Tydens die laaste Dagbestuursvergadering van 2010 het TLU SA homself op gereedheidsgrondslag geplaas aangesien daar verwag is dat die reeds omstrede sogenaamde Groenskrif op Grondhervorming gepubliseer sou word.
Dit wil nou voorkom of van die knypendste bepalings wat in die uitgelekte Groenskrif bespreek is, in ander wetgewing ingeskryf word. Dit het tot gevolg dat die invloed wat in die Groenskrif beoog is, selfs wyer gevoel sal word aangesien dit in verskeie wette opgeneem word.
In die voorgestelde arbeidswetgewing is daar sekere bepalings wat ingrypend gaan inwerk en op veral landbou van toepassing gaan wees. Die feitlik terselfdertyd gepubliseerde wetgewing oor verblyfsekerheid, hang nou saam met die arbeidswetgewing en is ‘n aantasting van die boer se eiendomsreg.
TLU SA deel die kommer van die groeiende aantal ekonome wat van mening is dat Suid-Afrika se arbeidswetgewing in die pad staan van betekenisvolle investering deur die buiteland. Eweso staan daardie wetgewing, en veral ook die nuwe wysigings, in die pad van noodsaaklike investering in landbou.
Die Verblyfreg konsep bied die potensiaal dat boere nie meer doeltreffend en sinvol op hulle plaas sal kan boer nie. Bowendien is daardie konsep besig om baie verantwoordelikhede van plaaslike owerhede na boere te verplaas.
TLU SA is tans besig om beide wette volledig te ondersoek en ‘n regsmening daaroor te verkry. ‘n Voorlegging sal aan die tersaaklike Portefeuljekomitees v oorgelê word. Intussen wil TLU SA die volgende aspekte as ‘n saak van uiterste dringendheid onder alle kommersiële boere se aandag bring vir moontlike optrede:
· Die gepubliseerde konsepwette, saamgelees met die uitsprake van die ANC-president tydens die ANC se 99-jarige herdenking, is ‘n duidelike teken dat die skroef in die komende jaar op die boere aangedraai gaan word.
· Ten einde maksimale wringkrag op te bou om boere se belange te beskerm, hoort geen boer meer onverskillig te staan teenoor georganiseerde landbou nie, en wil TLU SA ernstig pleit dat onbetrokke boere onmiddellik sal aansluit by georganiseerde landbou. Dit is uiteindelik ‘n belegging met goeie opbrengs.
· Boere moet hulle vergewis dat hulle in lyn is met bestaande arbeidswetgewing, waarvan die belangrikste is om ‘n behoorlike dienskontrak met elke werker in plek te hê, asook ‘n dissiplinêre kode.
· Boere moet dringend ondersoek na alternatiewe verblyfmoontlikhede vir hulle werkers, wat ook en veral voordelig vir werkers sal wees in terme van beskikbaarheid van klinieke, skole en begraafplase en ander dienste.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.