Luister na Bernie

Deel op

‘n Interessante vraag, as ‘n mens dit ernstig en eerlik wil probeer beantwoord en nie met emosionele formules en slagspreuke nie, is wie in werklikheid Suid-Afrika regeer?

In ‘n groot mate verskil die situasie in Suid-Afrika nie veel van dié wêreldwyd nie. Die werklike beheer berus die wêreld oor by groot kapitaal en dus by die handjievol oligarge aan die kop van die monster, met die beheer, uiteindelik, in die hande van die banke. Ons weet almal dat ongeveer 1% van die wêreld se bevolking soveel rykdom besit as die ander 99% altesaam. En soveel rykdom beteken natuurlik net een ding: onbeperkte mag.

In hierdie kolosale magstruktuur is die «demokraties verkose» politici weinig meer as strooipoppe. Die Demokratiese Party kandidaat in die huidige Amerikaanse presidentsverkiesing, Bernie Sanders, het trouens van hierdie groteske scenario sy verkiesingsplatform gemaak en tot dusver met aansienlike sukses, in elk geval met meer sukses as Hillary Clinton wat ‘n getroue diensmaagd van die groot kapitaal is.

Die sprekende voorbeeld van ‘n strooipop politikus is natuurlik ons eie Jacob Zuma. Sy patetiese vertoning onlangs voor die parlement het pynlik beklemtoon hoe magteloos en irrelevant hy eintlik is. Indien daar in die ANC nog sprake is van regering en beleid, dan berus dit nou by die finansminister Pravin Gordan.

Suid-Afrika word sedert die einde van die Vryheidsoorlog en veral sedert die bannelingskap van Pres. Kruger feitlik deurgaans deurdie geldmagte beheer. Die oorlog self met al die lyding wat daarmee gepaard gegaan het, was suiwer gemotiveer deur Engelse hebsug en vraatsugtigheid onder die dekmantel van kapitalisme. Al wat sedertdien verander het, is die intensiteit en omvang daarvan wat oor die jare eksponensiëel toegeneem het. Natuurlik was daar langs die pad wel oomblikke dat die geldmag se houvas op ons lotgevalle met vasberadenheid uitgedaag was. So is dit bv ondenkbaar dat dr Verwoerd opdragte sou neem van Harry Oppenheimer of Anton Rupert. Maar die langtermyntendens bly onderhorigheid aan die geldmagte.

Wat belangrik is om te verstaan, is dat die geldmag ‘n hiërargie vorm. Op die hoogste vlak praat hulle met mekaar en bespreek die lotgevalle van die mensdom. Daar is kleinoligarge, middelslagoligarge en grootoligarge met alles moontlik tussenin.

Die kleiner of middelslag oligarge, soos bv die Ruperts, verkoop hulle siel in ruil vir ‘n plekkie hoër op die leer, nader aan die Rothschilds, die uiteindelike rykmansnirvana. Die werklike groot magnate in beheer van Suid-Afrika is nie noodwendig gesetel in Johannesburg of Kaapstad of Stellenbosch nie, maar in Londen, New York, Luxemburg of Singapoer of hulle sit iewers in ‘n belastinghawe op ‘n eilandparadys of op ‘n jag in die Middellandse See vanwaar hulle met hulle rekenaars oor hulle geldempaaiers regeer.

Die sogenaamde demokratiesverkose leiers in Suid-Afrika en meeste ander lande ter wêreld kan slegs regeer solank hulle die een of ander nuttigheidswaarde vir die magnate het. Die indruk dat hulle die land bestuur, is bloot ‘n hersenskim. Dis die superrykes wat die septer swaai en die opdragte gee.

Wat is in hierdie konteks die presiese rol van die ANC in Suid-Afrika? Die rol van die ANC is om die massas onder die illusie te laat verkeer dat hulle op «demokrtiese» wyse ‘n aandeel in die landsbestuur het en dat hulle nou deur swartes regeer word. In daardie opsig vervul die ANC dus ‘n nuttige rol om aan die oligarge ‘n alibi of rookskerm te verskaf waaragter hulle hulle geldbelange kan bevorder. «Laat hulle maar glo hulle regeer die land. Ons weet van beter.»

Maar daar is natuurlik nog ‘n probleem en dit is naamlik dat die massas of die arbeidersklas, wat die werksmiere vir die rykes moet verskaf, nie eintlik veel materiële vordering maak nie. Die rykes word ryker en die armes bly arm of word armer en daarvoor moet ‘n sondebok gesoek word . En dit is waar die rassekaart ter sprake kom. Want wie is die sondebok? Maar wie anders as die wit ras natuurlik. Die skuldiges is nie die ANC of sy opdraggewers nie, dis nie die wit magnate agter die skerms nie, maar Van der Merwe op sy plasie of mev Swanepoel op haar kleinhoewe of in haar voorstedelike woonstelletjie.

Maar soos gesê, die groot geldmag agter die troon kom nie van gister af nie. Die Nasionale Party se bewind was, met enkele uitsonderings, by uitstek ‘n handlanger en lakei van die oligargie. Die oligarge het die Nasionale Partyregering op ‘n manier aan die lewe gehou solank dit in hulle belang was. Vir jare lank het die Nasionale Partyregering die geldbelange van die superrykes beskerm deur ‘n bastion teen oorname deur die Sowjetkommunisme te wees.

Nie dat die geldmagte juis besonder sterk teen die Sowjet kommunisme gekant was nie, maar vir die oomblik het dit darem nuttig gelyk om ‘n paar eiers in die anti-kommunistiese mandjie ook te plaas vir ingeval. Feit is dat enkele maande nadat Mikail Gorbachev op 16 Maart 1985 algemene sekretaris van die Sowjet Politburo geword het, het die Chase Manhatten Bank van New York op 1 Augustus 1985, alle staatslenings aan die Suid-Afrikaanse regering opgeskort met ‘n trop ander banke agterna.

Die Republiek van Suid-Afrika het sy nuttigheidswaarde finaal verloor as bastion teen die Sowjetkommunisme wat besig was om sy laaste asem uit te blaas. ‘n Nuwe regime was in Suid-Afrika in aantog wat nog makliker gemanipuleer kon word as die vorige, tot voordeel van die rykes.

Dat die superrykes hulle fortuine maak met oëverblindery, manipulasie en bedrog, maak aan hulle magsposisie skynbaar nie veel verskil nie, in elkgeval nie tot nou toe nie. Hulle kom met alles weg danksy ‘n gedweë media wat ook deur dieselfe groepie beheer word en teenoor wie hulle dus gedienstigheid moet betoon. Met hulle onderduimse gekonkel bou die oligarge van dag tot dag voort aan ‘n internasionale finansiële stelsel wat op spookasem berus en wat net wag om voor die son te verdamp.

Is daar nou enige troos in hierdie situasie? Daar is, maar dit is ‘n skrale troos. Die troos is dat dosyne van die wêreld se grootste banke tegnies bankrot is of op die drumpel van bankrotskap staan. Talle van hulle bestaan bloot voort danksy regerings (lakeie) wat hulle herhaaldelik met belastingbetalers se geld uit die verknorsing help of omdat sentrale banke, veral die Amerikaanse Fed, triljoene se waardelose papiertjies druk wat hulle as «geld» beskryf en wat uitsluitlik daarop gerig is om die internasionale geldstelsel op dreef te probeer hou.

Daar is verskeie sentrale banke van die wêreld se grootste nywerheidslande wat nou negatiewe rentekoerse betaal vir geld wat hulle aan handelsbanke leen. Negatiewe rentekoerse beteken dat die sentrale banke handelsbanke betaal om geld van hulle te leen, alles skynbaar in ‘n poging om bankrotskappe af te weer. Die troos is dus: Die oligargie is op die punt om sy maai te sien. Die troos is skraal weens die potensiaal van die banke en ander groot geldmagte om ons almal met hulle saam die afgrond in te sleep.

Wat kan ons doen? Maar niks nie natuurlik. Al wat ons kan doen is om te wag tot alles uitgekook het in die hoop dat ons weer iewers van voor af ‘n begin kan maak. Maar dit gaan moeilik wees, want die katastrofe wat ons hierdie keer in die gesig staar, gaan erger wees as wat die wêreld ooit tevore beleef het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.