Gewoonlik woon ek in ‘n gebied waar die ANC op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak regeer.
Af en toe kom ek by die see, op ‘n plek waar die DA op provinsiale en plaaslike vlak regeer. Die provinsie en die munisipaliteit was tot voor die vorige verkiesings in die hande van die ANC.
Oudste, wat pas sy landbougraad verwerf het, ken nie werklik ‘n tydperk voor die ANC aan bewind gekom het nie. Trouens, sy jonger boetie, Jan Barend gedoop, is op die laaste Jan van Riebeeckdag gebore.
“Sjoe, dit lyk my dit maak ‘n groot verskil wie regeer,” merk oudste op en swymel behoorlik oor die netjies sypaadjies, die strate wat netjies versorg is, en die afwesigheid van slaggate. Tot ‘n spesiale fietsrybaan, al is sy neef nou die dag in daai baan op sy fiets omgery.
Tuis in die Vrystaat, oorkant die straat, is ‘n betondeksel van ‘n stormwaterinlaat al seker drie jaar weg. Dis agtien maande lank weekliks gerapporteer, dit was al in die koerant, maar dit het dwarsdeur die groot sokker oop gebly, en dit is steeds.
In die Wes-Kaap het ek twee vroulike familielede wat openlik ANC was. Een is dalk nog. Die ander se munisipaliteit is onlangs deur die ANC “bevry” en nou, kom ek agter, is sy baie krities op die ANC.
Terug waar ons vakansie hou. Ek vra ‘n familielid wat, soos van gister en van eergister, lank voor 1994, baie uitgesproke liberaal en nie-rassig was, of hy ‘n verskil kan agterkom van die ANC nie meer sy provinsie en munisipaliteit beheer nie.
Hy dink ‘n ruk, en gee toe die antwoord wat ek nie verwag nie. “Nie regtig nie, voorheen was dit blankes in beheer (die NNP’s wat by die ANC aangesluit het) en nou is dit steeds blankes.” Nie gedink hy sou in sy leeftyd so politiek inkorrek raak nie.
Tuis is daar Volksblad, hier Die Burger. Dit is nie meer dieselfde Die Burger wat my – as die weer buite nie lekker saamspeel nie – ‘n paar uur kan besig hou nie. Vandag, Geloftedag, stap ek soos elke oggend vroegerig winkel toe om Die Burger te gaan koop – as daar een sou wees. Daar is. Met die baie binnelanders langs die groot dam, wil ek kyk of die Geloftedagboodskap wat ek vir ‘n politieke party opgestel en uitgestuur het, dalk die paal gehaal het.
Toe nou nie, maar so ook haal Geloftedag nie die paal nie. Het miesies Helen gevergeet om ‘n Geloftedagboodskap vir die Afrikaner uit te stuur? Kan mos nie wees nie, want hulle mis dan net nie uit om vir die en daai groepie, maak nie saak hoe klein nie, boodskappe van geluk uit te stuur met die herdenking van hul spesiale dae nie. Dis versoeningsdag voor, en dis versoeningsdag agter in Die Burger. En, is die konsensus, Versoeningsdag is in die sop.
En ek dink so by myself, wat verwag hulle as so ‘n belangrike dag soos Geloftedag vir die Afrikaner soos ‘n stopstraat geïgnoreer word?
Gister het Die Burger ‘n onderhoud geplaas wat die “onafhanklike ontleder”, Heinrich Wyngard, met Steve Hofmeyr gevoer het. Kortom, ek het die vrae as baie onprofessioneel ervaar. Vandag is daar briewe – ‘n hele paar – waarin Heinrich die kop gewas word. Reg onder ‘n rubriek van dieselfde Heinrich, ook oor versoening.
Miskien is “onafhanklike” ontleding dieselfde as “verwarde” ontleding, dan maak dit sin. Breedweg lyk dit so: Die blankes is die struikelblok vir nie-rassigheid. Hulle mag maar gelooi word, want al het hulle nie meer die politieke mag nie, het hulle steeds die ekonomiese mag.
Maar sonder om nou my kop te hard te probeer breek om Heinrich te begryp, wat ek wel deeglik begryp is dat hy dit uitspel dat hy onlekker is oor die bruin mense al so lank in die land is – as nasate van die Koi en San van baie lank terug, maar nou word ‘n groot ophef gemaak van die Indiërs se 150-jarige aankoms.
En dan wonder ek maar net, sit en blaf Heinrich nie onder die verkeerde boom vir die verkeerde kat nie?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.