Pres. Jacob Zuma se kabinet is tot verhouding van die land se bevolking een van die grootste ter wêreld. Die land het ook besonder baie generaals tot verhouding van sy gewapende magte.
Aan die ander kant is daar dikwels ‘n krisis met dienslewering omdat die mense wat fisies die werk moet doen, se poste gevries is, of bloot lang tye vakant gelaat word.
Wat die grootte van die kabinet betref, is dit wel onbillik om Suid-Afrika met die VSA se kabinet te vergelyk. Die VSA is nog ‘n betreklike suiwer federasie waar die sentrale regering volmag oor slegs enkele sake het, soos verdediging, buitelandse sake en sekere maatskaplike kwessies. Laasgenoemde funksie bied dan ook die geleentheid vir kruipende sentralisering en is dit verstaanbaar dat die VSA se kabinet nie uit slegs ‘n president en drie of vier ministers met hul adjunkte sal bestaan nie.
Word die deelstate se goewerneurs en hul ministers, wat oor oorspronklike gesag ten opsigte van die balans van sake het, bygereken, is die VSA se politieke regeerders ook nie so danig min nie.
Tog, die aanstel van baie groot kabinette is ‘n taamlike algemene verskynsel in Afrika, en verskeie moes al drasties snoei hieraan omdat buitelandse donateurs sulke state voor keuses gestel het: Kry die kabinet se grootte binne perke, of verbeur buitelandse kapitaal. Ander maniere moet gevind word om op hierdie wyse baantjies vir boeties te skep.
Boonop het Kenia vroeër vanjaar sy parlementslede, wat die president en kabinetslede insluit, se salarisse tot ongeveer dieselfde vlak as dié van die VSA verhoog.
Dit is kommerwekkend as ‘n staat deur rangsinflasie en deur statutêre maatreëls ook die burokrasie die jagveld maak vir baantjies vir boeties. Kader-ontplooiing is formeel deel van die regering se beleid.
Dit is baie duur, en dikwels begin die fondse opraak wanneer dit kom by die vlakke waar iemand die werk moet begin doen. Dit is pas onderstreep toe die DA in die Mangaung-raad ‘n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder gelê het oor die vullisverwyderingsdiens wat ‘n week lank tot stilstand gekom het. Volgens die DA het die munisipale bestuurder ‘n stokkie geplaas op die betaling van oortyd vir meer as veertig uur per maand gewerk.
Dit blyk dat die aantal werkersposte ‘n aantal jare lank nie vermeerder is nie, ten spyte van groot uitbreidings in Bloemfontein, terwyl vakatures se poste gevries word.
Hierteenoor verdien meer as ‘n handvol van die senior amptenary meer as ‘n miljoen rand per jaar.
Die GPF van Bloemfontein se westelike gedeeltes het ook ‘n brief aan die polisiebestuur gerig, om te vra dat die plaaslike polisiestasie meer poste op die voetsoolvlakke kry. Ten spyte van groot uitbreidings in daardie dele van die stad is hierdie poste in dieselfde tydperk verminder, wat minder mense beteken wat die strate kan patrolleer.
Maar die stad het geen skaarste aan polisiegeneraals nie.
Terwyl Bloemfonteiners moedeloos moes toesien hoe die stinkende vullissakke ‘n week lank in die son gis en die teiken vir rondloperbrakke was, was daar ‘n dawerende swye van die munisipaliteit. Inwoners het dus nie geweet of hul sakke enige oomblik verwyder gaan word, en of hulle dit liefs terug in hul erwe moes dra nie. Omdat die vullisverwyderraas die sakke op die verwyderingsdag reeds in hopies bymekaar gemaak het, was dit ook nie so maklik om te gaan uitpluis wie se sakke is wie s’n nie.
Die VF Plus het gevolglik ‘n hoop sakke voor die Glaspaleis gaan aflaai.
Op navraag van die media het die munisipale woordvoerder na ‘n week die blaam op tegniese probleme met die voertuie geplaas. Dié boodskap was vanuit die staanspoor ongeloofwaardig omdat die munisipaliteit tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi tien nuwe vullisverwyderingsvoertuie gekry het. Dié voertuie moet steeds onder waarborg wees.
‘n Aantal jare gelede moes die peperduur ampsmotor van die burgemeester vervang word. ‘n DA-raadslid moes hierop sy opmerking terugtrek toe hy gesê het om die voertuig so gou in daardie toestand te gekry het, moes iemand dit deur sy agterent getrek het. Om die tien bykans splinternuwe vullisverwyderingslorries so gou onklaar te kry…, wel.
Uiteindelik blyk dit maar weer ‘n geval te wees van te veel hoogsbesoldigde kaders, en te min voetsoldate wat die werk moet doen.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.