Die laaste 30 jaar van hervorming in China het saadjies geplant wat in die komende dekades groot megastede aan die kus met 'n bevolking van bykans een miljard mense en die wêreld se grootste ekonomie teweeg kan bring.
Presies wat die volgende 30 jaar se hervorming inhou, kan niemand sê nie, maar kenners is dit eens dat met wydverspreide besoedelingsprobleme en 'n vloedgolf van migrasie na China se stede, verstedeliking die nasie se grootste uitdaging gaan wees.
"Die volgende 30 jaar gaan kritiese tydsberekening verg om die behoeftes van die bevolking aan te spreek en ook hoe China die bevolking bestuur," het James Canton, skrywer van The Extreme Future gesê.
Teen 2025 gaan China se stedelike bevolking na verwagting toeneem tot 926 miljoen, 'n toename wat meer is as die huidige Amerikaanse bevolking, volgens bestuurskonsultante McKinsey en kie.
Teen 2030 sal die syfer tot 'n miljard toeneem.
Oor die volgende twee dekades sal China 20 000 tot 50 000 nuwe wolkekrabbers bou, die ekwivalent van 10 New York-stede, volgens McKinsey.
Meer as 170 stede sal massavervoerstelsels benodig teen 2025, meer as twee keer die hoeveelheid in Europa, in wat McKinsey die grootste bloeityd in massavervoer in die geskiedenis noem.
Chinese stede sal hulle vervaardigingsvoordele verskuif om sentrums van innovering te word in velde soos nano-tegnologie, "slim materiale" en die beste farmaseutiese middels, het Canton voorspel. Die stede sal ook die tuiste wees van die wêreld se grootste middelklasbevolking.
Om meer as 'n miljard mense te kan akkommodeer, moet nuwe vorme van infrastruktuur en veiligheidsraamwerke ontwikkel word.
"'n Mens gaan vir iemand moet 'nee' sê. 'n Mens gaan 'n groter verskyning sien van biometriese identifikasie; 'n mens sal nie in sommige stede kan ingaan nie," het hy gesê.
Soos wat stede groter raak, gaan grondherwinning minder water laat tussen Hong Kong en die vasteland, het Canton voorspel.
Demografiese, ekonomiese en ekologiese druk gaan China met geen alternatief laat as om innoverende oplossings te soek nie.
"Baie min kere in die geskiedenis van globale bevolking het mens die vermoë gesien om iets vars en nuuts te skep," het Canton gesê. "Hulle gaan iets ongeloofliks moet doen in terme van die stede van die toekoms."
De ekonoom en stadsbeplanner Stanley Jip werk reeds aan die volgende geslag Chinese stede.
Hy is aan die stuur van die Britse konsultante Arup se werk met verskeie stede regoor China met ekodorpe as deel van die veldtog van Beijing om deel te vorm van volhoubare oplossings.
Die toekoms van Chinese argitektuur en ontwerp kan deur nuwe wetgewing voorgeskryf word wat vereis dat nuwe geboue energiegebruik met die helfte moet verminder teen die einde van 2010, het hy gesê.
Om daardie vereistes te kan bereik, moet nuwe geboue meer natuurlike lig kan gebruik, en in noordelike stede beter geïsoleer word en in suidelike stede meer oop en geventileer wees. Sonpanele sal ook 'n meer algemene verskynsel wees.
"Al daardie eienskappe sal intree en begin om die voorkoms van geboue te verander," het Jip gesê.
China se ekonomie is tans die vierde grootste ter wêreld en teen 2025 word daar verwag dat dit Japan sal verbysteek vir die nommer twee posisie, volgens Amerikaanse intelligensiebronne.
Die grootste bedreigings vir China se kommunistiese leiers is stedelike uitdagings soos die groeiende gaping tussen die rykes en die armes, 'n uitgerafelde sosiale veiligheidsnet, korrupsie van beamptes en omgewingskade, het die raad gesê.
Buiten die "perfekte storm" waar verskeie van die probleme tegelyk drasties eskaleer, het die kommunistiese party steeds die leisels stewig in die hand.
Teen 2038 gaan China waarskynlik die grootste ekonomie ter wêreld hê, maar die meeste mense se inkomste sal steeds ver agter dié van die Weste wees, het Jao Sjoejie, hoof van die Nottinghamuniversiteit se skool vir eietydse Chinese studies gesê.
Die volgende geslag leiers se prioriteite sal wees om die land se sosiale en omgewingsmateriaal te herstel, het Jao gesê.
"Die laaste 30 jaar het nie so goed gegaan ten opsigte van gelykheid en sosiale geregtigheid nie en daar was baie stadige vooruitgang in terme van politieke hervorming," het Jao gesê. "Dít, tesame met omgewingsuitdagings, gaan die grootste uitdagings wees oor die volgende 30 jaar."
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.