praag.co.za

Tag: Durban

  • Zoeloe-treffer teen Indiërs gemik

    Mbongeni Ngema se liedjie AmaNdiya [Indiërs] het in 2002 vir ‘n opskudding gesorg. Twaalf jaar later hou die Zoeloes nog ewe min van die Indiërs en nog ‘n treffer Umhlab ‘Uzobuya [Terug na die grond] verwys ook neerhalend na Indiërs.

    Hulle is ‘n “ou-ou probleem” en moet “terug oor die see” of hulle gaan “aksie” sien, kletsrym die Zoeloe.

    Die anti-Indiese Mazibuye Africa Forum in Durban draai nie doekies om nie. Hulle blameer die Guptas, Shaiks, Moodleys en Reddys vir die probleme in die land.

    In Durban se lokasies en elders is dit ‘n gegewe dat die Indiërs meer rassisties as ander etniese groepe is. Gerugsteun deur statistiek, argumenteer Zoeloes voorts dat Indiërs in KwaZulu-Natal oorverteenwoordig in die regering en sakeondernemings is, en voordeel trek uit regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

    Hulle glo dat wanneer dit kom by die herstel van ‘n hiërargie van wie die meeste gely het, is swartes bo-aan.

    In die ou hiërargie van etniese groepe se voorregte, is swartes seker minder verdra as Indiërs, maar dat hulle nou voordeel wil trek uit sogenaamde regstelling, is gewis.

    As die gewilde Durban-lobby sy sin kry, sal die Indiese sakelui dadelik uitgesluit word van ekonomiese bemagtiging en regeringstenders.

    Die ANC sukkel om xenofobiese aanvalle teen Somaliese winkeleienaars in lokasie aan te pak, en daar was reeds ‘n beleidsvoorstel om te verhoed dat buitelanders spazawinkels besit.

    In die openbaar, veroordeel ANC-leiers soos KwaZulu-Natal se premier, Senzo Mchunu en provinsiale sekretaris Sihle Zikalala anti-Indiese retoriek, maar sulke uitsprake is ongewild by hul kiesers.

    Sport Minister Fikile Mbalula, vir een, begryp dit goed. Hy het een keer in die openbaar die aantal Indiese studente in KwaZulu-Natal tersiêre instellings veroordeel, en gesê dié kampusse lyk soos Mumbai.

    Terwyl hy nog die ANC-jeugliga se leier was, het Malema onder groot toejuiging in die openbaar die neerhalende woord “makula” vir Indiërs gebruik.

    Die krake in die reënboognasie begin wys.

  • Universiteitskoshuis aan die brand gesteek

    ’n Vrouekoshuis by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban is vroeg Donderdagoggend in ligte laaie gelaat en 15 studente moes vir rookinaseming behandel word.

    Thami Mchunu, studentedekaan, het Donderdag gesê ’n saak van brandstigting word deur die polisie ondersoek.

    Die brand is kort ná middernag gestig. Studente en veiligheidspersoneel van die universiteit kon daarin slaag om die brand te blus.

    Prof. Mashupye Kgaphola, visekanselier, het gesê die skade beloop ongeveer R90 000.

    Die universiteit is die afgelope week deurgeloop onder oproerige studente. ’n Groep studente wat hul die Progressiewe Jeugalliansie noem eis dat alle studente geregistreer moet word, ongeag hoeveel geld hulle die universiteit skuld in terme van uitstaande studiegelde.

  • Oproer nadat studente met skuld nie kan registreer

    Studente wat nie hul klasgelde betaal het nie, het in Durban oproerig geraak toe universiteit hulle nie wou laat registreer nie.

    Vyf mense is in hegtenis geneem na ‘n gewelddadige betoging deur studente van die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie in Umlazi. Van die studente wat meer as R10.000 skuld, is nie toegelaat om in te skryf nie.

    Die studente het Maandag die Mangosuthu-hoofweg met brandende bande versper. Die sekuriteitsdienste het die oproeriges van die kampus uitgesluit om eiendom en toerusting te beskerm.

    Hulle is ook ontevrede met die toewysing van blyplek in koshuise. Die universiteit sê daar is ‘n nypende tekort aan studentebehuising.

    ‘n Woordvoerder van die universiteit, Len Mzimela sê ‘n nuwe koshuis wat tans gebou word, sal help om aan die aanvraag na behuising op kampus te voldoen. Die koshuis sal meer as 600 beddens hê.

  • Onluste in Clare Estate, wes van Durban

    In ‘n voortsetting van onluste wat op 11 Julie in Clare Estate, wes van Durban, losgebars het, heers daar vandag weereens chaos. Inwoners van Palmietweg is deur die polisie na hul huise vergesel ná ‘n klipgooiery. Elektriese meters en kragpale is insgelyks aan die brand gesteek.

    Blykbaar is die inwoners ongelukkig omdat hul onwettige elektrisiteitsverbindings deur die stadsraad ontkoppel is.

    Die polisie se onluseenheid is gister ontbied nadat meer as 100 plakkerskampinwoners in Clare Estate ‘n pad met brandende buitebande en takke versper het.

    Die inwoners is woedend vir die Durbanse munisipaliteit wat twee privaatveiligheidsmaatskappye gekry het om die kabels van onwettige verbiedings af te sny.

    Ná ‘n konfrontasie tussen polisie en die skare, is die onluseenheid se hulp ingeroep.

    Blykbaar hou die probleem reeds jare lank aan. ‘n Inwoner in die formele deel van die buurt, wat slegs as Rio bekend wil staan, sê dat die hele gebied nou sonder elektrisiteit is.

    “Telkens as hulle die elekrisiteitskabels van die kragbron afsny, gebeur dit. Die hoofkragkas is naby waar ek woon en as die sekerings uitbrand, sny dit die krag in die hele gebied af,” sê Rio.

    “Ons verdien dit nie want ons help hulle met kos en klere. Ons is daarvan bewus dat (die plakkers) onder moeilike omstandighede leef en help hulle waar ons kan. Die wykraadslid is nooit beskikbaar nie en stel ook nie in ons probleme belang nie.”

    Maar die betrokke raadslik Themba Mtshali, meen dat hy sy bes doen om te help. Volgens hom verkeer ‘n deel van die grond wat die plakkers beset egter in privaatbesit.

    Die munisipaliteit het ingestem om elektrisiteit te voorsien maar toestemming om die grond te beset moet eers van die eienaars verkry word.

     

  • Eienaars van nagklub baie armer na ANC-Jeugliga-partytjie

    Eienaars van ‘n Durbanse nagklub is R80 000 armer na ‘n ANC-Jeugliga-partytjie wat twee dae aangehou het.

    Dit was glo ‘n amptelike ANC-geleentheid georganiseer deur die Jeugliga.

    The Witness berig dat die beplanners van die verkiesingspartytjie Emmanuel Bongumusa Gumede en Themba Dlomo, sowat R24 000 se whiskey en R10 000 se sjampanje uitgedrink het saam met hul vriende.

    Die rekening nog nie vereffen nie, ten spyte daarvan dat Gumede twee maande gelede daarvoor geteken het.

    Die African National Congress het hom gedistansieer van die twee.

    Volgens die verslag, is die saak by die polisie aangemeld, maar die ondersoek het tot stilstand gekom.

    Dlomo het aan The Witness gesê: “Ek het hierdie funksie gefasiliteer maar ek was nog nooit verantwoordelik vir die betaling daarvan nie.”

    Gumede is gelys as die direkteur van vier maatskappye in verskeie fases van likwidasie, terwyl Dlomo glo met die ryk ANC-sakeman PG Mavundla verbind word.

    Die ANC-Jeugliga se adjunk-provinsiale sekretaris Sboniso Duma kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

  • Grootste dwelmvonds in Durban gemaak

    Die polisie in KwaZulu-Natal het beslag gelê op onverwerkte heroiën ter waarde van meer as twee miljard rand, in wat as die grootste dwelmvonds nog bestempel word.

    In ‘n gesamentlike operasie tussen die Umhlali K9, Umhlali-taakspan, en Phoenix-misdaadintelligensie asook die taktiese reaksiespan is die bedrywighede van ‘n dwelmlaboratorium in die elite voorstad Hillcrest oopgevlek.

    Tydens die operasie het die polisie drie mans tussen die ouderdomme van 23, 55 en 56 op die perseel aangetref.

    Twee Sjinese burgers en ‘n Suid-Afrikaner is in Kloof-wes in Durban in hegtenis geneem.

    Die polisie sê hulle het op ‘n wenk van die publiek gereageer en die dwelms in sakke in ‘n huis gevind.

    Gedurende die deursoeking van die perseel, het hulle op talle 40 kg sakke van suiwer heroïenpoeier sowel as industriële vervaardigingsmasjiene, skale en houers afgekom.

    Die totale geraamde waarde is meer as R2 miljard.

    Die drie verdagtes is aangekla van die vervaardiging van dwelms en sal in die Pinetown-landdroshof verskyn.

    KwaZulu-Natal se provinsiale kommissaris, lt.genl Kommissaris Mmamonnye Ngobeni het die lede vir hul uitstekende werk geprys.

     

  • Oproer breek naby Durban uit

    Meer as 300 mense het hulle tot klipgooiery gewend by die Seatideplakkerskamp by La Mercy naby Durban in KwaZulu-Natal.

    Paaie is met klippe versper deur oproerige inwoners. Die oproeriges eis HOP-huise wat glo deur die eThekwini-munisipaliteit aan hulle beloof is.

    Die polisie is in die gebied ontplooi en monitor die tans die situasie.

    Oproeriges sê die betrokke raadslid het hulle twee weke gelede besoek, maar het wou nie beloftes oor behuising maak nie.

  • Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

    Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

    MalemaDie leier van die EFF, Julius Malema het Donderdag aan eie bas ervaar hoe dit voel om uitgejou te word. Voorheen was hyself die uitjouer.

    Malema moes by die Howard Kollege-kampus praat as deel van sy eerste stemwerwingsbesoek aan die provinsie in aanloop tot die verkiesing.

    Dit is egter die tweede keer dat die Ekonomiese Vryheidsvegters ‘n kil ontvangs in die provinsie kry.

    Met Malema se besoek aan President Jacob Zuma se dorpie Nxamalala in Januarie is moes die polisie ingryp toe ANC-ondersteuners gebots het met Malema se volgelinge.

    Die EFF-leier moes noodgedwonge ‘n lesingsaal by die universiteit van KwaZulu-Natal in Durban Donderdag self verlaat toe ANC-ondersteuners sy toespraak ontwrig het.

    ‘n Woedende Malema het buite gewag in ‘n wit Mercedes-Benz. Sy duur smaak word glo gefinansier deur ‘n Nigeriese weldoener.

    Die polisie en personeellede het tevergeefs ingegryp om die situasie te kalmeer, en Malema moes noodgedwonge sy ondersteuners buite die saal toespreek.

    Die polisie en die EFF-beamptes het ‘n menslike muur om Malema gevorm om verdere ontwrigting te voorkom.

    Malema het ‘n man met ‘n ANC-T-hemp opgemerk en herhaaldelik vingerwysend vir hom geskree “Voertsek!”

    Malema het aan die skare gesê dat sommige van die oproeriges deur die ANC gehuur is en moontlik nie eens aan die universiteit verbonde is nie.

    Malema het die ANC-ondersteuners afgemaak as “Zuma se beeste wat van uit die duur kraal ontsnap het” en het gesê hulle ontwrig sy byeenkoms want hulle was bang vir die EFF .

    Hy het bygevoeg dat Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunk-president erger as Zuma is want hy het R18 miljoen vir ‘n buffel betaal.

    Malema het kritiek op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema gelewer, en gesê studente moet dit verwerp want dit skep groot skuld vir hulle.

    Hy sê die EFF sal die land se minerale hulpbronne nasionaliseer om gratis onderrig te befonds.

    Hy het ook gevra vir rasseverdraagsaamheid. “Wit mense is ons vriende. […] Ons beleid is om nie wit mense uit te dryf uit die land nie.”

    Malema is daarna na die landelike Tafelkop buite Pinetown, waar ANC-ondersteuners hom ook ingewag en beledig het.

    Hy het gesê die ontwrigting in KwaZulu-Natal sal by die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer word.

  • Durban middelpunt van dwelmhandel

    Durban middelpunt van dwelmhandel

    durbandocksGeorganiseerde misdaadsindikate wat Durbanse hawens gebruik, gaan beteken dat die stad die middelpunt van dwelmhandel in Suider-Afrika word, het RSG berig.

    Die direkteur van die Internasionale Narkotika Beheerraad, Lochan Naidoo, het die organisasie se jaarverslag in Durban bekendgemaak.

    Dagga, heroïen, crack, tik en kokaïen is die dwelmmiddels wat die meeste in Suid-Afrika gebruik word.

    Dit is die eerste keer dat Durban genoem word in die raad se ontleding oor dwelmhandel regoor die wêreld.

    Naidoo sê hulle kry die afgelope tyd al hoe meer berigte van beslagleggings by die Koning Shaka-lughawe van kokaïene wat uit die Golf-state afkomstig is.

    Hy sê bouwerk aan die Durbanse hawe en die onvermoë om te bepaal wanneer vermeende dwelmbesendings verwag word bemoeilik sake.

    Volgens Naidoo word lande waar dwelmhandel plaasvind uiteindelik dwelmverbruikers.

  • Oproeriges by Howards-kampus met traanrook verwilder

    Oproeriges by Howards-kampus met traanrook verwilder

    howard-collegeOproerige studente het weer klasse by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Howards kollege-kampus in Durban ontwrig.

    Swart studente is ontstoke oor die uitkering van geld uit die Nasionale Studente Finansiële Skema wat hulle glo hulle toekom.

    Die polisie moes van traanrook en pepersproei gebruik maak om die klipgooiers en vandale uiteen te jaag.

    Vroeër die week is rubberkoeëls en traanrook ook by die universiteit se Edgewood-kampus ingespan om oproerige studente uiteen te jaag.

    ‘n Saak van openbare geweld wat aanvanklik teen 70 studente geopen is, is egter later van die rol geskrap.

  • Internasionale konsertpianis beroof, beseer

    Internasionale konsertpianis beroof, beseer

    benschoeman
    Ben Schoeman

    Die geroemde en begaafde Afrikanerpianis Ben Schoeman, wenner verskeie internasionale klavierkompetisies, moes van sy konserte afstel nadat sy regterhand beseer is toe hy beroof is.

    Schoeman moes sy konserte wat in Februarie en Maart in Durban, Stellenbosch en Johannesburg gehou sou word, uitstel, asook konsertverpligtinge in die buiteland.

    Hy is op 31 Januarie in die Britse hoofstad, waar hy tans woon, by ’n ATM beroof en sy hand is beseer.

    Hy sou op ­27 Februarie met die tjellis Anzél Gerber in die Durbanse stadsaal optree vir die première van die Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové se Concerto vir tjello, klavier en orkes. Gerber sal steeds as  solis optree.

    Schoeman voltooi tans sy doktorale tesis oor die klaviermusiek van Stefans Grové. Hy is steeds vol vertroue dat hy einde April reeds sy verpligtinge in twee konserte in Kaapstad sal kan nakom.

     

  • Regstappe teen Indiër-kontrakteurs van Tongaat-gebou

    Regstappe teen Indiër-kontrakteurs van Tongaat-gebou

    tongaat3Die ondervoorsitter van Cosatu in KwaZulu-Natal, Beauty Zibula, het gevra dat regstappe teen die kontrakteurs van die winkelsentrum by Tongaat noord van Durban ingestel word.

    Die Indiër-kontrakteurs se konstruksiewerk het inmekaargestort nadat werkers op die perseel aangedui het dat die beton nie “hard” was nie. Die werkers het ‘n gerammel soos donderweer gehoor, waarna die steierwerk meegegee het en daarna die drie betonvloere.

    Minstens een persoon is dood en 29 beseer – waarvan ‘n aantal ernstig – toe die gebou ineengetuimel het.

    Die Ethekwini Metro het gesê die stad het die Rectangle Property Investments van Jay Singh drie keer gewaarsku teen die voortsetting van die konstruksiewerk omdat geen bouplanne ingedien is nie.

    Daar word beweer dat ‘n hofinterdik Vrydag op die maatskappy beteken is, maar dat hy dit geïgnoreer het.

    Zibula sê dit is bewys dat die eienaars nie die werkers se veiligheid in ag geneem het nie.

  • Noodlynsentrum weier hulp na moord

    Noodlynsentrum weier hulp na moord

    10111Die polisie se 10111-noodlynsentrum het versuim om ‘n gestremde man te help nadat sy vrou in hul huis in Durban vermoor is.

    Edda Botha is vroeg Saterdagoggend in haar huis in Athlone Park doodgeslaan, berig die Sunday Tribune.

    Die egpaar se bure het toe reageer op oproepe van Botha se man.

    Richard Allkins van die Amanzimtoti-misdaadvoorkomingsorganisasie het gesê daar was ‘n argument, omdat die operateur nie iemand wou uitstuur sonder dat hulle die presiese besonderhede oor die slagoffer en haar beserings weet nie.

    “Ons het uiteindelik ‘n polisievoertuig, wat op roetine-patrollie was, voorgekeer. Hulle kon nie glo dat hulle nie onmiddellik na die toneel gestuur is nie.”

    Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het ‘n beroep gedoen op “diegene wat die bewerings maak” om na vore te tree, sodat ‘n ondersoek gedoen kan word. – Sapa

  • Dwelmhandelaar by Durbanse lughawe vasgevat

    Dwelmhandelaar by Durbanse lughawe vasgevat

    kingshaka‘n Man is by die King Shaka Internasionale Lughawe in Durban in hegtenis geneem nadat kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van R600 000 in sy besit gevind is, het die polisie in KwaZulu-Natal Dinsdag gesê.

    Kapt. Thulani Zwani het gesê die man is Maandag vasgetrek.

    “Die Boliviaanse man was op ‘n vlug vanaf Brasilië via Doebai en is met sy aankoms om 17:00 in hegtenis geneem.”

    Zwane het gesê die polisie en doeanebeamptes het ‘n wenk ontvang dat dwelms na Durban vervoer word.

    “Die verdagte is geïdentifiseer en aangekeer. Sy bagasie is deursoek en beamptes het twee pakkies met sowat 2 kg kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van sowat R600 000 gevind.”

    Hy is in hegtenis geneem en aangekla van dwelmhandel. Die man sal na verwagting Dinsdag in die Verulam-landdroshof verskyn. – Sapa