Nog niemand is in hegtenis geneem nie in verband met die wrede slagting van nege Bonsmara-beeste op ‘n plaas in die Potchefstroom-distrik in Noordwes.
Veiligheidskoördineerder van die plaaslike brandvereniging se Groep Ses, Sarel van der Wat, sê die eienaars, Marius en Ben Fouché, van ‘n plaas in dié distrik by die R500 op die grens tussen Parys in die Vrystaat en Fochville in Gauteng het Saterdagoggend agtergekom daar is van hul trop beeste weg.
Hulle het later op die reste van altesaam nege dooie beeste, waaronder dragtige koeie, in die veld afgekom.
Van der Wat sê twee beeste is geslag, terwyl die res lewend met skerp voorwerpe gekap is. Die diere se skouerblaaie en boude is afgekap.
Daar is baie bewysstukke op die toneel gekry. Hy sê die eienaars is geskok in die wreedheid van die slagting en die feit dat klein kalfies langs hul dooie ma’s gestaan het.
Van der Wat sê nog vyf erg verminkte beeste is Maandag in ‘n bos naby ‘n berg op die plaas gekry. Hulle is ook wreed gekap vir hul vleis.
Twee van die beeste moes van kant gemaak word. Hy sê daar is goeie samewerking tussen lede van die brandvereniging en die polisie om die swart booswigte aan te keer.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.