Superblitsbukskoning!

Met soveel motors om van te kies in Suid Afrika kan dit ‘n baie moeilike keuse raak. Sê nou maar net jy is in die mark vir ‘n motor wat superverrigting bied, praktiese elkedagpendel en nie te swaar op jou sak sal wees nie. Wat koop jy?

Daar is ‘n paar opsies. Mens dink aan blitsbukse soos die Ford Fiesta ST of VW Polo GTi, maar die motors is effens knap en nogals duur vir sulke klein motortjies. Daar is ander opsies soos die groter VW Golf GTi en Ford Focus ST, maar met die nuwe generasie Mercedes A45 AMG en BMW se M135i is die VW en Ford nie regtig opgewasse nie.

Die Audi S3 Sportback
Die Audi S3 Sportback

Ons het na ‘n paar motors gaan kyk wat wel kers sal kan kers vashou by die twee Duitsers.

Audi S3 Sportback

Die gewone Audi A3 is een van my gunstelingmotors op die pad vandag en by verre een van die bestes in die segment. Voeg nou hierby Quattro-aandrywing wat gekoppel is aan Audi se S-Tronic-ratkas wat blitsig gladde ratskakelings moontlik maak. Roer ‘n bietjie en sit dan ‘n monster- turbo-aanjaer by wat kraglewering van 206 KW uit die 2-liter- viersilinderenjin pomp en jy sit met ‘n motor wat sekerlik die BMW en die Merc goed sal skrikmaak!

S3 binneruim
S3-binneruim

Versnelling van 0-100 km/u gebeur in slegs 5,1 sekondes en die S3 is elektronies beperk tot ‘n maksimumsnelheid van 250km/u. Vergelyk dit onderskeidelik met die M135i se 4,9 sekondes van 0-100km/u en die A45 se 4,6 sekondes dan sien jy dat die Audi maklik met sy twee landgenote kan saamgesels.

Audi S3-paneelbord
Audi S3-paneelbord

Wat vir ons uitstaan, is die bougehalte en die weelderige stowwe wat dwarsdeur die binneruim gebruik is. Hier is die S3 in ‘n ander klas. Die ruimte binne is ook opvallend meer in die S3 en dan praat ons nie eers van die ritgehalte nie. Die A45 sal jou valstande laat uitval, so hard is sy vering en die M135i se stert is nou weer baie lig en jy moet die hele tyd baie versigtig met die lepelvoet wees om nie die stertkant te laat gly nie. Kyk ‘n mens na die prys dan is die S3 ‘n hele R40 000 goedkoper as die BMW en ‘n aks meer as R102 000 goedkoper as die A45. Die S3 is ook die suinigste met die voggies teen 6,9 l/100km en pomp die minste koolstofdioksied die lug in met ‘n syfer van 160g/km CO2.

Audi S3 Sportback

Prys 3             uit 5
Voorkoms             buite 5             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4             uit 5
Agter die stuur 5             uit 5
Enjin en ratkas 5             uit 5
Op die pad 5             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 37             uit 40

Opel Astra OPC

Opel Astra OPC
Opel Astra OPC

Nog ‘n Duitser wat nie so bekend in Suid Afrika is nie, is die Opel Astra OPC. Die motor is geskoei op die Astra-koepeeweergawe, maar in OPC-gewaad is die Astra ‘n perd van ‘n heel ander kleur. OPC is ‘n akroniem vir Opel Performance Centre en hierdie motor is nou regtig ‘n bewys van wat tegnologie in ‘n motor kan beteken.

Opel Astra OPC-paneelbord
Opel Astra OPC-paneelbord

Ons toetsmotor is toegerus met Opel se 2-literpetrolenjin met ‘n groot turbo-aanjaer. Klink dit bekend? Ja, net soos in die S3 is dit ‘n klein enjintjie met ‘n groot turbo wat die OPC sy 206 Kw gee. Daar is nie minder as 400Nm se wringkrag beskikbaar nie en ons kon ‘n 0-100km/u tyd van 6,2 sekondes aanteken. Opel gee die maksimumsnelhied aan as 250 km/u, maar ons kon net 243 km/u op ons toetsrit aanteken.

OPC-binneruim
OPC-binneruim

Die groot verskil tussen die OPC en die S3 is dat die hele 206 Kw in die OPC deur die voorwiele na die teerpad versprei word. Die ongelooflike hiervan is dat die motor byne geen wringstuur het nie. Gewoonlik in voorwielaangedrewe motors met baie krag trek die motor links of regs onder harde versnelling of vinnige ratskakelings, maar nie hier nie. Krag is volop en sommer baie daarvan. Alhoewel die OPC ligter as die S3 voorkom, is dit inderdaad effens swaarder teen 1373kg tenoor die S3 se 1360kg. Agter die stuur van die motor kan ‘n mens voel dat die motor swaar is. Hy voel heeltemal te swaar vir ‘n blitsbuks. Bougehalte is baie goed en die OPC met sy Recaro-sportleersitplekke staan niks terug vir enige van sy landgenote nie. Dink ‘n mens terug aan vorige jare se Opels was hulle altyd op standaard met enjinontwikkeling en tegnologie, maar bougehalte het tekort geskiet. Die nuwe generasie Opels is baie goed aanmekaar gesit en voel en lyk enige dag net so luuks en duursaam soos enige BMW, Mercedes of Volkswagen. Let wel, ons noem pertinent nie Audi nie, want Audi is net op ‘n ander standaard wat bougehalte aanbetref.

Die OPC is slegs in driedeurgewaad beskikbaar dus anders as die A3 Sportback met sy 5 deure, is daar heelwat minder ruimte binne die OPC. Wat brandstof verbruik aanbetref, het die OPC ook teleurgestel. Ons kon slegs ‘n syfer van 9,1 l/100km aanteken. Dit maak nou nie saak hoe mooi ons probeer ry het nie, die OPC wou net nie beter syfers aanteken nie. Ons meen dit is dalk die prys wat jy sal moet betaal vir ‘n verrigtingsenjin, maar aan die anderkant, kyk ‘n mens na die S3 met beter verrigting en sommer baie beter brandstofverbruik, dan is dit haalbaar.

Opel Astra OPC

 

Prys 3             uit 5
Voorkoms buite 5             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3             uit 5
Agter die stuur 3             uit 5
Enjin en ratkas 4             uit 5
Op die pad 4             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 32             uit 40

 

Volkswagen Golf R

Volkswagen Golf R
Volkswagen Golf R

In wese is die Golf R en die S3 geskoei op dieselfde konsep. Die feit is egter dat die Golf R meer soos ‘n warmgemaakte Golf GTi voel. Dit is snaaks want die Golf GTi is ‘n volmaak gebalanseerde motor met net genoeg van alles. Die Golf R voel losser, minder goed gebou as die Gti.

Golf R-paneelbord
Golf R-paneelbord

Die R is mooi en baie subtiel in voorkoms. Daar is geen flambojante skorte en drukvlerke soos by die OPC nie. Ons dink dit gaan ‘n goeie oog kos om die verskil tussen die GTi en die R op straat raak te sien. Tog voel en ry die Golf R baie anders as die GTi. Die ritgehalte is baie nader aan die van die Mercedes A45 AMG. Dit is baie hard en en die DSG- outomatiese ratkas is ook nie naastenby so vinnig of so ‘n groot plesier soos die S-Tronic wat in die S3 beskikbaar is nie.

Golf R-binneruim
Golf R-binneruim

Klim jy uit die Quattro S3 uit in die 4wielaangedrewe Golf R voel die R net losser, harder en stadiger as die S3. Die Golf R word aangedryf deur dieselfde 2-literenjin wat die S3 gebruik. Kraglewering is identies aan dié van die S3 met 206 Kw en 380 Nm se wringkrag wat na al vier wiele versprei word. Op papier gee Volkswagen die Golf R se verrigtingsyfers aan as 5 sekondes van 0-100km/u, maar ons kon net-net 5,3 sekondes haal. Die maksimumspoed is ook net soos die S3 beperk tot 250km/u. Binnelangs is die Golf R goed toegerus met leer en alles wat oop en toe maak soos dit hoort in ‘n luukse blitsbuks, maar dinge in die S3 voel en lyk net beter. Selfs die OPC lyk en voel beter aanmekaargesit as die Golf R. Wat die brandstofverbruik aanbetref, kon ons ‘n syfer van 7,1 l/100km aanteken. Dit is heel aanvaarbaar vir ‘n verrigtingsmotor in die klas en die uitlaatgassyfer van 159g/km CO2 is ook indrukwekkend vir hierdie tipe motor. Teen R499 900 is die Golf R glad nie goedkoop nie, dit is ‘n hele R91 000 duurder as die GTi, maar steeds R17 500 duurder as die OPC teen R482 400. Die Audi S3 Sportback teen R519 000 is slegs R19 000 duurder as die Golf R, maar na ons mening elke sent werd.

Volkswagen Golf R

Prys 3             uit 5
Voorkoms buite 3             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5             uit 5
Agter die stuur 4             uit 5
Enjin en ratkas 4             uit 5
Op die pad 4             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 32             uit 40

Ons gevolgtrekking is dus dat as jy in die mark is vir ‘n superblitsbuks dan is die Audi S3 Sportback beslis kop en skouers beter as die res.

Kyalami-renbaan verkoop

Die legendariese Kyalami-renbaan in Midrand is gisteroggend teen ‘n rekordprys van R205 miljoen verkoop. Dit is die hoogste prys wat nog vir ‘n enkele stuk grond in Suid-Afrika betaal is.

Voor die veiling was daar heelwat mense wat hul kommer uitgespreek het oor die toekoms van die renbaan wat al vir 50 jaar lank motorsportentoesiaste vermaak. Die baan is ook die enigste baan in Suid Afrika waar groot name soos Micheal Schumacher, Alain Prost, Nigel Mansel en Ayrton Senna al gejaag het.

Die Kyalami-renbaan ten noorde van Johannesburg
Die Kyalami-renbaan ten noorde van Johannesburg

Al die vrese van motorsportgeesdriftiges was verniet want net voor middagete het Porsche Suid-Afrika die baan gekoop!
Suid Afrika se voorste renbaan is veilig en daar sal vir nog lank motorwedrenne daar aangebied word. Ons kan maar net hoop dat daar spoedig weer ‘n Formule 1-wedren gehou sal word. Die laaste internasionale F1-wedren het in 1993 by Kyalami plaasgevind. Dit was heer Schumacher se 7de F1-wedren van sy loopbaan en Nigel Mansel het die betrokke wedren in sy Williams gewen!

Oos, Wes, watter een is bes?

Ons het nou al ‘n hele klomp keer oor die nuwe neiging in die motorwêreld geskryf dat vervaardigers se motors al hoe groter word en die enjins al hoe kleiner. Dit is nie net die vordering van tegnologie wat die skuif motiveer nie, maar ook die toenemende wetgewing oor omgewingsbesoedeling.

Die Chevrolet Cruze 1.4T LS S
Die Chevrolet Cruze 1.4T LS S

Hierdie week kyk ons na drie motors wat eintlik kompakte gesinsedans moes wees, maar deesdae amper as volgrootte sedans kan diens doen. Al drie die motors het vier deure, vyf sitplekke en ‘n reusebagasiebak. Alles eienskappe van ‘n gesinsedan, maar al drie word aangedryf deur piepklein enjintjies en al drie lewer meer krag as die Toyota Camry 2.2, wat vir baie jare die beste verkoper van gesinsedans in Suid-Afrika was.

Ons het die Chevrolet Cruze 1.4T LS, die Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy Sedan en GWM se C50T Elite vir ‘n paar dae kon bestuur.

Voorkoms

Die sagte lyne van die Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy
Die sagte lyne van die Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy

Wanneer dit by ontwerp en tegnologie kom, is die Opel Astra sekerlik die mooiste van die drie motors. Sagte, skoon lyne beklemtoon die Astra se familiemotorstatus en gee die motor na ons mening iets wat die Cruze en die C50T nie het nie, so ‘n effense vroulike gevoel. Die motor kom heelwat sagter, so asof dit spesifiek vir ‘n vrou ontwerp is, voor. Daar is vloeiende lyne wat netjies afgerond word met ‘n sagte hoofligontwerp en relatiewe klein kantruite. Die enigste sportiewe wenk wat die motor laat, is die sterk lyne oor die onderkant van die deure.

Die Chevrolet Cruze van agter
Die Chevrolet Cruze van agter

Die Cruze aan die ander kant se ontwerp is weer sterk en straal ‘n besliste manlike gevoel uit. Dit beskik oor groot luginlate voor, asook groot wielboë en heelwat groter kantruite. Reguit skerp lyne voor en agter onderstreep die harder ontwerp. Die Sjinese C50T se ontwerp is so ietsie tussen die Cruze en die Astra. Dié motor staan heelwat laer in sy sokkies en vertoon plat. Dit is nie asof die C50T lelik is nie, maar daar skort iets; dit laat ons nogal aan die Kia Clarus en Hyundai se eerste Sonata dink. Die ontwerp is vir seker bykans 15 jaar agter dié van die Astra en die Cruze. Die C50T is nie lelik nie, dit voel net oudmodies en nie heeltemal in pas met vandag se ontwerptaal nie.

Binneruim

Wat die binneruime van die drie motors betref, is daar genoeg spasie vir 5 insittendes. Die C50T het beslis die meeste ruimte agter die voorsitplekke, maar snaaks genoeg die kleinste bagasieruim. Afwerking in die Cruze is net op ‘n ander vlak as dié van die Astra en die C50T. Die Chevy is toegerus met sagte swart leersitplekke en mooi blink aksente op al die regte plekke. Die uitleg van die instrumentepaneel is duidelik en alles is gemaklik waar dit veronderstel is om te wees, reg waar jy dit verwag. Mooi satynsilwerafwerking op die stuurwiel wat toegerus is met vingerbeheerknoppies vir die radio en togbeheer lyk en voel na gehalte. Die hele motor voel solied en geen ratels of geluide is enigsins te bespeur nie. Al die lyne is skerp en doelgerig en vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek nie gevoel dat die prys van die motor buitensporig is vir wat hy jou bied nie. Die beheerknoppe vir die lugversorging en radio is baie duidelik en net mooi die regte grootte om dit maklik raak te vat. Voor die bestuurder is daar twee groot wysers wat die spoed en die toereteller huisves; tussen die twee is kleiner wysers wat die brandstof en enjintemperatuur weergee. Onder die twee klein wysers is ‘n digitale venstertjie waar verskeie funksies soos digitale spoed, brandstofverbruik, ens. vertoon kan word. Agterlangs is daar genoeg beenruimte vir ‘n gemiddelde volwassene, weereens met sagte leer en gehalte-afwerking. Uitvoubare koppiehouers in die middelste armleuning is netjies en bruikbaar.

Chev Cruze se binneruim
Chev Cruze se binneruim
Opel Astra se binneruim
Opel Astra se binneruim

Die Astra se binneruim is pure kwaliteit en selfs nog meer modern as dié van die Cruze. Weereens is alles byderhand en gemaklik om by te kom. Die materiale wat gebruik is, is regtig van hoogstaande gehalte en weereens kon ons geen spoor van ratels of geraas binne die motor vind nie. Daar is wel heelwat meer knoppies in die Astra en dit laat ‘n mens wonder of alles werklik nodig is. Alhoewel die Astra en die Cruze bykans dieselfde spesifikasie het, was dit meer subtiel en gebruikersvriendelik in die Cruze se binneruim. Waar die Cruze doelgerig voorkom, vertoon die Astra sagter en jonger aan die binnekant. Beenruimte in die Astra is dan ook aanvaarbaar, maar voelbaar minder as in die Cruze.

GWM C50T se binneruim
GWM C50T se binneruim

Die Sjinese C50T het my verbaas met sy afwerking en bougehalte in die binneruim. Die motor voel werklik goed aanmekaar gesit en niks lyk plastiekerig nie. Die materiaal in die binneruim was nou wel nie leer soos in die Cruze nie, maar ‘n goeiegehalte- veloerdoekstof doen hier diens. Daar is ook heelwat knoppies wat alles van togbeheer tot kolligte verstel. Die motor bied ook by verre die meeste beenruimte agter. Met ‘n as-afstand van 2700mm is die C50T dan ook ‘n goeie 15 mm langer as die Cruze en die Astra, wat die spasie in die binneruim verbeter.

Op die pad

Die Opel Astra van agter
Die Opel Astra van agter
GWM C50T van agter
GWM C50T van agter

Al drie hierdie motors is gesinsmotors wat veronderstel is om maklik te bestuur, lig op brandstof te wees om gerieflik elke dag werk toe en terug, asook skool toe en terug te kan ry. Die Cruze is kop en skouers die maklikste om elke dag mee oor die weg te kom. Die motor loop tjoepstil en die enjin is seepglad al is dit nog koud. Die stuur is akkuraat en lig genoeg om maklik te kan parkeer, maar swaar genoeg om goeie terugvoer te gee wanneer jy bietjie haastig raak. Rygehalte is ook vir my die beste van die drie. Alhoewel die Astra die identiese onderstel en enjin as die Cruze gebruik, voel die Cruze net na ‘n meer gebalanseerde volledige pakket as die Astra. Die C50T aan die anderkant ry soos die Kia Clarus en Hyundai Sonata van 15 jaar gelede. Die motor ry sag, amper te sag vir wat dit is en die enjin is nie glad en soepel soos die van die Cruze en Astra nie. Omdat die motor dan ook so laag op die pad sit, is dit moeilik om rondom die motor te weet waar die hoeke van die bakwerk is. Ek moes ‘n hele paar keer mooi kyk om nie in my eie motorhuis te ver of te naby aan die muur te parkeer nie.

Enjins

Die Chevrolet Cruze se laairuim
Die Chevrolet Cruze se laairuim
Die Opel Astra se laaruim
Die Opel Astra se laaruim

Die Astra en die Cruze word elk deur ‘n 1,4-literturbo-enjin aangedryf wat 103 KW en 200Nm se wringkrag lewer. Beide is gekoppel aan ‘n 6-spoedhandratkas wat die voorwiele aandryf.

GWM se C50T word aangedryf deur ‘n 1,5-literturbo-enjin met 98 KW en 188 Nm se wringkrag. Hier doen ‘n 5-spoedhandratkas diens en die C50T word ook deur die voorwiele aangedryf. Wanneer die C50T se enjin die optimale hitte bereik, voel dit stukke beter as wat wanneer die enjin nog koud is.

Die GWM C50T se laairuim
Die GWM C50T se laairuim

Die koppelaar in ons toetsmotor het ook baie hoog gebyt en aanvanklik was dit maar ‘n gesukkel om die motor gemaklik vinnig aan te sit en te ry. Ná ‘n paar dae het ek agtergekom dat die Sjinees eers optimale hitte moes bereik voordat hy gemaklik bestuur kan word, amper soos Bruce Lee van ouds wat eers goed warm gemaak moet word voor hy optimaal funksioneer.

Beide die Astra en die Cruze is toegerus met tolbeheer vir die wiele en stabiliteitsbeheer terwyl die C50T daarsonder moet klaarkom. Daar is dan ook slegs twee lugsakke in die C50T beskikbaar waar die Astra en Cruze met 6 elk spog. Brandstofverbruik is 5,8 en 5,9 l/100km vir onderskeidelik vir die Cruze en die Astra terwyl die C50T ‘n syfer van 7,4 l/100km kon aanteken. Wat die groen kant van sake betref, laat die Astra en Cruze onderskeidelik 139 en 135 g/km CO2-gasse die atmosfeer in terwyl die C50T se 1,5-literenjin 173 g/km produseer. Onthou, hoe minder hoe beter!

Pryse

Beenruimte in die Chevrolet Cruze
Beenruimte in die Chevrolet Cruze
Opel Astra se beenruimte
Opel Astra se beenruimte

Teen R249 600 is die Chevrolet Cruze 1.4T LS-sedan die goedkoopste van die drie, die GWM C50T Elite sal jou R249 999 uit die sak jaag en die Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy-sedan ‘n allemintige R277 900. Dit is R28 000 meer vir die Opel as die ander twee. Beide Astra en Cruze is standaard beskikbaar met ‘n 5-jaar- 120 000km-waarborg en die Cruze het ‘n 3-jaar- 60 000km-diensplan ingesluit. Opel sluit ‘n 5-jaar- 90 000km-diensplan in by die Astra se prys. GWM se waarborg is ook 5 jaar maar slegs 100 000km en daar is ‘n 5-jaar- 60 000km-diensplan ingesluit by die prys.

Beenruimte in die GWM C50T
Beenruimte in die GWM C50T

Wanneer ‘n mens in ag neem dat die Cruze alles bied wat jy in die Astra kry en boonop nog ‘n beter ritgehalte, dan is dit ooglopend dat die Cruze die motor is om te koop. Wat GWM aanbetref, dink ons die C50T is op die regte pad; die motor is prakties genoeg om in hierdie geselskap te kan kers vashou, bougehalte is ook heel aanvaarbaar in die segment, maar ontwerp en enjinafgerondheid skiet nog te kort. Ons voel ook dat die C50T te duur is vir wat daar in die mark beskikbaar is. GWM moet soos Hyundai/Kia en Toyota en Nissan voor hulle, hulself nog in die segment in Suid-Afrika bewys, voor hulle produkte soos die C50T teen meer gevestigde vervaardigers se produkte kan prys.

Chevrolet Cruze 1.4T LS Sedan

Prys

4 uit 5

Voorkoms buite

4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

5 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

5 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

37 uit 40

Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy Sedan

Prys

2 uit 5

Voorkoms buite

4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

4 uit 5

Enjin en Ratkas

5 uit 5

Op die pad

4 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

33 uit 40

GWM C50T Elite

Prys

3 uit 5

Voorkoms buite

3 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

5 uit 5

Agter die stuur

3 uit 5

Enjin en ratkas

3 uit 5

Op die pad

3 uit 5

Veiligheid

3 uit 5

Totaal

28 uit 40