Die bestuur van die Cahora Bassadam sê hulle was nie ingelig oor die buitelandse komplot om die hidroelektriese skema te vernietig nie. Volgens die Mosambiekse sentrale nuusagentskap AIM, het hulle van niks geweet nie.
"Dit kom as 'n yslike verrassing vir ons. Die polisie het ons hoegenaamd nie daaroor ingelig nie," het Paulo Muxanga, voorsitter van die dam se bestuursliggaam HCB, aan AIM gesê.
Muxanga sê hy het eers van die beweerde komplot te hore gekom deur mediaberigte.
Die polisie het beslag gelê op 500kg van 'n korrosiewe middel wat gebruik sou word om die turbines te vernietig, maar die middel is nog nie geïdentifiseer nie.
Suid-Afrika se departement van buitelandse sake het Woensdag konsulêre toegang gevra na die Suid-Afrikaner in aanhouding.
Televisao de Mozambique, die nasionale uitsaaier, het gesê president Armando Guebuza het die bevolking om kalmte gemaan.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.