Prins Harry van Brittanje het gister om verskoning gevra nadat ’n videogreep wat hy self gemaak het vorendag gekom het waarin hy na 'n weermagkollega as 'n "Paki" en 'n "vadoekkop" verwys.
Die News of the World-poniekoerant het 'n nuwe herrie veroorsaak nadat die prins vier jaar gelede 'n Nazi-uniform met 'n swastika na 'n kostuumpartytjie gedra het.
Harry, wat ’n luitenant in die weermag is, word daarvan beskuldig dat hy die aanmerkings in 2006 op ’n lughawe gemaak het terwyl soldate gewag het om na Ciprus te gaan vir opleiding. Die Britse prins was destyds nog 'n kadetoffisier.
Terwyl sy kollegas indut, is Harry besig om met 'n videokamera op te neem. As hy 'n kollega van Suid-Asiese oorsprong sien, sê hy in die video: "Nog iemand… A, ons Paki-maatjie, Ahmed." In Engeland word "Paki" as 'n kwetsende term vir Pakistani's en inwoners vanuit die Indiese subkontinent beskou.
Daar word ook berig dat hy ’n ander soldaat, wat met ’n serp om sy kop geloop het, 'n "vadoekkop" genoem het.
'n Koninklike woordvoerder, mnr. Patrick Harrison, het eergister gesê Harry is jammer oor die gebruik van die woord "Paki". "Prins Harry verstaan ten volle hoe beledigend dié term kan wees en is verskriklik jammer as dit enigiemand aanstoot gegee het".dat prins Harry by dié geleentheid drie jaar gelede die term gebruik het sonder om kwetsend te wees en as 'n bynaam vir 'n hoogs gewilde lid van sy peleton. Onder geen omstandighede was dit prins Harry se bedoeling om sy vriend te beledig nie.
Volgens die News of the World het Harry die "vadoekkop"-uitdrukking tydens 'n nagmaneuver in Ciprus gebruik. Die prins het weer sy videokamera byderhand en as hy 'n kollega met 'n kamoefleernet op sy kop sien, sê hy: "Dis Dan die man… Fok my, jy lyk soos 'n vadoekkop."
Volgens die koninklike woordvoerder, het "prins Harry die term 'vadoekkop' gebruik om na 'n Taliban- of Irakese insurgent te verwys".
Die prins was verlede jaar in Afghanistan saam met die Britse weermag gestasioneer, maar is onttrek toe dit aan die media uitgelek het.
Binnekort gaan Harry, wat 'n luitenant in die weermag is, begin om as helikoptervegvlieënier opgelei te word.
'n Lid van die Britse kabinet (Arbeiders), John Denham, het gesê Harry se taalgebruik "is aanstootlik, die gebruik daarvan verdwyn geleidelik uit ons samelewing en hy het daarvoor om verskoning gevra.
Daarenteen het David Cameron, die leier van die Konserwatiewe opposisieparty, gesê dat Harry se kommentaar "geheel en al onaanvaarbaar" is. Hy meen dit was "reg" dat die prins om verskoning gevra het, maar het gevra dat hy oor die kole gehaal word omdat dit "nie genoeg is nie".
Brittanje se weergawe van die SA Menseregtekommissie wat hom met rasseklagtes besig hou, die "Gelykheids- en Menseregtekommissie", het die ministerie van verdediging gemaan om na die video te kyk en te besluit of dié gaan optree, alvorens hulle self stappe neem.
Om te vergoed vir sy polities onkorrekte gedrag, is prins Harry intens betrokke by 'n liefdadigheidsorganisasie wat in Lesotho na swart vigswesies omsien.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.