Die Volksblad berig dat die private veiligheidsbedryf glo “‘n bedreiging vir staatsveiligheid inhou” vanweë ‘n gebrek aan regulering. Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het dié uitspraak gemaak.
Die Beheerliggaam vir Sekuriteitsmaatskappye (Psira) se topbestuur het Dinsdag ‘n donker prentjie geskilder van volgehoue wanbestuur, finansiële verliese, personeeltekorte, ‘n gebrek aan vaardighede en ‘n lae moreel.
Daarbenewens is Seth Mogapi, uitvoerende hoof, in Julie 2009 weens onder meer wangedrag en swak bestuur afgedank.
“Dit is geen verrassing ‘n mens lees daagliks van sekuriteitswagte wat by misdaad betrokke is nie. Dit is duidelik dat die sekuriteitsbedryf glad nie gereguleer word nie,” het Pieter Groenewald, LP van die VF+, gesê.
Ook Mluleki George (Cope) het beweer staatsveiligheid word bedreig deur onwettige maatskappye met buitelanders en misdadigers in hul diens.
Vrese is geopper oor die feit dat veiligheidsmaatskappye se wapens verdwyn sodra Psira die maatskappy se registrasie opgeskort het nie. Die polisie word daarvan in kennis gestel, maar wat daarna met die wapens gebeur, is die veiligheidsmaatskappye se verantwoordelikheid.
Volgens Mahlabela Chauke, Psira se nuwe hoof wat in September aangestel is, is die inligting op hul databasis “onbetroubaar”.
Voorts het Psira se inspekteurs in die 2009-’10-boekjaar nagelaat om inspeksies by bykans 500 maatskappye te doen om te verseker dat hulle wel aan wetlike vereistes voldoen.
Meer as 1miljoen van die 1,5 miljoen sekuriteitswagte wat by Psira geregistreer is, is glo “onaktief”.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.