Toe Bernard Madoff huis toe gegaan het na sy woonstel in Manhattan, was dit vir hom onmoontlik om nie die skade raak te sien wat hy veroorsaak het met sy beweerde $50-miljardbeleggingsbedrog nie.
Kameras het hom ingewag buite die hof toe hy na sy voertuig toe geloop het. Minute later is 'n smalende Madoff weer omring deur nog kameras toe hy in die woonstelgebou ingeloop het, en op een stadium het dit in 'n skrum ontaard met 'n stampery tussen Madoff en 'n joernalis.
Hy is daarna met 'n elektroniese moniteringsarmband toegerus en onder huisarres geplaas in sy $7-miljoenwoonstel.
Madoff se chaotiese rit huis toe het gekom nadat die skandaal van New York na Washington versprei het, met die Sekuriteite en Beurskommissie (SBK) wat meer kritiek moet verduur en die Kongres wat ook by die saak betrokke raak.
Die voorsitter van die Huis se kapitaalmarktesubkomitee, verteenwoordiger Paul Kanjorski, 'n demokraat van Pennsilwanië, het aangekondig dat 'n raad van ondersoek vroeg volgende maand gaan begin kyk na die grootste piramideskema ooit en hoekom die regering dit nie raakgesien het nie. Daar gaan ook gekyk word na die verhouding tussen Madoff se niggie en 'n voormalige SBK-prokureur wat Madoff se besigheid bekyk het.
Madoff het sy verskyning in die hof gemaak om voorwaardes vir sy borgtogpakket te onderhandel. Die regter het van hom verwag om twee bykomende mense te kry om saam met hom, Madoff, te teken, maar klaarblyklik was daar niemand wat saam met hom in die lig van die skandaal gesien wou word nie.
Regter Gabriel W. Gorenstein het gereageer deur 'n verandering aan die borgvereistes goed te keur. Uiteindelik moes Madoff by die hof verskyn om eienaarskap van sy boonste Oostekantwoonstel oor te teken, en sy huise in Florida en die Hamptons in New York.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.