Daar is nietemin pogings om die prosesse wat geskiedenis veroorsaak in die algemeen te ondersoek. Op hierdie oorhoofse of metavlak word aannames gemaak oor meganismes wat geskiedenis in die toekoms invoer, terwyl daar driftig geargumenteer word oor watter prosesse en tendense belangrik is in menslike samelewings en in die omgewing, veral oor die langtermyn.
Op die metavlak is die “Groot Man-teorie” ‘n gewilde en aanvaarde teorie vir die prosesse onderliggend aan die loop van die geskiedenis. Dié teorie stel voor dat geskiedenis nie soseer onderhewig is aan die kollektiewe kragte wat deur massas mense of natuurrampe veroorsaak word nie, maar dat enkele “Groot Manne” hulle omgewing (en ander mense) sodanig beïnvloed en domineer dat hulle die gang van die geskiedenis (en dus die toekoms) primêr bepaal. Onder die “Groot Manne” tel mens veral figure soos Bismarck, Stalin, Hitler, Churchill en Mao (en verder ook die politieke filosowe wat vir invloedryke idees verantwoordelik is).
Die argument is nie soseer dat die “Groot Manne” die toekoms beplan het nie, maar dat hulle teenwoordigheid die primêre oorsaak of invloed in die geskiedenis was as dit geëvalueer word by wyse van ‘n terugblik. Dus sien mens dikwels in geskiedenisboeke hoofstukke met titels soos “Bismarck en Duitsland”, “Mao Tse Toeng se Lang Mars”, of “Ghandi en Indië in1948”, en dies meer. Die implikasie is dat Duitsland sonder Bismarck nie Duitsland kan wees nie, dat China sonder Mao onmoontlik is en vandag iets anders sou wees.
Terwyl die “Groot Man-teorie" steeds aanvaar word as ‘n metateorie oor geskiedenis, is ‘n alternatiewe teorie hedendaags besig om meer aandag te kry. Dit gebeur veral in Westerse departemente van Verdediging, en selfs in Westerse sentra wat ontsenu is na die reeks terreuraanvalle sedert die middel van die 1990s.
Die nuwe benadering heet die “Youth Bulge” (Jeugbom, afkorting: JB), en is die produk van filosowe soos Gunnar Heinsohn en Gaston Bouthoul. Reeds in 1997 het die Amerikaanse weermag die JB-teorie aanvaar as ‘n nuttige benadering om bedreigings te erken en te ontleed. John Gannon (nog ‘n proponent) sê byvoorbeeld in getuienis wat hy voor die National Intelligence Committee (‘n Amerikaanse Senaatskomitee) in 1997 gelewer het dat “The Youth Bulge [provides the ultimate] intelligence challenge for the next generation”.
Dat die JB-teorie ernstig beskou word, is vanselfsprekend as mens opmerk dat stede met verlinkse stadsrade soos London simposia gehou het met titels soos “Demography and War” met Gunnar Heinsohn as genooide spreker. Dit is merkwaardig dat selfs Westerse linkse ideoloë, wat die indiwidu as die onaantasbare rolspeler in beskawing beskou, JB as ‘n faktor in Westerse sekuriteit kan beskou. Veral inaggenome dat JB uiteraard kollektiewe gedrag deur anderskleurige of minderheidsgroepe se “jeugdiges” in Europa is.
Soms word daar eufemisties na JB verwys om dit as polities beskaaf voor te hou, iets wat dit definitief nie is nie. In dié opsig is die interpretasie wat voorgehou word dat die onluste in Frankryk sedert 2005 kollektiewe gedrag deur indiwiduele Moslemjeugdiges met geldige griewe is, eerder as die gevolg van JB wat deur bevolkingsgroei in die banlieues (voorstede) rondom Parys en ander stede veroorsaak is.
Onder al die "aanvaarbare" redes wat vir die onluste verskaf is, is daar nie ‘n JB nie maar eufemisties soms vae verwysings na Moslemghettos in die banlieues en groot getalle radikale “jeudiges” wat as gevolg van onvriendelike sosiale omstandighede rebelleer. "Jeudiges" is natuurlik op sigself ‘n term wat gebruik word om etno-kulturele- en rasseverskille te verbloem. Dié soort politieke korrektheid verhoed nugtere denke om die onluste te verstaan en in die toekoms te vermy, maar dit is die prys van moderne selfbedrog. Selfs in Heinsohn se werk is daar nie veel verwysings na onluste en probleme in moderne Europa nie. Dit is egter myns insiens ‘n fout om die uitwerking van ‘n JB in sommige Europese lande soos Denemarke, Frankryk, Holland en Engeland te ontken as jy die stabiliteit van daardie samelewings oor die langer termyn wil verstaan.
Wat is die vooruitsig in Frankryk, of in Denemarke? Wel, dit kan mens probeer vasstel deur te tel, en ek is seker dat die Franse en Dene en andere in die geheim hard besig is om te tel en om die godsdienstige karakter van die onluste met regeringsbeleid (immigrasie en assimilasie) te probeer rym.
Wat is ‘n JB?
Die streng definisie is dat ‘n JB “gebeur” as 30% tot 40% van die mans in ‘n gemeenskap in die “vegtersouderdomsgroep” tussen 15 en 30 jaar behoort. JB volg op ‘n “kinderbom” wanneer ten minste een derde van alle mans kinders onder 14 jaar oud is.
Waarom is dit ‘n probleem?
Basies omdat jong mans hulle ambisies as onbereikbaar beskou in ‘n omgewing met baie mededinging as gevolg van JB. Jong mans vind uit dat hulle demografies oortollig is, dat hulle nie kan werk kry nie, en dat ‘n (wettige) sekslewe onmoontlik is sonder ‘n toekoms waar hulle inkomste kan verdien om vir kinders te sorg. Daar is uitlaatkleppe vir die frustrasies. Die “oortollige” jong mans kan emigreer, of kan met kriminele gedrag bates verkry, of hulle kan natuurlik met revolusie, burgeroorlog of selfs kolonisering die bates van ouer mans of ander gemeenskappe steel of bekom.
Die uitwerking van JB is in verskeie gevalle ondersoek. Dit word nou algemeen aanvaar dat die oorlog tussen 1981 en 1992 in El Salvador (met 70000 ongevalle) die direkte gevolg van ‘n JB was. Tussen 1960 en 1975 het vroue in die land gemiddeld elk amper 7 kinders gebaar, die bevolking het gegroei van 2.5 miljoen tot 5 miljoen, en teen 1970 was een derde van mans onder 15. Dieselfde soort analise dui aan dat oorloë in Sri Lanka, eers ‘n Sinhalese en toe ‘n Tamoelguerilla-oorlog, voorafgegaan is deur ‘n JB. Nog ander gevalle sluit Libanon, Iran, en selfs Japan voor die Tweede Wêreldoorlog in.
Die ironie van JB is dat terwyl vredesaktiviste ploegskare, vrede en vol mae preek, dit juis dikwels vrede (en vol mae) is wat JB en daarna groot aantalle honger jong mans baar wat dan oorlog veroorsaak. Ek dink dat ‘n mens Suid-Afrika in die tydperk 1950-1970 op dieselfde manier behoort te beoordeel. Vrede en voorspoed en die ekonomiese en maatskaplike toestande asook beter mediese en ander sosiale dienste onder veral die swart bevolking, wat (ironies genoeg) deur wit politici geskep is, het uiteindelik ‘n swart JB gebaar wat die einste wit regering en gemeenskap ondermyn het.
Heinsohn skryf dat miskien die belangrikste gebeurtenis in die moderne wêreld se geskiedenis plaasgevind het met ‘n edik deur Pous Innocentius VIII (1484-1492) wat geboortebeperking onder Katolieke (in Europa) met die dood strafbaar gemaak het. Die aantal kinders per vrou het hierna toegeneem van tusssen 2 en 3 tot ongeveer 8. Binne enkele dekades het die gepaardgaande JB afgereken met ‘n Moslembedreiging, oor oseane geseil om die Amerikas te verken en te koloniseer, en om Afrika geseil om met Indië handel te dryf.
Die JB sou honderde jare duur, Europa se wêreldoorheersing veroorsaak, en sou eers na die Eerste Wêreldoorlog uitgewoed wees. Die Tweede Wêreldoorlog het Europese oorheersing finaal geknak, en hierna het Europeërs nog nie weer ‘n oorlog gewen nie. Die sogenaamde Baby-boom van die na-oorlogse jare onder Europeërs en Amerikaners is in der waarheid maar ‘n flou demografiese eggo vergeleke met die JB tussen 1500 en 1918.
Wat beteken ‘n JB in ander gevalle?
Kom ons kyk na Irak. Vandag is die bevolking 26 miljoen, en vroue baar elk ‘n gemiddelde 4,80 kinders. Tot 2020, word geprojekteer, sal ten minste 350 000 jong mans elke jaar die ouderdom van 15 jaar bereik, terwyl daar net werk en bates vir ongeveer 150 000 sal wees. Die ander 200 000 is demografies oortollig en dus reeds geradikaliseer en gereed vir oorlog. Dit is ‘n miljoen elke 5 jaar. Daar is steeds Amerikaners wat glo dat hulle die oorlog in Irak kan wen op ‘n morele manier en met ‘n “menslike benadering”. Dit wil sê, sonder om toestande te skep wat die demografie en JB sal omkeer met hongersnood of ‘n verskroeide-aardebeleid.
Ander wêrelddele is soortgelyk besig om ‘n JB in die gesig te staar teen 2020. Dit sluit Soedan, Pakistan, en Palestina in. Andersins is daar ander lande wat nou baie meer vreedsaam is nadat ‘n JB uitgewoed is, byvoorbeeld Libië, Algerië en Tunisië.
Die globale distribusie van mans in die ouderdomsgroep tussen 15 en 30 vertel verder ‘n interessante storie. In Europa neem dit af van 89 miljoen in 2006 tot 71 miljoen in 2020 (en meeste van die jeugdiges is of enkelkinders of enigste seuns). In Afrika neem dit toe van 160 miljoen tot 182 miljoen oor dieselfde tydperk. In die Moslemwêreld neem dit toe vanaf 280 miljoen tot 300 miljoen terwyl dit in die Weste (Noord-Amerika, Australasië en Europa) afneem van 128 miljoen tot 115 miljoen. Die Moslemwêreld ervaar tans ‘n JB, en die einde hiervan is nog nie in sig nie en kan trouens eeue duur. Teenoor Wes-Europa se babadroogte en demografiese ondergang is dit van geskiedkundige belang. Op wie gaan u wed? En in watter mate veroorsaak ‘n kultuur of ‘n godsdiens ‘n JB en uiteindelik oorheersing oor verslane vyande en beslag van hulle bates?
Daar is ‘n paar paradokse in die JB-fenomeen. Dit is ‘n sosiale en demokratiese reg om 7 of meer kinders groot te maak (vra maar vir Jacob Zuma), selfs as die gedrag kollektief is, ‘n JB veroorsaak en oorlog baar vir ander se bates in die volgende geslag. Paradoksaal is dit verkeerd vir ‘n JB om minderhede en ander slagoffers uit te wis of van hulle bates te ontneem, selfs al is dit skynbaar onvermydelik, en geen minderheid kan aksies neem om ‘n JB in ‘n vyandiggesinde meerderheid te verhoed nie Nog meer paradoksaal kan dit gebeur dat ‘n minderheid (soos in Suid-Afrika) die ekonomiese en sosiale klimaat self skep wat ‘n JB veroorsaak oor ‘n tydperk van twintig of dertig jaar. Die gevolge is soveel later eers waar te neem sodat die verband met aanvanklike oorsake nie verstaan of ingesien word nie.
Westerse insigte het ‘n paar voorstelle hoe om ‘n JB te hanteer. Ten eerste moet ‘n JB geïsoleer word om sy natuurlike gang te gaan. Ten tweede moet alle hulp (en gedrag) wat demografiese bewapening wat deur ‘n JB veroorsaak word, afgesny word. Ten derde moet ‘n JB eerder in ‘n burgeroorlog teen homself gedraai word om sodanig uitgewoed te word, en laastens, moet toestande nie verbeter word nie tot die JB verby is (selfs al neem dit baie dekades). Opgesom is dit ‘n immorele lys voorstelle, maar Westerse lande sal hopelik immorele selfbehoud bo morele ondergang verkies, alhoewel dit nie altyd so duidelik is nie.
Hierby wil ek ook vra: Waar is die “goedvoelteorie” van geskiedenis wat gewoonlik deur linksgesinde meningsvormers aangehang word en wat voorhou dat mense inherent goed en vredeliewend is? In dié opsig kan ek net opmerk dat Margaret Thatcher eenkeer gesê het dat die feite van die lewe konserwatief is. En hierby wil ek voeg dat indiwidue nie in ‘n vakuum leef nie, maar meegesleur word deur die fisiese omstandighede waarin hulle leef, en waaraan hulle soms nie kan verander nie. Daarom moet toestande geskep word om te oorleef. Die Voortrekkers het dit uiteindelik glashelder in hulle konteks begryp. Maar besef mense dit nog vandag?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.