebiede soos die Kaap, Noord-Natal en die ou Boererepublieke gesamentlik ‘n rol speel.

Die taalprobleem moet holisties benader word as slegs ‘n onderdeel van ‘n veel groter politieke, sosiale en demografiese probleem in Suid-Afrika. Ons toekoms kan nie en mag nie deur ‘n koppetellery binne die unitêre staat bepaal word nie. Dit druis teen alle logika en die volkereg, veral ons diep gewortelde reg op selfbeskikking, in.

Ek is egter bevrees die FW de Klerk-stigting en sy geesgenote verstaan niks hiervan nie en is eintlik besig om die debat in Afrikaans met Britse, Kubaanse en ander buitelandse propaganda te besoedel.

Dis ‘n cliché, ek weet, maar: Met ‘n vriend soos mnr. FW de Klerk, het die Afrikanervolk nog vyande nodig?

Фильчаков прокуратура харьков

Die Burger se rassistiese Rottweilers

So pas het die Persombudsman bevind dat sowel Die Burger as Beeld die perskode oortree het in beriggewing deur Elmari Rautenbach oor my sogenaamde “toe-eiening” van die Afrikaanse skrywersorganisasie Pretoria-PEN. In die onlangse tyd hou Die Burger vol dat hy en sy rubriekskrywers oor die volste reg – kwansuis “in die openbare belang” – beskik om my verdag te maak, te belaster en aanhoudend as “rassis”, “verregse” en “fundamentalis” te etiketteer.

Elmari Rautenbach is die nasionale boekeredakteur van Media24. Omdat Media24, ‘n afdeling van Naspers, alle koerante en bykans alle tydskrifte in Afrikaans besit, bepaal Elmari Rautenbach watter boeke geresenseer sal word, asook wie hulle sal resenseer en dus in ‘n hoë mate die verkope en status van alle boeke en skrywers in Afrikaans. Aan die begin van verlede jaar was daar ‘n vergadering van bekende Afrikaanse skrywers op Stellenbosch wat juis belê is om hierdie kwessie te bespreek.

In sy uitspraak beveel die Persombudsman Die Burger en Beeld om verskoning aan my te bied en ek haal aan uit dr. Johan Retief, die adjunkpersombudsman, se bevinding:

Die koerant(e) word versoek om Roodt om verskoning te vra omdat:

  • hy nie ‘n billike kans gegee is om betyds te reageer nie (Beeld);
  • hulle berig het dat hy hom Pretoria-PEN sou “toe-eien” (Beeld en Die Burger);
  • hulle berig het dat Pretoria-PEN teen die vorige maand nog geen bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar het nie (Beeld en Die Burger); en
  • dit berig het dat Roodt “sy eie” (jaar-) vergadering gehou het (Beeld).

Dié verskoning moet insluit dat hierdie verslaggewing moontlik onnodige skade aan Roodt se openbare beeld berokken het – met ‘n verwysing na die betrokke sin in die Aanhef tot die Perskode.

Beeld word vermaan omdat dié publikasie versuim het om te noem dat kommentaar van Roodt nie betyds verkry kon word nie.

Moontlik mag Beeld en Die Burger besluit om teen dié bevinding te appelleer, maar in die Dawid-teen-Goliatstryd waarin ek my teen Die Burger en die magtige Naspersgroep bevind, kan ‘n mens sê dat ek ten minste hier ‘n paar punte aangeteken het.

Die saak strek egter veel verder. Ek vermoed dat daar ‘n bepaalde frustrasie by Die Burger en sommige Naspersredaksies bestaan omdat hulle sienings nie meer deur die breë publiek en hul lesers as geloofwaardig geag word nie. Daarom speel hulle die sogenaamde “rassekaart” deur kritici van die huidige bestel en veral dissidente Afrikaanse skrywers as “rassiste” en “verregses” te beswadder. Toe Annelie Botes, skryfster van Raaiselkind en ander boeke, ook haar bedenkinge uitgespreek het oor die erge graad van geweld wat deur Suid-Afrikaanse swartes gepleeg word, is sy insgelyks met die teerkwas bygekom. ‘n Georkestreerde veldtog teen haar is ontketen, met die hulp van akademici aan die universiteit van Stellenbosch.  Veral Die Burger handhaaf noue bande met Stellenbosch se meer linkse en polities korrekte akademici en te eniger tyd word hulle soos ‘n trop Rottweilers opgeroep om meningsartikels te skryf waarin die slagoffer dan finaal in stukkies opgekerf en sy oorblyfsels as’t ware vir die honde gegooi word.

Die laaste woord oor “rassisme” in hierdie land is natuurlik nog nie gespreek nie. Vanoggend op Facebook het ek effens hardop daaroor gedink en die volgende kwytgeraak:

Ons is almal bekend met die reël uit Hamlet: The lady doth protest too much, methinks. Waarom gil Ilse Bigalke, Leopold Scholtz en die res so hard oor rassisme? Omdat hulle self die grootste rassiste is, wat heimlik swartes vrees en selfs haat.

Onlangs het my vrou vir my ‘n stuk oor ‘n Sloweense filosoof gestuur waarin hy met behulp van Lacan en Freud na rassisme kyk. Ek dink sy gevolgtrekking is dat almal rassiste is. Sommige mense is net groter rassiste as ander. Die Kaapse gillers oor rassisme is veel groter rassiste as enigeen van die KP of HNP.

Eintlik is die KP- of HNP-mense baie verdraagsaam teenoor swartes. Die vorige leier van die HNP, Wilie Marais, het op ‘n keer aan my verduidelik hoe goed hy na sy swart werknemers omsien. Die Kaapse rassiste vrees swart geweld, maar blameer ander blankes en Afrikaners daarvoor. Jacques Lacan, wat ‘n volgeling van Freud was, het mos van “oordrag” gepraat. Die pasiënt verplaas sy gevoelens van een voorwerp/objek na ‘n ander.

Leopold Scholtz en Ilse Bigalke dra hul rassehaat jeens swartes op my en ander noordelike Afrikaners oor. Natuurlik voel hulle ook skuldig oor die rassisme wat hulle in hul binnekamers koester. Hoe skuldiger hulle voel, hoe harder beskuldig hulle ander van rassisme.

In Elmari Rautenbach se berig het sy onder meer vir Breyten Breytenbach betrek om ‘n negatiewe mening oor Pretoria-PEN uit te spreek. Waarom word Breytenbach egter nie ook as ‘n rassis deur Die Burger gehoon nie? In Desember 2008 in Harper’s Magazine het Breytenbach sy ontnugtering met die Nuwe Suid-Afrika en postkoloniale Afrika in die algemeen uitgespreek in die vorm van ‘n ope brief aan Mandela: Mandela’s smile – notes on South Africa’s failed revolution. Dis ‘n lang, ietwat wollerige brief, maar plek-plek sny hy ook tot op die been as dit by moeti-moorde, korrupsie, diefstal, wanbestuur en geweld kom. Suiwer rassisme, volgens Die Burger en sy spannetjie gesublimeerde rassiste wat besig is om ‘n nuwe vorm van sensuur, die sensuur van “die-rassis-vermom-as-teenrassis”, toe te pas.

In sy bevinding verwys die adjunkpersombudsman egter ook na “die kumulatiewe effek” (hy kursiveer dié sinsnede in sy bevinding hier onder) van Die Burger en Beeld se stories oor Pretoria-PEN:

  • Ek verwys telkens na die waarskynlikheid dat sommige stellings in die stories Roodt onnodige skade kon berokken het – dié verwysings is gebaseer op ‘n stelling in die Aanhef tot die Perskode wat sê dat joernaliste onnodige skade moet vermy;
  • Ek is bekommerd oor die kumulatiewe effek van dié onnodige skade wat die berigte Roodt waarskynlik berokken het; en
  • Die pers in die breë praat soms onwaarhede klakkeloos na, al is die feite ook agterna reggestel – ek hoop van harte dat dit nie in hierdie geval gaan gebeur nie.

Nou die dag, in ‘n berig oor die vertrapping buite die hekke van die voormalige RAU, die sogenaamde “Joedjy”, lees ek in die New York Times dat die swart studente mekaar vertrap het omdat hulle nie voorheen onder apartheid die geleentheid vir tersiêre studie gehad het nie. Fanie Olivier, die voormalige professor aan die universiteit van Venda, sal seker kan bevestig dat daardie instelling in 1994 tot stand gekom het, want hy is geen rassis nie en sal dit nie durf waag om teenoor die magtige New York Times as apartheidsapologeet op te tree nie, nie waar nie?

Die kumulatiewe effek van jare lange mites, leuens, halwe waarhede en doodgewone domheid wat in die propaganda-oorlog om die siel van Suid-Afrika uitgegiet is, sal ons seker nooit na waarde kan skat nie.  Maar ten minste het die adjunkpersombudsman raakgesien wat die kumulatiewe effek van Elmari Rautenbach se beriggewing oor my en Pretoria-PEN kan wees.

Op Facebook het Elmari Rautenbach ook teenoor Herman Lategan, Liza Albrecht, Jaco Jacobs, François Griebenow, Kerneels Breytenbach en ander, wat almal in die Media24-dampkring verkeer, te kenne gegee dat sy die nuus so plaas dat dit bedoel is om my in ‘n swak lig te stel. Die algemene gevoel onder Elmari Rautenbach se Facebook-gespreksgenote was blykbaar dat ek een of ander dorpsidioot is “wat verdien om doodgeswyg te word (siende dat sy ma versuim het om hom dood te lê toe hy klein was)”.  Laasgenoemde synde ‘n verbatim-aanhaling uit dié hoogs intellektuele debat in die binnekringe van die Media-vier-en-twintigers.

Voeg daarby die kumulatiewe effek van Die Burger se  aartsrassistiese rubriekskrywers oos Max du Preez, Leopold Scholtz en Ilse Bigalke wat met hul eie rassedemone en identiteitskrisisse worstel, dan kry ‘n mens soms die indruk dat jy terug verplaas is na die Middeleeue. En binnekort gaan al die ketters op die brandstapel geplaas word. Of dalk gaan ons Siberië toe gestuur word om soos Solsjenitsin die binnewerkinge van die ANC en Die Burger se goelag te beskryf.

Oorspronklik toe ek op die gedagte gekom het om Pretoria-PEN te stig, het ek eintlik gedink dat skrywers in die nabye toekoms gevaar loop om deur die ANC in die tronk gesmyt te word. Dit was as ‘n soort versekering vir die toekoms bedoel. Ten minste as iemand in Londen af en toe vir die minister van korrektiewe dienste ‘n brief skryf, mag dit ‘n positiewe uitwerking hê. Met ander skrywers in ander lande sou ons dalk kon veg om sulke dissidente weer te bevry. Die manier waarop Clive Derby-Lewis teen die reg en alle billikheid in tans steeds aangehou word, laat my dink dat my geloof in die mag van publisiteit oor ‘n gevangene taamlik misplaas is. Seker daarom dat daar, ondanks vertoë van PEN Internasionaal en ander menseregte-organisasies, steeds bykans 1000 skrywers wêreldwyd in tronke aangehou word.

Nooit in my wildste drome kon ek egter voorsien dat die grootste bedreiging vir spraakvryheid in ons land van die Freudiaans onderdrukte rassiste by Die Burger sou kom en nie van Julius Malema of Floyd Shivambu nie.

Die patetiese wyse waarop John Miles en Fanie Olivier hulle na Elmarie Rautenbach gewend het om ‘n “bietjie slegte publisiteit” vir my op te wek, hopende om so hul gepoogde staatsgreep op Pretoria-PEN te bestendig, is nou ook aan die kaak gestel vir wat dit is: net nog ‘n agteraf gekonkel wat misluk het.

As skrywers en denkers – die woord “intellektueel” het vir my al so bedenklik en besmet geraak dat ek dit liefs vermy – behoort ons egter te weet dat ‘n vinnige tref-en-trap-moddergooiery in ‘n koerantberig korstondige bevrediging verskaf, maar geen werklike beginselkwessie besleg nie. Al sing Die Burger se hele personeel met die redakteur as dirigent elke week in drie stemme en netjies afgerig dat ek ‘n verregse reaksionêr is, gaan dit nog geen duit verskil aan ons maatskaplike werklikheid en wanorde maak nie.

Op ‘n manier veg ons vandag baie harder as ooit om die waardes van die Europese Verligting staande te hou, want ons is besig om nogmaals te verval in die irrasionele en dít wat Kant “dogmatiese rede” genoem het. Ek sê altyd: as dit nie vir die Verligting was nie, sou jy nie nou ‘n selfoon in jou hand en rekenaarskerm voor jou gehad het nie, want dit was daardie soeke na die werklike struktuur van die wêreld – en nie die dogma nie – wat hierdie hele wetenskapfiksie-avontuur wat ons tans beleef, moontlik gemaak het.

Die Spaanse Inkwisisie het as “die honde van God” bekendgestaan. Van Wyk Louw het een van sy beste gedigte oor so ‘n “hond van God” geskryf. As ons egter ooit sou toelaat dat die “Rottweilers van ras”, wat by Die Burger en ander Nasperspublikasies aan hul kettings wurg, die oorhand kry, is  spraakvryheid in Afrikaans daarmee heen.

Soos ek nou die dag vir ‘n buitelandse korrespondent hier in Johannesburg gesê het, is die stryd om vryheid wat tans woed, veel feller en moeiliker as die sogenaamde “struggle” teen apartheid. Daar was twee of drie komitees wat die anti-apartheidsbeweging bestuur het, met Huddleston aan die spits en die Sweedse geld wat in ‘n dik stroom vanuit Stockholm gevloei het.

Ons veg om basiese dinge soos die reg op lewe, die reg op meningsuiting, die reg op gelykheid, moedertaalonderrig, ons menswaardigheid, ensovoorts – sonder geld en met sowel die staat as die grootste mediagroep in die land, Naspers, téén ons.

Uiteindelik is enige totalitêre bestel egter net so sterk soos die beheer wat hy oor mense se denke uitoefen. Deel van die rassistiese Rottweilers aan hul kettings se frustrasie is miskien juis dat hulle nié meer ons denke beheer nie, dat Breyten Breytenbach, Annelie Botes, Steve Hofmeyr of elkeen van dié wat al vanaf berg Olimpus by Heerengracht 40 met donder en bliksem getref is, steeds aanhou om dinge te sê net soos hulle is.

Фильчаков прокурор

Vir Die Burger is Dan Roodt vyand nommer een

Die Kaapse Nasperskoerant, Die Burger, dra vandag weer ‘n leedvermakerige beriggie Dan Roodt verloor lastersaak teen Die Burger. Soos gewoonlik is dit onakkuraat, want ek het geen lastereis teen Die Burger ingestel nie, maar bloot ‘n klag by die persombudsman ingedien omdat ek in die blaaie van dié koerant ‘n “verregse Afrikaner-aktivis” met “fundamentalistiese sienings” genoem is.

Die Burger voer reeds jare lank ‘n lasterveldtog teen my. Die joernalis wat my as “verregse fundamentalis” wou etiketteer, is ene Ilse Bigalke, een van die koerant se senior asssistentredakteurs. Haar rubriek Van hekse kom nie altyd onheil het op 24 Hovember 2011 verskyn. Let op die beeldspraak en toespeling op “hekse”, so reg uit die Middeleeue toe Pous Urbanus VIII vir Galileo gedwing het om sy teorie terug te trek dat die aarde om die son sou draai.

Net soos Galileo weens sy “kettery” deur die Roomse Inkwisisie vervolg is, word ek deur die Kaapse Inkwisisie  vanuit Heerengracht 40 aangekla.

Blykbaar beskik Die Burger oor ‘n vrypas om my te belaster en te verguis. Ek, en nie Julius Malema nie, is Suid-Afrika se vyand nommer een. Maar waarteen het Die Burger werklik beswaar? In die eerste plaas gaan dit daaroor dat ek my teen geweldsmisdaad, veral plaasmoorde en die verkragting van Afrikanervroue, uitspreek. Aan die einde van verlede jaar het UNPO, die Verenigde Nasies vir staatlose volke en waar Afrikaners deur die Vryheidsfront verteenwoordig word, in ‘n verslag verklaar dat “die verkragting van minderheidsvroue die hele volk waartoe hulle behoort, onteer”.

Met dié siening kan ek nie genoeg saamstem nie. Ek verseg ook om te aanvaar dat plaasmoorde ‘n gegewe van die Nuwe Suid-Afrika moet wees wat ons maar net moet aanvaar.

Maar as ‘n mens jou teen die ekstreme geweld wat in Suid-Afrika tier, uitspreek, is jy ‘n “fundamentalis” en ‘n “verregse”.

Bigalke se rubriek lewer kommentaar op ‘n TV-uitsending “Redi on Mzansi” waarheen ek verlede jaar uitgenooi is. In die program het ‘n woernaal van my in antwoord op Sandile Memela se rubriek in die Sowetan oor swartes se swak wiskundeprestasie ter sprake gekom. Let wel: dis nie ek wat eerste beweer het swart matriekleerlinge presteer gemiddeld swakker as blankes in matriekwiskunde nie, dit was die Sowetan se rubriekskrywer.

Ook die ANC-regering het al male sonder tal gekla dat die algemene prestasie van skoolleerlinge in wiskunde nie na wense is nie. Soos iemand oor Radio Pretoria vanoggend opgemerk het: “Maak dit die ANC-regering ook nou ‘verregs’?” Ons het ook enkele dae gelede gesien hoe ‘n skare studente die hekke by die universiteit van Johannesburg stormgeloop het, met funeste gevolge. Is ‘n mens ‘n “fundamentalis” en ‘n “verregse” indien jy sulke dinge waarneem en dit onaanvaarbaar vind?

Die Persombudsman, of in dié geval sy assistent, dr. Johan Retief, het my in sy uitspraak met Robert McBride, iemand wat sowel aan terreur as munisipale korrupsie skuldig bevind is, vergelyk. Dis eenvoudig verregaande! Anders as McBride, is ek nog nooit aan enige misdaad skuldig bevind nie. Dit wel egter voorkom asof die Persombudsman in wese bloot ‘n verlengstuk van die groot mediagroepe soos Naspers, Avusa en die Independent-groep is en dat die burgers van Suid-Afrika kwalik enige beskerming of billike behandeling uit daardie oord kan verwag.

Vir wat dit werd is, gaan ek egter teen hierdie bevinding appelleer. Ek weier om oor dieselfde kam as McBride geskeer te word, bloot omdat ek my teen onreg, geweld en onbekwaamheid in ons treurige land uitspreek.

Die Persombudsman verdedig Die Burger se reg om feitlik enigiets oor my kwyt te raak wat die koerant wil, hoe ver dit ook al van die waarheid verwyder mag wees. Ek is self ‘n voorstander van spraakvryheid. Maar Die Burger gebruik sy spraakvryheid juis om my dieselfde te ontsê. Uiteindelik is die koerant se verbete veldtog teen my daarop gemik om my die swye op te lê, om my by die publiek belaglik te maak en my sodoende ook enige ekonomiese kanse op deelname aan die Afrikaanse boek- en mediamark te ontsê.

Sonder die internet en sonder ‘n aanlynpublikasie soos praag.co.za, sou ek dalk inderdaad deur Die Burger tot “heks” en ketter verklaar gewees het. Soos Galileo sou ek gedwonge gewees het om my oortuigings af te sweer en die res van my lewe onder huisarres deur te bring.

Gelukkig leef ons in die een-en-twintigste eeu met sy inligtings- en kommunkasierevolusie. Nie eens Die Burger en die magtige Naspersgroep agter hom kan ons meer stilmaak nie.

Soos George Orwell gesê het: “Om in ‘n tyd van universele misleiding die waarheid te praat, verteenwoordig ‘n revolusionêre daad.”

данильченко юрий брониславович прокурор

Media verdraai ANC-boodskap

Is die ANC ‘n wolf in skaapsklere en steek die media dit vir ons weg?

Ek het Saterdag die moeite gedoen om na president Jacob Zuma se toespraak soos dit op SABC2 uitgesaai is, te kyk. Agterna het ek tevergeefs in die koerante na sinvolle berigte of kommentaar daarop gesoek, maar niks gevind nie. Die blywende indruk is dat die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia steeds van die ANC-wolf ‘n lam wil maak.

Dít, in weerwil van die onlangse kritiek op die Zuma-regering, asook die korrupsie en onbekwaamheid van sy party. Sodanige kritiek gaan egter merendeels oor sogenaamde “dienslewering” of administratiewe kwessies, sonder om die wesentlike aspekte van die ANC-ideologie en -politiek te betrek.

Zuma het ‘n fyn uitgewerkte toespraak gelewer waarin hy ‘n oorsig van die organisasie se 100-jarige geskiedenis verskaf het. Maar ook: ‘n toekomsvisie en onmiddellike “uitdagings” wat die hoof gebied gaan word.

Wat die geskiedenis betref, het my ore omtrent getuit, want Zuma het ‘n oerlinkse toespraak aangebied uit die dae van Leonid Bresjnef wat op Meidag die verbymarsjerende troepe op die Rooi Plein in Moskou met ‘n bejaarde hand toewuif. Dit is asof die Zuma-ANC in die kommunistiese verlede versteen het en hul korstondige flirtasie met Westerse demokrasie net oëverblindery was. Die enigste verwysing na die rol van Afrikaners of blankes oor die afgelope 100 jaar was as “die apartheidsbewind” wat met hand en tand beveg is. En dan juis militêr!

Trouens, die siening van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat Zuma voorgehou het, was een van ‘n uitgerekte oorlog wat tagtig jaar geduur het totdat Umkhonto we Sizwe die oorwinning behaal het. Hy het Kuba, die Sowjetunie, MPLA en ZANU-PF vir hul hulp hiermee bedank. Die versiersuiker van “onderhandeling” en versoening wat ons in die negentigerjare – en veral natuurlik tydens die Mandela-tydvak –  gehoor het, was weg. Al wat oorbly, is keiharde kommunistiese retoriek oor die bevryding van die werkersklas deur militêre geweld of dan “gewapende opstand” soos Lenin sou gesê het.

Die drie “uitdagings” wat Zuma raaksien, is werkloosheid, armoede en ongelykheid. Onderliggend aan sy toespraak is insgelyks ‘n sterk antiblanke gevoel, aangesien die blankes met “apartheid en kolonialisme” verbind word. Hy het ook voortdurend die vriendskap en samewerking van die ANC met “progressiewe magte” in die wêreld beklemtoon. Die groot vraag is: wie is die “progressiewe magte”? Waarskynlik China, Noord-Korea, Kuba, Venezuela, asook Angola, Mosambiek, Zimbabwe en Namibië in Suider-Afrika.

Tesame met Malema se uitsprake, wat ‘n beduidende groep binne die ANC verteenwoordig, het Zuma Saterdag vir die soveelste keer ons Afrososialistiese en selfs Afrokommunistiese toekoms uitgespel. Dit wil voorkom asof die hoofstroommedia glad nie daarop ag slaan nie. Óf hulle is te dom om te verstaan wat die ANC-leier sê, óf hulle (en ons) is al so gewoond aan die Idi Amin-agtige malhuis waarin ons woon, dat dit nie eintlik meer saak maak nie.

Die wyse waarop ‘n terreurbeweging met sterk kriminele elemente oor jare heen vir ons aanvaarbaar gemaak en deur die media opgehemel is, verteenwoordig een van die grootste massabreinspoelingsepisodes in die geskiedenis.

Dit kan vergelyk word met die soort illusies wat die Britse media in die tagtigerjare rondom Zimbabwe gekweek het. Een of ander tyd moet illusie en werklikheid mekaar egter ontmoet. Suid-Afrika se “groot sprong vorentoe” met radikale grondhervorming, nasionalisering en die stedelike nagmerrie wat tienmiljoene Afrika-immigrante besig is om te skep, lê egter om die draai.

лобановский александр отзывы

Identiteitsoorlog en geskiedenis

Twee dae gelede is Geloftedag gevier, met die verskil dat ‘n pad tussen die ANC se Vryheidsmonument en die Voortrekkermonument deur president Jaco Zuma geopen is, kwansuis om die “versoening” tussen die Afrikaner en die ANC-alliansie te simboliseer.

Met die afskaffing van Republiekdag op 31 Mei, het 16 Desember die belangrikste Afrikaner- patriotiese dag geword, iets soos ons nasionale dag. Uiteraard moet die ANC-bewind daaroor bekommerd wees dat daar nog ‘n dag op die kalender oorbly waartydens Afrikaners nie net hul geskiedenis herdenk nie, maar ook hul identiteit en etniese bewussyn landwyd versterk. Geloftefeeste vind immers oral op klein plattelandse dorpies, asook by die Voortrekkermonument plaas.

Dan RoodtWaarskynlik het ek al voorheen na ‘n onlangse dokument van die Verenigde Nasies verwys wat die term “identiteitskonflik” gebruik om etniese konflik te benoem. Dit ly geen twyfel dat Suid-Afrika oor die afgelope 200 jaar, ten minste sedert die Britse oorname van die Kaap in 1806, midde-in ‘n identiteitskonflik of selfs identiteitsoorlog verkeer nie. Terwyl dit aanvanklik gelyk het asof Brittanje met gemak die Kaap sou verengels en ons voorouers die Engelse identiteit sou aanneem, het die Groot Trek en die Boererepublieke die Engelse meesterplan vir Suider-Afrika deurmekaar gekrap.

Ten spyte daarvan dat Engeland die Tweede Vryheidsoorlog gewen het, is haar mag in ons land tydens die twintigste eeu telkens afgewater, met Republiekwording op 31 Mei 1961 en ons uittrede uit die Statebond as die grootste terugslag wat die Britse imperium in ons land beleef het. Verwoerd was besig om Suid-Afrika stelselmatig te verontengels, iets wat ook groot byval by plaaslike Engelse gevind het, aangesien die helfte van hulle vir hom gestem het. Die moord op Verwoerd het egter ‘n einde aan die groot Afrikaner-nasionalistiese beweging van die twintigste eeu gemaak en sedertdien is ons algaande weer verengels en word tans deur ‘n Engelssprekende Afro-Saksiese bewind geregeer.

Die mees intense periode van identiteitsoorlog teen die Afrikaner het egter in die tagtigerjare plaasgevind toe ‘n globale propagandastryd teen ons aangeknoop is. Dit is so suksesvol gedoen dat Afrikaners grondig verdeel is en selfs aan hul eie reg op voortbestaan begin twyfel het. Daarna het die ANC die land sonder om ‘n skoot te skiet verower.

Ons moet onthou dat die ANC by uitstek ‘n skepping van die Engelse Kerk is. Die persoon wat die grootste rol in die befondsing van die ANC, maar ook in die propaganda-oorlog van die tagtigerjare gespeel het, was aartsbiskop Trevor Huddleston van die Anglikaanse Kerk wat toentertyd ook voorsitter van die Britse Anti-apartheidsbeweging was.

Die ironie is dat die Afrikaner in die tagtigerjare, net voor sy verowering deur die ANC-alliansie, op die kruin van sy militêre mag was. Nie net het ons land oor kernwapens beskik nie, maar ons het gedugte nuwe konvensionele wapens soos die G5- en G6-langafstandkanonne, asook die Rooivalk-aanvalshelikopter ontwikkel. Op die slagveld was ons so te sê onoorwinlik. Die ANC was op daardie stadium nie veel meer as ‘n terroristebende van ongeveer 50 leiers en ‘n paar duisend vlugtelinge (sommige mense sou sê plakkers) in Zambië en Angola nie.

Nietemin het die hele bouwerk van Afrikanermag, die Nasionale Party, die Broederbond, SAW, die SA Polisie, die drie susterskerke en die universiteite soos ‘n kaartehuis ineengestort. Waarom? Behalwe allerlei komplotteorieë en natuurlik mnr. FW de Klerk wat sedert 1994 toenemend van verraad beskuldig word, is daar tot dusver geen afdoende verklaring vir hierdie ongewone kapitulasie aangebied nie.

Soms moet ‘n mens egter effens terugstaan om ‘n geheelblik oor die geskiedenis te verkry. Daar is ook veel te leer uit die geskiedenis van ander lande en ander tydperke. Onlangs het die langdurige konflik tussen Frankryk en Engeland in die laat-Middeleeue my begin interesseer.

Ons mense verkeer vandag onder die indruk van ons getalsminderheid, van die “oormag” wat daar teen ons gemonster is. Ek verstout my egter om te sê dat die sleuteloomblikke in die geskiedenis nog nooit deur getalle bepaal is nie. Ons het dit by Vegkop en Bloedrivier gesien. Maar ook tydens die vele veldslae van die sogenaamde “Honderdjarige oorlog” tussen Frankryk en Engeland vanaf 1337 tot 1453.

Op papier was Frankryk die sterkste, met ‘n groter bevolking, groter weermagte en gepantserde edelmanne te perd. Die probleem was egter dat die Franse identiteit ‘n gevoelige slag toegedien is deur die Capetiaanse koninklike bloedlyn wat doodgeloop het. Hiermee het die Engelse konings, wat ook verlangs Capetiane was, die geleentheid gekry om aanspraak op die Franse kroon te maak.

Kortom, Engeland het oor ‘n sterker identiteit as Frankryk beskik. Dít, tesame met die gebruik van die sogenaamde “lang boog”, het die Engelse in staat gestel om tydens verskeie beroemde veldslae soos Crécy en Agincourt met veel groter Franse magte af te reken.

Veral die Slag van Agincourt op 25 Oktober 1415 word as ‘n wonderbaarlike oorwinning, gelykstaande aan Bloedrivier of Vegkop, gesien. Volgens sekere berigte het die Engelse by Agincourt te staan gekom teen ‘n Franse oormag wat hulle ses keer in getalle oortref het. Daar was maar iets soos 6 000 Engelse teenoor 36 000 Franse. Nie net dít nie, maar die Engelse was uitgeput deur siekte, gebrek aan voedsel en ‘n opmars van 400 kilometer deur vyandelike Franse gebied. Daarteenoor was die Franse soldate vars, gesond, wel gevoed en swaar bewapen met omtrent 8 000 gepantserde en berede edelmanne.

Hendrik die Vyfde van Engeland het egter besluit om nie langer die konfrontasie uit te stel nie en te veg. Ek sal nie hier op al die militêre besonderhede ingaan nie, asook die modderige terrein wat die Engelse boogskutters teenoor die Franse ridders bevoordeel het nie. Die uiteinde van die veldslag was egter verwoestend vir die Franse: hulle het tussen 7 000 en 10 000 soldate aan die dood afgestaan en 1 500 edelmanne is gevange geneem, terwyl slegs 112 Engelse gesneuwel het.

Die oorheersing en geweld wat Afrikaners vandag in Suid-Afrika ervaar, is vir my baie soortgelyk aan dít wat Frankryk tydens die Honderjarige oorlog getref het, asook Duitsland tydens die Dertigjarige oorlog van 1618 tot 1648. Gedurende die Honderdjarige oorlog het Frankryk die helfte van haar bevolking verloor, net soos wat ‘n derde van alle Duitsers tydens die Dertigjarige oorlog omgekom het. Voor die oorlog het Frankryk oor 17 miljoen mense beskik. As ons al die Afrikaners wat sedert 1994 geëmigreer het bytel by diegene van ons wat in dieselfde tyd vermoor is, kan ons insgelyks sê dat ons reeds ‘n derde van ons bevolking moes afstaan.

Die gevolge van die Franse identiteitsverlies en verlore veldslae in die veertiende en vyftiende eeue moes egter veel erger gewees het. Die land is herhaaldelik deur die Engelse soldate geplunder. Armoede, hongersnood en moedeloosheid was aan die orde van die dag. Eers toe die beroemde Johanna van Arkel (Jeanne d’Arc in Frans) in 1429 teen die Engelse opgestaan het, is die Franse identiteit herstel en kon die land uiteindelik teen 1453 van die Engelse invallers ontslae raak.

Hoewel Frankryk deur die oorlog verwoes is, het die Franse volk van ‘n verdeelde feodale konstellasie van hertogdomme tot ‘n sterk nasie met ‘n gemeenskaplike taal en identiteit ontwikkel. Net so het die oorlog ‘n taalstryd in Engeland veroorsaak, want Frans was steeds die taal van die hoëlui en Engels ‘n soort kombuistaal waarop neergesien is. Herhaalde gerugte dat Frankryk Engeland sou binneval om die Engelse taal te vernietig, het op sy beurt Engelse nasionalisme en ‘n liefde vir die Engelse taal laat opvlam. Teen die tyd dat Elizabeth I in 1558 aan bewind gekom het, het daardie merkwaardige opbloei in die Engelse teater plaasgevind wat figure soos William Shakespeare en Christopher Marlowe opgelewer het. Die eilandstaat Engeland, hoewel arm aan grondgebied en aan hulpbronne, was gereed om deur handel en seevaart ‘n wêreldmoondheid te word.

Die lesse uit ons eie geskiedenis en dié van ander lande is die volgende: ‘n Volk se sin vir sy eie identiteit bepaal sy oorlewing, meer as getalle, grondgebied of enigiets anders. Oorloë, maar ook taalbewegings en strominge in die kuns en letterkunde, skep die allesbepalende nasionale identiteit. Uiteraard speel godsdiens ook ‘n vername rol. Terwyl Frankryk en Spanje, die grootmoondhede van die vyftiende, sestiende en sewentiende eeue, die Katolisisme as samebindende faktor gehad het, het die kleiner lande van Noord-Europa, waaronder Engeland, ‘n sterk Protestantse identiteit aangeneem wat hul bevryding van die groot Katolieke ryke moontlik gemaak het. Ons voorouers in Nederland wat in 1571 vir die eerste keer die oranje-blanje-blou by Den Briel gehys het, was natuurlik ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Die verhaal van Moses in die Ou Testament is ewe interessant, vanuit ‘n politieke oogpunt. Die Israeliete was slawe in Egipte en het begin om die Egiptiese identiteit en gode aan te neem. Daarom wou Moses die volk vir ‘n verootmoedigingsdag na die woestyn neem waar hy hulle wou oortuig om na hul ou godsdienstige, kulturele en volksidentiteit terug te keer. Die verhaal van Moses wat “sy volk uit Egipteland gelei het” verteenwoordig ‘n oerteks van Westerse nasionalisme wat hom oor en oor in Europa, Noord-Amerika, maar ook by ons in Suid-Afrika, afgespeel het.

As ons na ons eie geskiedenis kyk, was die verlies van die Boererepublieke in 1902 geensins die einde van die Afrikanerbeweging wat met die stigting van die G.R.A. in 1875 momentum begin verkry het nie. Sowel ons taal as ons letterkunde het ná 1902 met rasse skrede vooruitgang gemaak.

Die ANC en veral natuurlik sy ideologiese meester, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het vroegaan ingesien dat die moderne Afrikaner nooit militêr verslaan sou kon word nie en dat die oorlog daarom teen sy identiteit gerig moes word. Reeds in die sestigerjare het sowel Brian Bunting as Braam Fischer van die SAKP voorspel dat die Engelse media uiteindelik die Afrikaner se identiteit sou ondermyn en die nuwe alliansie van radikale Engelse intellektuele en swart nasionaliste sou laat seëvier. Hierdie kommunistiese voorspelling van die sestigerjare is feitlik woordeliks bewaarheid en vandag doen die laaste oorblywende Afrikaanse mediagroep, Naspers, lustig aan die aftakeling en bespotting van die Afrikaner mee.

Ons situasie is in vele opsigte hopeloos. Net so hopeloos soos die toestand van die Voortrekkers op die vooraand van Bloedrivier toe dit gelyk het asof die hele Groot Trek ‘n mislukking was of dié van die Franse voor die koms van Johanna van Arkel! Trouens, daardie gevoel van hopeloosheid, angs en desperaatheid is juis wat die identiteitsvernuwing in eie geledere weer aan die gang sit. Dit gebeur egter nie vanself nie. Iemand, al is dit ‘n jong meisie soos Johanna van Arkel, moet op sy of haar perd klim, die wapenrusting aantrek en die vyand weer simbolies die stryd aansê.

In ons geval is ons nooit militêr deur die ANC-alliansie verslaan nie, hoewel die retoriek van die ANC vandag soms die teendeel wil beweer. Maar ons identiteit, taal en kultuur is in puin gelê, net soos die Franse grondgebied tydens die Honderdjarige oorlog verwoes en geplunder is. Die Engelse universiteite van Suid-Afrika het in die aanloop tot 1994 ‘n belangrike rol in die identiteitsoorlog teen Afrikaners gespeel. Hulle was die laboratoria onder buitelandse invloed waar die nuwe “Afro-Saksiese” identiteit wat ons land tans aangeneem het, geprakseer is. Daarom het Kader Asmal en ander ANC-ministers van onderwys onmiddellik teen die Afrikaanse universiteite opgetree en gesorg dat hulle skadeloos gestel en onder direkte regeringsbeheer gebring word.

In ‘n sekere is ons dus met die pen, en nie die swaard nie, verower. Logies sal ons ook deur die pen bevry moet word. Eers wanneer die Afrikaner se identiteit en volkstrots deur ‘n sterk taalbeweging herbou is wat ook op alle gebiede van die kunste en letterkunde neerslag moet vind, sal ons die eerste werklike stap na vryheid kan neem.

Op ‘n manier is ons terug in die dertiger- en veertigerjare van die vorige eeu toe die Britse invloed in Suid-Afrika sterk was en ons op kultuurpolitiek aangewese was. Die rol wat skrywers en digters soos N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever en ander gespeel het om die Afrikanerelite vir ons saak te wen, was destyds van onskatbare waarde.

Vandag word ons land deur Amerikaanse multikulturalisme oorspoel, net soos dit in vorige tye deur Britse imperialisme oorheers is. Die voortreflikheid en bekwaamheid van die swartman, asook sy reg om oor ons te heers, word deur Hollywood en die res van die Amerikaanse media uitgebasuin. Geen wonder dat die VSA ‘n lid van sy swart minderheid tot president verkies het nie, want in Hollywood-films is swartmense altyd slimmer en beter as blankes, as hulle nie boonop in gesagsposisies bo blankes as polisiehoofde, burgemeesters en selfs presidente verkeer nie. Die multikulturele propaganda van Sewendelaan wat in Kreoolse Afrikaans op die SAUK aan ons mense gebring word, verteenwoordig bloot ‘n deurslagpapierafdruk van die Hollywood-model.

Die identiteitsoorlog wat in die sewentiger- en tagtigerjare op ons losgelaat is, is daarom nog lank nie verby nie. Die ANC-oorwinning van 1994 was bloot ‘n veldslag in die oorlog en solank as wat ‘n groepie Afrikaners nog Afrikaans praat, Geloftedag vier en hul geskiedenis aan hul kinders oordra, sal daardie oorlog nie verby wees nie. Die ANC weet dit, die Amerikaners en die Britte weet dit en die meer intelligente Afrikaners besef dit ook.

Die hele Suid-Afrikaanse stelsel is daarop gemik om die Afrikaner onder te hou. Die magtige Engelse taal, regstellende aksie, die geweld en intimidasie, naamsveranderings, propaganda oor ons geskiedenis, dít alles word ingespan om elke Afrikaner te oortuig dat sy onvryheid ‘n natuurlike en gewenste toestand is.

Identiteitsoorloë het egter deur die geskiedenis onverwagse wendinge geneem. Een mens – of een boek – het al dikwels die gang van die geskiedenis verander. Dink maar aan Jean-Jacques Rousseau se Sosiale kontrak wat op die Franse revolusie uitgeloop het, maar ook die gedagte van die “edele barbaar” gevestig het, die sleutelbegrip van die moderne multikulturele beweging. Mense beweer dat Harriet Beecher Stowe se voorstelling van slawerny in Uncle Tom’s Cabin regstreeks tot die Amerikaanse Burgeroorlog aanleiding gegee het. Lenin was bloot ‘n Russiese intellektueel wat in Switserland weggekruip het, maar wat agterna die belangrikste moderne revolusie in sy land teweeggebring het. Tydens die hoogbloei van Russiese en Sowjetkommunisme, het Solsjenitsin egter Lenin se revolusionêre stelsel die nekslag toegedien met sy boeke oor die Siberiese strafkampe, die sogenaamde “goelags”. Vandag is Rusland weer van kommunisme vry.

In ons stamland, Nederland, het ‘n homoseksuele skrywer en intellektueel, Pim Fortuyn, die aanvanklike dryfkrag aan die pro-Westerse beweging in daardie land verskaf, wat ook op die huidige herwaardering van die Afrikaner en Afrikaans in Nederland uitgeloop het.

Vir vryheid is dit nooit te laat nie.

En: die versugting na ‘n Groot Leier wat vele Afrikaners voel, is dalk minder van pas as ons behoefte aan ‘n Groot Skrywer. Politieke en militêre leiers kom en gaan. Churchill het Brittanje tydens die tweede wêreldoorlog suksesvol teen Duitsland aangevoer, maar is in die eerste verkiesing daarna uitgestem. Lande soos België en Italië het meer onlangs vir lang tye sonder nasionale leiers of regerings klaargekom.

Dat Afrikaners tans leierloos is, is waarskynlik beter as om deur ‘n FW de Klerk of ‘n Van Zyl Slabbert gelei te word wat ons net verder van die wal af in die sloot sou help.

Dog sedert N.P. van Wyk Louw se afsterwe op 18 Junie 1970 was daar nog nie weer ‘n groot skrywer in Afrikaans wat ons kultuur tot ‘n estetiese en politieke geheel kon saambind en verwoord nie. ‘n Vorige geslag skrywers onder leiding van André P. Brink het ‘n vorm van “verraaiersliteratuur” gepleeg en was konstant daarop uit om verdeeldheid en skuldgevoelens onder ons mense te kweek. Brink se onlangse ode aan Oliver Tambo in die Londense Financial Times spreek boekdele oor presies waar sy lojaliteite geleë was.

Terwyl die magtige Naspers met sy monopolie oor die Afrikaanse media dit baie moeilik maak om enige werklike politieke debat in die Afrikaanse hoofstroom te voer, ontkom boeke en letterkunde toenemend aan die mediagroep se ystergreep.

Die Afrikaanse letterkunde mag die Achilles-hiel van die nuwe Suid-Afrika wees. Want terwyl die nuwe Suid-Afrika sy klaargemaakte polities korrekte kultuur en identiteit vanuit die VSA en ander Engelssprekende lande in Afrika ingevoer het, slaag hy nie daarin om ‘n nasionale letterkunde te vestig nie. Want letterkunde is nie iets wat soos die geskiedenis met ‘n handomkeer gevestig kan word deur beheer oor die TV, radio en koerante uit te oefen nie. Dit verg harde werk oor baie jare, iets waarvoor ons huidige heersers nou nie juis bekend is nie.

Maar daaroor ‘n volgende keer meer.

Фильчаков прокурор харькова

Suid-Afrika se maatskaplike sadisme

In die negentigerjare is Suid-Afrika onder Nelson Mandela gesien as moontlik die eerste ware demokrasie in Afrika. Hoe naïef was dit nie om te dink dat ‘n land met elf amptelike tale en meer as dertien etniese groepe deur ‘n eenvoudige stelsel van een-mens-een-stem tot ware demokrasie verhef kon word nie!

Oor die afgelope weke het die ANC-regering sy drakoniese wet op die Beskerming van Inligting met sy groot parlementêre meerderheid op die land afgedwing. Dit het ondanks groot openbare teenkanting deur joernaliste, skrywers, akademici, grondwetkenners, opposisiepartye en burgerlike verenigings geskied. Die uitvoerende redakteur van die Sunday Times en een van die invloedrykste swart meningsvormers in die land, Mondli Makhanya, het die regerende party se gedrag in die parlement waar die opposisiepartye selfs uitgejou is, as díé van “iziwengu” beskryf. “Iziwengu” is ‘n Zoeloewoord wat ‘n gepeupel of skare op loop beteken.

Ook onlangs het die ANC se plaaslike regering in Pretoria aangekondig dat die naam van die hoofstad verander gaan word. Enkele jare gelede het die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, spesiaal met president Jacob Zuma oor die naamkwessie onderhandel en is hy die versekering gegee dat “Pretoria” as deel van die Afrikanergeskiedenis en -erfenis behoue sal bly.

Hierdie soort gedrag van “mag is reg”, tesame met die opophoudelike gruweldade teen boere tydens plaasmoorde of selfs teen stedelinge, skep die indruk dat Suid-Afrika op pad is na ‘n psigopatologiese toestand wat slegs as maatskaplike sadisme getipeer kan word. Die veelgeroemde liberaal-demokratiese grondwet wat in 1994 onderhandel en in 1996 aanvaar is, het ‘n soort sado-masochistiese kontrak geword wat die absolute mag van die meerderheid oor die minderheid verseker. Soos in die werke van die Markies de Sade het ons almal aangehoudenes in Curval se kasteel geword waar die maghebbers met ons kan maak wat hulle wil. Omdat ons eenmaal tot daardie kontrak ingestem het, is ons nou gebind om elke moontlike vergryp van die regerende party en sy toenemend korrupte amptenare te verduur.

Van korrupsie gepraat, het ‘n onlangse opname van Transparency International bevind dat Suid-Afrika ewe of selfs meer korrup geraak het as sy bure in Suider-Afrika. Volgens die studie bevind die land hom tans in die 54ste posisie op die deursigtigheidsindeks, ver onder sy buurland Botswana wat die 33ste plek inneem.

Wat die publiek se verwagtinge oor korrupsie betref, neem Suid-Afrika ‘n middelposisie in tussen Mosambiek waar 68% van die burgers verwag om omkoopgeld aan staatsamptenare te betaal en Zambië met 42%. Volgens die Transparency International-verslag het 56% van Suid-Afrikaners wat verlede jaar in kontak met ‘n staatsamptenaar was, omkoopgeld betaal. Die gemiddeld vir die hele Suider-Afrika is 55%, wat aantoon dat Suid-Afrikaanse korrupsie selfs ‘n persentasiepunt bokant die gemiddeld verkeer.

Die mees korrupte amptenare is die polisie en verkeerspolisie, maar onlangs het die hooflanddroste van Pretoria en Johannesburg ook erken dat beide howe in dié stede grotendeels in korrupsie verval het met misdadigers wat hofamptenare omkoop om hul dossiere te laat wegraak. ‘n Mens kan ook ‘n verstekvonnis teen iemand verkry deur ‘n hofamptenaar om te koop om die regte dokumente uit te reik.

Ondernemings wat met die staat sake doen, erken dit nie graag nie, maar dit word byna algemeen aanvaar dat staatstenders teen betaling van omkoopgeld verkry word. Die meeste mense verdink die ANC daarvan dat sy nuwe wet op die Beskerming van Inligting nie bedoel is om staatsgeheime te bewaar nie, maar om verdere onthullings oor korrupsie in eie geledere te verdoesel. Swaar strawwe van tot 25 jaar tronkstraf mag opgelê word teen diegene wat “geklassifiseerde inligting” sou bekendstel of aan die media sou uitlek.

Die vervaardigers van Duitse luuksemotors soos BMW, Mercedes en Porsche, om nie van Jaguar, Bentley, Aston Martin en die res te praat nie, kla allermins oor korrupsie want in die strate van Johannesburg en in Pretoria kan ‘n menigte staatsamptenare gesien word wat in sulke motors, gewoonlik swart van kleur, ‘n soort Hollywood-bestaan ten toon stel.

Ook in die kolossale winkelsentrums van Sandton vertrap besoekers aan Gucci, Louis Vuitton, Boss, Etienne Aigner, Max Mara en ander luukseboetieks mekaar om hulself in duur klere, skoene en handsakke uit te rus.

Volgens een opposisiepolitikus “verseker korrupsie en swart rassenasionalisme die eenheid van die ANC as ‘n party”. Die merkwaardige verskeidenheid kapitaliste, kommuniste en Zoeloe-nasionaliste wat deesdae eklekties of selfs sinkretisties in die party saamgebind word, spreek van gemeenskaplike belange waarvan die plundering van die Suid-Afrikaanse staatskas taamlik bo aan die lys verkeer.

Die term “tenderpreneur”, dit wil sê iemand wat homself as tussenganger by staatstenders verryk, het in Suid-Afrika ‘n alledaagse geword. Danksy tenderpreneurs wat ook die party se geldkoffers sterk, is die ANC vandag, volgens ‘n plaaslike sakeman, “waarskynlik die rykste politieke party ter wêreld, met meer geld as die Republikeine of Demokrate in Amerika.”

Die kanse op regeringsverandering in Suid-Afrika is, die drome van die klein opposisiepartye ten spyt, naby aan nul. Trouens, al die sogenaamde “bevrydingsbewegings” van Suider-Afrika wat tydens die Koue Oorlog aan die Sowjetunie of China se kant was, is steeds ná dertig of veertig jaar aan bewind: Frelimo in Mosambiek, Zanu PF in Zimbabwe, die MPLA in Angola, Swapo in Namibië en, les bes, die ANC in Suid-Afrika. Volgens een Europese diplomaat in Pretoria, het die “frontliniestate” van die sewentiger- en tagtigerjare in Suider-Afrika herleef en vorm hulle vandag ‘n anti-Westerse vesting van de facto-eenpartystate.

Anti-Westers, anti-Europees, maar ook: anti-blank. Terwyl die kinders van die ANC se nomenklatura die beste Engelse privaatskole bywoon en van hoë poste in die openbare of privaatsektore verseker is, trek Afrikaners en die res van die blanke middelklas noustrop. Onder die ANC-lid Maria Ramos, is die pensioenfonds van die nasionale spoorwegmaatskappy, Transnet, gestroop en ontvang tienduisende Afrikaners wat lewenslange diens aan Transnet gelewer het slegs R900 per maand aan pensioen, nie eens ‘n hongerloon nie.

Blanke kinders wat in 1994 of daarna gebore is, het geen ervaring van of aandeel aan apartheid gehad nie. En tog word daar die ergste teen hulle gediskrimineer as dit by indiensneming en opvoedkundige geleenthede kom. Die universiteit van Stellenbosch met sy Kaaps-Hollandse geboue is deur privaatskenkings van Afrikaners en hul harde werk opgebou. Dog enkele dae gelede is ‘n voornemende mediese student aan Stellenbosch afgekeur “omdat sy blank is”, dus van Europese afkoms.

Volgens die universiteit het die briljante leerling, wat op skool hoë gemiddelde punte in al haar vakke handhaaf, ‘n “bona fide-fout” op haar aansoekvorm begaan deur aan te dui dat sy ‘n “kleurling” is. In September is sy dus tot mediese studie toegelaat. Helaas, op 13 Oktober het dr. Ronel Retief, die hoof van akademiese administrasie, haar gebel “om haar ras te verifieer”. Toe dit blyk dat sy ‘n blanke is, is haar toelating summier teruggetrek.

In ‘n ander voorval is ‘n Afrikanerstudente aan die Unversiteit van Pretoria deur ‘n swart man aangeval. Volgens die mediese personeel is sy met behulp van ‘n mes deur hom “lewendig gedissekteer”, onder andere deur haar gesig oop te sny en die meeste van haar slagare af te sny. Agterna het hy haar bloeiend op haar bed verkrag. Wonderbaarlik het sy oorleef, maar haar aanvaller het aanvanklik uit polisieaanhouding ontsnap nadat hy deur twee swart polisiemanne gehelp is om weg te kom. Per geluk is hy later weer aangekeer. Sulke insidente is alledaags en ná ‘n paar dae vergete omdat die volgende gruwelvoorval die voorblaaie van koerante gevul het.

Daar is vandag in Suid-Afrika meer onreg, pyn en geweld as ooit tevore. Die sadistiese kasteel waarin ons woon, heet “Demokrasie anno 1994”, maar het iets heel anders geword. Mnr. John Kane-Berman van die liberale Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge praat van “demokratiese sentralisme”, ‘n Leninistiese doktrine waarvolgens alle mag in die hande van die party gekonsentreer word.

Afrikaners se enigste hoop op oorlewing lê by ‘n desentralisering van mag en die vestiging van ‘n federasie of konfederasie in Suid-Afrika. Sonder grondwetlike verandering, is hulle ten eerste gedoem tot verdere verarming en uitsluiting van geleenthede, en ten tweede tot uitsterwing as die laaste oorblywende “wit Afrikane” op die vasteland.

Фильчаков прокурор харькова

Johannesburg op ’n trapfiets

{jathumbnail off}

Dan Roodt met fiets

 

Die fiets het ’n paradoks geword. Dis tegelyk ’n vervoermiddel vir die armes en ’n speelding vir viertrekvoertuigeienaars.

En dis laasgenoemde en hul rygoed wat verlede Sondag ’n parkeerterrein in Midrand vervuil vir die wegspring van Johannesburg se grootste fietsren.

’n Gebeurtenis soos die 94.7-fietsren waarin 25 000 fietsers vir ’n paar uur die snelweë en hoofare van Johannesburg op horings neem, word die beste opgesom deur ’n gedig van die Russiese digter Wadim Sjersjenewitsj waarin hy skryf van die “puisies van fietse op die pad van pokke” en die “geliefde masjiene” wat hom neem na “die stedelike gat”.

Die Russiese (en Italiaanse) konstruktiviste se aanbidding van die masjien is wat elke fietser inspireer. Die wedren word immers geadverteer met die slagspreuk: “Blood, sweat and gears”.

Met die aantree hoor jy rondom jou omtrent net Afrikaans. Soos rugby, is fietsry kennelik ’n Afrikanersport.

Dog ’n sport vir amateurs, want almal kan daaraan deelneem, van professionele fietsers tot die vrou wat later in die middestad van Johannesburg al swetende teenoor my bely: “Dis my derde probeerslag. Die vorige twee kere kon ek nie klaarmaak nie.”

Daar heers ’n karnavalat­­mos­feer. Al staan almal met hul blink fietsrame en futuristiese klere en helms soos beeste in ’n drukgang.

Langs my gesels ’n man van Northcliff wat al die Argus in Kaapstad gery het. “Is dit jou eerste wedren?” vra hy belangstellend. “Pasop net vir die ouens wat aan jou regterkant verbykom. Wees op die uitkyk dat hulle nie in jou vasry nie.”

Uit die groot luidsprekers hits ’n opgeruide aankondiger die fietsers aan, tussen doef-doefmusiek deur. Telkens as nog ’n groep, J, of K of L – elke fietser, soos elke ketter, het sy letter – oor die aanvangstreep beweeg, bereik sy stem ’n histrioniese hoogtepunt.

Uiteindelik breek die groot oomblik aan en word die K-groep tot die stryd opgeroep. Honderde klikgeluide weerklink soos die knippe van fietsskoene aan die pedale vasheg – en hulle is weg. Iewers registreer elkeen se RaceTec-skyfie neffens die voorwiel die wegspringoomblik.

Enkele ure lank is die M1- en N14-snelweg, die middestad, Jan Smuts, Homestead, Douglas, Witkoppen en ander boulevards aan fietse, pleks van motors, oorgelewer.

En watter voorreg is dit nie om die hele M1 op ’n fiets te mag verken nie: die tekstuur van die teer, die monumentale beton van die oorbrûe, die lowerhange van Parktown of Westcliff.

’n Mens kan filosofies raak oor jou tweewielervarings. Soos die Vlaamse wysgeer Marc van den Bossche in sy boek Wielrennen skryf: “Fietsry maak my denke vry.” ’n Mens is vasgevang in die oomblik en monitor gedurig die pad, die omgewing, jou medefietsers en die oorblywende krag in jou bene. Maar die vrye denke bo-op ’n fiets behels ook die somtotaal van jou herinneringe en assosiasies met Johannesburg en sy strate.

Trouens, elke straatnaam verteenwoordig ’n stuk persoonlike en politieke geskiedenis.

Iewers onder die teer van “Malibongwe” leef Hans Strijdom steeds voort.

Met die stywe opdraand deur The Wilds beland jy skielik in Berea en die middestad van Johannesburg, waarna ’n paar skouspelagtige draaie op en af van die M2 volg.

Die medalje wat jy vier uur later by die wenpaal ontvang, bevat die ietwat ironiese inskripsie: “A world-class African city”.

Die stroom hoofsaaklik wit en Afrikanerfietsers uit Pretoria en Centurion wat die middestad van Johannesburg tref, laat jou dink aan die woorde van die Sting-liedjie: “I’m an alien, an Englishman in New York.”

Want die bleek fietsers in hul helder sintetiese hempies, stywe broeke en helms op Japanse en Italiaanse selfgedrewe tegnologie ontmoet hier ’n heel ander bevolking. ’n Laegraadse etniese konfrontasie, hoewel vriendelik, knetter in die lug.

Naby die ronde Ponte-wolkekrabber drentel swart seuntjies, moontlik uit die Kongo, verwonderd op die sypaadjies rond en waai af en toe vir die verbysnellende ryers teen die afdraand. Naby Mainstraat en die ou Nedbank-hoofkantoor staan ’n swart vrou en skree iets in haar taal, gevolg deur ’n Engelse woord wat sy oor en oor herhaal.

Johannesburg is lankal nie meer wêreldklas nie, maar wel ’n Afrikastad vol stalletjies, ’n Derdewêreld-straatmark tussen Bauhaus-monumente uit ’n vervloë tydvak. Die stad huiwer tussen twee beskawings soos ’n reus wat wik en weeg of hy oor die Amasone moet spring. Die rit op ’n fiets deur die middestad raak surrealisties: vreemd en onsamehangend soos die Dada-kunstenaar Marcel Duchamp se beroemde fietswiel wat bo-op ’n kroegstoeltjie gemonteer is.

Teen die afdraand in Jan Smuts verby die dieretuin “klok” ek 67km/h op my fietsrekenaartjie. Spoed. Die wind in jou hare. Wie het ’n afslaankapmotor nodig? Net daarna in die koeltes van Saxonwold hou ’n man met uitgestrekte arm ’n kleinerige Bar-One na my uit wat ek onwillekeurig vasgryp. Ek kou die taai stuk toffie en melksjokolade heel, kilometers ver.

Daar is iets Sisufosiaans aan fietsry. Pleks van ’n klip soos wat Sisufos teen die berg op en af moes stoot, trap ’n mens jou liggaamsgewig teen die bulte op, met die hoop op ’n kortstondige vryrit teen die daaropvolgende afdraand af. Net om die proses te herhaal, ad absurdum.

’n Fietsren van bykans 100 km lank toets ook die ryer se wil. Sonder deursettingsvermoë kom niemand die lang, steil bulte van die N14 of die gepas genoemde Heartbreak Hill in Midrand op nie. Die laaste 20 km voel verder as die voorafgaande 70.

As jy (volgens RaceTec) 4 uur en 14 minute later in Midrand verby die eindpunt van jou fiets afklim, medalje in die hand, sukkel jy om staanplek vir jou ryding tussen die menigte te vind.

Die gevoel is iets tussen verligting en ’n beskeie soort triomf. Maar ook ’n vae bewoënheid omdat die lewe so kort is. Holbein moes fietse geskilder het.

Ons vlees hang aan ons skelet soos ’n fietser bokant sy geraamte van aluminiumallooi of koolstofvesel huiwer.

лобановский харьков класс

DA in Johannesburg ontkieser blankes

Dan Roodt op fietsHierdie gaan ‘n kort rubriek wees, want ek moet gaan klaarmaak om aan die jaarlikse 94.7-fietswedren te gaan deelneem. Gister was ek heel dag in die Vryheidsfront se federale raadsvergadering en Vrydagaand by Pretoria-PEN se buitengewone vergadering.

Dus gaan vier ure en bykans 100km op ‘n resiesfiets deur die strate en snelweë van Johannesburg vir my ‘n welkome verandering van onophoudelike vergaderings wees! Iets wat raadslid Franco de Lange, die VF se enigste verteenwoordiger op die Johannesburgse stadsraad, gister gesê het, het my egter bygebly: Vóór die onlangse munisipale verkiesing het die DA se raadslede in Johannesburg 70% uit blankes bestaan en 30% uit anderskleuriges. Tans is die verhouding presies die omgekeerde, met 30% blanke DA-raadslede en 70% anderskleuriges.

Met ander woorde, die DA se interne regstellende aksie het reeds geslaag en die blanke raadslede in Johannesburg verkeer nou by verre in die minderheid. Nietemin bestaan die DA se kiesers in Johannesburg nog grotendeels uit blankes wat tydens vanjaar se plaaslike verkiesing in groot getalle vir die liberale party van mev. Helen Zille gestem en hul rug op die Vryheidsfront gekeer het.

Dit wil voorkoms asof, ten minste in Johannesburg, die Westerse minderheid verkies om nie meer verteenwoordig te wees nie en die munisipale politiek as’t ware op ‘n skinkbord aan Soweto, Alexandra en ander swart woonbuurte oorhandig. Die Westerse minderheidskiesers spreek deur hul steun vir die DA ook die mening uit dat swart of bruin verteenwoordigers meer bekwaam as blankes is. Dít, terwyl die koerante deurentyd oor die swak toestand van Johannesburg se finansies, asook die endemiese korrupsie in munisipaliteite, berig.

Is dit die DA wat die blankes ontkieser of ontkieser die stemgeregtiges hulself? Soos kalkoene wat keer op keer vir Kersfees stem, wil dit voorkom asof die Johannesburgse blankes polities boedel oorgegee het.

Daar is ‘n ou gemeenplaas wat lui: Mense ontvang die regerings wat hulle verdien. Ek ontvang heelwat kritiek weens my betrokkenheid by die Vryheidsfront, die enigste Afrikanerparty wat by die formele politiek betrokke is, maar my antwoord aan sulke kritici is: Die beste stuurlui staan aan wal! Waarom is u self nie betrokke by ‘n party soos die Vryheidsfront en verander dit in ‘n hoofstroom- Afrikanerparty wat ‘n miljoen stemme op hom kan verenig nie?

Die teenstrydighede in die DA, asook die onlangse korrupsieskandaal in die Midvaal-munisipaliteit, gaan hom op die duur ondergrawe as ‘n party wat nóg vis nóg vlees is. Tans verkeer hy in die sleurstroom van die ANC, met regstellende aksie, grondhervorming en ‘n sosialistiese welsynstaat as beleid, maar maak steeds daarop aanspraak dat hy die belange van minderheidsgroepe soos die Afrikaners en Engelssprekende blankes verteenwoordig.

Soos ek verlede week in ‘n kort briefie in die Sunday Times geskryf het: “Suid-Afrika smag na nuwe politieke idees.” Afrikaners behoort nie net ‘n oplossing vir hul eie penarie as minderheidsgroep aan te bied nie, maar ook ‘n oplossing vir die hele land en Suider-Afrika. Anders as die DA, behoort ons egter nie swart of bruin stemme na te jaag nie. Inteendeel, ons moet die Afrikaners en ander inheemse blankes wat met ons vryheidsideaal identifiseer in een party saamsnoer en dan die stelsel verander sodat die “demokratiese sentralisme” waarvan John Kane-Berman van die SA instituut vir rasseverhoudinge praat, beëindig kan word.

So pas gister is sowel ek as my vrou Karin, die redaktrise van hierdie webwerf, tot die Vryheidsfront se federale dagbestuur verkies, die tweede hoogste gesagsligaam in die party. Sy is ook voorsitter van die Vrouekomitee en ek voorsitter van die Navorsingskomitee. Ons wil daardie posisies gebruik om van die idees wat op hierdie webwerf ontwikkel word in die Vryheidsfront in te dra en te sorg dat dit partybeleid word.

Daar is reeds soveel internasionale navorsing oor selfbeskikking, minderheidsregte, asook taal- en kultuurregte, gedoen. Al wat ons moet doen, is om daardie navorsing vir ons plaaslike omstandighede aan te pas en verwoed in die Suid-Afrikaanse en internasionale media te propageer.

Sowel PRAAG as buite-buiteparlementêre kultuurorganisasie as die Vryheidsfront wat in die parlement, asook op provinsiale rade en munisipaliteite verteenwoordig is, bied twee uitstekende platforms om juis dít te vermag.

In weerwil van die swartgalligheid onder baie van ons mense, is ek daarvan oortuig dat die keerpunt net om die draai lê. Die DA-foefie staan al hoe meer ontmasker met sy drogbeelde van ‘n tweede, “meer doeltreffende ANC” wat hy aan die publiek voorhou. ‘n Behoorlike politieke tuiste vir die Afrikaner moet dringend tot stand kom in die vorm van ‘n meer dinamiese, aanvallende Vryheidsfront wat met groter selfversekerdheid aan die nasionale debat deelneem.

лобановский александр досье