Ag, dokter!



Wie en wat is Steve Hofmeyr?Herbesinner van identiteit, herontdekker van grondslag, ewige bewonderaar van die lewe, gelowig maar nie bygelowig, lid van die mees dinamiese Afrikastam ooit, effe oorgretig maar nie ongeduldig, taaltrots maar nie puriteins nie en ’n softie in die aangesig van grootsheid, gediggies en melkkos. Wat ek weet, lê in die wetenskap en wat ek glo, heet geloof. Ek is die somtotaal van daardie twee aksies: kennis en Godsbeskouing. Ek is die hoëpriester van dankbaarheid. Ek is ’n lewensvraat en lees oor die plekke waar my ondervinding ophou. Ek is ’n Bloubul, ’n Afrikaner, ’n Suid-Afrikaner, ’n vader en as ek my Virgo-brein om iets kan kry, dink ek daaroor. My ure word opgeneem deur debatteer, retoriek, geselsprogramme, konserte, opnames, skryf en allerbelangrik: kreatiwiteit.
Net sy regverdige porsie bemagtiging. Niks meer of onrealisties nie. Die vierkleur moet weer wapper, maar nie noodwendig voor die Uniegebou nie. As mense die speelveld gelykmaak, presteer die Boer in doelgerigtheid en werksetiek soos min volke wat ek ken. Selfbeskikking, die fisiese en geestelike ruimte daarvoor, Afrikaanse skole en universiteite (ten minste een!) en erkenning vir my taal as die grootste Afrika-bydraer tot die wêreld- literêre biblioteek. My ideaal is groter postmatriekvooruitsigte vir my kinders as ’n eenrigtingkaartjie Londen toe. Ek vra nie ’n onrealistiese, sondelose, misdaadvrye land nie, maar ’n land wat ten minste net gemiddelde statistiek bied eerder as hierdie patetiese gespartel op internasionale lewensverwagting-, ekonomiese, korrupsie-, moord-en-doodslagindekse.
Te min kunstenaars sal hul gewildheid op die brandstapel van politiek waag. Ek voel tog ’n bepaalde trots aan by Afrikaanse konserte, maar op die nasionale verhoog val almal skielik vir die propaganda dat daar geen onderskeid is tussen die diverse en wonderlike nasies in een land nie. Baie kan gebeur, afhangend van presies hoe jy hierdie vraag stel.
Eintlik niks. Almal word uitgeboul deur die president se sjarme, maar soos sy voorganger het hy uiteindelik ’n toeskouer geword wie se persoonlike lewe deur die belastingbetaler gesubsidieer word. Sy laaste uitnodiging (na ‘n dinee met Afrikaners by die presidensiële ampswoning) het ek geboikot weens sy apatie en verlamming teenoor sy klein koorleiertjie se repertoire (“Skiet die Boer”). President Zuma is die model- BEE-spons en man-alleen verantwoordelik vir die klimaat van skuld wat dit onder swartes teenoor wittes skep.
My alie af. Maar dit is die probleem met passie, jy weet nie waar en wanneer om te stop nie. Ek sien steeds ten minste 3000 Suid-Afrikaanse konsertgangers weekliks en probeer tussenin balans handhaaf met my familielede, skrywe, sosiale media, verskynings, liefdadigheid. Maandae en Dinsdae is ek sokkermamma…
Eties, Naspers, media, tabloids en paparazzi mag nooit in een sin genoem word nie. Teenoor die verlamming van die persombudsman verlang ek na ’n sterker orgaan om die magtigste instelling ter wêreld vandag, die media, dop te hou. ’n Tribunaal kan goed te pas kom. Daarna moet ons uitvis wat die verskil tussen “public interest” en “interesting to the public” is, sodat bekendes dieselfde grondwetlike regte as enige ander burger mag geniet.
Ek raak verlief. Kyk rugby. Ek slaap soms. Elke uur op die pad lees ek. Ek doen teaterproduksies en soms musikale blyspele en films. Met sosiale media en internet in die breë is daar soveel volumes meer inligting – en minder verskoning vir intellektuele isolasie – as ooit. Niks van bogenoemde is seker van landsbelang nie, maar ek probeer hard om nie te midde van alles te verdwaal nie. Ek’s eintlik ’n gewone outjie wat oulik is om ’n kampvuur met ’n koue brandewyntjie en tjoppie onder die sterre.
Ek wéét dat selfs die mees konserwatiewe statistiek in dergelike verband, my hart uitruk. Ek weier om die moordsyfer- en wreedheidpersentasie in landsbelang te versag, asof individuele volke maar aan die onderlinge uitwissing gewoond moet raak. Mý mense ken nie hierdie tipe uitwissing nie en mý mense doen dit nie aan ander nie en het nog nooit. My mense is ’n kulturele demografie en bestaan wel, ongeag die Nuwe Suid-Afrikaanse Narratief. Ons onmag en weerloosheid is die produk van staatsgeïnduseerde wetgewing. Om enige burgers se taal-, kultuur- en vaste bates te reguleer en hul toegang tot bronne en brood af te sny op grond van hul velkleur, met wetgewing, is volksuitwissing. Oor twintig jaar sal daar ’n Waarheids- en versoeningskommissie wees oor hoe ons hierdie land vandag deur ons gatte getrek het. Ek hoop om die ANC daar te sien.
Afrikaanse musiek oor die algemeen, rock en pop, is te pieperig om my te maak toustaan daarvoor. Ons konfronteer die aktuele soos ons die liefde konfronteer, sagkens en resepmatig met bietjie spookasem daarom. Dit sal om dié rede baie verg om my my harde rock en klassiek te laat verloën. Maar daar is nog BeeGees, The Script en Hurts (veral) tussen my Alterbridge, The Killers en Beethoven. Ek is ook vreeslik nostalgies (Toeka), maar dit weet almal reeds.
In die voorstede. Presies waar ek nou bly. Dis landelik (ek het 2 skape, 2 takbokke, 2 katte en 3 brakke!) maar Exclusive Books is minder as 20 minute weg. Ek sou later op die Weskus wou aftree en skryf. Selfs met tientalle doodsdreigemente per dag voorsien ek nog nie emigrasie nie.


Intussen het ‘n nuwe trek die Oranje oorgetrek, dié van Gerrit Maritz uit Graaff-Reinet. Hy was ‘n wamaker en een van die rykste manne daar. Maritz het grond besit en as regsagent opgetree. Met sewe spoggerige waens, blou geverf en met ‘n mooier fatsoen as die gewone, het hy op trek gegaan. Hy het heelwat boeke by hom gehad: teologiese en regsboeke, onder meer van Hugo de Groot, Frans-Nederlandse en Nederlands-Engelse woordeboeke. Saam met Maritz se trek was drie van sy broers, sy suster Susanna en haar man Erasmus Smit, en ander verlangse familie, almal redelik welgesteld en mense van aansien.
Die trek het Thaba Nchu op 19 November 1836 bereik, kort nadat Potgieter van Vegkop aangekom het. Maritz was net so ‘n indrukwekkende man, ongeveer ewe lank ook, as Potgieter. Dié twee en Sarel Cilliers was al drie sterk persoonlikhede en ware volksleiers.
Hulle het op 2 Desember 1836 ‘n volksvergadering belê, en daar het die “algemene volkstem” ‘n “burgerraad” van sewe “regters” gekies wat wette moes maak en besluite van die vergadering uitvoer. Maritz is tot “president-regter” gekies en Potgieter tot laerkommandant. Hy het dadelik begin klaarmaak vir ‘n stryd teen die Matebele, wat hulle vee weggevoer en die gebied onveilig gemaak het.
Op 2 Januarie 1837 is Potgieter met ‘n kommando weg, en die volgende dag Maritz — saam was hulle maar 107 burgers, 60 Barolongs en 40 Griekwas en Koranas onder Pieter Dawids. Vroeg die oggend van 17 Januarie is die Matebele in Mosega verras. Gou het hulle hul ou taktiek toegepas om twee vleuels uit te stoot wat die vyand moes omsingel. Maar hierop was die twee trekkerleiers bedag en het die twee vleuels telkens met swaar verliese teruggedryf. Die mislukking van hul taktiek het die Matebele gedemoraliseer en op die vlug laat slaan. Meer as 500 het gesneuwel.
Maritz en Potgieter het meer as 7 000 beeste gebuit. Maar hulle was onversoenbare persoonlikhede, en wrywing het ontstaan tussen die selfversekerde dorpenaar en sakeman Maritz en die ervare veldkenner en militêre leier Potgieter. Die gevaar was kleiner en omdat daar soveel vee was, het die trekkers versprei, die Potgieter-mense in die Vetrivier-omgewing. Hulle het ‘n paar huisies op Potgieter se plaas Waaifontein gebou en dié eerste Boeredorp Winburg genoem.
Hoewel Mzilikazi verslaan is, was hy nog ‘n bedreiging en het die trekkers voorlopig gebly waar hulle was. Hulle het wel bietjie meer uitgesprei. Die toekoms was nog maar duister. Om te slaag, moes die getalle van die trekkers toeneem, en moes daar ‘n Afrikaner opstaan met die nodige leiersgawes om hulle te verenig en na ‘n bepaalde bestemming te lei.
Die man wat dit sou doen, was reeds op pad. Op 28 Maart 1837 het die trekkers die nuus ontvang dat Piet Retief “de grote Oranjerivier is doorgetrokken”. Piet Retief, op 12 November 1780 in die Wamakersvallei (Wellington), gebore, het in die Boland grootgeword en die skryfkuns goed bemeester. Hy het verskeie geldelike terugslae beleef deur swak oordeel en ongunstige omstandighede. In Maart 1834 moes hy boedel oorgee, maar het die respek van sy medeburgers behou.


My Oupa is op sekere maniere my lewe, en hy het my dalk nie met geskenke oorlaai soos ander Oupas met hulle kleinkinders doen nie. Tog het my Oupa vir my iets beter en baie meer belangrik gegee.My Oupa het geveg vir die land waarin ons bly. Op die grens het hy sy familie as jong man agtergelaat en baklei vir vryheid en geregtigheid in ons land. Hy was ʼn man wat my geleer het hoe om braaf te wees.
My Oupa het geveg vir die taal van Afrikaans en was by toe die Taalmonument opgerig is. Hy het my geleer om trots te wees op my taal. Om my taal te laat groei en hom te praat, al word hy ook in die grond in getrap en verdruk. Hy het my geleer om dit nie net te sien as ʼn middel van kommunikasie nie, maar as ʼn erfenis en geskiedenis van my mense. Hy het my geleer dat jy moet opstaan vir dit waarin jy glo en om aan te hou veg, selfs al lyk dit of daar gee geloof, hoop of moed oor is nie. Hy het nog altyd geglo dat sy land, taal en mense die grootste geskenk in die wêreld is. En hy het daardie geskenk aan my gegee. In sy oë, die grootste geskenk wat hy ooit vir my kon gee. Hy het my ʼn herkoms gegee en my hierdeur laat verstaan dat dit beter as geskenke is. Dis nie iets aards nie, en juis daarom kan ek dit wat hy my gegee het op ʼn daaglikse basis saam met my dra.
My Oupa het ook seker gemaak dat ek geloof het in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy het my geleer om kinderlik te glo. Hy het my die geskenk van geloof gegee, wat nog iets is wat niemand ooit van my kan wegneem nie. Hy het my die geskenk gegee om te glo in God, maar ook om te glo in myself.
Hy het my die geskenk gegee deur my te leer dat ʼn mens nie gemeet word aan hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan. Hy het gesê dat al is dit ook hoe donker, en al reën dit ook hoe hard, sal die son weer skyn.
En ek is dankbaar. Dankbaar vir die feit dat my Oupa aan my geskenke gegee het wat niemand van my kan wegneem nie. Hy het my die een ding gegee wat altyd blywend sal wees. Hy het geloof, hoop, liefde, trots, geskiedenis, herkoms en kennis aan my gegee. Dankie Oupa, ek kon nie vir ʼn beter geskenk gevra het nie…
Hy was die tweede kind van Willem Sterrenberg Boshoff en Anna Maria Boshoff.
Prof Boshoff het in die teologie studeer aan die Universiteit van Pretoria. As student het hy hom sterk vir sendingwerk beywer, en die feit dat hy vlot SePedi gepraat het, het tot suksesvolle werk bygedra. In 1956 het hy uit sy gemeente bedank, om die tradisionele Swart gebiede in die ou Transvaal as sendeling te betree. Die verwaarlosing hiervan deur die NG Kerk was vir hom ‘n wesenlike probleem. Daar het egter ‘n vloedgolf van sendingywer gevolg en binne ‘n dekade is tientalle NG-leraars daar georden. Hy het in 1958 met sy gesin na Soweto verskuif, waar die nood ook groot en groeiend was. As sendingsekretaris sedert 1963 kon hy uitbreidende sendingwerk bevorder. In 1967 kom die Department Sending- en Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Pretoria onder hom tot stand. Hy het gedoktoreer met Sending in ‘n tyd van sekularisasie as tema.
Binne die NG Kerk het hy hom vir institusionele eenheid beywer. Vir hom was dit met Woordbediening en gemeentelike organisasie in kultuureie idioom versoenbaar. Hy het ook ‘n omvattende studie van Swart- en Bevrydingsteologie gemaak. Oor die stelling dat Swart Teologie uit Amerika kom, verklaar hy: “Swart Teologie kom uit die Bybel.” En later: “As daar nie tot gesprek met mekaar gevorder kan word nie, kan die resultaat katastrofies van aard wees.”
In 1954 is hy in die huwelik bevestig met Anna Verwoerd, dogter van die voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika, dr HF Verwoerd. Sewe kinders is uit die huwelik gebore.
Prof. Boshoff was betrokke by verskeie teologiese- en volksinstellings en het dikwels as voorsitter gedien. Hy was onder meer voorsitter vir die NG Kerk Boekhandel (1972-1988), lid van die Raad van die Rand College of Education (1963-1979), voorsitter van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (SABRA) (1972-1999), stigter en voorsitter van die Instituut vir Sendingwetenskap, Universiteit van Pretoria (1979-1988), voorsitter van die Afrikaner Broederbond (1979-1983), voorsitter van die Afrikaner Volkswag (1984-1999), voorsitter van die Afrikaanse Gereformeerde Bond (1986-1994), voorsitter van die Afrikaner Vryheidstigting (1988-2007), voorsitter van Orania Bestuursdienste (OBD) (1990-2011), Hoofleier van die Voortrekkers (1981-1989) en daarna lewenslange erelid, leier van die VF+ in die Noord-Kaap en lid van die Noord-Kaapse Wetgewer (1994-2002).
Prof en mev Boshoff het 1993 permanent na Orania verhuis. Sy eggenote het hom na ‘n beroerte in 2007 ontval. Hy is in 2008 met kanker gediagnoseer, maar kon die meeste van die tyd sy program normaal voortsit. Wanneer hy ernstig siek was, is hy baie getrou deur sy ouer suster, mej Annatjie Boshoff, ook ‘n Orania-pionier, versorg. Hy laat ses kinders en 23 kleinkinders na.
‘n Gunstelingaanhaling wat prof Boshoff dikwels gebruik het is: Vryheid is ‘n seën, maar dit is nie ‘n geskenk nie. Dit is waarskynlik ‘n spreuk wat sy lewenstaak opgesom het. Hy het sy lewe gewy aan die oorlewing van die Afrikanervolk en die bewaring van die Afrikanerkultuur.
Reeds sedert 1966 het hy saam met ander intellektuele Afrikanerleiers die kontroversiële mening gehuldig dat apartheid nie ‘n volhoubare stelsel was nie. Hulle was van mening dat die meerderheid mense in die land ook stemreg moes hê, maar het terselfdertyd geglo dat dit noodsaaklik is dat minderheidsgroepe soos die Afrikaner in Suid-Afrika beskerm moes word.
Prof Boshoff het sy boerderybelangstelling soos baie ander dinge behou ten spyte van akademiese, kerklike, politieke en sosiale druk. Hy het sy mense en hulle behoeftes verstaan en gedien omdat hy ook boer was.
Carel Boshoff was ‘n mens wat alle mense met wie hy in aanraking gekom het, swart of wit, met respek behandel het. Tot aan die einde het hy hom besonder sterk uitgespreek teen rassisme.
Met ‘n onlangse besoek aan Orania het president Jacob Zuma opgemerk dat die ganse tyd dat hy vir prof Boshoff geken het, hy oor dekades aan dieselfde visie bly glo het. Ander tydgenote en nakomelinge van prof Boshoff moes dikwels van rigting verander omdat die oplossings wat hulle voorgestaan het nie volhoubaar was nie. Prof Boshoff se voorstel, met die steun van SABRA se navorsing, dat die Noordwes-Kaap die ruimte vir die Afrikaner bied om te vestig en uit te groei tot ‘n eie republiek, het die toets van die tyd deurstaan.
Prof Boshoff het die behoeftes van gewone Afrikaners verstaan lank voor hulle self verstaan het wat hulle in die toekoms sou verloor. Hoewel min mense die ideaal waarvoor prof Boshoff gewerk het toentertyd gesnap het, het hy onvermoeid tot aan die einde van sy lewe daarvoor gewerk. Hy het onwrikbaar geglo aan vryheid vir die Afrikaner wat bevestig moes word deur eie grond, eie instellings en eie arbeid.
Hoewel Carel Boshoff se gesig nooit op ‘n vyfrandmuntstuk gepryk het nie, laat hy met Orania ‘n lewende erfenis na. Die instellings wat die Orania-ideaal bevorder, is stewige strukture en die grondwerk is deeglik gedoen.
Met die afsterwe van prof Carel Willem Hendrik Boshoff word die naelstring geknip, maar Orania is ‘n realiteit wat daagliks groei en steeds ‘n antwoord vir Afrikaners in Afrika bied.


