praag.co.za

Tag: staking

  • Byna 170 oortredings tydens Poskantoorstaking

    Die minister van Telekommunikasie, Siyabonga Cwele, sê byna 170 sake is by die polisie aangemeld vir misdade wat tydens die staking gepleeg is.

    Die onwettige tweemaandelange staking deur werkers wat vaste aanstellings en verhogings eis, het die Poskantoor feitlik op sy knieë gedwing.

    Die misdade sluit ondermeer gevalle van kwaadwillige saakbeskadiging, intimidasie en aanranding in.

    Cwele het in die Nasionale Vergadering van die parlement op ‘n vraag gereageer.

    Die minister sê diegene wat die meeste deur die staking geraak word, is die armes, maar sakeondernemings het swaar gely onder die staking aangesien talle van duur koerierdienste moes gebruik maak.

    Cwele pogings om die Poskantoor en die vakbondleiers te oorreed om tot ‘n vergelyk te kom sal voortgaan sodat werkers kan terugkeer werktoe.

    Vakbondleiers het vroeër hulle looneis van 15 persent tot 7,5 persent afgeskaal.

    Die Universiteit van Suid-Afrika het ondanks die staking ononderbroke dienste ontvang.

    UNISA is een van die Poskantoor se grootste kliënte.

    Cwele het gesê die Poskantoor het met die hulp van UNISA stelsels in plek gestel om te verseker dat die Unisastudente hulle pos en studiemateriaal ontvang.

    Dit is veral belangrik vir studente wat eksamen gaan skryf dat hulle hulle werkstukke ter voorbereiding van die eksamen betyds ontvang.

    Die minister het ook gesê die Departement en die Poskantoor sal voortgaan om met ander groot rolspelers en instellings wat swaar leun op die Posdienste, in gesprek te tree.

  • Stakende poskantoorwerkers saai verwoesting (foto’s)

    Vandale onder die Poskantoorstakers is besig om soveel verwoesting te saai dat baie mense wonder of die Poskantoor ooit agterna sal kan herstel. Hier is enkele foto’s daarvan.

     

  • Geen einde in sig met verlammende poskantoorstaking nie

    Daar is geen einde in sig met die poskantoorstaking wat Suid-Afrika lamlê nie.

    Die staking is nou reeds in sy vyfde week met alle poskantoor-werksaamhede wat heeltemal tot stilstand gekom het ná ‘n vakbond verdere dreigemente gemaak het.

    Volgens die South African Postal Allied Workers Union (SAPAWU) het SA Poskantoor (Sapo) nog nie daadwerlike pogings aangewend om ‘n skikking te bereik nie.

    SAPAWU sê onder meer dat salarisverhogings en vaste aanstelling van nie-permanente werkers maar twee van talle eise is wat aangespreek moet word alvorens die vakbond bereid sal wees tot ‘n skikking.

    Alhoewel SAPAWU erken dat die poskantoor nie sy werkers betyds kan betaal nie, en dat die maatskappy weens’n nypende geldtekort asook die staking sy deur kan sluit, is die vakbond steeds nie bereid om vir ‘n verhoging van 8% te skik nie.

    Die staking dreig om eersdaags ‘n krisispunt te bereik deurdat die onbesonne arbeidsoptrede die instansie net verder knou.

    Dit lyk egter asof die regering nie erns het met die staking en die deurtastende gevolge wat dit sal inhou nie.

  • Poskantoorstaking lê die land lam

    Die SA Poskantoor het op 17 September aangekondig dat pos in Gauteng en die Wes-Kaap geraak word deur ‘n “onbeskermde staking” by sorteersentra in Kaapstad, Pretoria en die groter Johannesburggebied. Terwyl pos in die Wes-Kaap met slegs enkele dae vertraag word, word dit in Gauteng met “etlike weke” vertraag.

    By verskeie poskantore in Johannesburg was posbusse gister leeg, wat aandui dat geen pos afgelewer word nie.

    Volgens die Poskantoor is “die vertraging in Gauteng die gevolg van ‘n vorige staking waarvan die produksieomgewing nog nie herstel het nie”.

    Redes wat vir die staking aangevoer word, het te make met die aanstelling van tydelike poswerkers in permanente poste. Die SA Poskantoor is besig om tydelike poste wat net op sekere tye van die jaar benodig word in permanente poste te omskep. Dit word egter nie vinnig genoeg na die smaak van die poskantoorwerkers gedoen nie.

    Intussen daag werknemers by poskantore in winkelsentra en elders steeds vir werk op, hoewel die pos nie meer gesorteer word nie. Sommige poskantore in Kaapstad en in Johannesburg is egter gesluit ná voorvalle van intimidasie en dreigemente van geweld. Die Poskantoor se oproepsentrum is gesluit en klante word versoek om ‘n epos aan socialmedia@postoffice.co.za te stuur as hulle navraag oor positems wil doen. Daarvoor word ‘n opspoornommer benodig.

    Die posdiens in ander provinsies, behalwe Gauteng en die Wes-Kaap, funksioneer normaalweg.E-handelaars is egter woedend aangesien hulle sakebedrywighede heeltemal lam gelê word.Volgens Mlu Mathonsi, groepbedryfshoof van die Poskantoor, “hanteer die Poskantoor landwyd vyf miljoen posstukke op ‘n gewone dag. Met ‘n vertraging van net een dag word ‘n enorme agterstand opgebou.”

    Maar die staking duur nou al op sommige plekke ‘n maand lank, wat kan beteken dat tot 150 miljoen posstukke iewers in die stelsel vashaak.

    Mathonsi sê: “Met e-handel word al hoe meer pakkies deur die poskantoor gehanteer.”

    In ander lande het poskantore hul sakemodel verander om meer pakkies as ander posstukke soos briewe te hanteer, ten einde e-handelaars tegemoet te kom. Sowel Canada Post in Kanada as Royal Post in Brittanje het tot dié stap oorgegaan.

    E-handelkliënte is gesteld op vinnige en betroubare aflewerings.

    Die Poskantoorstaking kan dus op die duur veroorsaak dat die publiek vertroue in e-handel in Suid-Afrika verloor.

     

  • Poskantoorstakers intimideer en vandaliseer

    Die Poskantoor sê stakers het hulself gewend tot intimidasie van werkers en vandalisme. Deeltydse werkers het verlede maand met ‘n onbeskermde staking begin.

    Die deeltydse werkers eis hoër salarisse.

    Sedert die begin van die jaar gaan die Poskantoor gebuk onder herhaaldelike stakings.

    Poskantoor-kliënte in Gauteng kan weens die voortslepende arbeidsonrus verdere vertragings in die aflewering van pos en pakkies in die provinsie te wagte wees.

    Die arbeidsonrus het reeds ‘n verlies van 71 miljoen rand beteken.

    Die Poskantoor het verlede maand 473 werkers afgedank omdat hulle aan ‘n onbeskermde staking deelgeneem het. Die staking het hoofsaaklik Tshwane en die Oos-Rand geraak.

  • Lonmin verwerp gerugte oor afleggings

    Die platinumprodusent Lonmin het aannames van bronne in die mynbedryf verwerp dat die maatskappy beplan om sowat 5.700 poste te sny as deel van sy veldtog om winste na die vyfmaandelange staking in die bedryf te herstel.

    Die maatskappy se uitvoerende hoof, Ben Magara, sê daar is geen planne om enigiemand uit diens te stel nie en die prioriteit is om produksie te verskerp, het RSG berig.

    Twee bronne in die mynbedryf het aan die nuusagentskap Reuters gesê volgens die beplande afleggings sal ses skagte gesluit word.

    AMCU se staking het ook Anglo American Platinum en Impala Platinum ontwrig. Amplats het intussen aangekondig dat hy beplan om van sy myne te verkoop.

    Impala sal na verwagting die mark inlig oor potensiële herstrukturering wanneer hy Donderdag verslag doen oor sy jaarverdienste.

  • Numsa hits lede verder aan na openbare geweld

    Lede van die metaalwerkersvakbond Numsa sal hulself glo tot verdere openbare geweld wend op Rustenburg in Noordwes.

    Die stakers wil die polisie dwing om 13 van sy lede wat deel was van ‘n betoging buite die Rustenburgse Ingenieursentrum, vry te laat.

    Die vakbond het reeds borgtog vir al sy lede betaal. Die lede sal aangekla word weens openbare geweld en saakbeskadiging.

    Numsa se plaaslike organiseerder, Mere Boas, het berigte ontken dat van hulle lede die vensters van eiendomme stukkend geslaan het.

    Die polisie sê hulle het die lede in hegtenis geneem weens beskadiging van stadseiendom.

    Numsa is besig met ‘n landwye veldtog om stakers tot verset aan te hits.

    Die vakbond het stakers aangemoedig om aan te hou “betoog” buite hul werkplekke as deel van die volgehou landwye staking.

    Die staking het die land se ekonomie byna reeds tot ‘n stilstand gebring met die vakbond wat ‘n tien persent verhoging per jaar eis.

    Berigte van grootskaalse intimidasie en geweld is vanaf die begin van die staking aangemeld by die meeste fabrieke.

  • Numsa gaan geweld, intimidasie uitbrei

    Berigte van intimidasie en geweld wat deur lede van die metaalwerkersvakbond Numsa gepleeg word, neem toe.

    Numsa sal na verwagting Dinsdag vergader om planne te bespreek om die tweewekelange staking in die staal-en ingenieursbedrywe verder uit te brei.

    Intussen het honderde metaalbedrywe oral in die land gesê hulle word deurentyd deur Numsa-lede afgedreig met geweld, vandalisme, klipgooiery en aanvalle op personeel en klante.

    In Wadeville, Germiston is ‘n brandbom binne in ‘n kantoor geslinger, voertuie onder klippe gesteek en ‘n bakkie aan die brand gesteek.

    Stakers spioeneer op fabriekspersele in Wadeville en laat weet mekaar per selfoon as hulle werkers, selfs nie-lede van Numsa opmerk wat opdaag vir werk.

    By ‘n ander fabriek in Gauteng is 7 voertuie beskadig deur stakers wat nie deel van die personeel is nie en by ‘n ander is hekke afgebreek toe ‘n groot groep stakers met pangas voor die perseel opgedaag het.

    In ‘n ander geval is ‘n opsigter by ‘n plastiekfabriek na buite gesleep en bewusteloos geslaan nadat stakers die hekke afgebreek het en die eiendom geplunder het.

    Oproepe na die polisie het onbeantwoord gebly.

    Dit volg nadat Seifsa die vakbond se eis vir ‘n skikking verwerp het. Seifsa sê Numsa se voorstel vir ‘n tien persent verhoging oor drie jaar, of alternatiewelik 10 persent vir elke jaar, is nie bekostigbaar nie.

    Seifsa sê die huidige aanbod op die tafel wat tien persent in die eerste jaar behels, nege-komma-vyf persent in die tweede en nege persent in die derde jaar, is al wat hulle kan bekostig.

    Sommige klein sakeondernemings sê die staking gaan hulle knak. Werkers wat nie lede van die vakbond is nie, eis ook van hulle vergoeding omdat hulle verhoed word om te werk.

  • Vakbonde sê vir Ford, BMW: ‘Julle kan maar waai!’

    Ford Suid-Afrika is gister onthul as die Amerikaanse motormaatskappye wat dreig om sy fabrieke te sluit weens die onstabiele arbeidsomgewing in die land.Dié onthulling kom net enkele ure nadat die nasionale tesourier van Numsa, Mphumzi Maqungo in die Nangoza Jebe-saal in New Brighton, Port Elizabeth, gesê het dat die vakbond aan BMW, die Duitse motorvervaardiger, gesê het dat hy “maar die land kan verlaat as hy so voel”.

    Intussen het die Staal- en Ingenieursnywerheidsfederasie van Suid-Afrika (Seifsa op Engels) se kommunikasiebestuurder Ollie Madlala bevestig dat Ford SA gedreig het om hom aan die land te onttrek.

    “Die uitvoerende beampte van Seifsa, Kaizer Nyatsumba, is deur die uitvoerende beampte van Ford-motorkorporasie Suid-Afrika, Jeff Nemeth, wat gesê het dat die maatskappy moontlik sy werksaamhede kan beëindig as gevolg van die onstabiele omgewing.

    “Die inligting is gedeel, wat aandui wat die vlak van kommer in die land oor die Numsa-staking is en die skadelike invloed daarvan op verskillende ekonomiese sektore, nie net die metaal- en ingenieurswesesektor nie.

    “Dit was ‘n feitelike verklaring en nie bedoel om druk op enigiemand te plaas nie,” het sy gesê.

    Nóg Nemeth, nóg Ford se nasionale kommunikasiebestuurder, Alisea Chetty, kon vir kommentaar bereik word.

    Seifsa verteenwoordig 20% van die 10 500 maatskappye in die bedingingsraad maar dek meer as die helfte van die werknemers.

    In ‘n verklaring wat gister deur General Motors SA uitgereik is, sê die maatskappy dat 30 000 mense regstreeks by die motorvervaardigers in diens is, terwyl ‘n verdere 200 000 onregstreeks via die nywerheid werksaam is.

    Intussen het Magungo gesê dat die vakbond nie “afgepers gaan word” deur waarskuwings oor reeds brose ekonomie nie.

    “Die werklikheid van die saak is dat die motorbedryf vandeesweek aan ‘n sloerstaking onderworpe sal wees, dan gaan die res voort en dit was die oogmerk van die staking.

    “Die doel van die staking is om die slaan waar dit seermaak en diegene wat dink dat ons op ‘n wittebrood is – nee!

    “BMW het vir ons geskryf dat, indien die staking voortgaan, gaan hulle uit die land onttrek.”

    “Toe sê ons vir hulle: Nou maar onttrek dan. Waai as julle wil.”

     

  • Numsa voer veldtog van openbare geweld, intimidasie, saakbeskadiging

    Seifsa se hoof uitvoerende beampte, Kaizer Nyatsumba, het gesê die federasie word oorval met verslae van geweld teen sy lede.

    Die afgelope naweek in Gauteng is 26 stakers van die metaalwerkersvakbond Numsa op aanklagte van openbare geweld, intimidasie en saakbeskading in hegtenis geneem.

    Kwaadwillige beskadiging van privaateiendom, die intimidasie van sake-eienaars, medewerkers en die publiek is oral aangemeld.

    Doelbewuste dade van wetteloosheid, insluitend geweld en algemene chaos, word glo in Gauteng sowel as KwaZulu-Natal deur werkers wat deelneem aan die Numsa-staking, gepleeg.

    “Ons is baie teleurgesteld met die gewelddadige optrede van sommige unie-lede wat ‘n moedswillige veldtog van vandalisme – voertuie ingesluit – teen talle van ons ledemaatskappye voer… Dit is wat ons wou vermy toe ons ‘n beroep op die vakbonde gedoen het om ‘n vredesooreenkoms aan die begin van die onderhandelinge aan te gaan,” sê Nyatsumba.

    ‘n Herwinningsmaatskappy het aan die Daily News gesê hy het ‘n lys van klagtes skriftelik aan Numsa se Durban-kantore gestuur, nadat ‘n werknemer Donderdag aangerand is, na bewering deur Numsa-lede.

    Hy het gesê ‘n bestuurder is deur die stakende werkers by Isipingo Donderdagoggend so erg aangerand dat hy gehospitaliseer moes word.

    Die bestuurder werk vir ‘n chemiese vervaardigingsmaatskappy op Isipingo, wat nie behoort tot die stakende metaal-industrie nie.

     

  • Numsa betoog voor Eskomhoofkantoor

    Kragtens ‘n hofbevel wat aan Eskom toegestaan is mag sy werkers wat lede van die metaalwerkersvakbond Numsa is, nie staak nie.

    Meer as 200 000 werkers in die metaal- en ingenieursbedryf het Dinsdag begin staak.

    Die Arbeidshof het beslis dat die werkers van Numsa nie by enige van Eskom se aanlegte aan ‘n staking mag deelneem nie, aangesien Eskom ‘n noodsaaklike diens verskaf.

    Eskom, net soos hospitale, nooddienste en die polisie het die status van ‘n noodsaaklike diensverskaffer waar werkers nie mag staak nie.

    Dit sal lede nie verhoed om aan betogings deel te neem nie, het Numsa egter gesê. Die vakbond sê sy lede sal nie deur Eskom geïntimideer word nie.

    Numsa beoog om Woensdag te betoog voor Eskom se hoofkantoor in Megawatt-park Sunninghill, noord van Johannesburg.

    Eskom het intussen gewaarsku dat dissiplinêre stappe teen Numsa-lede geneem sal word as hulle die hofbevel verontagsaam.

    ‘n Woordvoerder van Eskom, Andrew Etzinger, sê dit is in die belang van die land se ekonomie om te verseker dat daar nie kragonderbrekings is weens die staking nie.

    Sowat 10 000 werkers by Eskom behoort tot die metaalwerkersvakbond wat vroeër aangedui het dat hulle ‘n onbeskermde staking oorweeg.

    Die hoofsekretaris van die vakbond, Irvin Jim, sê lede sal by verskeie maatskappye betoog.

    Jim is vol vertroue dat Numsa deur die staking genoeg druk op werkgewers sal plaas om hulle aanbod te verhoog na 12%.

    Stakers in Gauteng eis egter vyftien persent.

  • Numsa-staking kan erger as platinum-staking wees

    Ekonome waarsku dat die beplande Numsa-staking die ekonomie ‘n groter knou kan toedien as die onlangse platinumstaking.

    Die metaalwerkersvakbond sal Dinsdag begin staak, ten spyte van ‘n ontmoeting met die minister van Arbeid.

    Meer as 10 000 vervaardigingsmaatskappye kan deur die staking in die metaal en ingenieursbedrywe geraak word.

    Praag het intussen verneem dat werkers by staalbedrywe in Gauteng in vrees lewe te midde van openlike dreigemente en intimidasie indien hulle vir werk wil opdaag.

    Sake-ondernemings in ander provinsies het ook hulle kommer gedeel oor die impak van die Numsa-staking.

    Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-baai Sakekamer, Kevin Hustler sê die staking gaan nie net spesifieke maatskappye raak nie, maar gaan ook werkskepping benadeel.

    Die Johannesburgse Metropolisie het motoriste versoek om die middestad te vermy waar ‘n optog deur duisende Numsa-lede verwag word.

    Vakbondlede drom reeds saam om memorandum met griewe aan die werkgewersorganisasies oorhandig is. Volgens ‘n woordvoerder van die Metropolisie, Edna Mamonyane sal ongeveer 12 000 lede aan die protesoptrede deelneem.

    Twee Numsa-optogte word ook vir die Oos-Kaap beplan, waar die vakbond meer as 30 000 lede meesal in die motorbedryf het.

    In Port Elizabeth sal stakers van die Nangoza Jebe-saal in New Brighton na die Vuyisile Mini-plein opruk, en in Oos-Londen van die North End-stadion na die departement van Arbeid.

    Die minister van Arbeid, Mildred Oliphant het vroeër gesê sy is optimisties dat ‘n oplossing gevind kan word om die 220 000 Numsa-lede se staking vinnig tot ‘n einde te bring.

    Oliphant het met die media gepraat ná ‘n marathon-vergadering tussen die metaalwerkersvakbond en werkgewers by die KVBA se hoofkantore in Johannesburg.

    Die minister het na die vergadering gesê sy is hoopvol dat die partye binnekort ‘n konsensus sal bereik.

  • Numsa dreig met staking by Eskom ook

    Karl Cloete, die adjunksekretaris-generaal van die metaalwerkersvakbond Numsa dreig met ‘n staking by Eskom.

    Die vakbond eis ’n dubbelsyfer-verhoging.

    Sowat 11 000 lede van Numsa by Eskom eis verhogings. Numsa is die grootste vakbond in die land.

    Dié aankondiging kom minder as ’n week nadat die langste staking in Suid-Afrika se geskiedenis wat vyf maande geduur het in die platinumsektor uiteindelik beëindig is.

    Numsa het in Johannesburg aangekondig dat meer as 220 000 lede in die sektor vir metaalwerkers van Dinsdag, 1 Julie, sal begin staak.

    Die federasie vir staal- en ingenieursbedrywe (Seifsa) het Woensdag gesê ’n skikking kon nie bereik word nie. ’n Dooiepunt is in Mei verklaar na onderhandelinge wat drie maande geduur het.

    Die staalnywerheid sukkel met Chinese aanvraag wat stagneer.

    Kraglewering word egter as ’n noodsaaklike diens beskou, wat beteken dat werkers wat deelneem aan ‘n onbeskermde staking by Eskom, afgedank kan word.

    Cloete het nie gesê wanneer Eskom-werkers sal begin staak nie, maar hulle is nie deel van die staking wat op 1 Julie begin nie.

    Cloete sê die vakbond se uitvoerende komitee het ingestem tot lede se besluit dat hulle wil staak.

     

  • Skikking in platinumbedryf bereik

    Die platinumprodusent, Lonmin, sê hy sal sy werkers finansieel bystaan noudat die vyfmaandelange staking verby is, het RSG berig.

    Geen besonderhede is egter bekendgemaak nie. Dit volg na die aankondiging van ‘n skikking tussen die vakbond AMCU en die drie groot platinumprodusente, met die insluiting van Amplats en Implats.

    ‘n Woordvoerder van Lonmin, Lerato Molebatsi, sê wanneer die mynwerkers terugkeer werk toe, sal hulle seker maak dat almal weet waarheen om te gaan.

    Die werkers moet vir hulle mediese ondersoeke gaan. Sy sê die werkers het die afgelope tyd geen inkomste gehad het nie en kry finansieel swaar, daarom sal die maatskappy hulle bystaan.

    AMCU, Amplats, Implats en Lonmin sal na verwagting vandag die ooreenkoms bekragtig.

    Dit was die langste staking in die land se geskiedenis.

    Ingevolge die skikking sal die laags besoldigde werkers vir twee jaar lank ‘n verhoging van duisend rand per maand kry en 950 rand vir die derde jaar.

    Van die terugbetalings sal ook uitbetaal word. Werkers sal na verwagting more terugkeer.