praag.co.za

Tag: saambly

  • Trou is nie perdekoop

    Watter persoon sal ‘n koei koop as jy in elk geval die melk verniet kan kry?

    Bogenoemde argument mag miskien op ‘n gruwelike vereenvoudiging van saamblyverhoudings neerkom, maar dit is nie erger as om die huwelik gelyk te stel aan ‘n “tjap in ‘n ID boek” nie soos Tim du Plessis in Beeld skryf of om dit te reduseer tot dít wat te vinde is tussen mense wat wél trou teenoor mekaar beloof het, maar nié binne die reëls en waardes van daardie belofte handel nie.

    Dit is vir my opvallend dat die huidige debat rondom die meriete van saambly teenoor trou wat hoofsaaklik in die media woed, nie die redes toets wat grondliggend is tot die besluit om saam te bly eerder as om te trou nie.

    In my ervaring is die redes om maar net saam te woon meestal in eiebelang, selfs vrekkigheid, gewortel. Dit is om jou opsies oop te kan hou, sou daar dalk ‘n beter proposisie jou pad mag kruis, of om jou “bates te beskerm.” Dit is om soos ‘n wafferse Zimbabwiese “oorlogsveteraan” (wat nie eens oud genoeg is om deel te gehad het in Zanu-PF se bevrydingstryd nie) op ‘n weelderige plaas aanspraak te maak, dit selfs te neem, sonder om daarvoor te wil betaal.

    In ‘n land waar dit die norm geword het om te neem wat jy nie verdien nie, is dit sekerlik ook aanvaarbaar om die vrugte van ‘n huwelik te wil neem, sonder om die belofte te betaal wat dit veronderstel is om as teenprestasie te vra.

    Grondliggend tot die denke wat hierdie diefstal van die vrugte van die huwelik aanvaarbaar maak, is die relativering van die instelling van die huwelik. In die dae wat die huwelik nog die bastion van gesinslewe gevorm het, het ewige trou ook ewige toewyding gevra, geestelik en materieel. Onder andere is die materiële toewyding ondergrawe deur troues buite gemeenskap van goed te skep. Vandag word die ondergrawing van die geestelike bepleit deur die belofte uit te haal. Die finale spyker in die kis wat die waardigheid van die huwelik ontneem, is om dit te beperk tot “’n tjap in ‘n ID boek.”

    Die ironie van dit alles, is dat wetgewing sodanig verander het dat wanneer jy die melk geneem het, jy nog steeds vir die koei sal moet betaal, selfs al glo jy die teendeel, want dit ken vandag dieselfde regte en verpligtinge onderling toe aan persone wat in ‘n saamblyverhouding is, as aan mense wat trou. Al wat jy dus in werklikheid kan spaar deur nie te trou nie, is die belofte tot getrouheid voor getuies. Al wat dit jou maak, sou jy hierdie keuse neem, is ‘n lafaard.

     

    полиграфДанильченко Юрий Брониславович Харьков

  • Saambly en die Bybelse huwelik onder die loep

    ‘n Polemiek woed tans oor saambly. Van “die kerk” word verwag om standpunt in te neem. Beter gestel: van kerke soos die NGK word gevra om leiding te gee. Aangesien daar ‘n duisternis van kerke is, sal kerke se antwoorde radikaal verskil. So sal “inheemse kerke” en ook Europees-geïnspireerde kerke, soos die Mormone (die Kerk van Jesus Christus van die heiliges van die laaste dae) van Amerika, selfs ruimte bied vir een-man-en-vele-vroue.

    In die kader van die Christendom is dit beter om van ‘n Bybelse karakter van die huwelik as van ‘n Christelike karakter van die huwelik te praat. Die probleem rondom die idee van ‘n Christelike huwelik is dat, sedert Konstantyn die Grote, die kerklike en staatlike huwelik saamgeval het. Dit is die moment toe die Christelike geloof die staatsgeloof van die Romeinse owerheid geword het.

    Met die helenisering van die Christendom, onder die leiding van die kerkvaders, het die band met die Judaïsme vervlak, en het die staatlike huwelik eensklaps nou ook ‘n Christelike huwelik geword. Dit het beteken dat twee huweliksmaats net kan saambly as die staatlike huwelik in die kerk voltrek is. In wese trou ‘n predikant ‘n paartjie in die kerk kragtens ‘n sanksie wat die staat aan hom/haar verleen het. Die predikant is dus ‘n staatlike huweliksbevestiger, of staatsamptenaar vir die duurte van die seremonie.

    Die Christendom is ‘n veel later ontwikkeling van die Messiaanse beweging van Jesus en van die Jerusalembeweging van Jakobus as die Christelike kerk. Jesus was ‘n Jood; het in die Sinagoge aanbid, en die Jesusbeweging was daarop bedag om die koninkryk van JHVH te laat kom. Die implikasie hiervan was die omverwerping van die Romeinse juk van onderdrukking. In wese is die Griekse Christendom wat van sy Joodse wortels vervreem is, ‘n nuwe godsdiens. Wie dus vanuit die ontstaanswortels van die Christendom na die huwelik kyk moet dus by die Eerste Testament begin.

    Die eerste vorm van die Bybelse huwelik waarvan ons weet is die verbintenis van twee persone uit en kragtens twee families. Dus ‘n huwelik soortgelyk aan die moderne inheemse bantoehuweliksvorm. Die vrou se produktiewe vermoë tot gesinsvorming was die waarborg vir die konstante in en van die huwelik. By gebrek aan ‘n vermoë om kinders te hê moes die familie van die vrou in die huwelik ‘n alternatief bied. Kinders wat uit die plaasvervangende vrou gebore is, is geag die kinders van die onvermoënde vrou te wees. Hierdie is die leviraatsgebruik in huweliksverbindinge.

    Onder die invloed van die humanistiese individualisme het die huwelik as verbintenis tussen twee families ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Eerstens word dit toe ‘n verbintenis tussen twee huweliksmaats. Toe het die huwelik ‘n twee-eenheidsgemeenskap van een man en een vrou geword. Daarmee het die familiekonteks van ‘n huwelik binne die raamwerk van twee families vervaag.

    In nog ‘n later ontwikkeling van die humanisme is die huwelik ‘n verbintenis van twee persone. Dit kan twee mans of ook twee vroue wees.

    Wat dus uitgekristalliseer het is die privaatregtelike karakter van die moderne huwelik as ‘n verbintenis van twee persone.

    Nader omskryf: ‘n huwelik is ‘n spesiale samelewingstruktuur van twee persone wat onder die leiding van die liefde seksuele omgang en verkeer moontlik maak.

    Hierdie verbintenis kan wees ‘n privaatregtelike kontrak tussen twee persone, hetsy in die staatlike sin, of heeltemal privaat of in die openbaar bevestig by wyse van ‘n godsdienstige aksie. Laasgenoemde kan getipeer word as privaatregtelike godsdienshuwelike.

    In die Bybelse konteks kan die huwelik net ‘n verbintenis wees van een-man-en-een-vrou. Die kwalifikasie van een-man-en-een-vrou, of twee persone van teenoorgestelde geslagsidentiteite, korrespondeer met die skeppingsorde. Mans en vrouens se geslagorgane verskil van mekaar en die verkeer tussen man en vrou is gerig op gesinsformasie. Dus: trou en vermeerder.

    In ‘n moderne staat moet die staatsregtelike karakter van die huwelik ook voorsiening maar vir privaatregtelike huwelike, by byvoorbeeld tradisionele gemeenskappe of godsdiensgroeperinge.

    As formele saambly gepaard gaan met ‘n plegtige verbintenis tussen twee persone wat seksuele verkeer moontlik maak onder die leiding van die liefde, maar dan nog nie met ‘n staatsregtelike karakter nie, dan kan geen besware daarteen geopper woorde nie.

    Wat “ortodokse” ouers vir hulle kinders moet sê is dat seksuele verkeer tussen twee mense in prinsipe ‘n huweliksband daarstel; ‘n huweliksband wat, as dit verbreek word, op egbreek neerkom.

    слюнявчики для детей купитьДанильченко