‘Nederland het volksmoord in Suider-Afrika befonds’ – Martin Bosma

Deel op

‘n Lid van die Nederlandse parlement, oftewel die “Tweede Kamer van die State-Generaal“, mnr. Martin Bosma (Partij voor de Vrijheid), het gisteraand verklaar dat “Nederland Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings finansieel gesteun het wat vier volksmoorde gepleeg het”. Dié stelling het hy tydens ‘n begrotingsdebat in die Tweede Kamer oor “ontwikkelingsamewerking” gemaak. Nederland skenk jaarliks €4,1 miljard (ongeveer R60 miljard) aan derdewêreldlande, veral in Afrika. “Ontwikkelingsamewerking” wat as “OS” afgekort word, verteenwoordig ‘n eufemisme vir hulpgeld.

Die vier terroristebewegings, wat volgens Bosma nooit sonder Nederlandse finansiering aan bewind sou gekom het nie, is: die MPLA in Angola, SWAPO in Suidwes-Afrika (tans Namibië), Frelimo in Mosambiek, asook die ANC-SAKP in Suid-Afrika. Tydens die sewentiger- en vroeë tagtigerjare had Nederland ‘n verlinkse minister vir ontwikkelingsamewerking, Jan Pronk, ‘n lid van die linkse Partij van de Arbeid. Pronk was die seun van ‘n hervormde onderwyser en onderwyseres wat agterna ekonomie studeer het.

“Die PvdA het Frelimo en MPLA gefinansier. Sal die PvdA daarvoor om verskoning vra? Volksmoorde is met Nederlandse belastings gepleeg. Nederlandse ontwikkelingshulp is verantwoordelik vir tienduisende dode in Afrika… Jan Pronk was verlief op Julius Nyerere. Daardeur is miljoene Tanzaniese boere van hul grond verdryf,” seg Bosma gisteraand.

Met Nederlandse en Skandinawiese hulpgeld het Nyerere die stelsel van “oejamaa”-sosialisme in sy land ingestel waardeur kollektiewe landbou op die kommunistiese manier ingestel is. Hy het ook sy weermag in die vroeë 1970’s gebruik om miljoene bestaansboere onder dwang na die stede en nuwe dorpe te laat trek en het hul ou statte afgebrand. Hierdie beleid het tot hongersnood in die land gelei en het Tanzanië van buitelandse voedselhulp afhanklik gemaak, wat toe deur Nederland op aandrang van Jan Pronk verskaf is.

Oor die volksmoorde in Suider-Afrika, het Bosma gisteraand in die Tweede Kamer verklaar:

“Progressiewe Nederland het die ANC gehelp om volksmoord op Inkatha uit te voer. Die ‘bevrydingsbewegings’ in Angola, Mosambiek en Suid-Afrika pleeg almal volksmoord. Suid-Afrika is nou die mees rassistiese land ter wêreld, danksy Nederland en Jan Pronk. Die land word regeer deur die intens korrupte ANC, wat ‘n kriminele organisasie is.”

Oor Zimbabwe seg Bosma: “Nederland steun die rassis Robert Mugabe téén suksesvolle blanke boere.”

minderheid_in_eigen_landDie repliek op Bosma deur die linkse Kamerlede van die Partij van de Arbeid en die Sosialistiese Party (wat voorheen vir Voorsitter Mao van Rooi Sjina ondersteun het) was bedeesd. Een het vermeld dat hy Martin Bosma se boek Minderheid in eigen land: Hoe progressieve strijd ontaard in genocide en ANC-apartheid gelees het, maar nie veel daarvan dink nie.

Repliek op Bosma se stellings en vrae sal vanmiddag deur die vroulike minister van buitelandse handel en ontwikkelingsamewerking, Lilianne Ploumen, beantwoord word. Ploumen behoort, nes Jan Pronk destyds, tot die linkse Partij van de Arbeid en Bosma se aanmerkings kan haar dus kwalik aanstaan.

Nederland word tans deur die sogenaamde Mark Rutte II-koalisie geregeer, wat uit die linkse PdvA en die liberale VVD (Volksparty vir Vryheid en Demokrasie) bestaan. Die eerste minister, Mark Rutte, is die leier van die VVD, wat oor 40 setels in die Tweede Kamer beskik.

Kyk na die volledige toespraak deur Martin Bosma en die daaropvolgende debat (18 min. lank).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.