Iran se president het die onthulling dat sy land besig is met die ontwikkeling van ‘n sleutelkomponent vir ‘n kernbom, as ‘n vervalsing wat deur die VSA se regering geskep is, afgemaak.
In ‘n ekslusiewe onderhoud met ABC News se Diane Sawyer, het president Mahmoud Ahmadinejad geweier om na ‘n kopie van die vermeende dokument te kyk en dit weggewaai. “Nee, ek wil nie na hierdie soort dokument kyk nie. Dit is ‘n paar gefabriseerde papiere wat deur die Amerikaanse regering gemaak is.”
Diane Sawyer se onderhoud met Ahmadinejad sal Maandagaand in die VSA op “ABC World News with Diane Sawyer” uitgesaai word.
Dit sal die eerste keer wees dat die leier van Iran kommentaar sal lewer nadat die Britse koerant, The Times van Londen, verlede week kennis van die opspraakwekkende geheime dokumente gepubliseer het.
Volgens die koerant is Iran besig om aan ‘n neutroninisieerder te werk, die deel van ‘n atoombom wat ‘n ontploffing veroorsaak.
Nadat hy direk gevra is of Iran aan só ‘n komponent werk, het die president nie die vraag beantwoord nie.
“Ek dink dat sommige stellings oor ons kernbedrywighede in ‘n herhalende en smaaklose grap verander het,” het hy gedurende die onderhoud geantwoord.
‘n Senior Withuiswoordvoerder, David Axelrod, het die Iranse president se bewering dat die dokumente vervals is, as twak beskryf.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.