“Die sowat 1,3 miljoen Suid-Afrikaners wat vir Cope gestem het, het hul stemme gemors.”
Aan die woord is nie iemand uit regeringsgeledere nie, maar Cope se adjunk-president. Of moet ‘n mens sê, geskorste adjunk-president?
Suid-Afrika se kiesstelsel maak dit moontlik dat selfs partye met bitter min steun verteenwoordiging in die parlement kan kry. Dieselfde geld vir van die groter provinsies, asook van die groter munisipaliteite. ‘n Kwart persent steun waarborg ‘n parlementêre setel, en selfs minder kan ‘n setel beteken afhangende van hoe surplusstemme op vol kwotas uiteenval.
Heelwat lande se grondwette stel minimumpersentasies voor ‘n party toetrede kan kry, soos Swede.
Die Suid-Afrikaanse stelsel verseker dat die land ‘n magdom partye het wat wel iewers verteenwoordig is. Partye sonder parlementêre verteenwoordiging, het heel waarskynlik verteenwoordiging in ‘n munisipale raad of twee. Die era van oorloopwetgewing het ook veroorsaak dat partye kortstondig op die toneel was en verdwyn het.
En dan was – of liewer –is daar Cope.
Cope se totstandkoming was om verskeie redes belangrik, en kon om nog baie meer redes nog belangriker gewees het.
Die vernaamste was die feit dat die land oorheers word deur een politieke party, die ANC. Hierdie oorheersing is eintlik vreemd aan die kiesstelsel wat die land gebruik, aangesien dié stelsel meer dikwels verhinder dat een party oorheersend word, en sorg dat koalisregerings aan die orde van die dag is.
Geen party kan daarin slaag om die ANC behoorlik uit te daag nie. Die feit dat verkiesings eerder, soos dr. Pieter Mulder dit gestel het, ras-sensusopnames is as verkiesings oor ideologie en beleid, het baie hiermee te doen.
Soos wat in Zimbabwe gebeur het, is hier ook geoordeel dat die eerste werklike opposisie vir die ANC uit ‘n skeuring in die ANC self sal voortspruit. Met die totstandkoming van die UDM is vlugtig gehoop, maar die hoop het beskaam.
Toe kom Cope. Baie dinge word reg gedoen, in so ‘n mate dat baie mense steeds oortuig is groot geld het ‘n rol gespeel, en betaal het vir uiters knap kundiges wat agter die skerms gewerk het.
Selfs groot byeenkomste het betyds begin, ‘n rariteit in partye wat ‘n swart basis het en daarom nie baie blankes trek nie. Parkeer ‘n grootkop sy luukse motor in die universiteit se roosbedding, is die party gou om ‘n mediaverklaring uit te reik om te sê jammer.
Dan, skynbaar, raak die geld op, en doen die party sy eie ding, en is dit skaars van die ANC te onderskei. Net voor dinge te sleg lyk, is die agter die skerms adviseurs skynbaar terug.
En die party trek 1,3 miljoen stemme. Hierdie prestasie moet gemeet word teen die agtergrond dat dit teoreties taamlik maklik is om parlementêre verteenwoordiging te kry, maar ook nie so maklik nie soos partye soos die Nasionale Aksie en ander al agtergekom het. In dieselfde verkiesing waarin Cope toegetree het, het die ACDP wat sedert 1993 alomteenwoordig was en in ‘n stadium ses LP’s opgelewer het, net drie LP’s op nasionale vlak verkies gekry.
Cope, so blyk dit, het waarskynlik minder skade aan die ANC aangerig as aan byvoorbeeld die ACDP, hoewel dit ‘n oorvereenvoudigde stelling is. Ook Patricia de Lille se ID het waarskynlik danksy Cope se opkoms gouer na die politieke ashoop beweeg.
Cope het selfs in die Vrystaat en elders die amptelike opposisie geword – ‘n party wat nie werklik ’n beleid gehad het nie, en waarin daar reeds voor die verkiesing weens die politieke karakter van die Shilowa-kamp ‘n mate van ontnugtering onder wit Cope-ondersteuners ingetree het.
Die res is geskiedenis, en nog deels geskiedenis in wording.
Die kiesstelsel sal verseker dat iets as Cope sal voortbestaan, minstens tot die volgende algemene verkiesing, en dan sal die vertrapping met munisipale verkiesings weer verseker dat Cope op daardie vlak ‘n rakleeftyd gaan hê.
Cope kan ook op ‘n manier uit die as opstaan.
Op ‘n manier was Cope se bestaan ‘n aanklag teen die politieke mondigheid van die Suid-Afrikaanse kiesers. In beginsel gaan verkiesings oor keuses vir beleid en ideologie.
Tog kry partye wat geen duidelike beleid het nie, steun. Die ID het ‘n paar jaar na sy ontstaan, hom tot sosiaal-demokraties verklaar, maar toe die party in die liberaal-demokratiese DA opgaan, is hierdie ideologiese onderskeid tjoepstil verswyg. Verskil die UDM se beleid werklik van dié van die ANC?
En behalwe dat Cope homself as gebonde aan die land se grondwet verklaar het en daarom byvoorbeeld nie ‘n kwessie soos die doodstraf op sy beleidstafel wil plaas nie, is dit nog nie werklik duidelik hoe Cope oor beleid dink nie. Uit die parlement en die wetgewers, selfs waar Cope die amptelike opposisie is, kom ‘n min of meer dawerende swye oor standpuntinname. Die een Cope-faksie raas skynbaar meer oor beweerde interne korrupsie as oor korrupsie binne die ANC.
Boonop was it nie asof Cope hom in ideologiese niemandsland hoef te bevind het nie. Word Suid-Afrika se politieke toneel met dié van Europa vergelyk, lyk die Suid-Afrikaanse toneel soos ‘n dam waar die watervoëls mekaar in die een hoek weens oorbevolking vertrap, terwyl ‘n groot deel van die dam skaars ‘n spikkel lewe bevat. Die bykans vakante area sluit die ideologiese spasie van die Christen-demokrasie in.
En met groot haas: Hiermee word na die Europese manifestasie daarvan verwys, soos ondervang in groot partye soos die Duitse Christen-Demokratiese Unie van Kanselier Angela Merkel, die Nederlandse Christen-Demokratiese Appèl en die Vlaamse Christen-demokrate en Vlaandere. Dit verskil aansienlik in veral styl, maar ook ideologies, met die charismatiese ACDP. Die naaste Suid-Afrikaanse verwante party, is die Christen-Demokratiese Party.
Dat Cope duidelik Christenstemme gejag het, kan nie betwyfel word nie. Eerw. Dandala is as parlementêre leier aangewys, prof. Russel Botman, ‘n teoloog, is genader om premierskandidaat te wees en toe dit deur die mat val, is dr. Allan Boesak genader. ‘n Verbintenis tot die Christen-demokrasie het egter uitgebly. Veel eerder, veral ten opsigte van die Shilowa-faksie, het dit gelyk of in dieselfde deel van die dam as dit waarin die ANC reeds saamgetrek is, geswem moet word.
Op die kort termyn sou dit sin maak. Dit is immers waar die kiesers is. Op die medium- en langer termyn was dit kortsigtig – bitter min van daardie kiesers is in daardie deel van die dam omdat hulle ideologies daar hoort. Hulle is daar omdat ras steeds die hoofbepaler is vir watter party mense in Suid-Afrika stem. Cope kon net sowel homself ideologies vestig; in die aanvanklike fase sou hy steeds weens mense se velkleur die stemme trek. Verder kon die party net wen.
Die uiteinde is dat Cope die getalle het – of steeds die getalle het – maar om al die verkeerde redes in die nuus is. Veel, veel kleiner partye, ook partye sonder parlementêre verteenwoordiging, is beleidsgewys veel meer verbaal en aktief as Cope. Danksy die 1,3 miljoen mense wat vir Cope gestem het, kry Cope heelwat staatsfondse wat hom met die komende verkiesing in staat sal stel om ‘n taamlike verkiesingsveldtog te loods – moontlik steeds sonder behoorlike, eie aard-beleid. Kleiner partye wat wel deeglik ‘n beleid het, sal weer met veel minder geld oor die weg moet kom om hul beleid – of selfs die feit dat hulle bestaan – onder die kiesers se aandag te bring.
Ter versagting, Suid-Afrikaanse kiesers is nie heeltemal uniek nie. Pres. Barack Obama het met ‘n verkiesingslagspreuk, Change, aan bewind gekom. Na die verkiesing het baie kiesers eers begin kopkrap oor watter verandering dit sou behels, en was daar grootskaalse ontnugtering. Nie dat Obama sy standpunte oor onder meer die grusame “partial birth abortions” geheim gehou het nie, dit het net so min die oog gevang dat talle mense wat aktief was in lobbies om aborsies op aanvraag weer verbied te kry, ook vir Obama gestem het. Eers na die verkiesing het hulle agtergekom dat hulle, soos die Christian Coalition of America dit uitgewys het, hul eie veldtog met dertig jaar teruggesit het. Daar word nou sekere “regstellings”met die mid-termyn-verkiesings verwag.
Interessant is dit dalk ook nie die ANC wat Cope die ergste by die stembusse verniel het nie, maar die DA, en hoofsaaklik onbedoeld.
In die aanloop tot die verkiesing het die DA, met Helen Zille aan die spits, ‘n verkiesingsveldtog geloods wat sterk elemente van ‘n anti-Zuma-karakter aangeneem het. Al was dit spoedig duidelik dat baie swart mense aanstoot neem met “die wit vrou” se aanvalle “op die swart man van statuur” is dit nie gewysig nie, en baie swart mense is weer terug in die ANC-kamp gedryf, ook uit Cope uit.
Sedertdien was Cope egter sy eie grootste vyand.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.