Die adjunk-president, Omar Suleiman, het die aankondiging omstreeks 18:00 Vrydagaand oor die plaaslike televisiestasie bekend gemaak.
Honderdduisende Egiptenare het partytjie gehou op Tahrir-plein nadat hulle vir sowat 18 dae lank in opstand was teen Mubarak en sy regering.
Tahrir-plein word tans beskryf as die hartklop van Egipte se revolusie.
Mubarak was vir sowat drie dekades aan bewind van Egipte en het Donderdag steeds geweier om uit sy pos as president te bedank.
Hy het egter Vrydagmiddag per helikopter na Sharm el-Sheikh, ‘n oord by die Rooi See, gevlieg.
“Die grootste revolusie in die wêreld is besig om voor ons oë af te speel,” het Mohammed (60), ‘n betoger, gesê.
Suleiman se toespraak waarin hy amptelik aangekondig het dat Mubarak sal uittree het slegs 20 sekondes geduur.
“In die lig van die moeilike situasie in die land, het president Moshammed Hosni Mubarak besluit om uit sy pos as president van Egipte te tree. Die Egiptiese weermag sal nou die regering bestuur,” het Suleiman gesê.
Volgens verslaggewers van die Al Jazeera-nuusagentskap in Kaïro is die stad se strate gevul met Egiptenare wat partytjie hou.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.