Waarnemende regter Peter Mabuse, by die Pretoriahooggeregshof het Maandag Samuel Mandla Madonsela, 38, se saak tot 9 Februarie volgende jaar uitgestel. Dit is gedoen sodat Madonsela toegelaat kan word tot Weskoppieshospitaal in Pretoria vir sielkundige waarneming.
Staatsaanklaer Corlie Bouwer het aan die hof gesê dat daar tans geen beddens by Weskoppies beskikbaar is nie, en dat daar eintlik 'n waglys is vir aangeklaagdes bestaan wat vir waarneming verwys is.
Sy het ook gesê dat dit moeilik is om 'n paneel van sielkundiges saam te stel, aangesien sommige sielkundiges gekla het dat hulle in die verlede nie betaal is vir hulle dienste nie.
Madonsela word daarvan beskuldig dat hy luitenantkolonel Authon Dominic Stevens vermoor het en luitenant kolonel Izak Karan ernstig gewond het toe hy November verlede jaar op 'n skiettog gegaan het by die Voortrekkerhoogte-lugmagbasis in Pretoria.
Dié insident het plaasgevind net nadat hy aangesê is om die perseel te verlaat nadat hy 'n offisierskursus twee keer gedruip het.
Madonsela was in diens by die menslikehulpbronnedepartement by die lugmagbasis en is vroeër borgtog van R5000 toegestaan.
Hy staar klagte van moord en poging tot moord in die gesig, maar is nog nie gevra om te pleit nie.
Madonsela, wat voorheen 'n lid van Umkontho we Sizwe was, het vroeër in 'n verklaring voor die landdros hof gesê dat hy aan die ontvangkant was van rassistiese opmerkings by die kollege.
Hy het gesê dat daar 'n hewige argument en fisiese geweld was, maar dat hy nie bedoel het om enige iemand te vermoor nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.