praag.co.za

Die Griekse tragedie

Written by

in

Danksy die impak op die Suid-Afrikaanse aandelebeurs en die rand se waarde neem Suid-Afrikaners kennis van wat in Griekeland met sy kleinerige ekonomie en net meer as tien miljoen burgers aan die gebeur is. Die Griekse tragedie beïnvloed Europa, en Suid-Afrika word weer deur die groot volumes handel met Europa beïnvloed, met dubbel-genoteerde maatskappye wat die strooptog op die JSE ingelui het.

Griekeland is kniediep in tamatiestraat. Die IMF waarsku dat ander Europese lande deur Griekeland “besmet” kan word. Veral Portugal word nou genoem, maar Spanje se naam word ook gereeld uit die hoed geruk. Spanje se ekonomie is veel groter as dié van Griekeland en ‘n krisis gaan baie negatiewer op Europa en die wêreldmarkte inwerk.

Die IMF het net benadruk watter Europese lande nie bedreig word nie – Duitsland en Frankryk.

Duitsland is ook die land wat uiteindelik vir die leeueaandeel van die Grieke se reddingsboei moet instaan. Die gewone Duitsers is na berig word erg taai in die bek, en die Griekse betogings teen die voorwaardes vir hulp is ook nie bevorderlik om die Duitsers se gemoed te verander nie.

Die probleem – in sy eenvoudigste vorm gestel – is dat die Grieke se produktiwiteit en byvoorbeeld aftree-ouderdomme laag is, en dat vergoeding aan dié van Utopia herinner. Bonusse is gelykstaande aan twee maande se salaris, en verhogings was nou jare lank ‘n gegewe.

Veel meer is betaal as wat verdien is.

Nou het die borrel gebars, en vir hulp moet Griekeland ondernemings gee soos dat daar ‘n paar jaar lank geen salarisverhogings gaan wees nie, en ook nie bonusse nie. En nou is die Grieke, wat aan die luilekker lewe gewoond geraak het, nie beïndruk nie.

Intussen floreer die valuta-spekulante, en bemoeilik sake aansienlik vir die IMF. Die Europese Kommissie maak stem dik en gaan alles in sy vermoë doen om te keer dat die finansiële marke die valutaspekulante se jagveld word.

 

big bad woolfФильчаков прокурор харькова

Comments

Leave a Reply