praag.co.za

Brandende buitebande op die horison

Written by

in

Dit word deesdae ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika, en om Wayne Minnaar van die metropolisie uit vandag, 23 Julie, se Beeld aan te haal na soortgelyke padblokkades, “is die redes waarom daar protes aangeteken word, onbekend”. Onmiddellik het die gedagte dat die politieke goue middeweg ook lankal gesluit is by my opgekom.

Die pad van redelikheid is ’n cul de sac in Afrika maar tog is daar diegene wat aandring daarop dat die pad na iewers moois heen lei. Hierdie hoopvolle dromers se vertrekpunt is goeder trou, ’n ou uitgediende en edel Europese beginsel wat so effektief in Afrika is soos lugreëling in ’n poreuse plakkershut. Dit is so tuis soos Helen Zille met ’n voorlaaier in die Bloedrivierlaer.

As ’n mens die amptelike politieke opposisie moet vergelyk met ’n voertuig, sou die DA ’n Koreaanse sportnutsvoertuig moes wees. ’n Tipiese “Softroader” wat met al vier wiele kan trek, maar nie oor die lae ratverhoudings beskik om ’n strawwe Afrika-ekspedisie aan te pak nie. Dié tipe voertuig probeer om twee dinge tegelyk te wees en hy slaag nie daarin om uit te blink in een van die twee nie.

En dit is hoe ek die DA sien, hulle vry onbeskaamd na swart stemme, maar terselfdertyd probeer hulle mooipraatjies by die blankes maak dat hulle dinge kan verbeter. In hul sportnutsvoertuig is hulle op reis deur Afrika, soos ’n spul buitelandse toeriste met hul nuutgekoopte kakiehoede en digitale kameras om die nek, op pad na die redelike en regverdige toekoms van die reënboognasie. Min wetend, natuurlik, dat die pad vorentoe reeds versper is met brandende buitebande en klippe.

Ek vermoed dat die huidige regering die DA as niks meer as ’n ligte irritasie ervaar nie, soos ’n paar knapsekêrels om die kous wat jy toevallig opmerk as jy gaan sit om te rus onder ’n koelteboom. Dit is duidelik dat die DA slegs klou aan die kous van die ANC, afgelei uit hul onlangse tentkampidee by die Zimbabwe-grens as tydelike verligting vir die derduisende vlugtelinge van Suid-Afrika se nuwe noordelike provinsie, Zimbabwe.

Ewe skielik is grensbeheer nie meer ’n prioriteit vir hulle nie, maar eerder wat die belastingbetaler se geld vir die tydelike menswaardigheidskwessie rondom hierdie voorspelbare gemors kan doen. ’n Behandeling van die simptome, en nie die oorsaak nie.  Die regering het egter daardie irriterende knapsekêreltjie sommer vinnig afgevee deur opdrag te gee dat die vlugtelinge sommer dadelik in die Suid-Afrikaanse nasie opgeneem gaan word.

Die eienaardigste deel van hierdie prentjie is egter die karavaan wat die DA-sportnutsvoertuig agterna sleep, in die gouemiddewegreisigerskonvooi. Terwyl tannie Zille aan die stuur is met die lugreëling aan en ’n spulletjie Engelse op die maat van die musiek van Johnny Clegg oor die horison verdwyn, sien ek ’n klompie verwarde Afrikaners agter in die karavaan met hul neuse teen die perspex-vensters om tevergeefs te probeer vasstel waarheen hul op pad is.

Hierdie Afrikaners is die tipe wat kontak met hul verlede verbreek het uit skaam- en skuldgevoelens. Afrikaners wat nie bereid is om te lees en die waarheid te ken nie. Lees: lui Afrikaners wat eerder enige iets glo wat hul vertel word deur die nuuslesers en redakteurs van die Nasionale Pers. Goed gekondisioneerd, onvoorbereid en ver verwyderd van die realiteit, reis hulle saam met die spulletjie Britse bywoners met hulle uitgediende liberale idees op die tydelike teerpad van die goue middeweg.

Ons, wat die swart rookwolke van die brandende buitebande op die horison kan sien, wuif en roep na hulle, maar dit blyk tevergeefs. Hul is gerig op hoopvolle bevordering vanaf die bedompige skaamboerkaravaan na die relatiewe gemak van die Engelssprekende geselskap in die sleepvoertuig met lugreëling.

online casino greeceДанильченко Юрий прокурор

Comments

Leave a Reply