praag.co.za

Demokrasie vir almal behalwe vir Afrikaners?

Written by

in

Volgens woordeboeke hou etnisiteit verband met eienskappe van ‘n groep mense wat ‘n gemeenskaplike ras, godsdiens, taal en ander karaktertrekke in gemeen het. Hierby wil ek byvoeg dat so ‘n gemeenskap ook dieselfde waardestelsel deel en dus van dieselfde beskawingsoorsprong kom.

Die probleem van multi-etniese nasies is hoe om verskille in kulturele en etniese verskeidenheid te bestuur. Daar is minstens vier basiese benaderings: 1) Die assimilasie of smeltkroes soos die VSA, 2) die multikulturele (multikulti) of pluralisme soos in Kanada en Europa, 3) die dominante groep benadering wat gewoonlik in erg verdeelde lande soos Suid-Afrika voorkom en 4) etniese suiwering soos in Oeganda.

Die etnopsigologie is ‘n holistiese benadering om die onderliggende kragte te ondersoek wat die etniese hierargie in ‘n land bepaal. ‘n Gevolgtrekking daarvan is dat multi-etniese state die verskynsel van etniese stratifikasie in ‘n land nie kan ontwyk nie. Dit beweer dat ‘n samelewing uit lae van verskillende etniese groepe bestaan, met die dominante groep heel bo en die gestigmatiseerde groep heel onder.

Dit is dus nie verbasend nie dat die groep wat die onderste laag verteenwoordig, dikwels juis daardie mense is wat hul selfbeskikking soek om hul hierargiese status (vryheid) te herwin. Etnopsigoloë beweer dat daardie verskynsel egter nie deur ‘n algemene etniese stratifikasieteorie wat op ekonomiese redes gebaseer is verklaar kan word nie. Dit dring dieper in die psige van mense wie se menswaardigheid daagliks aangetas word.

‘n Etniese stratifikasiestelsel affekteer ook ander vorms van stratifikasie in ‘n samelewing. Byvoorbeeld, ekonomiese klasse-alliansies word verswak as bepaalde ekonomiese vlakke deur verskillende etniese groepe beset word. Die proliferasie van statusvlakke in ‘n gestratifiseerde samelewing bemoeilik die politieke proses en kan dit selfs oorheers om die egos of inkomstes van bepaalde groepe te bevredig. Sodoende word vooroordele geskep wat dikwels tot vorms van rassisme aanleiding gee.

Teoretisie van sosiale dominansie beweer dat die vlak van identifikasie wat dominante groepe teenoor die nasie en die nasie se simbole openbaar veel sterker is as dié van ondergeskikte groepe, aangesien die sosiale stelsel die dominante groep se belange meer as die belange van kleiner gemeenskappe bedien en andersom. Ondergeskikte groepe identifiseer dus nie juis met die nasionale simbole nie en verklaar waarom baie Afrikaners afsydig gestaan het teenoor die 2010 SWB en nie graag die eerste gedeelte van die volkslied saamsing nie.

In Suid-Afrika sien die dominante groep homself as die uitverkore groep, gelegitimeer deur ‘n verkiesingsproses, wat die belange van ‘n land se burgers moet verteenwoordig en derhalwe voorregte wat nie met ‘n ander groep gedeel kan word nie, mag opeis. Veral nie gedeel word met kategorieë van mense wat weens een of ander historiese rede gestigmatiseer word en dus nie universele regte mag geniet nie. Dit was die geval met die Jode in Duitsland en vandag met Afrikaners in Suid-Afrika.

Wanneer so ‘n sosiologiese verskynsel in landsbeleid en wetgewing gegiet word, word dit internasionaal as onaanvaarbaar beskou, ten spyte van wat ‘n land se grondwet of landswette ookal mag bepaal.

Die ANC beweer dat Suid-Afrika ‘n nie-rassige bevolking het. Dit impliseer slegs dat alle rasse as gelykes voor die reg beskou word. Nie rassig beteken egter nie nie-etnies nie. ‘n Multi-etniese bevolking kan dus ook ‘n veelrassige bevolking wees, nie slegs ‘n nie-rassige bevolking nie.

Iemand het eendag gesê dat ‘n veelrassige gemeenskap ‘n kronologiese begrip is wat by die intrek van die eerste swart familie begin en by die vertrek van die laaste wit familie eindig. Daarna is dit nie meer veelrassig nie. Die gemeenskap het dus gestratifiseer tot ‘n enkele laag.

Maar die internasionale reg verbied diskriminasie wat op ras of etnisiteit gegrond is. Hierdie reg word verwoord in verskillende protokolle, gewoonlik deur die VN gefasiliteer, wat deur lande onderteken word en wat ‘n land se soewereiniteit onderhewig maak aan internasionale goedkeuring. Dit is dan nie langer net ‘n huishoudelike aangeleentheid nie.

Die ” International Convention on the Elimination of Racial Discrimination” (artikel 1),” is een so ‘n protokol en definiëer rassediskriminasie as:

“…enige onderskeid, uitsluiting, beperking, of voorkeur wat op ras, velkleur, afkoms, nasionale of etniese oorsprong gebasseer is en wat ten doel het om die erkenning, genot of deelname op gelyke voet t.o.v menseregte en fundamentele vryheid, in die politieke, ekonomiese, sosiale, kulturele of enige ander terrein van die openbare samelewing te verhinder of te benadeel.”

Volgens seksie 233 van die RSA- grondwet moet howe alle landswette volgens die internasionale reg vertolk. Hieruit vloei dit voort dat alle landswette wat op ras gebaseer is, strydig sou wees met die internasionale reg en kan deur ‘n hof as ultra vires verklaar word as sodanige aansoek voor die hof gebring sou word.

Daardie wette wat kwansuis uit kwalifiserende gapings in die grondwet ontstaan het, kan dus deur ‘n hof, plaaslik of internasionaal, tersyde gestel word as ‘n klas-aksie deur ‘n Afrikanerowerheid voor daardie hof gebring sou word .

Terme soos ‘in openbare belang’, mag nooit op ras gebaseer wees nie, maar moet universeel op almal van toepassing wees. Om die verlede te probeer regstel (soos na ‘n oorlog, of na ‘n rewolusie) moet regstellende maatreëls dus ‘n voorafbepaalde en beperkte tydsduur hê wat deur almal verstaan en aanvaar word, anders is dit slegs in belang van die dominante groep en nie in die openbare balang nie. Dan is dit strydig met die internasionale reg. Sonder ‘n ooreengekome tydsduur word dit naderhand ‘n vrypag om te plunder en om ‘n minderheidsgroep langdurig op ‘n wettige manier uit hul bates te verkul.

Afrikaners moet dus bedag wees op wat hulle wettiglik mag opeis volgens die internasionale vertolking van hul regte. Grondhervorming, arbeidswetgewing, bateplundering soos SEB, ens., moet dus summier in die howe getoets word as synde onregmatige optrede van ‘n dominante groep. Sou ‘n boer se uitvoer vrugteplaas byv., sonder behoorlike vergoeding hom ontneem word net omdat hy wit is, kan hy ‘n beslagleggingsbevel kry en besendings laat konviskeer sodra dit in die buiteland aanland. Dieselfde sou kon geld vir uitgevoerde minerale en ander produkte.

Afrikaners buite ‘n volkstaat is dus geregtig om ten volle in die demokrasie te deel en mag hul pond vleis opeis. ‘n Volkstaat sal slegs na die belange van ‘n klein minderheid Afrikaners binne sy grense kan omsien. Die oorgrote meerderheid Afrikaners sal altyd aan die giere van ‘n dominante meerderheid uitgelewer wees. Hulle sal dus hul beskerming moet soek deur middel van sy Afrikaner Owerheid se optredes hier en in die buiteland.

casino noФильчаков прокурор отзывы

Comments

Leave a Reply