praag.co.za

Middelpuntvliedende en middelpuntsoekende kragte

Written by

in

‘n Onlangse eerlike opmerking deur die skryfster, Annelie Botes, het nie net ‘n naam aan die spook in die kas gegee nie, dit het die spook uit die kas geruk sodat die onderwerp in ‘n kort tydjie al behoorlik voos beskryf is. Mense aan verskillende spektrums van die politiek, mense van verskillende kulture en rasse, is uit hul gemaksones – gewaan of werklik – geruk en Versoeningsdag 2010 sal in die anale opgeteken staan as die jaar waar Suid-Afrikaners gedwing is om hard te dink oor die model van ‘n toekomstige Suid-Afrika.

Dit is, ironies, dieselfde jaar as waarin die groot sokker gebruik is om internasionaal ‘n persepsie van ‘n sterk verenigde Suid-Afrika te skep. Die ore is toegedruk vir vermanings van politieke sosioloë dat ‘n massa-euforie noodwendig tot ‘n post-euforiese trauma lei. Suid-Afrika ly nou aan waarskynlik die mees klassieke vorm hiervan.

Die sout is in die wonde gevryf deur die vry sê wat sekere jeugleiers geniet het. Hierteenoor het die regering in al elf amptelike tale geswyg oor sake soos plaasmoorde, behalwe hier en daar toe plaasmoordenaars die tweejarige Willemientjie Potgieter saam met haar ouers vermoor het.

Ironies word die liberale opsies wat die land het deur twee bruin skrywer-joernaliste verwoord. In die een hoek sit Heinrich Wyngard wat nie die toekomspad uit die huidige (die splinter) wil betree sonder dat sy voete in die apartheidsverlede (die balk) geanker bly nie. In die ander hoek duik heel onverwags Zelda Jongbloed op, wat vandag in haar rubriek in Die Burger met lesse uit die verlede die toekoms wil betree. Sy pleit onder meer dat Botes vergewe word.

Die harde werklikheid is dat die internasionale jeugberaad wat effektief deur die ANC se jeugliga op belastingbetalerskoste en lottogeld wat eintlik vir die armes bestem was, aangebied is, saam met heethoofdige uitsprake van ANC-jeugleiers, besonder baie doen om middelpuntvliedende kragte in die land los te maak.

Terwyl Botes die kop gewas word omdat sy persepsies koester omdat sy swart mense nie werklik ken nie, geld die gebrek aan kennis oor die Afrikaner en sy kultuurgoedere, sy strewes, sy kleinode, in die oortreffende trap by die breedsprakige jeugleiers, en genoeg grootmense ook. Of, as die jeugleiers wel oor die kennis beskik, vertrap hulle dit gevoelloos.

Teen die agtergrond is dit bykans pikant dat oud-president W de Klerk, via sy stigting, vroeg in die nuwe jaar ‘n beraad beplan waartydens Suid-Afrikaners herinner gaan word aan die faktore wat hulle bind. ‘n Bietjie laat, sou sy kritici sê met skaars 54 % Suid-Afrikaners wat hulle in die eerste plek nog as Suid-Afrikaners beskou. Die opname is weliswaar gedoen voor die groot sokker, maar dit is te betwyfel of die kreeftegang sedertdien sake teen Versoeningsdag beter, vanuit die liberale oogpunt, sou laat lyk.

Gaan die De Klerk-stigting se beraad ‘n tydmors wees? Dit sal bepaald tydmors wees as dit vooraf besluit watter koers die land moet inslaan. Dit sal tydmors wees as die vertrekpunt bly dat die huidige grondwet geskik is om ‘n diverse land se toekoms te rig.

Dit kan baie anders lyk as die visie met ‘n oop gemoed gepak word, en sprekers en deelnemers uit ‘n wye front genooi word om hul perspektiewe aan die hand van internasionale grondwetlike beginsels en die internasionale reg te kom deel. Dat met ‘n oop gemoed gekyk word na opsies wat die grondwette van die Europese Unie, en lande soos Indië, Nieu-Seeland en ander bied. Nooi sprekers van die Orania-beweging, Praag en ander om insette te lewer. Nooi mense wat ander invalshoeke tot staatkundige modelle het, soos politieke wetenskaplikes, politieke sosioloë en politieke geograwe naas die staatsregtelikes.

En verseker die denkers en meningsvormers buite die liberale raamwerk dat hul insette nie weer dieselfde weg sal volg as met die vragte voorleggings aan die destydse Presidentraad, Kodesa en ten slotte Volkstaatraad nie. Dat die insette die keer beskaafd oorweeg sal word, dat dit wat na oplossings lyk bevorder sal word, en baan daarvandaan ‘n weg vir die toekoms.

Deur weer oplossings binne dieselfde dampkring te soek, beteken dat elke jaar se versoeningsdag bloot sal dien as die dag waarop bestek opgeneem word oor hoe die gesindhede in die land verder uitgerafel het. Met die jeugberaad moes die jongelinge op die harde manier kennis neem dat die werklikheid anders is as ‘n string retoriek. Om oor westerse imperialisme ‘n lawaai op te skop maak nie Marokko se besetting van Wes-Sahara tot niet nie. Die Turkse afvaardiging se saampratery gaan nie verhinder dat die Armeniërs binnekort die eeu-herdenking van die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke op reuse skaal gaan gedenk nie. Die Koerde gaan nie hul ongelukkigheid met Turkye laat vaar nie.

Ander staatkundige opsies toe dit aangewese was kon sake grootliks ontlont het. Die organiseerders van die beraad kan self besluit of nog ‘n kruispad soos ‘n stopstraat geïgnoreer gaan word.

купить тамбов диагностическое оборудованиеДанильченко Юрий прокурор

Comments

Leave a Reply