praag.co.za

Zuma – een jaar op die troon

Written by

in

Die gebruik om ‘n nuwe regeringshoof se prestasies na een jaar te ontleed is dikwels nie baie billik nie. In die geval van pres. Jacob Zuma behoort die billikheidsvereiste nie te geld nie, omdat hy tegnies ‘n voortsetting is van die bewind van dieselfde party. Verder is die komende Fifa-eindtoernooi so ‘n omvangryke gebeurtenis dat die land nie nou ‘n regeringshoof kan bekostig wat hom nog die luukse gun om sy voete te vind nie.

Die voortsetting van ANC-bewind is ongeveer waar die ooreenkomste tussen oud-pres. Thabo Mbeki en pres. Zuma eindig.

Mbeki en sy klein intellektuele Sanhedrin het vanuit ‘n ivoortoring regeer, en was spottenderwys net vir blits-ampsbesoeke op eie bodem. By so ‘n geleentheid is hy in die parlement getakel oor ‘n saak wat al weke in die media woed,  en het dit geblyk dat hy geen kennis daarvan gedra het nie. Hy was dikwels heeltemal uit voeling met die werklikheid.

Zuma se bewindstyd van goeie voornemens word miskien ten beste geïllustreer deur die syfers wat pas bekend gemaak is dat werkloosheid in die land gestyg het. Dit is ‘n emmer koue water in die gesig van die man wat teikens vir die vermindering van werkloosheid gestel het.

Sy Vrystaatse kornuit, Ace Magashule, het voor die bewindsaanvaarding by ‘n Salga-kongres ‘n Zuma-stelling ge-ego en gedreig dat onbekwame en korrupte burgemeesters en munisipale bestuurders die trekpas gaan kry, en is uitgelag. Min het nog verander om die teendeel te demonstreer.

Munisipale stakings, afgewissel met oproer teen power munisipale dienslewering, word met groeiende iesegrimmigheid deur die owerhede beantwoord namate die sokker – oor presies ‘n maand, nader kom.

Eskom trek nog noustrop met kragvoorsiening en geoordeel na woongebiede wat nou al hoe gereelder sonder taal of tyding in die duister gelaat word, is beurtkrag stil-stil weer ingevoer.

Misdaadvlakke, veral geweldsmisdaadvlakke, het skynbaar nou so nesgeskop dat dit nie oornag in die bek geruk gaan word nie.

Die staat het die afgelope jaar in verskeie grondwetlike sake die onderspit gedelf, hoewel sommiges nog onder appèl is.

Waarskynlik die grootste blaps van Zuma se nooiensjaar was om sy eens troue jeugleier, Julius Malema, tot kroonprins te salf. Pas het dié kapokhaan, wat eens gedreig het om te skiet ter wille van Zuma, na ‘n dissiplinêre verhoor tegnies op die monteerbaan beland het, weer openbare uitsprake van minagting teen Zuma gemaak. Zuma se versekerings aan die queen dat die ANC nie nasionaliseringsplanne het nie, is deur Malema weerspreek.

Malama se rol in die hemelhoë vlakke van polarisasie in die land moet nie onderskat word nie.  In die onlangse volkstaatdebat wat veral op die internet gewoed het, het Malema se rol soos taks opgeduik.

Zuma het verder die onderskeiding dat die internasionale media groot gewag oor hom gemaak het. Ongelukkig, vir hom, was die nuuselemente wat die meeste internasionale blootstelling in groot koerante soos die New York Times gekry het, opmerkings van ‘n klein party dat Zuma se veelwywery die land na die Donker Eeue terugsleep, en dat sy buite-egtelike kinders herinner aan ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Koning Henry VIII in een.

Zuma het uiteindelik die bykans ondenkbare gespreek deur te sê alles wat verkeerd loop kan nie meer op apartheid se brood gesmeer word nie. Jimmy Manyi en ander het egter nie gehoor of verstaan nie.

Sy bewind kan ten beste opgesom word as dat dit moeilik is om alles vir almal te wees. Sy veelgeroemde trieng-trieng om toeganklik vir die publiek se klagtes te wees kom volgens die jongste aanduidings met sowat een persent van die oproepe ontvang die mas op, en van dié sake wat opgevolg word, blyk bitter weinig die gewenste resultate op te lewer.

Al wat met stelligheid gesê kan word is dat Zuma in sy bewindstyd goed daarin slaag om in die nuus te bly – al is dit dikwels vir die verkeerde redes.

пескоструйная камералобановский политик

Comments

Leave a Reply