Die Republikeine het skoonskip gemaak in die VSA se verkiesing vir die Amerikaanse Kongres en ook goed presteer in die verkiesing vir die Senaat. Die linkse waansin waarmee Amerika se halfbloedprins se verkiesing ‘n skamele twee jaar gelede begroet is, is lank reeds vergete. Die verkiesing is as ‘n referendum oor president Obama se prestasie sedert 2009 voorgehou. As die verkiesing dan wel ‘n eksamen was, is president Obama ‘n druippunt deur die Amerikaanse kiesers gegee. Herinner nogal sterk aan ‘n ander swart politikus se H vir Houtwerk…
Die Republikeine se oorwinning in die verkiesing kan aan een groep se idees toegeskryf word: Die Tea Party. Sowat 40% van alle Amerikaners wat die stemlokale verlaat het, het gesê hulle steun die Tea Party-beweging. Linkses, liberales, en skrywers in die hoofstroom-media soos Maureen Dowd van die ekstreem-linkse New York Times het gestik in hul komkommer-toebroodjies by die blote gedagte aan die Tea Party.
Dis weliswaar onduidelik hoe effektief die Tea Party-beweging as ‘n organisasie is. Is dit eens ‘n organisasie met ‘n eenvormige strategie, visie of strukture? Die Washington Post, ‘n linkse koerant soos bykans al die hoofstroom-media in die VSA, het probeer om al die takke van die Tea Party-beweging te kontak, en te vra hoeveel lede hulle het. Dit het geblyk dat die meeste van die respondente nooit enige kontak met ‘n politikus gehad het nie, en dat hulle ledetal eintlik maar klein was. Nietemin was die Tea Party-beweging die gogga wat vir die Demokratiese baba slapelose nagte besorg het, en nie om dowe neute nie.
Waarom? Wat het die Tea Party-gedoen om homself so effektief te maak, al is hy gedisorganiseerd en het hy eintlik min volgelinge? Watter lesse bevat dit vir Afrikaners, indien enige?
Ek meen dat daar wel twee gróót lesse vir Afrikaners in die Tea Party is:
· Dis nie hoeveel ingeskrewe lede jy het nie, of hoe goed jou strukture is nie. Dis die inhoud en gehalte van jou boodskap wat tel.
· Jou boodskap se trefkrag maak staat op twee komponente: Die boodskap self en hoe dit kiesers raak, en hoe dit oorgedra word.
Wat was die Tea Party se boodskap? Was dit dat wit Amerikaners om rassistiese redes nie van die halfbloedprins in die Withuis hou nie? Nee! Dit het gegaan oor Amerikaners se gatsakke. Oor belasting. Die Tea Party is vernoem na die Bostonse teepartytjie, waartydens die Amerikaners se voorouers in opstand gekom het teen die onregverdige belastings wat die Britse koloniale meesters op hul onderdane in Amerika wou hef. Dit het eweneens nie vir die moderne Tea Party oor aborsie, godsdiens in Amerikaanse skole of al die ander gewone gevegte gegaan nie, maar oor belasting.
Dus: Kultuur, taal, tydskrifte in Woolworths, kwotas op die rugbyveld ensovoorts verwek weliswaar passievolle belangstelling vir ‘n kort tydjie, en Afrikaners mag vir ‘n paar minute opgewonde raak oor die ANC se magsmisbruik teen Hoërskool Ermelo se taalbeleid, maar vir Jan Publiek gaan dit op die lange duur veel meer oor sake wat hom en sy beursie raak. Die Amerikaanse kieser was kwaad oor werkloosheid en die pogings van die Demokrate om die VSA in ‘n sosialistiese staat te omvorm, en die Tea Party het dit briljant raakgesien en uitgebuit.
Die les vir Afrikaners? Eenvoudig. Die ANC is ideologiese sielsgenote met die Amerikaanse Demokrate. Baie van die ANC se radikale rassisme soos regstellende aksie het sy oorsprong op linkse kampusse in die VSA, asook in die Black Consciousness-beweging. Die ANC is ons Demokrate en Black Panther-beweging, behalwe dat die ANC veel, veel meer radikaal-links, swart-fascisties en Marxisties is as selfs die linkse voormalige professor wat in die Withuis sit. Die Afrikaner gaan eweneens binne die volgende paar jaar geslaan word met buitensporige addisionele belasting, benewens die buitensporige belastinglas wat ons reeds dra. Nes die Demokrate se planne om gesondheidsorg te sosialiseer, wil die ANC ook die geklike NHI hier instel.
As jy jou organisasie as ‘n leier vir Afrikaners wil posisioneer, leer jou les oor wat vir die kiesers belangrik is: Hul beursies. Fokus op die swak of geen opbrengs wat ons, die belastingmelkkoeie, vir ons belasting kry. Waarom moet ons dubbel betaal vir skoolgelde as ons reeds belasting betaal? Waarom kry ons nie ‘n effektiewe polisiemag nie? Ons betaal immers vir een. Hoe kan ons die ANC effektief bekamp? Deur ons belasting terug te hou.
Dit help egter nie net dat jou idees goed is nie. Dit moet ook goed oorgedra word en gekommunikeer word. Die Tea Party se wapen van massa-bekoring was Sarah Palin. Haar kennis van geografie mag gebrekkig wees, sy skiet wilde diere, sy sukkel soms met die Engels (“refudiate”), maar eisj! Sy is fotogenies en sy is nie skaam om haar boodskap oor te dra nie.
Siende dat mnr Jaap Kelder-hulle reeds ‘n Tea Party in die kleine het met hul belastingbetalersverenigings wat die ANC regime se getransformeerde stadsrade so op hul plek hou, is die enigste vraag waar ons ‘n Afrikaner-weergawe van Sarah Palin gaan kry? Is daar enige aanvallige dames wat wel ter tale is, en wat iets groots wil bereik?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.