praag.co.za

Herrie se kerrie: Ons spreek in tale

Written by

in

Herrie het ‘n stalletjie op die boeremark. Eintlik, so kla baie, het dit deesdae bitter min met “boer” te make want by verre die meeste stalletjies het niks meer met landbou te make nie.

Mettertyd het baie Nigeriërs, Sjinese, Pakistani’s en ander hul opwagting begin maak, en dus het die naam “Boeremark,” soos sommige dit met ‘n hoofletter spel, ook nie meer sin begin maak nie.

Al vereiste, om aan die munisipaliteit se huurkontrak te kan voldoen, is dat die stalletjiehuurders hul ID-boekies moet kan wys.

Wat, so blyk dit uit koerantberigte, nie ‘n alte groot probleem is nie.

Maar onlangs dag Herrie hy het al als gehoor. ‘n Man het sy beursie by ‘n Nigeriër se stalletjie vergeet en aangestap. Oomblikke later kom die Nigeriër, beursie omhoog, agter die man aangehardloop: “Oom!, oom!”

In die Vrystaat is Engels nie ‘n derde taal nie. Dis ‘n vreemde taal, al meen die regering nou ook anders. Herrie ken verskeie Oos-Vrystaters wat al vertel het hoe naasliggende boere met hul gesinne by bure gaan kuier het – die een gesin Afrikaans, die ander Engels. Die ouers wonder nog hoe die kinders met mekaar gaan kommunikeer, met die een lotjie wie se Engels bestaan uit “yes” en “not yes” en die ander wie se Afrikaans tot “lorrie” beperk is. Dan speel en jil die kinders dat die windpompe bewe, en as die ouers gaan kyk, hoor hulle die kinders gebruik die gemeenskaplike taal – Suid-Sotho.

Maar af en toe blyk dit ook dat die kinders se taalvaardigheid verder strek.

Soos die slag die Sondagoggend toe daar van ‘n troue die vorige dag ‘n groot ruiker in die kerk agtergebly het. Dié ruiker trek ‘n by, en dié by gaan sit op Fransie byna heel voor in die kerk se borselkop. Skielik hef Fransie ‘n pynlike kreet aan: “Eina, hoe byt so ‘n %$&# mot my!”

Of die keer toe die kinderhuis se kinders in die kerk se voorste banke ingeryg sit toe die Kanaries op ‘n sekere Oos-Vrystaatse dorp hul sang kom tentoonstel het. Met die laaste note wat wegsterf, laat die een laaitie se ingewande hom in die steek, en dit knal deur die kerk.

Die een langsaan vlieg op en betig sy verleë maat: “Hoe durf jy *&^% in die allerheiligste van die Heer?!”

Hierdie kerklike taalvaardigheid, verneem Herrie, het tot die voortydige verdaging van die kerkdienste gelei.

cleopatra slots for freeЛобановский

Comments

Leave a Reply