praag.co.za

Is ‘n Afrikaner Owerheid moontlik?

Written by

in

Na aanleiding van die hewige reaksie op die VAS nuusberig het ek aanvanklik gewonder of daar ooit enigiets van die te stigte AO sal kom.

Die onderlinge verskille is dan so groot en oënskynlik onoorbrugbaar.

Maar as mens die situasie ontleed, besef jy dat die kern van die saak misgekyk word.

Daar bestaan interne verskille en eksterne verskille. Soos in enige politieke huishouding sal daar altyd interne verskille wees wat gewoonlik deur ‘n taktvolle benadering bestuur kan word.

Maar as daar eksterne verskille sou opduik, dan is die saak gedoem, want dan beweeg die groep in die rigting van selfvernietiging. Dit is wanneer los kanonne op hul eie mense begin losbrand, en die vyand ignoreer.

Interne verskille soos godsdiens en die ligging van ‘n volkstaat kan egter sodanig uitkring dat dit naderhand eksterne verskille raak. Daar is juis mense wat probeer om die vernietiging van die vryheidsideaal as hul hoofsaak te dryf.

Dit is om hierdie rede waarom ek aan die hand wil doen dat godsdiens, die ligging van ‘n volkstaat asook die historiese belewenisse van die magsoorgawe van die NP aan die ANC, as interne verskille geklassifiseer sal word en dat ons slegs rondom een saak groepeer, naamlik om ons vryheid te herwin. Dit is in die eerste plek al wat op die lange duur werklik gaan saakmaak. Die interne verskille is verdelend en speel in die hande van ons vyande. Ons moet verenig wees in ons stryd vir Afrikanervryheid. Godsdiens, en ander huishoudelike verskille mag nie toegelaat word om ons te verdeel nie.

As ons daaroor eenstemmig is, dan is daar hoop. Maar as ons nie eers daarin konsensus kan bereik nie, is daar slegs wanhoop en sal ons, soos die Israeliete in Egipte, knegte en bywoners in ons eie land bly.

Persoonlik staan ek by my wawiel metafoor waar die Drie-Enige God die velling is om die wiel bymekaar te hou. Maar ek respekteer elkeen se eie siening oor die velling as sy eie saak.

Dit is waarskynlik so dat daar reeds verskeie insypelaars op die Praagwerf en ander woernale doenig is. Hulle buit juis hierdie interne verskille uit om verdeling te saai en word gewoonlik uitgeken aan hul hiperregse uitsprake en beledigings. Daardie mense is geplant en doen dit om hul posissie op die politieke spektrum te vestig en sodoende geloofwaardigheid te probeer verkry.

Deur ‘n uitlokkende styl probeer hulle om die intellektuele leiers onder verdenking te plaas en versamel hulle waardevolle propaganda inligting vir hul hanteerders om daarvoor vergoed te word. Aan die een kant beroep hierdie spesie hulle op hul spraakvryheid, maar gun die ander nie sy godsdiensvryheid nie. Kyk hoe woes het hulle op die Suiderlandgroep toegeslaan om hulle te vernietig. Dieselfde sal eersdaags met ander Afrikanergroerings gebeur.

Maar gelukkig is die deursnee Praagleser lankal reeds daarop bedag en maak hul eie afleidings. Praaglesers weet reeds wie die informante in hul midde is, want hulle word deur hul verdelende styl uitgeken.

My versoek is dus dat ons almal gefokus sal bly op ons gesamentlike vermoëns as ‘n volk eerder as om op individuele verskille te hamer. Stellings soos, “…ons soek nie sy soort in die volkstaat nie…” is bedoel om die vryheidsoekende groep kleiner en kleiner te maak, dws om ons te verdeel.

Met so ‘n benadering sal die krag in ons verskeidenheid ons vorentoe neem en die verdelers uitgeken word vir wat hulle werklik is, naamlik die werklike volksverraaiers.

Dan sal ons met groot vrug ‘n tussentydse AO kan stig wat deur die volksverkiesing van Meimaand aanstaande jaar met verkose leiers versterk en verder gelegitimeer sal word.

Dan sal die vryheidstryd in alle erns kan begin. Tot dan staar ons teen ons naeltjies vas en wonder ons waarom niks dan gebeur nie.

ик сушкилобановский александр биография

Comments

Leave a Reply