President Kgalema Motlanthe en sy adjunk, Fatima Hajaig, gaan vandeesweek na Libië reis vir politieke-, ekonomiese en handelsvergaderings, het die departement van buitelandse sake Maandag gesê.
Hulle vertrek Woensdag, waarna hulle met die Libiese president Moemmar Kaddafi gaan ontmoet met die oog op verbeterde verhoudings wat genoemde sake betref.
Die agenda gaan ook gesprek oor politieke en sosio-ekonomiese ontwikkeling op die kontinent insluit, die implementering van die Afrika-unieregering, die nuwe vennootskap vir die ontwikkeling van Afrika en vrede en veiligheidsinisiatiewe.
Die impak van die globale finansiële krisis en die vredesproses in die Midde-Ooste gaan ook bespreek word.
Motlanthe gaan 'n krans lê by die El-Hani-martelaarsgedenksteen in Tripoli, asook die gedenksteen vir die slagoffers van 'n Amerikaanse lugaanval van 1986 besoek.
Handels- en beleggingsgeleenthede bestaan op die gebiede van konstruksie, hidrokoolstof, mynwese, energie, toerisme, ingenieurswese, tekstiele, kommunikasie en militêre samewerking, het die departement gesê.
Eskom het ook 'n gesamentlike maatskappy gestig met Global Electrical Services Company (Gesco) en die General Electric Company of Libia (Gecol). Dit is om Gecol te help met die rehabilitasie van kragstasies en om kapasiteit binne Gecol te ontwikkel wat rehabilitasie en onderhoud betref.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.