“Vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae.”
Kinders uit hul velle, briefies vir Kersvader, geskenke oopmaak. Vir baie dien hierdie aangename herinneringe as brandstof vir ‘n godsdienstige ingesteldheid wanneer die lewe later begin druk.
Kerssangdienste, spesiale kersdienste, gesinne en familie wat bymekaar kom.
‘n Padslagting, eensames wat selfmoord pleeg. Arm gesinne vir wie Kerstyd juis hul treurige toestand beklemtoon …terwyl ander van vreugde oorloop.
Ons weet nie op watter dag van die jaar Christus gebore is nie, behalwe dat dit baie onwaarskynlik is dat dit op 25 Desember sou wees. Ons weet nie eens in watter jaar Christus gebore is nie, omdat koning Herodes, die man van die kindermoord, reeds in die jaar 4 vC oorlede is.
Hoe meer navorsing gedoen word, hoe meer word dit ook duidelik dat die keuse van 25 Desember heelwat verband hou met heidense midwinterfeeste. Verskeie weergawes bestaan oor hoe vroeë sendelinge juis hierdie feeste aangegryp het om Christus se geboorte as ‘n bekeringsmeganisme te gebruik. Hieronder tel die verhaal van ‘n Christenslaaf wat deur die Vikings weggevoer is. Hy het mettertyd die Vikings van hul afgode laat afsien, maar die geloof in Thor, die afgod van donder en klimaat, kon hy nie breek nie. Tot hy Kersfees op Thor se dag, wanneer Thor die winterreuse begin verdryf, ingestel het.
Juis oor die heidense bande van die verre verlede gaan al hoe meer stemme op dat oor Kersfees herbesin moet word. Aan die ander kant van die spektrum bevraagteken groepe soos die nuwe hervormers die maagdelike geboorte.
Dat daar ruimte vir ‘n behoorlike Christusfees is, is gewis, soos onder meer blyk uit die aankondigings deur die engele. ‘n Tyd om Christene te herinner aan omgee.
Dit bied ‘n goeie geleentheid waar mense wat het, vreugde kan bring vir hulle wat nie het nie. Dit is ‘n goeie geleentheid om kerk toe te gaan.
Solank dit ‘n ware Christusfees is.
Ontaard dit egter in ‘n lekker Krismis waar Bacchus heerlik saamkuier en agter die stuurwiel inskuif, waar nie-Christene die geleentheid kommersieel uitbuit… waar die behoeftiges met die houtoog aangekyk word, waar die Kersdiens leeg is…ja, waar Christus vergete is, dan is dit geen Christusfees nie.
Selfs al staan ‘n mens hoé apaties teenoor Christus en die Christusfees, kan en moet ‘n mens ‘n bydrae lewer deur nie te drink en te bestuur nie. So kan ‘n gesin sy broodwinner behou, veral waar die dronkbestuur-ongeluk ‘n onskuldige slagoffer sou eis.
Vind uit of u kerk se naaste kinderhuis nie dalk dié Kersfees kinders huisves wat nie uitgeplaas kon word nie. Is daar in tehuise vir bejaardes nie ou mense wat weens ‘n verskeidenheid faktore nie hul familie gaan sien nie?
Gee net ‘n bietjie om, want Christus gee vir u om.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.