praag.co.za

Die ABO as onderwerp van postmoderne geskiedskrywing

Written by

in

‘n Akkurate weergawe van die feite is uitermate belangrik, maar in gevalle waar daar baie twyfel bestaan, moet ’n mens oppas om nie die geskiedenis te gebruik om die huidige heersende tydsgees te bevestig nie. Sodra dit gebeur, loop ’n mens die gevaar wat, soos Herbert Butterfield in The Whig Interpretation of History geskryf het, as ’n mens die algemene geskiedenis herrangskik met verwysing na die hede, ’n mens eintlik besig is om ’n groot optiese illusie te skep.

Oor die presiese feite van die Anglo-Boereoorlog kan ek geen kommentaar lewer nie, maar die rigting waarin hierdie debat stuur, is onheilspellend om ’n paar redes.

– Ons leef in ’n wêreld waarin kulture hul eie waarde vind en heg aan simbole. Die konsep van universalisme is vervang deur die konsep van multiversalisme. Hoe meer ’n politieke orde streef om universeel geldende waardes te ontwikkel, hoe meer stuit hierdie bewegings teen ander volke en kulture wat geen deelname hieraan wil hê nie. Om na Huntington se stelling te verwys: Universalisme gaan imperialisme vooraf. Die ABO het ’n ander betekenis vir Afrikaners as vir Engelse, en die debat oor ontkenning of versagting van die omvang van die leed van die ABO pas goed in die huidige tydsgees waar “Kill a Boer, Kill a Farmer” die leuse is van die ANC.

– Die wêreld waarin ons leef, het geen direkte behoefte aan abstrakte feite en opvattings nie maar wil feite en opvattings slegs aanhang en debatteer as dit ’n bepaalde funksie het. “Wat is”, is vervang met “wat is nuttig?”.

Hierdie kultuurmentaliteit is so reg uit die kraal van die postmoderne denkers, en vanweë die rol van hierdie denke in die interpretasie van die ABO, kan ons konkludeer dat die oorlog ’n onderwerp van postmoderne geskiedskrywing geword het. Die ABO word nie gedebatteer in ’n vakuum nie, maar in ’n klimaat waarin dit ’n bepaalde funksie dien, naamlik die lot van die Afrikaner.

Grootse historici het tot dusver geen bewys gevind dat die ABO ’n volksmoord was nie, maar as ’n mens die huidige tydsgees van massahisteriese menseregteverheerlikings sou plaas op wat destyds gebeur het, sou dit aan die Verenigde Nasies se kriteria van misdaad teen die mensdom voldoen het.  Die Statuut van Rome, onderteken in 1998, beskou enige van die volgende dade as misdade teen die mensdom.

A)      Moord

B)      Uitwissing

C)      Slawerny

D)      Deportasie

E)      In gevangenis aanhou wat bots met fundamentele internasionale regte

F)      Marteling

G)     Seksslawerny en gedwonge prostitusie

H)   Vervolging van enige identifiseerbare groep op grond van politieke, rasse-, nasionalistiese, etniese, kulturele, geloofsgronde wat in botsing is met algemeen geldende internasionale regte.

I)         Verdwyning van persone

J)       Apartheid (oftewel hulle interpretasie daarvan)

K)      Ander onmenslike dade wat opsetlik ernstige lyding of leed aan iemand se persoon of psige aanrig.

(Bron: Wikipedia)

Die vraag is egter: Hoekom moet die wandade wat tydens apartheid plaasgevind het hemelsbreed uitvergroot word terwyl die ellende wat die ABO veroorsaak het, ontken word? Wat motiveer Max Du Preez om die Britte te beskuldig van “nalatigheid en ongevoeligheid” oor die 28 000 (oftewel 10% van die Boerebevolking – sy statistieke) Boere wat direk as gevolg van hul aksies dood is, terwyl dieselfde Max so haatlik is teenoor die voormalige polisie se 900 swartes wat hulle gedood het (uit ‘n bevolking van ongeveer 25 tot 30 miljoen swartes in die periode 1965 – 1994, oftewel rofweg geskat so 0,0003% van die swart bevolking)?

As ’n bepaalde groep mense se plase en kerke afgebrand word, in kampe aangehou word en omkom as gevolg van ekstreme ontberings soos slegte voedsel, siektes, blootstelling aan die natuur en derglike, sou dit nie kwalifiseer as ’n stelselmatige vervolging van ’n bepaalde groep nie? Is die skole, hospitale, tuislande, poskantore, inentings, universiteite ensovoorts wat swartes van blankes ontvang het erger misdade as die ABO met sy kampe?

Baie arm blankes wat woon in wyke soos Jan Hofmeyer, Newclare, Pretoria-Wes en Vereeniging (waar Afrikaans nog die voertaal is), het in baie gevalle hul armoede nog direk te danke aan die gevolge van die ABO en die “Dutch speakers need not apply”-diskriminasiemaatreëls wat teen hulle en hul voorouers in die stede gegeld het. Ter wille van versoening, sowel destyds tussen Boer en Brit as nou met versoening tussen blank en swart moet hulle steeds die onderspit delf. Hulle moet met lyding, onsekerheid en verdere diskriminasie die prys betaal van die pyprokende, whiskey-drinkende elite se histrioniese politieke korrektheid. Waar figure soos Sir Carruthers Beattie, rektor van die Universiteit van Kaapstad in die dertigerjare die Afrikaners onder groot gejuig van sy Engelse kamerade as ’n geneties minderwaardige ras uitgekryt het, doen Marlene van Niekerk dieselfde met haar draakstekery oor arm Afrikaners in Triomf en Jeremy Mansfield beskryf hulle ewe lughartig as “wit skorriemorrie” op die radio.

Waar dit op neerkom is dat historiese feite aangepas moet word om die huidige politieke elite se mag verder te versterk. Die geskiedenis word verdraai om Afrikaners in ’n slegte lig te stel en enige ander geluide wat hierdie orde wil versteur, moet verketter word. Deurdat linkse Afrikaners soos Max en kie. self help om sy eie mense te vernietig en hul geskiedenis te ontken, word die ANC se standpunt net verder versterk.

In ’n eerdere skrywe aan Johan Pienaar het ek verwys na ’n paragraaf in Erik van Ree, ’n gesoute kenner van kommunisme, se boek Wereldrevolutie (2005). As gevolg van die huidige debat en koers waarin Suid-Afrika beweeg onder die ANC vind ek dit noodsaaklik om dit weer hier aan te haal.

“Eintlik het die Leniniste geen moraal nie. Hulle het nie geglo dat daar so iets soos goed en kwaad bestaan nie, maar slegs nut en skade vir die saak. Hul taktiek was hul moraal. Hulle was hul eie maat en alles was vir hulle toegestaan. Origens het die uitoefening van geweld die kommuniste geen vreugde gegee nie. Hulle het dit gesien as ’n kwessie van goeie verstand. Oor die fascistiese kultus van geweld het hulle hulself ewe vrolik gemaak as oor die Christelike pasifisme. Gandhi en Mussolini was vir hulle een en dieselfde. Die brutale Italianer het hulle ewe belaglik gemaak met sy lofsange oor geweld as die Indiese heilige met sy geweldloosheid. As die doel die middele heilig, is geen enkele middel heilig in sigself nie. Nóg geweld, nóg geweldloosheid het enige intrinsieke waarde, maar word slegs ingesit na gelang van die omstandighede en die vereistes van die beweging. Dit is moelik om te sê aan watter moraal, die fascistiese of die kommunistiese, ‘n mens, indien hy aan die keuse gestel word, die voorkeur sou moet gee.”

Mense vrees rampe en karaktermoorde om pynlike geskiedenisse bloot te lê of te ontken. Aangesien pre-1990 Moskou die de facto-sentrum geword het van waar Suid-Afrika se beleid bepaal word, kan ons miskien die volgende Russiese gesegde vir die politiek korrektes onder ons meedeel: Hy wat in die verlede leef is blind in een oog. Hy wat die verlede vergeet of ontken is blind in albei.

сауна для домаОлександр Фільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply