‘Londonistan’: Britse hoofstad kry Moslemburgemeester ná bittere stryd

Deel op

Die Britse Konserwatiewe Party is besig met interne verwyte nadat hulle waarskynlik die plaaslike verkiesing in Londen ver verloor het. Hoewel stemme in gister se plaaslike verkiesings eers vanaf vanoggend om 9-uur Suid-Afrikaanse tyd (8-uur in Engeland) getel gaan word, is dit feitlik ‘n uitgemaakte saak dat die Moslemkandidaat van die Arbeidersparty, Sadiq Khan, teen Zac Goldsmith van die Konserwatiewes gaan wen. Dus gaan Londen, die rykste stad in Europa wat ook as nie-amptelike finansiële hoofstad optree, vir die eerste keer in die geskiedenis oor ‘n Moslemburgemeester beskik. Hy vervang mnr. Boris Johnson, wat in ‘n leierskapstryd met die eerste minister David Cameron gewikkel is.

Zadiq Khan met 'n plakkaat waarin vlugtelinge in Londen verwelkom word
Zadiq Khan met ‘n plakkaat waarin vlugtelinge in Londen verwelkom word

Die mees onlangse meningspeiling deur die Evening Standard het aangetoon dat Khan met 14% teenoor Goldsmith voorloop. Laasgenoemde het gedurende die verkiesing gepoog om Khan verdag te maak deur hom met radikale Moslems te verbind. Maar volgens Andrew Boff, die Konserwatiewe leier van die Groter Londense stadsraad, was dit ‘n “verregaande” fout om Khan vir sy bande met “ekstremistiese” Moslems aan te val. Volgens hom “kan dit skade aan die party se verhouding met Moslems berokken”.

Enkele minute nadat die stembusse gisteraand gesluit het, het mnr. Boff Goldsmith se strategie om op Khan se oënskynlike bande met radikale Moslems te fokus, skerp gekritiseer. Hy het aan die BBC gesê: “Dit kom eintlik daarop neer dat mense met konserwatiewe godsdienstige sienings nie vertrou kan word nie en dat jy nie ‘n platform met hulle kan deel nie. Dis verregaande.”

Boff het bygevoeg dat Zac Goldsmith “regte skade gedoen het” en “brûe opgeblaas het” wat die Konserwatiewe Party met Londen se Moslemgemeenskappe gebou het. Volgens hom is dit ‘n fout om “mense met konserwatiewe godsdienstige menings aan ondersteuners van terrorisme gelyk te stel. Ek het genoem dat dit ‘n fout is sover dit die toekomstige integrasie van Londen (met Moslems) betref. As jy ‘n politikus in Londen is, is dit ‘n baie vreemde ding om te doen. Ek meen dat dit die Konserwatiewes skerp gaan benadeel, veral in daardie dele van Londen met ‘n hoë Moslembevolking.”

Die persentasie Moslems in Londen is reeds vyftig persent en sal na verwagting toeneem soos wat immigrasie, asook die hoë bevolkingsaanwas van Moslems, sy tol eis.

Londen beskik oor ‘n reuse- stedelike ekonomie, die tweede grootste in Europa, naas Parys wat net ‘n kortkop voor die Britse hoofstad is. Die tien grootste stedelike gebiede in Europa is die volgende:

  1. Paryse stedelike gebied, Frankryk €623 miljard
  2. Groter Londen, Verenigde Koninkryk €622 miljard
  3. Duitse Ryn-Ruhrgebied, Duitsland €362 miljard
  4. Nederlandse Randstad, Nederland €263 miljard
  5. Madrid-stedelikegebied, Spanje €199 miljard
  6. Milanese stedelike gebied, Italië €190 miljard
  7. Frankfurt-aan-die-Main, Duitsland €173 miljard
  8. Rome: stedelike gebied, Italië €154 miljard
  9. München-streek, Duitsland €147 miljard
  10. Berlynse stedelike gebied, Duitsland €146 miljard

Vergeleke hiermee, beskik die hele Suid-Afrika oor ‘n BNP van €284 miljard, oftewel effens groter as die Nederlandse Randstad wat uit Amsterdam, Rotterdam, Den Haag en Utrecht bestaan. Drie stedelike gebiede in Europa, waaronder Parys en Londen, se ekonomieë is dus meer as twee keer so groot soos die totale Suid-Afrikaanse ekonomie! En dit is juis een van hulle wat van vandag af onder ‘n Moslemleier staan.

Die gevolge vir Engelse en Britse identiteit is ook legio, want voortaan sal Britse politici toenemend hul Islamitiese kiesers moet pamperlang, soos inderdaad reeds in Londen gebeur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.