Belgiese owerhede het Google beveel om bouwerk aan ’n groot datasentrum in die suide van die land te staak omdat wysigings aan die oorspronklike bouplanne nie oor die nodige goedkeuring beskik nie, berig The Guardian.
Volgens Raphaël Stokis, ’n Waalse amptenaar, het inspekteurs die terrein besoek en bevind dat die gebou feitlik voltooi is, hoewel die permit reeds geweier is. Hy het aan die Belgiese openbare uitsaaier RTBF gesê dat die 300 werkers mondelings aangesê is om hul werksaamhede te staak. Die bevel is later skriftelik aan Google bevestig.
Die bouterrein by Aiseau-Presles is op die perseel van ’n voormalige steenkoolmyn geleë. Google het oorspronklik drie kleiner datasentrums daar beplan, maar het in 2025 aansoek gedoen om twee daarvan in een veel groter sentrum saam te voeg. Die onderneming wou ook van lugverkoeling na waterverkoeling oorskakel en daarvoor 600 kubieke meter water per uur uit die nabygeleë Samberrivier onttrek.
Die Waalse owerhede het die wysigings aanvanklik in April goedgekeur, maar ná besware deur inwoners en belangegroepe is die permit in Augustus deur die minister van infrastruktuur, François Desquesnes, herroep weens kommer oor droogte en waterverbruik. Google het teen dié besluit geappelleer en ’n uitspraak word op 7 Januarie verwag.
Greenpeace het vroeër vandeesweek ’n verslag met hommeltuigopnames gepubliseer wat volgens die organisasie toon dat Google ondanks die herroeping van die permit met bouwerk voortgegaan het. Die omgewingsgroep het ook ’n dringende aansoek by die plaaslike bouowerhede ingedien.
Google het in ’n verklaring gesê dat die onderneming hom beywer vir openhartige gesprekvoering en samewerking met die streekowerhede. ’n Woordvoerder het intussen bevestig dat die bouwerk in opdrag van die plaaslike owerhede en in afwagting van verdere riglyne gestaak is.
Die geskil is die jongste in ’n reeks struikelblokke waarmee groot tegnologiemaatskappye in Europa te kampe het namate hulle hul datasentrums uitbrei om aan die groeiende vraag na kunsmatige intelligensie te voldoen.
Bron: The Guardian
