Die Christelike sendingsopdrag het Europeërs genoop om Die Woord onder barbaarse stamme in Afrika te versprei en sendingstasies is reeds in die 1780s in Suidelike Afrika deur die Morawiërs gestig. Hulle is opgevolg deur ander Europese sendinggenootskappe, onder andere die “Church Missionary Society” en die Londense Sendinggenootskap. Uiteindelik het bekende sendelinge, onder andere Robert Moffatt, David Livingston en John Smith Moffatt, sendingstasies in Suidelike Afrika gestig, met die uitsluitlike doel om te kersten, om “horde[s] of bloodthirsty savages” in mense te verander wat kuns en beskaafde lewe waardeer, en wat kan lees en skryf.
Die idee dat “Afrika gered moet word”, en dat historiese Afrikane ongeletterde en onskuldige barbare is wat [nog] nie deur Westerse denke besmet is nie of dat Afrikane die onskuldige en ongekunstelde slagoffers is van Westerse Imperialisme, is dus omtrent so oud soos die Weste se ontdekking van die kontinent Afrika. Die Westerse begrip van die onbesmette “edele barbaar” word aan die wysgeer Rousseau toegeskryf, maar miskien was Rousseau se denke net ’n weerspieëling van die sendelingopdrag onder Christene, wat berge sou versit om aan “barbare” en “savages” Die Woord van God te bring. Vandaar die invloedryke sendelinge en die belangrike geskiedkundige rol wat hulle in die koloniale tydvak gespeel het.
Daar bestaan steeds sendelinge en as hulle prominensie afgeneem het, is die sendelingopdrag nog steeds sterk in die Weste gevestig. Westerse leiers wat hulle klere figuurlik oor Afrika skeur, wat hulp belowe en mildelik uitdeel en wat Afrika se ellendes gebruik om hulle morele waardigheid te hervestig, kom in alle geure. Westerse leiers het die sendelingopdrag so verinnerlik dat hulle vandag die verpersoonliking van die 18de-eeuse sendeling is. Nie meer Livingston en Moffatt nie, maar Blair, Bush en die Pous. Nog nooit het soveel Westerse leiers van soveel lande soveel hulp so gretiglik onder Afrikane verdeel nie. Planne, begrotings, internasionale hulp, word weekliks, indien nie daagliks nie, aangekondig terwyl Westerse aktiviste soos die handewringende Bono en Stephen Lewis leiers aanmoedig en verdoem as ongevoelige rassiste wat Afrika se pyn nie genoeg voel nie.
En vergiffenis vir die Weste se koloniale vergrype, wat kwansuis Afrika se armoede veroorsaak het, kom uit die beursie. “Gee geld!”, mnr. Blair, mnr. Bush, mnr. Sarkozy, en Frau Merkel, en dan sal julle sondes oor Afrika gewas word. En dan reën die geld, mildelik en aanhoudend. En dan dans Afrika se leiers rond van blydskap, tot die volgende keer as nog meer hulp beloof en gegee word.
Afrika die hopelose en hulpelose. Afrika die verhongerde en sterwende kind. Afrika wat bakhand staan terwyl die groot wit Westerse helde, omtrent deur die bank manlik, geld uitdeel, geld wat verduister word en later in Switserse bankrekenings beland. Dit alles ’n bose kringloop van geveinste bekommernis oor hopelose Afrika se nood; die wit helde wat Afrika soos sendelinge sal kom red; en wat aanspraak op morele hoogtes maak deur geld uit te deel; geld wat uiteindelik in Afrika se leiers se sakke eindig om hulle skatryk te maak. Die deursnee-Afrikaleier besit reeds alles wat hy aanskou. Al die vroue, al die motors, al die geld en natuurlik ook al die grond. En natuurlik ook die bankrekeninge in Switserland, en die goue trone, en die vlote motors en vliegtuie en vakansiehuise. Dít terwyl Tony Blair en George Bush en John Howard hulle onsteltenis oor Afrika se hopeloosheid verkondig en nog planne maak om soos die kavallerie Afrika binne te galop en te red.
En Afrika het plan na plan ingesluk. Die Kanadese het kom ploeg. Westerse hulp om hongersnood in Etiopië te stop het uiteindelik in ’n bloedige burgeroorlog in Eritrea ontaard. Hongersnood en oorlog het Soedan en Somalië toe verskuif. Westerse inmenging in Rhodesië het Zimbabwe en Robert Mugabe met die gepaardgaande katastrofe gebaar. Westerse geld en kundigheid in Nigerië, in die Ivoorkus, in Kenia, in Tanzanië, in Zambië, het net armoede en geweld gebaar, dít terwyl siekties soos malaria en vigs hulle dodemars oor die kontinent laat weerklink in ’n makabere dans met tuberkulose.
Dat Westerse hulp Afrika glad nie help nie, maar eerder skaad, word vermoed. Maar die Westerse hulpnywerheid is so invloedryk en die Westerse sendingopdrag so oorweldigend dat kritici doodeenvoudig opsygeskuif word en nog meer planne beraam word om nog meer geld te gee. Dat geen mate van skenkings aan Rusland, ’n land wat 99% geletterd is, toestande daar kon verbeter nie, maak skynbaar geen indruk op diegene soos Blair, Carter, Bono en Lewis nie. Afrika, wat kwalik 50% geletterd is, met ten minste ses keer Rusland se bevolking, kan deur Westerse vrygewigheid gered word. Dit is beter om goed te wees as om reg te wees en om skenkings vir Afrika te bepleit, maak mens goed.
“Afrika is hopeloos, en aan haar is daar geen salf te smeer nie”, pleit Westerse skeptici as hulle vyftig jaar van mislukking en ekonomiese verval, ten spyte van miljarde dollars se hulp, aanskou. “Miskien moet Afrika aan haar eie lot oorgelaat word – Westerse hulp veroorsaak net ’n bevolkingsontploffing wat toestande vererger in ’n bose spiraal: meer hulp, meer geboortes, meer monde, meer nood”, sê die meer siniese beleidmakers. “Ons moet Afrika red!” meen Tony Blair en Jimmy Carter en Stephen Lewis en Bono, asook die Verenigde Nasies, van oorloë en pestilensies en hongersnood, en gedurende die apartheidsjare, ook red van wit Suid-Afrikaners, wat die sendelingopdrag nie wou uitvoer nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.