Op een dag het twee howe baie gedoen om vertroue in die regbank ‘n paar kerwe op te stoot.
In die een saak het die ANC se aansoek om verlof tot appèl teen die verbod op die sing van die liedjie, Skiet die Boere, nie op die teerpad beland nie. Hoewel uitspraak eers volgende jaar gelewer sal word, het die regter duidelik langtand aan die aansoek gebyt. Regter Leon Halgryn het na die aanhoor van die ANC se argumente gesê na sy mening is dit steeds haatspraak, opswepery en ‘n misdaad.
In nog ‘n saak het Hooggeregshof in Johannesburg die aansoek om verlof van appèl teen regter Nkola Motata se skuldigbevinding aan dronkbestuur van die hand gewys.
Dié twee sake het ‘n besondere raakvlak: Na regter Motata in die muur vasgery het, het hy uiters onsmaaklike dinge met ‘n rassisme-strekking kwytgeraak, en is dit op ‘n selfoon opgeneem. Motata het in sy aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat dié opname vals is, wat deur die regters verwerp is.
Veel meer as die vraag of die regter gekoring was toe hy met sy motor in die middernagtelike ure in ‘n muur vasgery het, is of ‘n regter wat sulke taal gebruik hoegenaamd op die regbank tuishoort, selfs al was hy doodnugter?
Die land hou binnekort weer verkiesing. In ‘n demokrasie behoort ‘n regerende party op grond van sy regeerprestasies, in die besonder in algemene belang, beoordeel te word. Wat dié aspek betref, kan die regering maar sy eie beuel blaas so veel hy wil, die riool in die strate en waterstrome, slaggate in die paaie, vullis wat soms nie verwyder word nie, en verslae van die ouditeur-generaal vertel ‘n ander verhaal.
Die versoeking sal dus bestaan om te teer op die polarisasie wat in die land aanwesig is. En waar die middelgrond soms veld wen, word gewoon weer emosies opgesweep deur blatante onwaarhede en foutiewe persepsies aan die groot klok te hang. Die middelgrond kwyn. Dan word die verkiesing weer ‘n etniese sensus waarvan die uitslag op ‘n paar persentasiepunte na nou reeds bereken kan word. Trouens, in die afgelope Sondag se Rapport het Jan-Jan Joubert die uitslag in bykans soveel woorde uitgespel.
Vandag, in die rubriek Brandpunt in Volksblad, skryf prof. Theo Neethling, hoof van die UV se departement Politieke Wetenskap onder meer die volgende: “Soms lyk dit egter asof ons nie besig is met skaafwerk aan ons (ontluikende) demokratiese bestel nie, maar eerder wegbeweeg van goeie demokratiese praktyke – minstens gemeet aan gevestigde demokrasieë.”
Dit demonstreer die leemtes in die grondwet wat deur prof. Koos Malan uitgewys is, naamlik dat ons by uitstek ‘n grondwet het van voornemens. So ‘n grondwet se praktiese neerslag beteken min as diegene wat uitvoering moet gee, nie aan dieselfde soort dwingendheid onderwerp word nie, en nog minder oor die politieke wil daartoe beskik.
Na elke verkiesing gaan die versugtinge op dat Kemptonpark heronderhandel moet word. Dat die land ‘n grondwet moet kry wat meer met die internasionale reg gesinchroniseer moet wees soos wat in dié van die Europese Unie, België, Spanje, Indië en vele meer bestaan.
Slegs die mees naïewes kan nog verbaas wees dat die middelgrond noustrop trek en polarisasie as politieke hefboom vir verkiesingswins aangewend word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.