praag.co.za

Tag: Hulp aan Afrika

  • ‘Hulp aan Afrika is dom en gevaarlik’

    ‘Hulp aan Afrika is dom en gevaarlik’

    Paul Theroux
    Paul Theroux

    Volgens Dambisa Moyo , ‘n Oxford-ekonoom en voormalige konsultant vir die Wêreldbank, is daar die afgelope halfeeu meer as $2 triljoen in Westerse hulp aan arm lande geskenk.

    Sedert die 1940’s is ongeveer een triljoen dollar in geldelike steun aan Afrika alleen oorgedra.

    Dr Moyo voer in haar blitsverkoperboek van 2009, Dead Aid: Why Aid Is Not Working and How There Is a Better Way for Africa, aan hoekom dit grootliks geldmors is.

    Die boek van dié Zambiese boorling het op die New York Times se blitsverkoperlys verskyn en daarin toon sy aan hoe Westerse hulp die belofte van volhoubare ekonomiese groei en die vermindering van armoede geensins oplos nie.

    Moyo sien nie ‘n korrelasie tussen hulp en ekonomiese groei ie, anders as wat byvoorbeeld die Ierse popsanger Bono sou hoop.

    “Oor die afgelope dertig jaar,” skryf sy, “het die meeste hulpafhanklike lande groeikoerse van gemiddeld minus 0,2 persent per jaar getoon”.

    Tussen 1970 en 1998 het hulpgeld na Afrika ‘n hoogtepunt bereik , maar in dieselfde tyd het armoede op die vasteland eintlik opgeskiet van 11 persent tot ‘n skokkende 66 persent.

    Dit sou ‘n eufemisme wees om te sê dat Moyo en haar boek die hulpgemeenskap die harnas in gejaag het deur hulle fiksie oor hul eie voortrefllikheid en goedheid teenoor swartes te ontbloot.

    Maar Moyo is nie die enigste prominente ekonoom wat ‘n swak vertoning van Westerse hulp-programme oopgevlek het nie.

    William Easterly, voormalige seniorekonoom by die Wêreldbank, het bevind dat hulp feitlik geen impak op ekonomiese groei in die ontvangerlande maak nie.

    In sy boek The White Man’s Burden: Why the West’s Efforts to Aid the Rest Have Done So Much Ill and So Little Good (Penguin, 2007),skryf Easterly, “tussen 1950-2001 het lande met ondergemiddelde hulp dieselfde groeikoers as lande met ‘ n bo-gemiddelde buitelandse hulp getoon.”

    Easterly voel dit ondersteun die leuen, algemeen onder voorstanders van buitelandse hulp, dat arm lande hulp van ryk lande benodig om te ontsnap van die “armoede lokval.”

    In die geheel gesien, skryf hy, “het swak lande sonder hulp geen probleme met positiewe groei nie.”

    Hoe kan dit wees dat so baie geld so min goed doen?

    Easterly argumenteer dat baie van die geld vir verbruik gaan eerder as vir kapitale belegging wat nodig is BBP te verhoog.

    In werklikheid, het ‘n studie deur die London School of Economics se ekonoom Peter Boone bevind dat Westerse hulp absoluut geen effek op die soort belegging het nie.

    Baie van die hulpgeld wat bedoel is om te gaan na die armes van Afrika, beland in die skatkis van die vasteland se korrupte regerende elite.

    In 2002 het ‘n studie deur die Afrika-Unie beraam dat korrupsie die vasteland ongeveer $150 miljard ‘n jaar kos.

    Vergelyk dit met meer as $22 miljard in steun aan lande in sub-Sahara-Afrika in 2008 alleen volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD ), en ‘n mens kry ‘n gevoel van hoe endemies en verlammend korrupsie werklik is .

    Baie van die geld wat spandeer word aan hulp aan Afrika, word eenvoudig vermors.

    Vra net vir Paul Theroux , wat in “The Rock Star’s Burden,” NewYork Times, December 15, 2005, ‘n vernietigende kritiek van die Westerse hulp in die algemeen en Bono in die besonder, lewer.

    Theroux argumenteer dat “die indruk dat Afrika noodlottig gefaal het en slegs deur hulp van buite gered kan word … is ‘n vernietigende en misleidend gedagte,” wat blywende skade aan swartes aanrig deur die bevordering van ‘n kultuur van afhanklikheid en magteloosheid om die openbare profiele en buitensporige ego’s van bekendes en politici te streel.

    Theroux sê die “meer geld”-benadering van mense soos Bono, het heeltemal misluk. “Meer geld wat op dieselfde ou manier oorhandig word, is om nie ‘n verkwisting nie, maar dom en gevaarlik.”

    Dom en skadelik. Dit is die mening van ‘n man wat die resultaat van hulp in oorvloed gesien het.

    Malawi , sê hy, is tans “erger opgevoed, meer geteister deur siekte en slegte dienslewering, armer as wat dit was toe ek daar gewoon en gewerk het in die vroeë 60s.”

    En Malawi se haglike toestand tans is nie ‘n gevolg van onvoldoende buitelandse hulp nie. “Malawi is die begunstigde van duisende buitelandse onderwysers, dokters en verpleegsters, en groot bedrae finansiële hulp, en tog het dit van ‘n land met ‘n belofte tot ‘n mislukte staat gevorder.”

    Ongelukkig is die bewyse oorvloedig dat hulp aan Afrika min verskil gemaak het aan die verbetering van hul ekonomieë.

    Trouens, baie gebiede van die vasteland is nou slegter af as wat hulle was dekades gelede was, voor die sluise van die Westerse hulp ten volle oopgetrek het en Apartheid afgeskaf is.

  • Hulp aan Afrika

    Die Christelike sendingsopdrag het Europeërs genoop om Die Woord onder barbaarse stamme in Afrika te versprei en sendingstasies is reeds in die 1780s in Suidelike Afrika deur die Morawiërs gestig.  Hulle is opgevolg deur ander Europese sendinggenootskappe, onder andere die “Church Missionary Society” en die Londense Sendinggenootskap. Uiteindelik het bekende sendelinge, onder andere Robert Moffatt, David Livingston en John Smith Moffatt, sendingstasies in Suidelike Afrika gestig, met die uitsluitlike doel om te kersten, om “horde[s] of bloodthirsty savages” in mense te verander wat kuns en beskaafde lewe waardeer, en wat kan lees en skryf.

    Die idee dat “Afrika gered moet word”, en dat historiese Afrikane ongeletterde en onskuldige barbare is wat [nog] nie deur Westerse denke besmet is nie of dat Afrikane die onskuldige en ongekunstelde slagoffers is van Westerse Imperialisme, is dus omtrent so oud soos die Weste se ontdekking van die kontinent Afrika. Die Westerse begrip van die onbesmette “edele barbaar” word aan die wysgeer Rousseau toegeskryf, maar miskien was Rousseau se denke net ’n weerspieëling van die sendelingopdrag onder Christene, wat berge sou versit om aan “barbare” en “savages” Die Woord van God te bring. Vandaar die invloedryke sendelinge en die belangrike geskiedkundige rol wat hulle in die koloniale tydvak gespeel het.

    Daar bestaan steeds sendelinge en as hulle prominensie afgeneem het, is die sendelingopdrag nog steeds sterk in die Weste gevestig. Westerse leiers wat hulle klere figuurlik oor Afrika skeur, wat hulp belowe en mildelik uitdeel en wat Afrika se ellendes gebruik om hulle morele waardigheid te hervestig, kom in alle geure. Westerse leiers het die sendelingopdrag so verinnerlik dat hulle vandag die verpersoonliking van die 18de-eeuse sendeling is. Nie meer Livingston en Moffatt nie, maar Blair, Bush en die Pous. Nog nooit het soveel Westerse leiers van soveel lande soveel hulp so gretiglik onder Afrikane verdeel nie. Planne, begrotings, internasionale hulp, word weekliks, indien nie daagliks nie, aangekondig terwyl Westerse aktiviste soos die handewringende Bono en Stephen Lewis leiers aanmoedig en verdoem as ongevoelige rassiste wat Afrika se pyn nie genoeg voel nie.

    En vergiffenis vir die Weste se koloniale vergrype, wat kwansuis Afrika se armoede veroorsaak het, kom uit die beursie. “Gee geld!”, mnr. Blair, mnr. Bush, mnr. Sarkozy, en Frau Merkel, en dan sal julle sondes oor Afrika gewas word. En dan reën die geld, mildelik en aanhoudend. En dan dans Afrika se leiers rond van blydskap, tot die volgende keer as nog meer hulp beloof en gegee word.

    Afrika die hopelose en hulpelose. Afrika die verhongerde en sterwende kind. Afrika wat bakhand staan terwyl die groot wit Westerse helde, omtrent deur die bank manlik, geld uitdeel, geld wat verduister word en later in Switserse bankrekenings beland. Dit alles ’n bose kringloop van geveinste bekommernis oor hopelose Afrika se nood; die wit helde wat Afrika soos sendelinge sal kom red; en wat aanspraak op morele hoogtes maak deur geld uit te deel; geld wat uiteindelik in Afrika se leiers se sakke eindig om hulle skatryk te maak. Die deursnee-Afrikaleier besit reeds alles wat hy aanskou. Al die vroue, al die motors, al die geld en natuurlik ook al die grond. En natuurlik ook die bankrekeninge in Switserland, en die goue trone, en die vlote motors en vliegtuie en vakansiehuise. Dít terwyl Tony Blair en George Bush en John Howard hulle onsteltenis oor Afrika se hopeloosheid verkondig en nog planne maak om soos die kavallerie Afrika binne te galop en te red.

    En Afrika het plan na plan ingesluk. Die Kanadese het kom ploeg. Westerse hulp om hongersnood in Etiopië te stop het uiteindelik in ’n bloedige burgeroorlog in Eritrea ontaard. Hongersnood en oorlog het Soedan en Somalië toe verskuif. Westerse inmenging in Rhodesië het Zimbabwe en Robert Mugabe met die gepaardgaande katastrofe gebaar. Westerse geld en kundigheid in Nigerië, in die Ivoorkus, in Kenia, in Tanzanië, in Zambië, het net armoede en geweld gebaar, dít terwyl siekties soos malaria en vigs hulle dodemars oor die kontinent laat weerklink in ’n makabere dans met tuberkulose.

    Dat Westerse hulp Afrika glad nie help nie, maar eerder skaad, word vermoed. Maar die Westerse hulpnywerheid is so invloedryk en die Westerse sendingopdrag so oorweldigend dat kritici doodeenvoudig opsygeskuif word en nog meer planne beraam word om nog meer geld te gee. Dat geen mate van skenkings aan Rusland, ’n land wat 99% geletterd is, toestande daar kon verbeter nie, maak skynbaar geen indruk op diegene soos Blair, Carter, Bono en Lewis nie. Afrika, wat kwalik 50% geletterd is, met ten minste ses keer Rusland se bevolking, kan deur Westerse vrygewigheid gered word. Dit is beter om goed te wees as om reg te wees en om skenkings vir Afrika te bepleit, maak mens goed.

    “Afrika is hopeloos, en aan haar is daar geen salf te smeer nie”, pleit Westerse skeptici as hulle vyftig jaar van mislukking en ekonomiese verval, ten spyte van miljarde dollars se hulp, aanskou. “Miskien moet Afrika aan haar eie lot oorgelaat word – Westerse hulp veroorsaak net ’n bevolkingsontploffing wat toestande vererger in ’n bose spiraal: meer hulp, meer geboortes, meer monde, meer nood”, sê die meer siniese beleidmakers. “Ons moet Afrika red!” meen Tony Blair en Jimmy Carter en Stephen Lewis en Bono, asook die Verenigde Nasies, van oorloë en pestilensies en hongersnood, en gedurende die apartheidsjare, ook red van wit Suid-Afrikaners, wat die sendelingopdrag nie wou uitvoer nie.

    Dit is die Weste se groot aanklag teen Afrikaners. Afrikaners wat Afrikane kwansuis nie opgevoed het nie, maar wat skynbaar net Bantoe-onderwys aangebied het. Dít, nieteenstaande die feit dat dit ’n onmoontlike taak vir ’n minderheid is om ’n vinnig groeiende meerderheid op te voed. En nieteenstaande die feit dat Bantoe-onderwys geletterdheid gebring het, waar daar voorheen niks was nie. En ten spyte van hierdie geskiedenis is daar nog ’n groot Afrikaner-elite wat glo dat Afrikaners sendelinge moet wees, om Afrika te kersten en verantwoordelikheid te aanvaar vir die opvoeding van Afrikane, en wat gewillig Afrikaanse skole en universiteite herdefineer om Afrikane ten koste van Afrikaners te akkommodeer. Die sendelingopdrag is inderdaad sterk gevestig in die Westerse lewensuitkyk van Afrikaners. Maar miskien raak dit nou tyd om dit te verwerp.

    бардолино италия вино красное сухоеалександр лобановский харьков класс