‘n Onlangse verkiesingsplakkaat van die studente-organisasie Sasco laat ‘n mens onwillekeurig aan die spreekwoord dink:, as die pot die ketel verwyt.
Die Engelse weergawe: “The pot calls the kettle black,” is dalk meer toepaslik vir die bewoording op ‘n verkiesingsplakkaat by ‘n opvoedkundige inrigting in Kaapstad. Dit lui:
A vote for SASCO is a vote for ANC and
a vote for anc is a vote for Julius
MALEMA
“One Boer one bullet”
Viva Julius malema viva!!!
Students please vote for SASCO 100%
BLACKS ONLY ORGANISATION
(STRICTLY SOUTH AFRICANS)
Amandla!!
Sasco het ook by ander universiteite, soos Tukkies, soortgelyke plakkate probeer vertoon, maar is in die bek geruk.
Die ironie is dat die meeste van die studente wat by hierdie plakkaat betrokke is, gebore sou wees na die laaste apartheidswet in die 80’gerjare geskrap is. Sedert 1994 is hulle die produk van die ANC se rasgedrewe “affirmative action” is.
Dit sou maklik wees om die bewoording toe te skryf aan ‘n klompie verdwaaldes wat nie die ANC se amptelike beleid van nie-rassigheid verstaan nie, maar die feit is dat dit nie die ANC is wat die betrokke studente tot orde roep nie, maar Afriforum Jeug.
Afriforum, ironies, is in veral die onlangse verlede by herhaling in briewekolomme en ander forums as rassisties uitgeskel omdat hulle stemming maak teen die rasgebaseerde transformasie-gekoppelde borgskap vir die Curriebekerreeks.
Trouens, die ANC is ook stil oor die blote bestaan van sulke rasgebaseerde organisasies soos die Black Lawyers Association , die Black Journalist Association en die Black Management Forum .
Dit klink veel eerder asof die ANC glo ‘n veldbrand kan geblus word deur petrol daarop te gooi.
Die ANC wil homself graag in die geskiedenis laat opteken as ‘n party wat goed regeer het – of dan – soos pres. Jacob Zuma dit gestel het – regeer tot die wederkoms. Om te verseker dat die geskiedenis dit so sal onthou, word allerlei snoeringsplanne teen die media beoog, ‘n proses wat nou op sigself die kenmerke van Stalinistiese onverdraagsaamheid begin inneem.
Intussen word heel duidelik nie genoeg gedoen om goeie regering te bewerkstellig waaroor die media kan berig nie. Vanoggend berig Volksblad op sy voorblad oor meer as ‘n duisend inwoners van Kroonstad wat met maagongesteldheid te kampe het, terwyl die munisipaliteit minstens twee strafregtelike klagtes oor die hantering van riool in die gesig staar. Die nabygeleë Steynsrus, wat deur dieselfde munisipaliteit bedien word, is al minstens tien dae sonder water.
Soos sake nou staan gaan die uitroep “Amandla!” vir verskillende mense heel verskillende betekenisse inhou. Die ANC mag Sasco as ‘n klein jakkalsie beskou, maar dit is juis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.