Op die vooraand van die Fifa-wêreldbeker word verskillende gesigte van Suid-Afrika voorgehou. Aan die een kant word ‘n beeld voorgehou van ‘n skoon en parate Suid-Afrika wat gereed is om die skouspel aan te bied. Groot gewag word gemaak van hoe gul die Bulle se rugby-ondersteuners in Soweto ontvang word…
As veiligheidsrisiko word Suid-Afrika nou as ‘n land van medium-bedreiging gelys, en is in effek die 49ste gevaarlikste land.
‘n Bekende veiligheidskenner verduidelik dat die misdaadsyfers ‘n skewe beeld skets aangesien in die meeste gevalle die slagoffer van moord en verkragting sy of haar aanvaller ken of geken het. Die implikasie is dat buitelandse besoekers dus nie werklik bedreig word nie, want hulle ken in alle waarskynlikheid nie iemand hier nie. Dit geld egter nie die slagoffers van misdade soos gewapende roof nie. Plaasmoorde kan ook selde na huismoles teruggevoer word.
Word die internet egter bekyk waar Suid-Afrikaners hul gevoelens plaas sonder dat iemand dit sensor, duik ‘n effense ander beeld op. ‘n Oud-joernalis merk op dat berigte oor pres. Jacob Zuma se jongste blaps – om ANC-ondersteuners te waarsku om nie uit die party te dros nie omdat die voorvadergeeste hulle daaroor sal siek maak – maar effentjies die pers gehaal het, en waar dit wel die pers gehaal het is dit gou van die internet-weergawes verwyder of die kommentaarkolomme gesluit. Op die oog af het baie media, veral met staatsverbintenisse, soos RSG, hard probeer om die “metafoor” en “grap” in sy dreigement raak te sien.
Vanoggend lui ‘n opskrif: “Vergewingsgesindheid van swartes nie onuitputlik.” Dit verwys na die minister van landelike ontwikkel en grondhervorming se parlementsrede, en ‘n waarskuwing dat ware versoening nie kan plaasvind sonder dat die “grondvraagstuk” ingevolge die regerende party se Polokwane-besluite opgelos is nie.
Pas is met harde syfers bewys dat die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, dwaal met syfers oor grondhervorming, en wat aanvaar kan word die ANC se persepsies onderlê. Die implikasie is problematies, want nou word versoening gekoppel aan die nakom van vereistes wat nie op feite geskoei is nie.
Terwyl ‘n deel van die media saamspan om die positiefste moontlike klimaat vir die komende toernooi te skets, al sluit dit skynbaar die toeverf van krake in, het ‘n onafhanklike uitsaaier uit sy pad gegaan om die ongelukkigheid in ‘n deel van die Afrikaner-gemeenskap as ‘n soort bedreiging deur kômmin kakie-ducktails voor te hou.
Een van die persone wat op beeld vasgevang is, het ‘n T-hemp gedra wat ‘n groot deel van die, noem dit regse verset, se emosies ondervang: “Malema se mo*r, ek bly ‘n Boer.” Malema se uitsprake het kort-kort opgeduik, asook die beduiwelende rol wat hy speel in die versoeningsproses.
In ‘n gesprek op dieselfde kanaal met die ANC se sekreteris-generaal, Gwede Mantashe, is dit duidelik uitgespel wat die ANC as grondslag vir versoening beskou – die uitwissing van die leefstylgaping tussen baie wittes, en baie swartes. Op ‘n bisarre manier word dit gekoppel aan die ANC se beleid van nie-rassigheid.
Solank as wat ‘n benadering van die slag van die gans wat die goue eiers lê onderliggend is, en as voorbehoud geld vir versoening, so lank gaan polarisasie ruim gevoed word. Die aanspreek hiervan kan nie tot na die sokkertoernooi wag nie. Onder die verf word die krake groter. Euforie het die geneigdheid om ‘n nare babelas te laat, en dui op ‘n onderskatting van die komplekse en multi-dissiplinêre aard van versoening.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.