Binne enkele weke breek die grootste sportgeleentheid aan wat nog in Suid-Afrika en op die kontinent gehou is. Dit is ‘n uithangleentheid soos min wat vir die spartelende regering soos manna uit die hemel kom.
…Of is dit?
Al hoe meer mense en instansies besef hoeveel waarde die regering aan die geleentheid heg, en begin nou planne smee om daardeur konsessies van die regering te probeer afdwing.
Die seisoen van stakings duur voort met die vervoerstaking wat nou ongemaklik naby aan die sokker draai. Verskeie diensleweringsbetogings het al plaasgevind, en die massa-aksie teen misdaad wat deur Solidariteit gelei word, gaan waarskynlik ook die grootste van sy soort ooit in Suid-Afrika wees.
Bewaringskundiges wil ook die komende toernooi gebruik om ‘n mynmaatskappy te stuit wat met ‘n oop steenkoolmyn in die Mapungubwe wêrelerfenisgebied begin het. Dié myn val boonop in ‘n oorgrens-bewaringsgebied ook. Suid-Afrika se geskiedenis oor wêrelderfenisgebiede is juis nie iets om op trots te wees nie, met Unesco wat al met stappe begin het oor Suid-Afrika se oortredings en voeteslepery in die Vredefort-koepelgebied. Ook hier is berig dat ‘n Australiese maatskappy na die proklamering nog prospekteerwerk gedoen het.
Robbeneiland is ook kort-kort in die spervuur, en onlangs is berig dat plakkers ‘n informele nedersetting in die Wieg van die Mensdom-erfenisgebied opgerig het – boonop op grond wat weens dolomitiese formasies nie vir huisvesting geskik is nie.
Pas het die ANC ‘n klag teen Julius Malema teruggetrek oor sy volharding om ‘n omstrede liedjie met die woorde: Skiet die Boere” te sing, of nog ‘n boer, mnr. Johan Strydom, is vermoor. Ontstellende berigte oor plaasmoorde het reeds die buitelandse pers gehaal voor die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche die oë van die wêreld daarop gevestig het. Plaasmoorde is egter nie al ontstellende voorvalle van misdaad nie.
Terwyl die regering normaalweg dawerend swyg oor plaasaanvalle, is dit nie skaam om ontstellende kaf oor die landbousektor aan die groot klok te hang nie. Selfs die minister van landbou, Tina Joemat-Petterson wat belowend begin het, sing nou voor in hierdie koor en gedra haar soos te veel ANC-ministers wat nie vir afsprake opdaag nie – gewoonlik omdat hulle oorsee is.
Opsommend word probleme ontken of afgemaak.
Maar toe ‘n groepie regses aangekeer is, is ‘n nuuskonferensie belê asof ‘n reuse regse komplot om die sokker met aanvalle te teiken ontbloot is. In waarskynlik die mees amateuragtige strategiese kommunikasie-aksie ooit, is ‘n persepsie by die buiteland geskep wat waarskynlik te make het met ‘n magsvertoon wat vir die binnelandse gehoor bedoel is dat die regering ‘n regse bedreiging lag-lag die hoof kan bied.
Sommige faktore wat tot ‘n ongunstige persepsie oor Suid-Afrika lei kan nie op die regering se brood gesmeer word nie. ‘n Enkele individu kan groot amok maak, of dit nou met ‘n fisiese wapen of toegang tot die internet is.
Dit verhoog daarom die druk op die regering om dit wat hy kan aanspreek behoorlik aan te spreek. Die verhogings wat die vervoer-semi-staatsinstellings aanbied is waarskynlik nie onredelik nie, maar die hele prentjie verander in die lig daarvan dat die bestuur aan hulself veel groter verhogings toegestaan het. Kenners waarsku al lank dat die inkomstegaping in Suid-Afrika gevaarlik groot is.
Om so op te tree dat die herstel van Vrystaatse paaie eers na die sokkertoernooi plaasvind, is ondenkbaar dom.
Baie Suid-Afrikaners is bekommerd dat die toernooi vir Suid-Afrika ‘n verleentheid gaan oplewer, en daar is genoeg regeringsgeskepte redes om hier en daar bedenkinge te troetel. Om daardie mense as dislojaal en selfs as verraaiers af te maak help ook nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.