O, die telbord sal môreaand in die strakste terme rapporteer dat die Springbokke hulle toets teen die Azzuri – die Bloues van Italië – gewen het. Maar die Springbokke sal van die veld afstrompel met die gegiggel van die wyer rugbywêreld wat besig is om in ‘n geskater uit te swel, soos die finale ensemble in ‘n komiese opera. Want die Springbokke gaan spoorstawe kou in ‘n paar voorspelerfasette van die spel.
Neem nou maar vir Wian du Preez, die debutant. Hy is ‘n goeie, gewillige skrumwerker. Hy is ook ‘n lam ter slagting, of dan, ter arena waar ‘n bul op hom wag in die omtrekke van die vaskopstut Martin Castrogiovanni. Dit is dieselfde kruiptrekker van ‘n stut wat in die Bokke se eerste mistroostige uitstappie van hulle huidige toer teen Leicester Tigers, die Springbok-voorry verbrysel het. Du Preez beter sy kepsontvangsseremonie gate uit geniet, want hy gaan sukkel om na die wedstryd, met sy kop tussen sy skouers ingeskrum, enige tekens van uitgelatenheid te toon. En dit is nie eers heeltemal sy eie skuld nie, nie eers vernaamlik sy skuld nie. Die probleem is dat die Springbokke ophou skrum sodra die bal gehaak is, want dan wil hulle gaan voetbal speel. Dit is juis dán wat die Europeërs lekker begin stoot. So, in die skrums gaan dit knetter, en dit is die arme Du Preez op wie se kop die katedraal van Springbokrugby gaan ineenstort.
Victor Matfield kan bly wees dat hy die uitstappie se aanvanklike brutaliteit gespaar is. Hy en Tendai “Onwettige Immigrant” Mtawarira het ‘n vakansie na die reserwebank gewen. Saam met hulle op die dennehout sal twee nuwe Springbokke, Francois Hougaard en Jean Deysel wees. Schalk Burger en Bismarck du Plessis is op siekverlof en Danie Rossouw sal op die buitekant van die skrum wees en Adriaan Strauss sal op haker uitdraf. Andries Bekker, besig om sy eie Springbok-CV saam te stel, sal maak of hy Victor Matfield langs Bakkies Botha is.
Die Springbokke, so tam soos ‘n Friesbul na ‘n maand tussen ‘n honderd koeie, gaan nie lus wees vir enige fraai nuwe spelplanne nie. Daarom gaan dit ‘n skop-en-stormstryd wees, een wat die Springbokke ongetwyfeld teen die stokkerige skakels en driekwarte van die Italianers gaan wen. Nie dat ons veel drieë kan verwag nie. Die Italianers is nie die skerpste spiese op die aanval nie, maar hulle verdedig so dodelik soos landmyne en so knaend soos winter. Vra maar die All Blacks. Maar op die verdediging maak hulle foute en Morné Steyn sal vir hulle die driemaaltafel leer met al die strafskoppe waaruit hy gaan punte maak.
So, verwag dat die Springbokke ‘n slordige, frustrerende foutverslonste wedstryd gaan wen.
Die Springbokke het ‘n uitmuntende jaar gehad, maar môre sal die Italianers onderstreep dat dit verby is.
Soos Canio die nar aan die einde van I Pagliacci kreun: “La commedia é finita!”
Die komedie is verby.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.