Die Grondeisekommissaris het pas sy grootste enkele eis vir restitusie teen ‘n enkele grondeienaar te laat vaar, toe die eis wat namens twee stamme op sowat 20 000 Ha van mnr. Charl Senekal in KwaZulu-Natal ingestel was, opgeskort is.
Senekal het twee volkekundiges aangestel wat bevind het die twee stamme het nooit die grond besit nie. Boonop moes die grondeisekommissaris reeds twee keer in verband met dié saak in die hof verskyn, maar het nie opgedaag nie.
Dit is nie die eerste keer dat eise na behoorlike historiese navorsing in die stof byt nie. Dit laat die vraag ontstaan in hoe ‘n mate die staat se navorsers in die eerste plek die geldigheid van talle eise geëvalueer het, en op sterkte van hierdie sogenaamde navorsing bereis was om sake verbete in die howe te beveg. Uiteraard op die slagoffer van die ongeldige eis en die belastingbetalers se koste.
Grondeise is ‘n emosionele aangeleentheid, onder meer oor die regering se voortgesette verkondiging van sy doelwit om landelike armoede deur grondbesit te verlig. Dat ‘n boer in Suid-Afrika se half-woestynklimaat ‘n taamlike groot stuk grond en heelwat kundigheid nodig het om suksesvol te kan boer, is lank reeds ‘n bekende feit. Hiersonder word armoede, en nie welvaart nie, gekweek.
‘n Tweede aspek wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat ongeldige grondeise ‘n klimaat van polarisasie en selfs verbittering, skep.
Derdens skep dit ‘n klimaat van onsekerheid, en so ‘n klimaat is nie bevorderlik vir die stabiliteit wat nodig is om voedselsekuriteit te verseker nie. Die onsekerheid het weer ‘n invloed op werksgeleenthede in ‘n omgewing – en dit skep armoede.
Die vrotsige of bevooroordeelde navorsing werp natuurlik ‘n donker wolk oor die betroubaarheid van ander navorsing wat vir die staat gedoen word, soos die navorsing oor die geldigheid van plekname.
Dit het onlangs geblyk dat een van die Vrystaat se plekname-komiteelede self voorgestel het dat Bloemfontein se naam na Mangaung verander word. As rede voer hy aan dat swart mense die naam Mangaung gebruik het voor die blankes die plek Bloemfontein begin noem het. Dit, terwyl reeds gepubliseerde navorsing deur historici, onder meer gebaseer op die werk van die gesaghebbende Theal, meen die naam is afgelei van die omstrede Korannahoofman, Jan Bloem, wat geleef het voor die Basothovolk nog deur Mosjesj byeengebring is.
Wat die swart mense –Tswanasprekendes wat deel van die sogenaamde Legoya-kultuur – dit genoem het voor hulle deur uitdelgingsoorloë vernietig is, weet niemand nie. Nog minder weet iemand wat die Koi en San die omgewing of hul nedersettings daar genoem het voor daar nog swart mense in die omgewing was.
Wat wel bekend is, is dat die naam Bloemfontein ouer is as die naspeurbare herkoms van Mangaung. Maar skynbaar moet geskiedenis vir persepsie terugstaan.
In ‘n ander geval is selfs ‘n standbeeld laat maak van ‘n persoon wat volgens die mees betroubare geskiedskrywing nooit bestaan het nie, en die oorsprong van die naam van die fiktiewe hoofman nog in groot onduidelikheid gehul is. Volkekundiges wat meen hulle weet waar die betrokke naam vandaan kom, herlei dit onder meer na ‘n rituele bees toe.
Om polariserende persepsies in plaas van historiese feite in ‘n gepolariseerde heterogene samelewing te laat gedy is soos petrol op die vuur. Dit maak dat die ras-koppetellery in rugbyspanne ‘n hoogs emosionele saak word, nie so seer oor die afsnypunt van getalle nie, maar oor die impak op die kollektiewe psige waar ‘n onlosmaaklike deel van die streek se bevolking soos vreemdelinge in hul eie land begin voel.
En dan verbaas te wees as die volkstaatgedagte momentum kry.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.