praag.co.za

Saambly en die Bybelse huwelik onder die loep

Written by

in

‘n Polemiek woed tans oor saambly. Van “die kerk” word verwag om standpunt in te neem. Beter gestel: van kerke soos die NGK word gevra om leiding te gee. Aangesien daar ‘n duisternis van kerke is, sal kerke se antwoorde radikaal verskil. So sal “inheemse kerke” en ook Europees-geïnspireerde kerke, soos die Mormone (die Kerk van Jesus Christus van die heiliges van die laaste dae) van Amerika, selfs ruimte bied vir een-man-en-vele-vroue.

In die kader van die Christendom is dit beter om van ‘n Bybelse karakter van die huwelik as van ‘n Christelike karakter van die huwelik te praat. Die probleem rondom die idee van ‘n Christelike huwelik is dat, sedert Konstantyn die Grote, die kerklike en staatlike huwelik saamgeval het. Dit is die moment toe die Christelike geloof die staatsgeloof van die Romeinse owerheid geword het.

Met die helenisering van die Christendom, onder die leiding van die kerkvaders, het die band met die Judaïsme vervlak, en het die staatlike huwelik eensklaps nou ook ‘n Christelike huwelik geword. Dit het beteken dat twee huweliksmaats net kan saambly as die staatlike huwelik in die kerk voltrek is. In wese trou ‘n predikant ‘n paartjie in die kerk kragtens ‘n sanksie wat die staat aan hom/haar verleen het. Die predikant is dus ‘n staatlike huweliksbevestiger, of staatsamptenaar vir die duurte van die seremonie.

Die Christendom is ‘n veel later ontwikkeling van die Messiaanse beweging van Jesus en van die Jerusalembeweging van Jakobus as die Christelike kerk. Jesus was ‘n Jood; het in die Sinagoge aanbid, en die Jesusbeweging was daarop bedag om die koninkryk van JHVH te laat kom. Die implikasie hiervan was die omverwerping van die Romeinse juk van onderdrukking. In wese is die Griekse Christendom wat van sy Joodse wortels vervreem is, ‘n nuwe godsdiens. Wie dus vanuit die ontstaanswortels van die Christendom na die huwelik kyk moet dus by die Eerste Testament begin.

Die eerste vorm van die Bybelse huwelik waarvan ons weet is die verbintenis van twee persone uit en kragtens twee families. Dus ‘n huwelik soortgelyk aan die moderne inheemse bantoehuweliksvorm. Die vrou se produktiewe vermoë tot gesinsvorming was die waarborg vir die konstante in en van die huwelik. By gebrek aan ‘n vermoë om kinders te hê moes die familie van die vrou in die huwelik ‘n alternatief bied. Kinders wat uit die plaasvervangende vrou gebore is, is geag die kinders van die onvermoënde vrou te wees. Hierdie is die leviraatsgebruik in huweliksverbindinge.

Onder die invloed van die humanistiese individualisme het die huwelik as verbintenis tussen twee families ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Eerstens word dit toe ‘n verbintenis tussen twee huweliksmaats. Toe het die huwelik ‘n twee-eenheidsgemeenskap van een man en een vrou geword. Daarmee het die familiekonteks van ‘n huwelik binne die raamwerk van twee families vervaag.

In nog ‘n later ontwikkeling van die humanisme is die huwelik ‘n verbintenis van twee persone. Dit kan twee mans of ook twee vroue wees.

Wat dus uitgekristalliseer het is die privaatregtelike karakter van die moderne huwelik as ‘n verbintenis van twee persone.

Nader omskryf: ‘n huwelik is ‘n spesiale samelewingstruktuur van twee persone wat onder die leiding van die liefde seksuele omgang en verkeer moontlik maak.

Hierdie verbintenis kan wees ‘n privaatregtelike kontrak tussen twee persone, hetsy in die staatlike sin, of heeltemal privaat of in die openbaar bevestig by wyse van ‘n godsdienstige aksie. Laasgenoemde kan getipeer word as privaatregtelike godsdienshuwelike.

In die Bybelse konteks kan die huwelik net ‘n verbintenis wees van een-man-en-een-vrou. Die kwalifikasie van een-man-en-een-vrou, of twee persone van teenoorgestelde geslagsidentiteite, korrespondeer met die skeppingsorde. Mans en vrouens se geslagorgane verskil van mekaar en die verkeer tussen man en vrou is gerig op gesinsformasie. Dus: trou en vermeerder.

In ‘n moderne staat moet die staatsregtelike karakter van die huwelik ook voorsiening maar vir privaatregtelike huwelike, by byvoorbeeld tradisionele gemeenskappe of godsdiensgroeperinge.

As formele saambly gepaard gaan met ‘n plegtige verbintenis tussen twee persone wat seksuele verkeer moontlik maak onder die leiding van die liefde, maar dan nog nie met ‘n staatsregtelike karakter nie, dan kan geen besware daarteen geopper woorde nie.

Wat “ortodokse” ouers vir hulle kinders moet sê is dat seksuele verkeer tussen twee mense in prinsipe ‘n huweliksband daarstel; ‘n huweliksband wat, as dit verbreek word, op egbreek neerkom.

слюнявчики для детей купитьДанильченко

Comments

Leave a Reply