Want sien, oranje het ‘n lang geskiedenis in die Vrystaat.
Die republiek en latere provinsie het lank as die Oranje-Vrystaat bekend gestaan.
Hoewel ‘n Vrystaatse president, vermoedelik om ‘n paar Rijksdaalders te probeer bekom, by die Nederlandse regering gesmous het dat die “oranje” met die Huis van Oranje verband hou, is die werklike geskiedenis dalk nie heeltemal so eenvoudig nie.
Die man wat die Oranjerivier sy naam gegee het, het dit volgens die mees betroubare inligting ter ere van die Hertog van Orange vernoem. Dié deel val vandag in Frankryk.
Die misverstande het nogal verder getrek, sodat die Oranje-Vrystaat se wapen ‘n heel gepaste olienboom op het, maar met die mooiste ryp lemoene aan.
En so ver ek kan agterkom, aard lemoene nie juis in die Vrystaat nie. Die Ore het wel ‘n lemoenboom, gekoester tussen twee suurlemoenbome met ook lemmetjie-takke, maar kom dit by die proeslag is dit ‘n rijksdaalder werp om te bepaal wat is die suurste.
Toe die Vrystaat in die nuwe Suid-Afrika ‘n nuwe naam moes kry, was die mees gepaste voorgestelde naam waarskynlik “Potholes” maar uiteindelik het die “oranje” weggeval.
Toe begin die Cheetahs weer by geleentheid ordentlik rugby speel, en die Vrystaters verf die provinsie behoorlik oranje. Voor die een eindstryd het selfs ‘n paar minnibustaksies in skel-oranje vere gepronk.
En toe kom die Vrystaatse LUR vir Sport en verbied oranje.
Wat rugby betref, het omtrent net die Cheetah-rugbybase gehoor gegee, en is oranje nou maar skraps op Cheetahtruie. Die ondersteuners – kom dit sulke tyd – verf egter die provinsie gereeld oranje.
Nou is Fifa en die polisie so rof op oranje. Die sonde is dat ‘n biermaatskappy wat nié een van Fifa se borge is nie, se kleur oranje is. Dit is ook Nederland se kleur, en die sokkerspan staan as Oranje bekend. Die koningshuios terloops ook, maar ek dink daaraan om vir Geert Wilders in die oor te fluister om tog die kongingshuis af te skaf oor die prins so vuvuzela blaas.
Ons Vrystaters het nou al ‘n paar lesse geleer oor hoe om met ‘n verbod op oranje saam te leef. Dus ‘n paar wenke.
Wanneer die dames aangekeer word, trek die gewraakte rokkies uit, en skree kliphard die polisie wil hulle molesteer. Dié advies is nou wel nie oorspronklik Vrystaats nie. Dit kom van die jong man en sy vrou van Onrus wat onwettig gaan perlemoen duik het. Die man is in sy duikpak onder die water in, en die vrou sit op die rubberbootjie, naby die strand, en kywie hou. Skielik, asof uit die niet, pyl ‘n boot van Operasie Neptune op haar af. Sy het nie tyd om haar man te waarsku nie, en maak ‘n plan B. Sy slinger die perlemoen oorboord, en pluk haar bikini uit, en begin luidkeels ten aanhore van die mense op die strand gil oor die klomp perverte polisiemanne wat op haar afpyl.
Operasie Neptune pluk hul boot om en jaag weg.
Dié dames hoef ook nie ander moeilikheid as die koue te vrees nie. Hulle kan bloot aanvoer dat hulle meegevoer is met die Afrika-karakter van die toernooi. Die kleertjies wat oorbly, selfs as daar niks bo is nie, pas mooi by die Zoeloe-kultuur in.
Maar eintlik is ek meer gesout met pawiljoen-advies vir die manne.
Moenie lemoene (met of sonder brandewyn ingespuit) op die pawiljoen probeer neem nie. Dis oranje, en gaan gekonfiskeer word as jy gelukkig is, of jou in die hof laat verskyn en op R10 000 borgtog vrygelaat laat word as jy minder gelukkig is.
En moenie nartjies op die pawiljoen bring nie. Hulle is ook oranje. Boonop proe biltong veel lekkerder sonder nartjiesous.
En selfs al word die nartjies op die pawiljoene gebring om daggarokers en vuvuzela-blasers mee te pot, moenie. Die oranje tel as verswarende omstandighede. Nee, kom kry by die Ore se huis suurlemoene en lemmetjies. Hulle is geel.
Die suurlemoene is effe sagter as die lemmetjies, wat kliphard is. As ‘n daggaroker die eerste keer sy dampie stook, gooi hom dan nou maar as eerste oortreder met ‘n suurlemoen. As hy nie wil luister nie, span die lemmetjie in. Dis gewaarborg om die gewenste uitwerking te hê. Vir die vuvuzelablasers, gebruik maar uit die staanspoor ‘n lemmetjie.
Viva oranje! Viva Oranje!
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.