Die polisie in KwaZulu-Natal het beslag gelê op onverwerkte heroiën ter waarde van meer as twee miljard rand, in wat as die grootste dwelmvonds nog bestempel word.
In ‘n gesamentlike operasie tussen die Umhlali K9, Umhlali-taakspan, en Phoenix-misdaadintelligensie asook die taktiese reaksiespan is die bedrywighede van ‘n dwelmlaboratorium in die elite voorstad Hillcrest oopgevlek.
Tydens die operasie het die polisie drie mans tussen die ouderdomme van 23, 55 en 56 op die perseel aangetref.
Twee Sjinese burgers en ‘n Suid-Afrikaner is in Kloof-wes in Durban in hegtenis geneem.
Die polisie sê hulle het op ‘n wenk van die publiek gereageer en die dwelms in sakke in ‘n huis gevind.
Gedurende die deursoeking van die perseel, het hulle op talle 40 kg sakke van suiwer heroïenpoeier sowel as industriële vervaardigingsmasjiene, skale en houers afgekom.
Die totale geraamde waarde is meer as R2 miljard.
Die drie verdagtes is aangekla van die vervaardiging van dwelms en sal in die Pinetown-landdroshof verskyn.
KwaZulu-Natal se provinsiale kommissaris, lt.genl Kommissaris Mmamonnye Ngobeni het die lede vir hul uitstekende werk geprys.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.