Die probleem met sieners is dat die aanhangers van die sieners dikwels die visioene van die sieners waar maak. Dit word selfvervullende profesie genoem. Dat sekere mense egter wel dieper as die oppervlakte kan sien, is sekerlik waar, maar hoe ver? Nostradamus was so ‘n siener.
Nostradamus se profesieë van die sestiende eeu het reeds honderde boeke, geskrifte en artikels tot gevolg gehad. Van die dinge wat hy glo reg voorspel het, sluit in:
* Die dood van koning Hendrik II in ‘n toernooi.
* Lodewyk XVI en Marie-Antoinette se vlug na Varennes.
* Napoleon se se geboorte en opgang tot keiser.
* Die drie vegtende diere – die Luiperd/Brittanje, Arend/Frankryk en Wildevark/Pruise.
* Die eerste wêreldoorlog.
* Die swart dood (griep-epidemie) in Europa.
* Hitler (alias Hister wat die Latyn vir Donou is) se rol in Duitsland.
* Die kommunistiese tirannie van drie en sewentig jaar en sewe maande.
Michel de Nostradamus is op 14 Desember 1503 in Saint-Remy de Provence gebore. Hy is van Joodse afkoms. In 1512 word sy familie as Christene in die register van die Saint-Rémy-gemeente ingeskryf. In 1529 het Nostradamus vir studie in die medisyne by die Universiteit van Montpellier ingeskryf. As dokter het hy ook die astrologie ingespan om kwale te diagnoseer. Nostradamus se roem is te danke aan die Centuries se rymende vierreëlsverse of kwatryne wat in tien boekdele in 1555 gepubliseer is. Hy verduidelik sy profesieë aan Hendrik die Tweede as ‘n ekstase en kombinasie van goddelike en bonatuurlike inspirasie en astrologiese berekeninge.
Nostradamus was ‘n tydgenoot van beroemde Renaissance-denkers soos Francois Rabelais, Pierre Ronsard en Michel de Montaigne. Die Frans wat Nostradamus geskrywe het was ‘n verlatynse Frans wat net deur deskundiges “reg” verstaan kan word.
In die sestigerjare het Eben Meiring van Stellenbosch, ‘n taalgeleerde in Middeleeuse Frans, in Parys deur byna 1000 vierreëlverse van Nostradamus geworstel en in 1999 ‘n boekie gepubliseer “Nostradamus en die einde van die millennium” (Nasionale Boekdrukkery: Goodwood). Meiring se studies in die klassieke tale en sy deskundige kennis van Latyn asook sy passie vir antieke Frans, het hom toegerus om ‘n dieptestudie van Nostradamus te maak.
Volgens Meiring is Nostradmus se profetiese blik “oorweldigend op die 20e eeu gefokus”. Meiring hanteer letterlik honderde aspekte van Nostradamus se visioene. Gevolglik word net op Suid-Afrika gekonsentreer.
Nostradamus verklaar dat wanneer die wêreld sy slotperiode, voor die wederkoms nader, die politieke mag na die swart nasies sal verskuif. Christelikheid sal deur vreemde wette vervang word. In die Land van die Olifant, wat Meiring as SA tipeer, sal ‘n nuwe soort bewind ‘n einde maak aan ou onregte en ongelykhede. ‘n Verleier sit in die tronk, maar sal deur ‘n figuur wat Nostradmus “le clerc” noem, vrygelaat word. Daar sal vrede, eenheid en verandering wees. Range en ampte wat laag was sal hoog wees en die wat hoog was laag word.
Die Land van die Olifant kom egter in ‘n gewapende stryd met die Griffioen (half leeu en half arend). Nostradamus se griffioen lyk baie na een van die diere wat Daniël (7:4) uit die see sien kom. Hierdie dier het soos ‘n leeu gelyk, maar met die vlerke van ‘n arend.
Dit is wanneer die Land van die Olifant sy gesig in ‘n groot Oos/Wes-oorlog sy gesig weg van die Weste in die rigting van die Ooste draai. Die Griffioen is volgens Meiring een of ander Westerse alliansie (Europa, Brittanje, VSA). Die mitologiese betekenis van die Griffioen is dat hierdie dier die bewaker van goud is.
Nostradamus sien ‘n derde wêreldoorlog wat teen die draai van die eeue aanbreek. Dan sal dit bloed, melk, hongersnood en siekte reën. In hierdie oorlog sal die Land van die Olifant in bedwang gebring word.
Daar is interessante parallelle tussen Nostradamus en Siener van Rensburg, die Boereprofeet. Siener maak ook van die beeld van vuur gebruik. Siener sien hoe vuur uit die weste ‘n hoop nuttelose mieliestronke uitbrand. Oor die kommunisme profeteer Siener dat ‘n swart wolk uit die ooste oor Europa trek en dat daar ‘n alliansie tussen die rooi beeste (die kommuniste) en Afrika tot stand kom. Ook Siener sien ‘n derde groot oorlog aankom. Siener sien ‘n swart slang (honger en burgeroorlog) in Engeland lê. Vreemde mense in wit Westerse lande staan op teen die wittes. In SA kom donkerte en rewolusie, maar Duitsland geryp in en bring die land onder bedwang.
Dit is insiggewend om net op die internet te soek na heldersiendheid, om te weet watter waarde daar nog aan sieners geheg word. Dit natuurlik nie moontlik om die “gawe” van heldersiendheid volgens die tipiese natuurwetenskaplike metode was waar of onwaar te bewys nie. Dit is slegs oor tyd dat die waarde van die visioene van Nostradamus en van Siener beoordeel kan word. Kom ons wag en kyk …
Intussen kan u gerus Eben Meiring se Nostradamus lees en geniet!
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.