praag.co.za

Taal en Kultuur in die Suid-Afrikaanse Grondwet

Written by

in

‘n Besprekingsdokument vir Die Afrikanerbond met die oog op voorstelle tot ‘n Handves vir Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte.

Ter aanvang is dit noodsaaklik om ‘n kort omskrywing van taal en kultuur te gee. Verder om die aard van sogenaamde “ taal- en kultuurregte” te bepaal en om daarop te wys dat hierdie “ regte” nie selfstandig as abstrakte regte bestaan nie. Taal- en kultuur is die voorwerp of eerder die regsgoed van individuele regte. Hulle vorm ook die regsgoed en inhoud van groepsregte wanneer hulle in groepsverband uitgeleef en gehandhaaf word. Wanneer die taal- en kultuurgroep ‘n minderheid in die staatsverband uitmaak, kom die vraag na minderhede se regte op taal en kultuur uiteraard direk ter sprake.
1. DIE OMSKRYWING VAN TAAL EN KULTUUR.
1.1 Taal kan omskryf word as die gebruik van ‘n taalwoordeskat op ‘n geskrewe en ongeskrewe manier. Die gebruik van ‘n taalwoordeskat het sy eie reëls in die vorm van sintaks, grammatika, ens en word op allerhande wyses gevorm en beïnvloed. Breedweg kan gesê word dat ‘n besondere taal maklik herkenbaar is, nie slegs op die manier wat dit gepraat word nie, maar ook uit al die geskrifte in die betrokke taal.
1.2 Daarenteen is dit nie maklik om kultuur te omskryf nie omdat kultuur dui op die geestesprodukte, gewoontes, gebruike en geskiedenis van die mens in sy oneindige materiële en nie-materiële verskyningsvorme. Ook dra die begrip “kultuur” die moontlikheid van vele onderskeidings. Dikwels word daar byvoorbeeld gepraat van ‘n “hoë” kultuur teenoor ‘n sogenaamde “volkskultuur”, ‘n outydse teenoor ‘n moderne kultuur, ens.
1.3 Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur ‘n groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ‘n besondere kultuurgemeenskap beleef word. So ‘n kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur ‘n gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis. Dit spreek van vanself dat sou ‘n kultuurgemeenskap se taal en godsdiens onderdruk en sy geskiedenis misken word, word dié gemeenskap se kultuur bedreig.
2. TAAL- EN KULTUUR AS REGSGOED.
2.1 Taal en kultuur is die voorwerpe of regsgoed van regte. Net soos ander regsvoorwerpe of regsgoedere, byvoorbeeld eiendom en immateriële goedere, is taal en kultuur in sigself geen draers van regte nie.
2.2 Dit is die individuele taalgebruiker en kultuurdraer wat as regsubjek regte op sy taal en kultuur het. Ook die taal- of kultuurgemeenskap, naamlik die kollektiwiteit van taalgebruikers en kultuurdraers, mag aanspraak maak op die regte van taal en kultuur.
2.3 Die regte op taal en kultuur kom gewoonlik in gedrang as die besondere taal- en kultuurgemeenskap ‘n minderheidsgroep uitmaak en die dominante taal- en kultuurgemeenskappe die minderheid of minderhede se taal en kultuur misken of onderdruk.
3. DIE INDIVIDU AS DRAER VAN TAAL- EN KULTUURREGTE.
Taal en kultuur vorm ‘n essensiële element van individuele regte. Sonder die erkenning van die individu se regte op taal en kultuur, sou ‘n groep van individue ook nie kollektief op sulke regte aanspraak kon maak nie. Gebruik van sy taal en uitlewing van sy kultuur is sekerlik van die belangrikste maniere waardeur die mens sy menswaardigheid uitleef en bevestig. Miskenning van die individu se reg op taal en kultuur is dus ‘n miskenning van die individu se inherente reg op menswaardigheid, ‘n reg wat uitdruklik en as onvervreembaar deur die Grondwet beskerm word (art 10). Die Grondwet waarborg op verskillende direkte en indirekte maniere die individu se reg op taal en kultuur, byvoorbeeld die verbod op ‘n inbreuk op die privaatheid van kommunikasie (art 14(d)), die beskerming van die reg op vryheid van geloof en mening (art 15) en die vryheid van uitdrukking (art 16). Want dit spreek vanself dat indien hierdie gepaardgaande vryhede en regte nie gewaarborg word nie, die individu se reg op taal en kultuur nie verwesenlik sou kon word nie.
4. TAAL EN KULTUUR IN GROEPSVERBAND.
4.1 Soos aangedui, kry die individu se reg op taal en kultuur eers volledig beslag in groepsverband, dit wil sê binne ‘n bepaalde taal- en kultuurgemeenskap.
4.2 Die Grondwet waarborg die individu se reg om sy taal en kultuur binne groepsverband uit te oefen deur die erkenning van bepaalde vryhede, eerstens deur die vryheid van assosiasie (art 17) en tweedens deur die vryheid van vergadering, betoging en petisie (art 17). Ook die vryheid van beweging (art 21) is belangrik om taal en kultuur binne groepsverband te verwesenlik omdat dit vanself spreek dat sonder hierdie gewaarborgde bewegingsvryheid, die reg op vergadering en vrye assosiasie prakties nie uitgeoefen sou kon word nie.
5. DIE UITDRUKLIKE ERKENNING EN WAARBORG VAN TAAL EN KULTUUR IN DIE GRONDWET.
5.1 Art 6 verklaar elf tale as amptelike tale van die Republiek. Dit is belangrik dat geeneen van hierdie tale as ‘n voorkeur-taal aangedui word nie, maar dat daar uitdruklik verklaar word dat al die amptelike tale gelykwaardig is. Ook maak hierdie artikel geen melding nie van ‘n “amptelike taal van rekord” wat sou beteken dat so ‘n taal in praktyk ‘n voorkeurstatus geniet. Voorts bepaal art 6 dat inheemse tale (waaronder Afrikaans sekerlik ook gereken kan word) se status ontwikkel en die gebruik daarvan bevorder moet word; dat die nasionale en provinsiale regerings na gelang van verskillende praktiese oorwegings (taalvoorkeure, kostes, streeks-omstandighede, ens) enige van die amptelike tale vir regeringsdoeleindes mag gebruik op voorwaarde dat ten minste twee amptelike tale aangewend word; dat munisipaliteite se taalgebruik bepaal sal word deur die taalgebruik en voorkeure van hul inwoners. Sub-art (4) bevat die belangrike voorskrif dat die nasionale regering en provinsiale owerhede deur wetgewende en ander maatreëls die gebruik van amptelike tale moet reguleer en monitor. Ook maak art 6 voorsiening vir die instelling van ‘n statutêre Pan Suid-Afrikaanse Taalraad om die omstandighede te skep en te bevorder vir die ontwikkeling van al die amptelike sowel as tale van ander gemeenskappe, waarby gebare-taal ingesluit word.
5.2 Art 31 waarborg die reg van lede van ‘n kultuur-, godsdienstige en taalgemeenskap om hul kultuur, godsdiens en taal te geniet en om vir dié doeleindes, kulturele, godsdienstige assosiasies en ander liggame van die burgerlike gemeenskap te stig, daarby aan te sluit en in stand te hou. Hierdie reg van kulturele, godsdienstige en taalorganisasies mag egter nie teenstrydig met die Verklaring van Menseregte wees nie. In hierdie verband moet aangemerk word dat die Konstitusionele Hof beslis het dat sulke kulturele, godsdienstige en taalorganisasies wel uitsluitende lidmaatskapsvereistes mag stel solank hierdie vereistes hul kulturele, godsdienstige en taalintegriteit beskerm maar nie op rasse-diskriminasie neerkom nie. Soos hierbo verduidelik, gaan dit hier – anders as in die geval van die amptelike tale – nie om die beskerming van kultuur, godsdiens en taal op sigself nie, maar oor die reg van elke individu om sy/haar kultuur, godsdiens en taal te kies en om deur vrye assosiasie aan ‘n taal-, godsdienstige of kultuurgemeenskap van eie keuse deel te neem (art 30). Dit is belangrik om op hierdie aspek klem te lê, want daardeur word erkenning gegee dat taal, godsdiens en kultuur nie in die abstrakte beskerm word nie, maar as integrale deel van elke mens se menseregte, hetsy individueel of in groepsverband. Die praktiese gevolg hiervan is dat elke burger die regsbevoegdheid het om op die beskerming en bevordering van sy/haar kultuur en taal aan te dring. (Sien paragraaf 6.2 hieronder.)
5.3 Art 29(2) bepaal dat elkeen die reg het om onderrig in een of meer amptelike tale volgens eie keuse in openbare onderwysinstellings, wat sekerlik ook hoër onderwysinstellings insluit, te ontvang. Om hierdie reg te verseker, kan die staat alle redelike onderwys-alternatiewe oorweeg, ook enkelmedium instellings, solank sulke instellings voldoen aan die vereistes van gelykheid, praktiese uitvoerbaarheid en die aanspreek van diskriminerende wette en praktyke van die verlede. Voorts het elkeen die reg om privaat onderwysinrigtings op te rig solank dié instellings nie ras-diskrimerend is nie, by die staat geregistreer is en dieselfde standaarde as openbare instellings handhaaf. Die staat mag sulke private instellings subsidieer. 5.4 Art 185 maak voorsiening vir die instelling van ‘n Kommissie ter bevordering van die regte van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe. Die Kommissie wat breedweg verteenwoordigend van dié gemeenskappe en die geslagsamestelling van die bevolking is, moet wedersydse respek vir dié gemeenskappe bevorder op die grondslag van nie-diskriminasie, gelykheid en vrywillige assosiasie. Ter uitvoering van sy take, het die Kommissie wye ondersoek- en moniteringsmagte wat rapportering aan die Menseregkommissie vir verdere ondersoek insluit. 5.5 Art 235 is ‘n hoogs belangrike artikel wat die beginsel van territoriale selfbeskikking van kultuur- en taalgemeenskappe binne die groter verband van Suid-Afrikaanse selfbeskikking erken. Boonop word enige ander maniere van selfbeskikking erken solank dit in nasionale wetgewing aanvaar word.
6. DIE OPEISING EN AFDWINGING VAN DIE INDIVIDU EN GROEP SE REG EN AANSPRAKE OP TAAL EN KULTUUR.
Bostaande uiteensetting maak dit duidelik dat die individu en die groep se reg en aansprake op kultuur en taal direk en indirek op breë terreine in die Grondwet uitdruklik erken word. Die beskuldiging wat dikwels gemaak word dat die Grondwet nie die individu en die groep se regte op taal en kultuur genoegsaam erken en beskerm nie, is Taal en Kultuur in die Suid-Afrikaanse Grondwet eenvoudig nie waar nie. Persone wat hierdie beskuldiging maak, wou waarskynlik sien dat die Grondwet die taal en kultuur van ‘n bepaalde groep beskerm. In die opset van ‘n Grondwet wat vir alle burgers op ‘n gelyke grondslag geld, sou so ‘n uitsondering van ‘n bepaalde groep se taal en kultuur, die beeld van nasionale eenheid versteur, en erger nog, daardie bepaalde groep as teiken vir argwaan en teenkanting uitsonder. (Sien die opmerkings onder paragraaf 7.1 hieronder.) Soos verduidelik, is daar verskeie wyses waardeur die Grondwet voorsiening maak vir opeising en afdwinging van die individu en die groep se regte op kultuur en taal. Hierdie opeising en afdwinging kan op die volgende wyses geskied:
6.1 Gelykberegtiging van tale. Aangesien al die amptelike tale gelyke status en gelyke beskerming geniet, kan enige individu of ‘n groep aandring op die Grondwet se vereistes dat ten minste twee amptelike tale op nasionale en provinsiale regeringsvlak gebruik word en dat munisipaliteite taalvoorkeure van hul inwoners in ag moet neem. Ook kan die Taalraad genader word as amptelike tale misken word. Soos in ‘n onlangse hofsaak beslis, kan ‘n taalgebruiker ook eis dat die regering sy grondwetlike verpligting nakom om ‘n taalwet aan te neem.
6.2 Omdat die miskenning van die individu se taal en kultuur op ‘n aantasting van sy menswaardigheid neerkom, het so ‘n individu uit hoofde van die Menseregverklaring die reg om die wetgewer, die uitvoerende gesag en alle organe van die staat aan te spreek (art 8 (1)). Prakties beteken dit byvoorbeeld dat ‘n litigant in die hof mag aandring op die amptelike taal van sy keuse. Omdat die Menseregverklaring ook natuurlike en regspersone verbind (art 8(2)), sal ‘n taalgebruiker of ‘n groep taalgebruikers ewe-eens ook byvoorbeeld besighede en private ondernemings mag aanspreek wat sy taal en kultuur misken.
6.3 Taalgebruikers en kultuurdraers het die grondwetlike reg om vrylik te assosieer. Hierdie reg tot vrywillige assosiasie verleen ‘n reg aan die assosiasie om al die vryhede van mening, van betoging en petisie uit te oefen (sien paragrawe 3, 4.1 en 4.2 hierbo.) In hierdie verband is art 185(1)(c) van besondere belang. Dié sub-artikel gee aan die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van die regte van kultuur-, godsdienstige en taalgemeenskappe die reg om aanbevelings te maak vir die oprigting en erkenning van kulturele rade ingevolge nasionale wetgewing. Dit beteken dat ‘n bepaalde taal- en kultuurgemeenskap die Kommissie mag versoek om amptelike erkenning en oprigting van ‘n statutêre kultuurraad.
6.4 Taal- en kultuurgemeenskappe het die grondwetlike reg om op onderrig in ‘n amptelike taal van keuse aan te dring en eie onderwysinrigtings (wat sekerlik ook hoër onderwysinrigtings insluit) op te rig en op staatsubsidiëring aanspraak te maak. Waar enkelmediumskole nie prakties haalbaar is nie, sou ‘n kultuur- en taalorganisasie sekerlik kan eis dat paralelmedium-onderwys in plaas van dubbelmedium-onderwys aangebied word.
6.5 Die Kommissie het ingevolge art 185(2) wye magte om te moniteer, te ondersoek, na te vors, te onderrig, te werf, te adviseer en te rapporteer ten aansien van die regte van kultuur-, godsdienstige en taalgemeenskappe. Deur middel van gereelde versoeke, petisies (sien paragraaf 6.3 hierbo), voorleggings en vertoë kan ‘n taal- en kultuurgemeenskap sy stand van sake, sy bekommernisse en behoeftes bekend maak en regstelling eis. Kom die beskerming van menseregte ter sprake, mag die Kommissie die aangeleentheid dan na die Menseregkommissie verwys (art 185(3)).
6.6 Art 235 is weliswaar in hoogs algemene terme gestel en onderhewig aan nasionale wetgewing vir die uitvoering daarvan, maar die artikel erken wel die beginsel van territoriale selfbeskikking van ‘n taal- en kultuurgemeenskap. Ook moontlike ander maniere van selfbeskikking word voorsien. Soos hieronder aangedui, bied hierdie bepaling wel moontlikhede vir toekomstige beplanning en aktivering van kultuur- en taalgemeenskappe. (Sien paragraaf 7.4 hieronder.)
6.7 Internasionale erkenning en beskerming van kultuur- en taalgemeenskappe. Daar is ‘n hele paar internasionale konvensies, deklarasies en protokolle wat die erkening en beskerming van taal- en kultuurgemeenskappe voorstaan. Die belangrikste is die Verenigde Nasies se Handves oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte wat deur Suid-Afrika in 1994 onderteken maar nog nie geratifiseer is nie. Alhoewel dit belangrik is om die internasionale gemeenskap gedurig bewus te maak van die toestand waarin ‘n taal- en kultuurgemeenskap verkeer en die bedreigings wat ervaar word, moet internasionale ondersteuning nie oorskat word nie omdat die internasionale organe wat toesig hou, net raadgewende magte het. Die Verenigde Nasies sal net daadwerklik optree as ‘n taal- en kultuurgemeenskap met fisiese uitwissing bedreig word en selfs in so ‘n omstandigheid is daar nog baie beperkings, nl dat die uitwissing op volksmoord of die bedreiging van wêreldvrede neerkom.
6.8 ‘n Uiteensetting van die individu en die gemeenskap se reg op taal en kultuur soos in die Grondwet beskerm en die moontlikhede wat daar vir opeising en afdwinging bestaan, is onvolledig as daar nie ook na die bepalings van art 36 verwys word nie. Hierdie artikel veroorloof die regering om binne sekere streng voorwaardes, regte in die Menseregteverklaring in te perk. Daarvolgens sou byvoorbeeld die reg op vrye assosiasie, gewetensvryheid, assosiasie, ens ingeperk kon word. Die reg op menswaardigheid mag egter onder geen omstandighede ingeperk word nie. Omdat die reg op taal en kultuur essensieel met menswaardigheid te doen het (soos hierbo in paragraaf 3 uiteengesit), mag daar geredeneer word dat reg op taal en kultuur ook nie beperk mag word nie.
7. DIE AFRIKANER SE REG OP SY TAAL EN KULTUUR.
7.1 Die Afrikaner se aandrang op erkenning en beskerming van die reg op sy taal en kultuur moet teen die agtergrond van die huidige politieke landskap gesien word. Dit is onbetwisbaar dat Afrikaners in die vorige bedeling die dominante minderheid met groot regeringsmagte was. Uit hoofde van hierdie magsposisie kon die Afrikaner op allerhande maniere sy taal en kultuur handhaaf. Nou egter, is die Afrikaner gestroop van sy eertydse magte en moet hy sy regte op sy taal en kultuur as ‘n minderheidsgroep beskerm en opeis. Die voor-die-hand-liggende is dat Afrikaners deur vrywillige assosiasie hulself op alle fronte moet mobiliseer en aktiveer om gesamentlik op die grondwetlike regte en vryhede, soos hierbo uiteengesit, aanspraak te maak. Die groot probleem is dat die teenswoordige bewindhebbers – soos uit onlangse uitsprake van regeringsleiers weer eens geblyk het – uiters wantrouig oor Afrikaner mobilisasie is. Hulle is intens bevrees dat soos in die verlede, “‘n minderheid die meerderheid gaan gevange hou”. Onder die dekmantel van nasionale eenheid, wat slegs ‘n voorwendsel is om vir die voortbestaan van die huidige politieke hegemonie te pleit, word die groeiende Afrikaner mobilisasie met argwaan bejeën. Hulle sien daarin weer ‘n opkoms van wit eksklusiwiteit en rasse-vooroordeel wat tot konfrontasie mag lei. Ongelukkig is dit so dat meeste Afrikaanse kultuurorganisasies nog te veel as eksklusief wit voorkom en dat meeste anderskleurige Afrikaanssprekendes en Afrikaanse kultuurdraers (met kultuur in ‘n wye verband opgeneem), nog nie tuis voel in dié organisasies nie. Op dié wyse word die indruk geskep dat die Afrikaner steeds sy taal en kultuur as wit en eksklusief wil handhaaf. Dus, die eerste en vernaamste vereiste vir die Afrikaner se opeising en afdwinging van sy grondwetlike regte op taal en kultuur, is dat hy sy eie huis in orde moet kry en die beeld van ‘n breë Suid-Afrikanerskap moet bevestig. Kortom, om sy taal en kultuur te bewaar, sal die Afrikaner sy hand in eie boesem moet steek en ‘n Afrikanerskap aanvaar wat oor ras-grense strek. ‘n Uitgebreide netwerk van inklusiewe Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies, wat reeds bestaan, kan op verskillende grondwetlike maniere hul regte op taal en kultuur opeis en afdwing.
7.2 Eerstens sal Afrikaners kan aandring op die voortbestaan van Afrikaanse skole en ten minste een of meer inrigtings van hoër onderwys. Terselfdertyd sal die moontlikhede van Afrikaanse private skole en ‘n private Afrikaanse universiteit soos die Grondwet voorsien, daadwerklik gestalte moet verkry.
7.3 Tweedens sal Afrikaners daarop kan aandring dat hul taal volle erkenning in die regering en landsadministrasie verkry. In hierdie verband is daar ‘n besondere uitdaging vir Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies. Pleitbesorgers vir Afrikaans bewys gewoonlik lippediens aan die bevordering van die ander inheemse tale om sodoende hoofsaaklik steun en simpatie vir hul eie saak te werf. Het die tyd nie gekom vir Afrikaanse pleitbesorgers om daadwerklik op te tree nie? Byvoorbeeld om as voog ‘n inheemse taal of tale in ‘n bepaalde streek onder die vlerk te neem en daadwerklik deur opvoedkundige en kulturele programme daardie tale te bevorder en te bewaar nie? Byvoorbeeld om te pleit dat die inheemse taal of tale vir ‘n bepaalde streek as verpligte bykomende taal in Afrikaanse enkelmediumskole binne daardie streek geneem moet word? En dat taalgebruikers van daardie inheemse tale opgelei en aangestel word om onderrig in sulke bykomende taal of tale in daardie skole te verskaf? Dit is ‘n feit dat die studie van inheemse tale aan ons universiteite dramaties afgeneem het. Sou dit gebeur dat inheemse taalgebruikers in Afrikaanse enkelmediumskole aangestel word, sal die studie van inheemse tale weer stukrag verkry.
7.4 Derdens sal daar weer ernstig gedink en besin moet word oor die moontlikhede van territoriale selfbeskikking wat art 235 bied. In hierdie verband verwys ek na my eie verkennende artikel in die BY-bylaag tot die BEELD van 13 Februarie 2010 waarin ek die moontlikheid van ‘n virtuele Afrikaner-provinsie opper.
7.5 Vierdens, kan daar aktief georganiseer en gewerk word aan die instelling van ‘n statutêre Afrikaanse Taal- en Kultuurraad soos in art 185(1)(c) voorsien. ‘n Statutêre Afrikaanse Taal- en Kultuurraad met magte van inspraak en beperkings op regeringsoptrede wat die Afrikaanse taal en kultuur nadelig kan beïnvloed, sal uiteindelik gewig aan die Afrikaner se grondwetlike reg op taal en kultuur gee. In hierdie verband kan die opstel en propagering van ‘n algemene Handves vir regte op kultuur-, godsdiens en taal ‘n hoogs belangrike beginpunt wees. Weer eens moet egter beklemtoon word dat die aandrang op ‘n Afrikaanse Taal- en Kultuurraad nie eensydig mag wees nie en ook gepaard moet gaan met die aandrang op taal- en kultuurrade vir ander inheemse tale en kulture.
7.6 Vyfdens moet Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies voortgaan om ‘n netwerk van soortgelyke ondersteunende organisasies in die buiteland op te bou. Alhoewel sulke organisasies nie daadwerklik kan optree nie, kan hul tog veel bydra in die vorms van beurse, skenkings en betrokkendheid om die Afrikaanse taal- en kultuur te bevorder. Ook die kultuurliggame van die Verenigde Nasies, alhoewel hulle slegs adviserende bevoegdhede het, kan wel druk op die Suid-Afrikaanse regering uitoefen.
SLOTOPMERKING.
Onder die vorige bedeling was die Afrikaanse taal en kultuur volledig in die sorg van die regering. Afrikaners het waarskynlik oorgerus geword en dit aan die regering oorgelaat om hul taal en kultuur te beskerm en te bevorder. Omstandighede het egter onherroepbaar verander. Nou moet Afrikanerorganisasies daadwerlik optree om binne die raamwerk van die Grondwet hul regte op hul taal en kultuur op te eis en af te dwing.

Prof Marinus Wiechers April 2010

play games online without downloadingлобановский александр дети

Comments

Leave a Reply